My jaar van Koreaanse TV, seumnida!

  • 0

...
Van my gunstelingreekse volstaan met gelade kyke en toevallige aanrakings. Tog te sexy vir diegene wat romanties van hart is!
...

Koreaanse TV-reekse het wêreldwyd gewild geraak, en daar is goeie rede voor.

Dit het die inperkings en gepaardgaande malaise gekos om my te laat kyk, en toe haak ek vas tot die mate dat ek in die afgelope jaar skaars iets anders gekyk het. Ek het vriende wat vertel dieselfde het met hulle gebeur.

Waarom sou Koreaanse TV so verloklik wees?

Ek kan maar net vertel hoe ek dit beleef het, en wat ek als wys geword het. Ek was ure lank in vervoering, oor giggel-ligte goed tot weergalose menslike dramas soos My Mister. Verder het ek iets geleer van die Koreaanse kultuur, van storievertel en van menswees.

Die ding wat my eerste gevang het, is ’n sekere onskuld en die anderste aanslag as die Amerikaanse patroon en selfs die Europese TV wat ons te siene kry. Die weerlose karakters, so anders as die tough guys & gals wat Amerikaanse flieks bevolk. Die talle transendentale oomblikke.

(Nou nie dat al die aanbiedings goed is nie – daar is ’n sterk streep seep waar mens liefs verby moet hou. Dis seker onvermydelik met die geweldige aantal reekse, waarvan baie op Netflix te kyke is.)

Vir spys en drank sê ons u dank

Bejeën maar dit wat ek oor die Koreaanse kultuur kwytraak met agterdog. Hoe betroubaar sou Orkney snork nie immers wees as ’n manier om die Afrikaanse kultuur te leer ken, of Breaking bad vir die Amerikaanse?

Tog, as jy dieselfde verskynsel telkens teëkom, begin dit lyk of dit eie aan die kultuur eerder as aan die spesifieke drama is.

Punt een is hoe hiërargies die gemeenskap is. ’n Hoëre loer op die hoës, en hoëres weer op hulle. Die gepaste eerbetonings is van kardinale belang. Selfs die taal verander na gelang van die statusverhouding tussen mense.

Ondanks groot familiekorporasies (chaebols) en gesinne wat deur pa’s gedomineer word, is daar tog opvallend baie sterk vrouekarakters. Dit kan ’n hebbelikheid van draaiboekskrywers wees. Ek hoop nie so nie.

Daar is kennelik ’n beperkte aantal vanne; in elke storie kry jy onverwante karakters met dieselfde van. As Westerling moet jy op die tweede deel van die naam leer let, die voornaam wat na die van kom.

In die hedendaagse Korea is werk blykbaar skaars – jy kry talle geleerde werkloses. As jy ’n betrekking het, werk jy jou besimpeld en kan ongelooflik sleg behandel word. In die reeks Misaeng skop of stamp die base selfs hul ondergeskiktes. Heel goeie storie, terloops. Mense werk ongelooflike lang ure, volgens die OESO omtrent 400 uur per jaar meer as ’n gemiddelde Britse werker byvoorbeeld. Dis 50 normale werkdae ekstra elke jaar!

Stede is dag en nag besig. Nie net werk mense nie, hulle dwaal rond of kuier. Almal suip, meermale totdat hulle totaal vodde is. Tonele van mense wat dronk pelle huis toe abba is algemeen in die reekse. Babelaas-sop (haejang-guk) lyk na die gewildste ontbytkos.

Of die gewone mense dit doen, weet ek nie, maar die fliekkarakters neig om baie kleinserig te wees. Enige skrapie verdien pleister, of dalk selfs ’n hospitaalbesoek. Pille word gesluk vir elke bakatel. ’n Goggatjie wat in ’n kantoor rondvlieg, veroorsaak chaos.

Mense slurp as hulle eet, en stop graag hulle monde vol dat hulle kieste bol staan. As jy ’n karakter dit sien doen, is dit nie omdat hy of sy onmanierlik is nie.

Christendom figureer telkens, naas Boeddhisme. Die begrafnisrituele is deurgaans pragtig.

Buiten die kultuur het ek darem ietsie van die Koreaanse taal opgetel, maar minder as wat ’n mens sou dink na soveel ure se blootstelling. Die taal is iets op sy eie, die enigste lid van sy taalfamilie. Een van die woorde wat ’n mens aanmekaar hoor, is seumnida, ’n byvoeging wat respek betoon, iets soos “ek dank u” of “met respek gesê”.

Markeer die pas

Die opvallendste eienskap van die reekse is hoe stadig die stories ontvou.

Die basiese patroon van stories, soos Emma Coats van Pixar dit so bondig gestel het, is:

Eendag was daar ___

Elke dag ___

Toe, op ’n dag ___

Daarom ___

Daarom ___ (hierdie stap kan meermale herhaal word)

Totdat uiteindelik ___.

Die Amerikaanse model wat die meeste van ons se fliek- en TV-dieet oorheers, volg die formule dat die Toe, op ’n dag-deel, die wending wat die drama afskop, op bladsy 17 van ’n draaiboek kom, dus min of meer 17 minute van die begin af.

In Koreaanse reekse kom daardie oomblik gewoonlik eers aan die einde van die eerste episode. Afhangend van hoe lank die episode is, kan jy dus tussen ’n driekwartier en ’n gewone fliek se lengte lank kyk na die Elke dag-deel, ’n uitbeelding van die karakters se alledaagse lewe, voordat ’n ingryping hulle lewe in ’n dramatiese rigting stuur.

Tensy die trant of styl of inhoud jou van meet af dwars in die krop steek, moet jy dus maar onderneem om minstens die volle eerste episode te kyk voordat jy regtig kan besluit of die reeks jou aanstaan.

Die reekse duur meestal 16 episodes, party net 12, party meer as 20, met ’n tydsduur van ’n driekwartier tot volle flieklengte elk, 90 minute. (Ek kyk nie goed wat meer as een seisoen het nie – dit beteken daar word in sirkels gekarring met dieselfde karakters, en daarvoor sien ek nie kans nie. Vir my moet stories ’n begin, ’n middel en ’n einde hê.) Hoe ook al, daar is genoeg tyd om dinge rustig te laat ontplooi.

Enersyds kan dit vervelig wees om al die treë te sien wat iemand van deur tot deur gee. Die uitgerekte aard word vererger deur die talle herhalings van kerntonele, soms in meer of mindere besonderhede. Met die oorspronklike weeklikse uitsendings was dit seker nodig om mense te herinner wat laas gebeur het, maar as jy binge watch, span mens maar die fast forward-knoppie in. Hoewel dit gevaarlik kan wees. Hulle wys baie maal met die herhaling ekstra detail, veral van dit wat vlugtig aan die vorige episode se einde gewys is.

Hoe ook al, die meeste van die reekse sou daarby baat om korter te wees. (Maar moet jou nie aan my steur nie – dis hoe ek oor die meeste flieks en boeke ook voel.)

Aan die positiewe kant gee die stadige pas kans vir meer karakteronthulling en -ontwikkeling. Dit gebeur meermale dat ’n karakter waaroor jy aanvanklik bedenkinge het, mettertyd tot inkeer kom en jou hart wen. Jy sien genuanseerde, komplekse emosies en interaksies waarvoor die Amerikaners in hulle effekbejag en formularistiese benadering omtrent nooit die kapasiteit het nie.

Newestories kry kans om te gedy. En, baie belangrik, daar is tyd om elke dramatiese oomblik na behore te ontgin.

As kyker kan ek my liederlik vervies vir stories wat lekker tonele oorslaan, wat opbou na ’n dramatiese toneel, net om dit dan omtrent te ignoreer. Jy wil sien hoe die kroek op sy herrie kry, hoe die helde sukses smaak. Die Britse reeks Belgravia, deur Downton Abbey se skeppers, het my byvoorbeeld omtrent die remote deur die TV-skerm laat gooi toe die toneel waarvoor ek gewag het, waar een karakter se ware identiteit uiteindelik openbaar gemaak word, eenvoudig oorgeslaan is. Hulle het direk van afwagting na nadraai gespring. Onvergeeflik!

In die Koreaanse reekse kan jy meestal daarop reken dat lekker tonele uitvoerig gewys gaan word. Hulle speel baie keer selfs stadiger af as werklike tyd, want hulle sal ’n toneel uit verskillende karakters se oogpunte wys, of jou op die klankbaan laat hoor wat deur die onderskeie karakters se gedagtes gaan terwyl die aksie stilstaan. As kyker het jy genoeg kans om jou in die situasie te verlekker.

Nou moet ek noem dat party reekse wel ’n betreklik stewige pas handhaaf. Hot Stove League, wat in die af seisoen van ’n bofbalklub afspeel, roer sy litte met die een cliffhanger na die ander. Dis baie toeganklik vir mense wat aan Amerikaanse TV gewoond is. Melancholia is, ondanks die naam, ’n sterk drama oor ’n briljante jong wiskundige en sy onderwyseres se stryd teen korrupte ouers wat hulle kinders op onwettige wyses probeer bevoordeel. Ek wil nog ’n bietjie oor hom nadink, maar hy is ’n sterk kandidaat vir my erelys hier onder.

Stilistiese kwinte en konvensies

Die stadige pas noop mens soms om meer aandagtig te kyk na die alledaagse, wat nogal hipnoties kan raak. Dit word ook vergoeilik deur stilistiese varsheid waarin jy jou kan verkneukel.

Soos pas aangedui, spreek karakters hulle gedagtes uit – hardop as hulle alleen is, net op die klankbaan wanneer ander by is. Daarmee omseil die filmmakers een van rolprente se inherente beperkinge en maak hulle dit onnodig om altyd ’n vertroueling byderhand te hê, die bykans alomteenwoordige buddy van Amerikaanse flieks. Gesuperponeerde teks op die skerm help ook veelal die storie vertel, en ek praat nou nie van die vertaalde onderskrifte nie.

Dit verskil van reeks tot reeks, maar dit is glad nie vreemd om ’n stukkie animasie in die middel van lewende aksie te kry nie. Iemand wat val, sien getekende sterretjies in ’n komedie. ’n Meisie wat gelukkig voel, word omring deur getekende blomme. En so aan.

Die klankbaan gebruik ook in ligter reekse gereeld comic-klanke – jy hoor ’n geplop as mense hulle oë knip, of jy hoor bande skree as iemand skielik vassteek. As die karakters vloek, hoor jy bliepgeluide.

Vir my dra dit tot die genieting by.

Oor ander konvensies het ek gemengde gevoelens, soos dat ’n windvlaag van nêrens meteens ’n meisie se hare laat roer as sy die man van haar drome sien. Toenadering word meermale gewys deurdat een karakter met sy of haar kop op die ander se skouer aan die slaap raak.

Oordrewe teatrale toneelspel deur byspelers is deel van die styl, veral in die historiese stukke. Vir Westerse kykers kom dit outyds voor, maar dis kennelik iets wat doelbewus gedoen word ter wille van humor, soos die gekke in Shakespeare se dramas. ’n Mens leer gaandeweg om jou nie daardeur te laat pla nie.

Items op die skerm word meermale aspris dof gemaak. Dit kan ’n handelsnaam op verpakking wees of ’n skoot van menslike uitskeiding van allerlei aard.

Van handelsname gepraat: In ’n spesifieke reeks eet al die karakters by dieselfde kettingrestaurant soos Subway, en ry hulle karre van dieselfde fabrikaat. Enigiets wat nie pas nie, se kenteken word doodgeverf. Vermoedelik het dit met borgskappe te doen.

Vyftig skakerings van wit

Die uitbeelding van die seksuele is ook heel anders as volgens die Westerse model.

In party reekse word redelik openlik gepraat van mense wat saam slaap, maar jy sien selde ’n woeling of selfs soen in die bed. Van my gunstelingreekse volstaan met gelade kyke en toevallige aanrakings. Tog te sexy vir diegene wat romanties van hart is!

Daardie voosgetrapte Hollywood-toneel waar die twee mekaar staan-staan in die gang bykom, is nêrens te siene nie.

Mense hou hulle klere aan, hoewel jy nou en dan ’n man kaalbolyf sien. Vroue dra soms kort rokkies en ek kan nou aan ’n toneel of twee dink waar ’n bietjie midrif in sportklere wys, maar gewoonlik is vroue bolangs van keel tot pols geklee. Daar word nie met vrouelywe te koop geloop nie. Van mans sien jy ook meestal net hande en gesigte.

Daar is heelwat tonele van vroue wat swymel oor mans se voorkoms, maar nie juis andersom nie. Dis die mans wat die seksobjekte is. (Sou dit wees omdat die draaiboekskrywers ydele mans is, of jagse vroue?)

Die mans wat vir die hoofrolle gekies word, is baie keer baie androgeen en dra soms heel opsigtelik grimering. Ek bedoel nie fliekgrimering nie – dis die karakter wat opvallende grimering aan het, nie die akteur wat dit subtiel doen nie.

Ek het ’n vriendin wat haar in hierdie klas outjies se voorkoms verlekker, maar sy’t gedog Frodo van Lord of the Rings is sexy en ek moet dus haar mening met ’n stewige knip sout opneem. Self verkies ek manliker helde, en moet bely ek het al ’n belowende reeks of twee oorgeslaan omdat die outjie vir my darem net te meisiemooi of seunsagtig is. So oppervlakkig is ek, helaas.

Die liefdesverhoudings is meermale van die ridderlike soort. Offervaardigheid speel ’n groot rol – mense wat ongesiens opofferings ter wille van ander maak en daarmee die kyker se hart verower, en hopelik later die geholpene s’n.

So beskroomd as wat die Koreaanse reekse oor seks is, so openlik is hulle oor ander lyflikhede. Jy sien karakters wat sukkel om hulle nood te hou. Poep- en kakstories is volop. In een onvergeetlike toneel wil ’n meisie ’n verliefde man afsit. Sy los ’n paar harde winde en waai die walms met haar hande na die arme kêrel se kant toe, terwyl sy verduidelik hoe lekker en maklik haar maag gaan. Dis seker simpel, maar ek het my uitasem gelag, deels uit pure verbasing.

Netelige Netflix-navigasie

Om goeie Koreaanse reekse te kies, is moeilik, want die reeksbeskrywings op Netflix is nie juis veelseggend nie. Ek kan sonder moeite aan ’n halfdosyn stories dink wat eenders beskryf word, byvoorbeeld dat ’n paartjie ’n sakekontrak sluit om te maak of hulle in ’n verhouding is – van Full House doer uit 2004 tot vanjaar se Business Proposal.

Laasgenoemde se eerste 10 episodes was terloops erg prettig, voor die flouerige einde, iets wat ongelukkig meermale afbreuk doen aan andersins genietlike reekse. Die baie lekker Romance is a bonus book (simpel titel) se einde was eweneens ’n antiklimaks en is die enigste rede dat hy nie ’n plek op my erelys hier onder kry nie. Maar dis heerlik vooraf – omtrent die enigste fliek in my lewe waar die manic pixie dream girl-tipe my aanstaan. Die maltrap het genoeg diepgang om selfs sinici te bekoor, en die veertigjarige aktrise se voorkoms is iets om jou aan te verwonder.

(Die Koreaanse akteurs, mans en vroue, is telkens veel ouer as wat hulle vir hierdie Westerse oge lyk.)

Die titels wissel van intrigerend tot belaglik. Mankemente vertalings speel dalk ’n rol hierin, maar ek weet nie so mooi nie. Die heel lekker liefdesverhaal Something in the rain se Koreaanse titel is byvoorbeeld letterlik Mooi suster wat vir my kos koop. Wok of love klink totaal simpel, maar was baie vermaaklik, veral aan die begin, met ’n paar werklik absurde tonele, insluitend die walm-waai-toneel waarna ek hier bo verwys.

Nie net die beskrywings nie, maar selfs die voorskoue gee baie keer nie ’n verteenwoordigende indruk van die reeks nie.

Sewe reekse om te verken

Om jou te help om jou weg deur die groot aantal reekse te baan, lys ek hier onder ’n paar wat ek regtig geniet het. Ek het natuurlik nie als gesien wat daar is nie, en smaak verskil. Ek verpes die bonatuurlike in alle vorme en my weerstand teen romantiese stories is soos spookasem onder ’n waterval.

Ek sou My secret Terrius by my lys wou voeg, maar dit lyk my hy is nie meer op Netflix nie. Dis ’n baie lekker storie wat ’n spioenasieverhaal met prettige bure-drama kombineer. ’n Ander reeks wat genres met goeie gevolg meng, is When the camellia blooms, ’n konkoksie van reeksmoordstorie en ligte liefdesverhaal.

Nog ’n reeks wat net-net nie my lys haal nie, veral omdat een hoofkarakter se teatrale speelstyl party mense sal afsit, is The good detective. As jy van krimi’s hou, kyk hom gerus uit.

Hier dan nou die erelys:

Mr. Sunshine

Die reeks wat my obsessie begin het. ’n Meesleurende historiese drama van 24 episodes. Die eerste episode is nie vreeslik aanloklik nie, maar hou uit – die res is telkens omtrent so ontroerend as Dr Zhivago.

Die span heerlike hoofkarakters wen elkeen op sy of haar manier jou bewondering: ’n Koreaans-Amerikaanse soldaat wat in die geheim ’n sluipskutter is, ’n beeldskone edelvrou wat óók in die geheim ’n sluipskutter is, die wêreldwyse koerantredakteur wat verloof is aan haar, die samurai wat van kindsdag af op haar verlief is, die hotelbestuurder wat probeer om aan ’n nare pa se invloed te ontkom ... Elkeen van hulle edel op sy eie manier.

Boonop is dit visueel telkens asemrowend.

Mr. Sunshine (moenie die foutiewe punt vergeet as jy hom soek nie!) is te lank, die newekarakters se manewales is om van tande te kners, en as die kastig Amerikaanse karakters Engels praat, wil jy jou ore toedruk. Maar dis nogtans fantasties. Ek kan skaars genoeg jubel. Doen jouself die guns en kyk. Jy sal tjeer vir Lieutenant Choi en Lady Ae-Shin, en hulle teenstanders verwens. Só moet ’n historiese reeks mos lyk!

Crash landing on you

’n Baie toeganklike en pakkende storie. ’n Suid-Koreaanse sakeprinses (dogter van ’n chaebol-familie) doen paragliding en word op nogal magiese wyse van koers gewaai, sodat sy in Noord-Korea beland. Daar kom ’n forse Noord-Koreaanse soldaat op haar af. ’n Paar kyke is genoeg om hom te laat besluit om haar nie na sy basis toe te vat nie. Nou moet hulle die owerhede ontwyk ...

Dis die gewildste van al die reekse op hierdie lys, met goeie rede – ’n baie lekker mengsel van aksie, spanning, humor en bowenal romanse. Jy sal nie spyt wees nie.

Because this is my first life

Een van die talle stories waarin karakters ’n kontrak aangaan om te maak of hulle ’n paartjie is. Jy sal nie weet dat hy goed is totdat jy begin kyk nie. Dis bolangs lig en lekker, met ’n onderstroming van erns. Die behandeling waaraan vroue onderworpe is, is ’n sterk tema.

Crash landing on you is seker ’n veiliger keuse, maar hierdie meer quirky storie kry my stem as die aangewese beginpunt om Koreaanse TV-reekse te verken. Die man is iewers op die spektrum, die meisie lieftallig. En die subplots is ook heerlik. Dis ’n maklike en vermaaklike kyk, behoorlik bekoorlik.

Encounter

Sentimenteel se moses. Hierdie romanse vat die vertrekpunt van Roman holiday (prinses anoniem op vakansie ontmoet gewone ou en liefde blom) en volg dan hulle verdere lotgevalle vir nog 15 episodes. Die ou kry naamlik ’n junior pos by die hotelgroep waarvan sy heelwat ouer vakansieliefde die grootbaas is. Sy edele intensies moet talle uitdagings van buite te bowe kom, sowel as sy geliefde se voorbehoude en voosgekarnuffelde siel.

Die storie is terloops een van talle wat ’n liefdesverhouding tussen ’n jong man en aansienlik – en aansienlike – ouer vrou uitbeeld.

Soos my suster van Encounter gesê het: “Daar is seker baie wat mens kan kritiseer, maar dit was so vrek lekker!”

As jy die soort mens is wat Notting Hill al meer as een keer gekyk het, durf jy nie hierdie een misloop nie.

It’s okay to not be okay

Aweregse ene, ernstiger van aard, waarin sprokiesverhale slim gebruik word. Moenie die geanimeerde openingspassasies oorslaan nie – die stories daarin speel in op die dramatiese aksie.

Die hoofkarakters is ’n sosiaal wanaangepaste meisie wat verbluffende donker kinderboeke skryf en ’n selfopofferende kêrel wat sy outistiese ouer broer versorg en sielsiekes in ’n hospitaal verpleeg. Die meisie is woes en kan sekere kykers dalk afsit, maar gee haar kans. Sy is ’n karakter wat ek nog nooit in ’n fliek gesien het nie, enig in haar soort.

En die akteur wat die outistiese broer speel, doen dit werklik indrukwekkend. Ek was lank laas so beïndruk deur toneelspel.

Hierdie storie bly mens by.

My Mister

Beste vir laaste. As jy my nie wil glo nie, hoor net wat sê die skrywer Paulo Coelho (van The alchemist-faam) van My Mister: “It’s a great masterpiece. It’s the best project I’ve seen recently. It subtly portrays human psychology, and it has a rich story.”

Ek stem heelhartig saam – dis die beste TV-reeks wat ek nog ooit gesien het, en in geheel my beste kykervaring sedert die fliek The lives of others, waarmee dit terloops sekere ooreenkomste toon.

My Mister gaan oor twee diep ongelukkige mense wat by ’n groot korporasie werk – ’n middeljarige middelbestuurder en ’n jong, armoedige junior. Teen die agtergrond van werkpolitieke woelinge herken hulle iets in mekaar, en met verloop van tyd ontwikkel ’n verhouding wat transformasie by albei teweegbring.

Ek het die eerste episode of twee moeilik gevind. Die meisie se lewe is ondraaglik sleg, en beide van hulle is so stug dat die stiltes selfs geduldige kykers beproef. Maar mettertyd ontspan jy en besef jy dat die uitbeelding van stil oomblikke en alledaagse doenighede soos loop en eet en pendel die stof van hierdie storie is – dis deels ’n ode aan die alledaagse.

Die stroewe Park Dong-hoon en nogal geheimsinnige Lee Ji-An (’n meer patetiese en geloofbare Lisbeth Salander-figuur) se lotgevalle het my sommer vroeg al totaal meegesleur, maar dit kan langer duur voordat My Mister jou vang.

Ek was so beïndruk dat ek my vrou basies gedwing het om saam te kyk toe ek die reeks ’n tweede keer aanpak. Die arme mens het deur die eerste vyf, ses flieklengte-episodes geworstel voordat sy oplaas meegevoer is. Agterna het sy opgemerk wat ’n voorreg dit is om ’n kunswerk van hierdie aard te beleef. Daar is sielsverheffende tonele wat in die beste kunsflieks tuishoort.

My Mister se eerste paar episodes kon seker korter gewees het, maar ek is dit met Paulo Coelho en derduisende ander kykers eens: Dit is ’n meesterstuk. Benader dit soos ’n kunsfliek, en jy sal ryklik beloon word.

Terloops, ’n uitstekende nuwe reeks deur dieselfde skrywer verskyn tans so stuk-stuk op Netflix – My liberation notes. Die skrywer, Park Hae-young, het die eienskap wat my die meeste aanstaan omtrent skrywers in enige medium: ’n unieke lewensbeskouing. Jy kan jou vergaap aan wat hierdie karakters kwytraak.

Lees ook:

kykNET & kie se oorgeklankte Turkse telenovelas: ’n onderhoud met Waldimar Pelser

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top