kykNET & kie se oorgeklankte Turkse telenovelas: ’n onderhoud met Waldimar Pelser

  • 5

Prente: https://cdn-kyknet.dstv.com/images/News/2022/05/12/396405/5/1652346564-27_kind_van_die_noodlot, en Waldimar Pelser: https://cdn-kyknet.dstv.com/images/Actor/2017/03/27/101188/4/25_Waldimar_Pelser.jpg

TV word al vir dekades in Afrikaans oorgeklank. Die afgelope paar jaar is Suid-Afrika se uitmuntende oorklankvaardighede ingespan om Turkse telenovelas na plaaslike skerms te bring – in Afrikaans. Die intrige, aksie en romanse in hierdie telenovelas hou kykers vasgenael.

Nou kan aanhangers van hierdie wêreldklasstories uitsien na twee splinternuwe oorgeklankte Turkse telenovelas wat vanaf Julie 2022 op kykNET & kie uitgesaai sal word: In die ysterhand se greep en Kind van die noodlot

Lees ’n kykNET-persverklaring hier.

Waldimar Pelser, M-Net-direkteur van kykNET-kanale, praat met Naomi Meyer oor die Turkse telenovelas waarna kykers van kykNET & kie kan uitsien.

Waldimar, kykNET & kie gaan oor ’n rukkie Turkse telenovelas in Afrikaans uitsaai. Vertel asseblief vir enige van ons lesers wat nog nie hierna gekyk het nie ... Wat is Turkse telenovelas? Hoekom is hierdie genre so gewild en hoekom dan spesifiek uit Turkye?

Die telenovela, letterlik ’n TV-novela of -roman, word tradisioneel met Latyns-Amerika geassosieer (Mexiko, Brasilië en Colombia), maar gewilde reekse word deesdae ook vervaardig in lande soos Spanje, Indië, Korea, China, en natuurlik Turkye, wie se telenovelas die laaste jare honderde duisende Suid-Afrikaners vasgenael gehou het.     

Turke en Suid-Afrikaners – ons is tog baie verskillend, is ons nie? Waarom sou juis die telenovelas uit Turkye soveel aanklank by Suid-Afrikaanse kykers vind?

Die Turkse stories is om verskeie redes interessant. Dit is natuurlik geanker in die kultureel ryk en geskiedkundige milieu van moderne Turkye. Dis ’n interessante plek, Turkye … ’n brug tussen eras en kulture. Twee duisend jaar gelede was dit die sentrum van die Oos-Romeinse Ryk. Later word dit die sentrum van die Ottomaanse Ryk met invloed wêreldwyd in kultuur en godsdiens. In die vroeë 20ste eeu word Turkye onder Kemal Attatürk die eerste sekulêre land met ’n meerderheid Moslem-bevolking. Suid-Afrikaners ken Turkye ook goed omdat daar soveel vlugverbindings tussen die lande is.

..........
Tog glo ons nie dié ongelooflike geskiedenis is die geheime bestanddeel in die Turke se reekse nie, hoewel die beeldskone milieu van Istanboel, met sy minarette bo-op kerke gebou, natuurlik help. Die “geheime sous” is eerder die geweldig dramatiese maniere waarop storielyne ontvou; die vertaalbare lewenslesse; die soms duiselingwekkende intrige; herkenbare argetipes; en natuurlik die feit dat internasionale TV toeganklik gemaak word vir Afrikaanse kykers deur dit in Afrikaans oor te klank.
.............

Tog glo ons nie dié ongelooflike geskiedenis is die geheime bestanddeel in die Turke se reekse nie, hoewel die beeldskone milieu van Istanboel, met sy minarette bo-op kerke gebou, natuurlik help. Die “geheime sous” is eerder die geweldig dramatiese maniere waarop storielyne ontvou; die vertaalbare lewenslesse; die soms duiselingwekkende intrige; herkenbare argetipes; en natuurlik die feit dat internasionale TV toeganklik gemaak word vir Afrikaanse kykers deur dit in Afrikaans oor te klank. In navorsing sê ons kykers dit bied vir hulle ’n blik op internasionale TV wat gewoonlik net Engelse kykers beskore is en dat dit die “beste van beide wêrelde is”: Dit is die anderse en eksotiese wêreld van moderne Turkye, maar in Afrikaans.

Baie van ons kykers het boonop grootgeword met oorgeklankte TV, destyds meestal uit Europa. Nou, met ’n groter blik op die res van die wêreld, is die wêreld ons oester. Ons kan enige plek na boeiende TV soek om ons uitstekende plaaslik vervaardigde inhoud aan te vul, wat altyd die ruggraat van kykNET & kie . se aanbod sal bly. Ons begin vanjaar op kykNET & kie met Turkse telenovelas, maar beperk beslis nie vorentoe ons soektog na boeiende internasionale inhoud tot TV uit daardie wêrelddeel nie.

Prent: https://kyknet.dstv.com/nuus/kyknet-kie-kry-sy-eie-oorgeklankte-turkse-telenovelas

Hoe verskil ’n sepie en ’n telenovela van mekaar, en hoe verskil ’n Suid-Afrikaanse sepie van ’n Turkse een, as mens dit nou breedweg vereenvoudig?

’n Telenovela is baie dieselfde as ’n sepie, met die verskil dat telenovelas gewoonlik ná ’n vooraf vasgestelde aantal episodes eindig, terwyl sepies soms vir meer as ’n dekade aaneen uitgesaai word. Die woord beteken letterlik ’n TV-roman, so die genre is baie wyd. Suid-Afrikaanse en Turkse sepies stem ooreen omdat die temas breedweg universeel is en oor etlike jare uitspeel, maar verskil grootliks omdat die storiewêrelde in verskillende gemeenskappe geanker is.

Ek moet vra: Is ’n telenovela nie baie oppervlakkig nie? Is dit suiwer ontvlugting? Watter betekenis voeg dit toe tot Suid-Afrikaanse televisie?

...........
Suksesvolle telenovelas spreek universele menslike temas soos verlies, romanse, familieverhoudings en ons plek in die samelewing en die wêreld op so ’n manier aan dat dit enersyds ontvlugting bied, ja, maar andersyds waarhede oor ons gedeelde menswees beskryf en selfs bevraagteken.
...........

Suksesvolle telenovelas spreek universele menslike temas soos verlies, romanse, familieverhoudings en ons plek in die samelewing en die wêreld op so ’n manier aan dat dit enersyds ontvlugting bied, ja, maar andersyds waarhede oor ons gedeelde menswees beskryf en selfs bevraagteken. Slegs reekse wat albei regkry – ontvlugting én iets wat werklikheidsgetrou is – sal by Suid-Afrikaanse kykers gewild wees. Ons glo dat die reekse waarmee ons afskop, daardie toets sal slaag.

Na watter Turkse telenovelas kan Suid-Afrikaners op kykNET & kie uitsien? Wanneer sal dit uitgesaai word? En van wanneer af?

Daar is twee splinternuwe oorgeklankte Turkse telenovelas wat vanaf Julie 2022 op kykNET & kie, DStv-kanaal 145, uitgesaai sal word: In die ysterhand se greep en Kind van die noodlot. 

Hier is nog inligting.

Lees ook:

My jaar van Koreaanse TV, seumnida!

  • 5

Kommentaar

  • As Sassa-pensionaris was ek redelik teleurgesteld toe ek die aand 195 wou kyk en dit sommer net af was. Ek geniet regtig die programme.

  • Elzabe van Zyl

    Kan ons nie asb ook Gebroke Harte vanaf die 3de seisoen te sien kry nie? Dit was 'n fantasiese Turkse telenovelle!

  • Ons wil so graag "Gebroke harte" klaar gekyk het. Kan ons nie net een eers klaar kyk voor julle vir ons nuwes wys nie? Maak mens so bietjie mismoedig om die nuwes te begin kyk, want sal ons die hele reekse kan voltooi? Is daar enige ander platform waar ons "Gebroke harte" se reeks kan klaar kyk?

  • Baie teleurgesteld. Hou niks van die Turkse stories nie. Lyk onnatuurlik en die toneelspel is baie swak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top