
Niggies (foto: kykNET)
kykNET maak Dinsdagaand geskiedenis met die eerste episode van Niggies – Suid-Afrika se eerste waremisdaadreeks in Afrikaans. Dis ook die eerste maal dat daar ná elke twee episodes ’n potgooi gemaak word, waar Kabous Meiring met akteurs, vervaardigers en ander kundiges gesels oor die reeks.
Niggies begin met die dubbele ontvoering en moorde van Issie Fourie en Petro Nel in Odendaalsrus op Maandag 10 Januarie 1966. Die eerste drie episodes speel af in die dae ná afloop van hul moord, episodes 4–8 speel af in 1984 en die laaste episode in beide tydslyne. Daar is verskillende rolverdelings en net sommige karakters word uit die sestigs oorgedra na die tagtigs.
Die storie is waar, hoewel daar hier en daar klein aanpassings gemaak is. Dis ’n Afrikaanse reeks, met Engelse subtitels en ’n paar woorde in Sotho.
Dis die dag voor die skool vir die 1966-skooljaar begin. Dis die blomtyd van apartheid.

Niggies (foto: kykNET)
Die twee niggies gaan by die dorpswembad swem en André, Issie se ouer boetie, moet na hulle kyk, maar hy gaan kettie skiet en los die niggies alleen. Hulle keer nooit terug huis toe nie.
Hul jonger niggie, Poppie, mag weens haar hartkwaal nie saamgaan nie en spring só ’n gruweleinde vry. Toeval, of het haar pa dalk met voorbedagte rade nee gesê?
Die eerste verdagtes is die veewagter en dan die oom wat “nie die Nels en Fouries se klas is nie”. Familie draai teen mekaar: die Christelike fineer is erg dun.
André se verwyt is groot; sy ma Marie se weersin in hom, amper groter.
Ek is oneindig dankbaar dat ek vier episodes ná mekaar kon kyk, want ek sou verwese gevoel het as ek ’n hele week moes wag vir die volgende episode. Elke episode eindig op ’n spanningsvolle hoogtepunt en ek besef dat ek my opgehoue asem amper onbewustelik uitblaas as die name oor die skerm begin rol.

Niggies (foto: kykNET)
Ek kan nie wag om die volgende episodes te sien nie. Ek het doelbewus nie gaan oplees oor die misdaad nie. Ek was in 1984 te klein om notisie te kon neem van die ontknoping en dus het die moorde by my verbygegaan.
Ek is trots op hierdie wenproduksie en glo dit doen pionierswerk in hierdie genre in Suid-Afrika en dít boonop in Afrikaans – in die jaar wat die taal amptelik sy eeuwording vier.

Niggies (foto: kykNET)
Ek het baie lanklaas na enige plaaslike ou flieks of episodes van geliefde televisiereekse uit my kinderdae gekyk. Bloot omdat kamerategnieke, klank en redigering só dramaties verbeter het, dat ek eerder by die mooi herinneringe daarvan wou volstaan en nie teleurgesteld wou voel as ek té krities daarna sou kyk nie. Dit is immers mý nostalgie.
........
Om dus met moderne tegnologie, meesterlike regie en kinematografie en ons land se voorste akteurs die eerste episodes van Niggies te sien, het my onkant betrap. Dis asof iemand ’n ou rolprentkamera in my kop aangeskakel het.
........
Om dus met moderne tegnologie, meesterlike regie en kinematografie en ons land se voorste akteurs die eerste episodes van Niggies te sien, het my onkant betrap. Dis asof iemand ’n ou rolprentkamera in my kop aangeskakel het.
Alles wat ek van my grootwordjare onthou, is daar: Oros; blomrokke wat eintlik hopeloos te hoog bo die knieë gesit het; haarbolletjies met rekkies wat gedurig jou hare getrek het en boonop jou vingers gepiets het as jy dit nie reg oormekaar haak nie. Sambrele op vaal grasperke met draad tuinstelle; draaitafels; vervelige middae in geel en bruin sitkamers met ’n staanhorlosie in die hoek wat met elke tik-tik-tik nog ’n sekonde van jou “verlore” jong lewe aftel. Die stad wat altyd net buite bereik is. Beloftes van eendag as jy ook kan deelneem aan die lewe; die platteland in die sewentigs net ’n wagkamer op iets beters en groters.

Niggies (foto: kykNET)
Volpunte – en meer – vir die span wat daardie wêreld só getrou herskep het; wat ’n nostalgie in my binneste kom loskrap het asof daar nog altyd ’n klein rafeltjie bly hang het, wat vier dekades gewag het dat iemand met lastige vingers kom karring ...
Elke karakter – van Erica Wessels as Ousus Nel met haar hare in ’n Franse rol en sestigs bril, tot Albert Pretorius as Gustaff met sy vellies en té lang sokkies en té knap breistoftruitjie en safaripakbroekie – is herkenbaar. Hulle was mý familie, my bure. Ek en my niggies het net so gedans en gaan swem en mekaar se hare gevleg en rympies gemaak op lang, warm somersdae. Daar was pienkrooi-gevlekte Mercurochrome-knieë en storie luister op die radio op die mat.
Daar was altyd ’n jonger niggie wat nie saam kon gaan swem of sirkus toe gaan nie; altyd ’n ouer broer wat nie lus was om ons op te pas nie. Wat tussen irritasie, skaamte en ergerlikheid vir die lawwe meisiekinders gewissel het.

Niggies (foto: kykNET)
Maar ons het anderkant uitgestap; ons het elke aand weer huis toe gekom, ongedeerd aan tafel gesit en gedeel in die tafelgebed waar jou pa jou en sy land weer en weer aan die Here opgedra het. Die Here wat tóé natuurlik net wit mense se gebede verhoor het. Wat oor hulle gewaak het.
Maar soos wat die jong André vir Sophie vra: Hoekom het hy dan nie na sy sussie en niggie gekyk nie?
Mens sal nooit die binnewerking van ’n verkragter of moordenaar se kop verstaan nie. Veral nie as dit by onskuldige kinders kom nie.
Hier en daar trek ek egter ’n paar duwweltjies uit my vissieplakkie:
- As lid van die media het ek bietjie meer agtergrond gekry, so ek weet die Fouries het pas teruggekeer van Zambië, waar hulle gaan woon en werk het. Kenneth Kaunda het dinge vir hulle ondraaglik en onveilig gemaak en hulle keer terug na die “veiligheid” van ’n stil Vrystaatse myndorpie. Binne dae na ma Marie en die kinders arriveer, word hul dogtertjie verkrag en vermoor. Dit word nie baie duidelik in die eerste paar episodes verwoord nie en ek moes ’n paar maal die storie pause om die konteks te verstaan.
- Dit moes ongelooflik moeilik gewees het om ’n dorpie te vind waar mense nie agter vyf meter heinings met elektrifisering skuil en daar satellietskottels op die dak sit nie. Soos voorheen genoem: goue sterre aan die span. Maar die paar tonele van die rugbyveld se verwaarloosde pale en die sinktonnel in die veld waarvan die verf afdop, is in kontras met die “voorspoed” van die sestigs, toe wit gebiede altyd spiekeries gehou is. Ek onthou hoe die speelpark in ons woonbuurt nooit ’n stukkende swaai of verweerde verf gehad het nie, terwyl die kinders aan die anderkant van die dorp – én kleurgrens – se wipplank en rondomtaliewiel meer stukkend en ongeverf as heel en geverf was. Upington was soos Worcester, was soos Bloemfontein of Odendaalsrus: Platteland op sy beste, al het sommige dorpies hul verbeel hulle is stede.
- Ek is ’n groot aanhanger van reekse soos True detective, so die stadige pas (of slow burn) van die eerste drie episodes het my nie te veel gepla nie, maar die tweede episode was langdradig en uitgerek. Dis amper asof daar nie genoeg pitkos was nie, so langer tonele moet daarvoor opmaak. Wat ek mis in die tonele, is meer mood shots: Daardie oomblikke van die platteland wat ouers as heilsaam en jong kinders as vervelig en vaal ervaar het. Die stofpaadjies, rollende bossies in namiddagwind, die swembad as almal uitgeklim het en die natkolletjies al is wat verklap dat daar lewe was. Fietse wat op grasperke lê, gholfbal-posbusse, oop voorhekkies, plante in macramé, lui honde op ’n rooi of groen blinkgeverfde stoep.

Niggies (foto: kykNET)
Maar met dié paar duwweltjies uit my plakkie, roomys met hundreds and thousands en Oros met baie ys vir almal by hierdie treffer betrokke.
Wat ’n tydperk in ons land om Suid-Afrikaanse talent só te kan beleef.
Niggies
- Met onder meer: Albert Pretorius, Janru Steenkamp, Carel Nel, Tinarie van Wyk Loots, Neels Clasen, Roeline Daneel, Erica Wessels, Jacques Bessenger, Beer Adriaanse, Peggy Tunyiswa, Mbulelo Grootboom, Anja Taljaard.
- Vervaardigers: Wolflight Pictures – Roelof Storm, Willem van der Merwe en Gideon Lombard
- Teks: Saartjie Botha en Philip Rademeyer
- Regie: Jaco Bouwer
- Kinematografie: Chris Lotz
- Produksie-ontwerp: Rocco Pool
- Hoof van garderobe: Mariechen Vosloo
- Stilering en grimering: Sulani Saayman
- Redigeerder: Leon Visser
- Oorspronklike musiek: Pierre-Henri Wicomb
- Klankontwerp: Jean-Pierre du Preez
- Rekwisietemeester: Stefan Benade
Elke Dinsdagaand van 25 Maart om 20:00 op kykNET en DStv Stream (kanaal 144) en daarna op CatchUp
By vanjaar se KKNK is daar ook op 1 April om 19:30 ’n Niggies-aktivering by Die Kelder (Tabakstoor, Parkweg-Suid) en ’n Netwerk24-gesprek oor die reeks onder leiding van Kabous Meiring as gesprekvoerder op 2 April om 11:00 in die Netwerk24-feeskafee.
Lees ook:
Persverklaring: Hier is die lokprent én res van die rolverdeling van Niggies

