
Joe Barber vier vanjaar ’n kwarteeu – die Moederstad se komedie met die langste raklewe – én het by die 60ste Fleur du Cap Teatertoekennings op 23 Maart die Encore-toekenning ontvang. Die vertoning het pas ’n draai in die Karoo by die KKNK gemaak voor dit terugkeer na Kaapstad vir die Suidoosterfees.
Dis ook pas vir ’n KKNK Kanna benoem in die afdeling vir beste komedie.
Die Fleur du Cap-beoordelaarspaneel skryf:
Die kreatiewe duo, David Isaacs en Oscar Petersen, ontvang die toekenning vir 25 jaar van Joe Barber. Die karakters Boeta Gamat en Boeta Joe wat die vrygewige hart van die Kaapse Vlakte vergestalt, het in 1999 hul “lewens” by Kaapstad se Skokiaan-teater begin. Sedertdien het hulle ’n gevoel van gemeenskap vir almal geskep: van Hanover Park tot Heathfield, van Rondebosch tot Rylands, en verder.
Isaacs en Petersen het ’n teaterervaring geskep wat ’n kulturele verskynsel geword het met opvoerings wat geslagte verbly en deel geword het van die murg en been van Kaapstad. Hulle gaan voort om rekords te breek as die langste teaterkomedie in die stad.
Die paneel gee erkenning aan Joe Barber vir 25 jaar van geestelike herstel en gemeenskappe verenig deur lag.
Joe Barber hou steeds die rekord as die topverkoper-vertoning in die geskiedenis van die Grand Arena by Grand West, met hul vertoning in 2022 wat alle bywoningsrekords by dié ruimte oortref het.
Op die Joe Barber Facebook- en Instagram-blaaie verklaar hulle: “Not Shakespeare or Cats. It’s simply life on the Cape Flats.”

Die duo het aanvanklik met die avonture van Joe Barber – jou barbier in ’n gewone voorstedelike barbierwinkel – begin. Die karakters, Boeta Joe en Boeta Gamat, het ook besoekers gekry in die vorm van Washiela en Outjie, wat ook deur Oscar en David vertolk is.
Hul ongekende sukses het Joe Barber and Boeta Gamat too, Joe Barber 3: the family affair, Joe Barber 4 the people, Joe Barber 5: school cuts, herdenkingvertonings en Joe Barber’s family reunion tot gevolg gehad.
Hulle vertel in ’n onderhoud verlede jaar dat hulle aanvanklik gedink het die vertoning sal vier weke speel, maar nou is dit ’n kwarteeu later en geen einde niet!
In die nuutste vertoning is die regie deur Lara Bye wat sedert die 20ste herdenkingvertoning in dié stoel sit. Vir al die vorige vertonings was dit Heinnrich Reisenhofer.

Jul 25 show het verlede jaar in Kaapstad by Grand West geopen. Hoe verskil die inhoud van plek tot plek en hoeveel pas julle die materiaal aan vir die Karoo of die Kaap?
DI en OP: Ons probeer altyd om in te tune na die plek waar die mense woon. Byvoorbeeld as daar ’n sekere woord is of ’n sekere uitdrukking van die area, sal ons probeer om dit by daai plek in te bring.
Hoe bepaal jy die gehoor se tolerance en pas jy dan ook tussen die verskillende dae by die KKNK aan?
DI en OP: Ons luister maar altyd so fyn moontlik om te hoor waarvoor die mense lag of wat hulle aandag prikkel. As daar iets is waarvan hulle hou, sal ons probeer om deurgaans daarop te hou.
Hoeveel dink op jou voete, hoeveel is teks? As dinge nie vlot nie, hoe improviseer julle of het julle verskeie opsies gerepeteer?
DI en OP: Ons gaan maar soveel moontlik met wat ons gerepeteer het, maar ons is al gewoond daaraan om dinge te verander wanneer ons goed vertroud is met die dialoog. Daar speel ons rond en gaan bos waar dit toepaslik is. Dis belangrik om eerlik te wees wanneer dinge nie uitwerk nie; dit kan ook nogal snaaks wees.
Was dit jul eerste KKNK en hoekom die besluit om te gaan?
OP: Nee, dit was ons tweede keer gewees, laas was ons daar met Joe 3, dink ek. Seker so 2005? Hierdie keer was ons lus vir “iets” feesteliks. 25 jaar moes gevier word en KKNK het mos die keer al die “ietse” gehad.
Vertel my waar die idee van Boeta Joe en Boeta Gamat en hul sidekicks vandaan gekom het?
OP: Die hoofkarakters is mengsels van mense wat ek en David ken. Toevallig was my oom ’n barber. Sy naam is Sunny Herman. Hy was ook my barber toe ek ’n jong seun was. Ons het sy lag gebruik vir Joe. David se barber se naam is Joe, en hy is ook ’n interessante mens. Toe ons research gedoen het vir die Joe Barber show, baie jare gelede, het ons gehou van die idee dat die Joe van David se regte lewe ook ’n maat gehad het wat die barber met hom deel. Die verskil is ons het hom ’n sidekick gemaak en die res is, soos hulle sê, history.
Was die National Arts Festival in Grahamstad jul eerste optrede, toe Skokiaan, of andersom?
DI: Skokiaan was die eerste een. Die venue is die grootte van ’n enkel-garage.
Hoe kom julle voortdurend met nuwe inhoud na vore?
DI: Dis baie maklik, kyk net rondom jou ...
Hoe voel dit om na 25 jaar steeds uitverkoopte shows te hê in ’n venue so groot soos Grand Arena?
DI: Dis meer as mindboggling. Dis verstommend wat ons kan aflei van die Grand West-uitverkope. Mense het ’n groot behoefte om te lag en hulle is happy om dit met ons te doen. Dis tot dusver ons grootste compliment.
Waaraan skryf julle jul sukses toe? Julle is tog nie die enigste komediante wat spot met die lewe op die Vlakte nie? Wat maak julle uniek?
OP: Ek sal nie kan sê wat maak ons uniek nie, maar ek vermoed dis omdat ons eerlik is oor alledaagse mense van Kaapstad en dat ons hulle verewig as mense en nie op mense afkyk nie. “Ons maak gek, but ons het jou back.”
Is daar dikwels inhoud waaroor julle onseker is of nie saamstem nie, maar steeds inlos, wat dan die grootste reaksie uitlok?
DI: In die verlede het ons baie meer goed gelos wat nie altyd snaaks was nie. Dis belangrik om sekere goed te sê wat jou weer aarde toe bring. Selfs al is dit snaaks vir die verkeerde redes.
OP: Daar is nie eintlik holy cows nie. Dit gaan alles oor opinies en ideas as wat dit gaan oor reg en verkeerd. Dis hoe ons dit handle. Ons brand Joe Barber advertise nooit alcohol , gambling, insurance of banke nie.
Hoe voel julle oor die Encore-toekenning?
DI: Dis altyd lekker om erken te word vir werk wat jy nalaat. Die eer wat aan ons gegee word, behoort aan die mense wat ons in ons shows verteenwoordig.
Vertel my van The Joe Barber Company. Wat doen julle alles?
OP: Joe Barber Company is geskep om hoofsaaklik die besigheid van die Joe Barber show te hanteer. Die oog was om te produce en nuwe werk te skep.
Wie is jul ideale gehoor?
DI: Ons gehoor is gevarieerd, dis Afrikaans, en die ouderdomme is tussen 10 jaar tot senior ouderdom, mans en vroue. Ons beste shows is wanneer families bymekaar sit, hulle lag harder en langer.
Vir die eerste 20 jaar was Heinrich jul regisseur, nou Lara Bye. Hoekom die verandering en hoe verskil die aanslag van die vertoning met ’n regisseur en boonop ’n vrou?
OP: Verandering is deel van die lewe en ons aanvaar dit. Die show het groter as ons geword, letterlik. In die vroeër jare met Heinrich was die show meer gestel op teater en lang runs wat in intieme venues gedoen is. By 2019 het die show sy size gewys met ons eerste probeerslag by Grand West. Lara verstaan die beginsels van spectical en groot sale. Haar feminine touch het ons goed bedien tot dusver.
Vertel my meer van die Joe Barber Live en patreon op YouTube-uitsendings? Hoe het dit begin en hoekom die besluit? Wat geniet julle daaraan?
DI: Die toekoms is online en/of TV. Ons raak nie jonger nie. Live show runs is bloed en sweet. Dis nog alles nuut vir ons en ons kan beter doen, maar die positiewe kant is dat ons ons tyd goed kan bestuur. Die regte span maak alles baie meer produktief en genotvol.
Watter storie of skets uit julle shows is jul gunsteling en watter een het die beste reaksie by die gehoor uitgelok?
OP: Die “Wie speech” kry die meeste aandag by ons gehore. Dis ook op die internet die langste – was een van ons eerstes online. Intussen het van ons ander clips bietjie meer traction gekry. Analytics verander van week tot week, moet weer ’n slaggie kyk, maar ja, ons kry meer as genoeg aandag online.
Kyk julle ooit na jul vorige shows en dit spark weer nuwe idees, of gril julle vir jul begindae-naïwiteit?
OP: Dit het lank gevat om gewoond te raak aan om jouself te kyk. Gelukkig is ons nou oud genoeg om verby die cringe te kyk, maar ja, dit bly maar ’n realiteit. Die regrets is minimaal. Die tye rondom die show was meer uitdagend as die show self.
MR: Waar kan mense jul show kyk na die Suidoosterfees?
OP: Na Suidooster gaan die show meestal online lewe. Die res sal ons maar sien. Net ’n note. Om al jou vrae te type is werk. Volgende keer stuur ek ’n voice note.
By die Suidoosterfees:
Joe Barber 25 is 70 minute lank en geen o/13’s sonder ouerbegeleiding nie. Die dialoog is in Afrikaans en Engels.
Joe Barber 25 is op 1 Mei om 16:00 en 20:00 in die The Capetonian-operahuis by die Kunstekaapteater op die planke.
Bespreek by Webtickets.
- Foto’s deur Clifford Roberts by die KKNK geneem
Sien ook:
Persverklaring: Komedie by Suidoosterfees bring lekkerlag-terapie teen die lewe se sorge

