Persverklaring: Komedie by Suidoosterfees bring lekkerlag-terapie teen die lewe se sorge

  • 0

Aunty Cheryl met Natasha Pondo en Sohail Booise (foto: Gys Loubser)

Daar is geen ouderdomsbeperking op drome en die verbeelding nie, en lag word nie deur tyd ingeperk nie. Dié wysheid van Walt Disney is van toepassing op komedies wat vanjaar van 30 April tot 4 Mei by die Suidoosterfees op die planke is.

Die komedie-afdeling van die Suidoosterfeesprogram is propvol hoogtepunte. Die Joe Barber-span is terug op die verhoog om hul 25ste bestaansjaar in die bedryf te vier. Marc Lottering, Marianne Thamm, Mavis vannie Lavis en Aunty Cheryl gaan gehore laat kraai van plesier, en Cathy Specific maak haar buiging vir die eerste keer by die Suidoosterfees.

David Isaacs en Oscar Petersen het gehore reeds 25 jaar gelede uit hul hand laat eet met die skreeusnaakse barbierwinkel-manewales van Boeta Joe en Gamat. Dié komedie hou steeds die rekord as die topverkopervertoning in die geskiedenis van GrandWest se Grand Arena.

Feesgangers wat nog nat agter die ore was toe dié geselskap die bedryf ’n kwarteeu gelede stormenderhand verower het, kan nou inhaal. Joe Barber 25 speel twee keer op Werkersdag, 1 Mei, in die Kunstekaap se The Capetonian Operahuis.

Marc Lottering (foto: verskaf)

In Marc Eugene Lottering delf die legendariese komediant in sy familiegeskiedenis en hy bring stories uit sy kinderjare in die oopte. As kind het Marc se ma hom oortuig dat die Lotterings afstam van blonde Duitse Karibiërs, en dié staaltjie lei natuurlik tot skreeusnaakse insigte oor identiteit en ons land se geskiedenis.

Lottering is verlede jaar vereer met die Savanna Comics’ Choice se Hall of Fame-prys. Marc Eugene Lottering is ook op Werkersdag op die feesprogram en het ’n ouderdomsbeperking van 16.

Nog twee veterane van die komedieverhoog wat ’n Suidoosterfees-draai maak is Cathy Specific en Marianne Thamm.

Die akteur Brendan van Rhyn gee al vir dekades lank gestalte aan die nimlike fopdos-legende, Cathy Specific, en vanjaar maak sy vir die eerste keer haar buiging by die Suidoosterfees. Aan dié karakter se spitsvondigheid is daar geen einde nie, en sy steek die draak met alles onder die son. Cathy word beskryf as ’n “eenmaal-in-’n-leeftyd tipe vrou” wat alles in oordaad en eersteklas aanpak.

Specifically Cathy word van 1 tot 4 Mei saans om 18:30 in die ATKV-Boeke-oase by die fees opgevoer. Haar rou, ongefiltreerde en fabelagtige herinneringe aan ’n loopbaan as dekadente voorbladmodel, fashionista, seremoniemeesteres, vermaaklikheidster en glansvrou is geskik vir mense van 16 en ouer.

Marianne Thamm (foto: verskaf)

Die veelbekroonde joernalis en skrywer Marianne Thamm is bekend vir haar sonderlinge komedie-aanslag. As ondersoekende joernalis wat toegang tot diep agter Suid-Afrika se politieke skerms het, deel sy met haar kenmerkende vlymskerp satiriese tong skreeusnaakse dog hoopvolle insigte in die binnewerkinge van die land se politieke enjin.

In Vuisvoos, maar nog regop: Herlaai, ook vir feesgangers 16 en ouer, huiwer Thamm nie om dié enjin te rev tot in die rooi nie. Sy fokus op die regering van nasionale eenheid se suksesse en stommiteite – en Donald Trump sal sekerlik ook onder skoot kom.

Mavis vannie Lavis in Mavis mettie marbles (foto: verskaf)

Onder die jonger geslag personasies wat weet hoe om lagspiere te prikkel is Mavis vannie Lavis, wat verlede jaar haar verhoogdebuut by die Suidoosterfees gemaak het, en die loslittige Aunty Cheryl. Veronique Jephtas is te sien as Mavis vannie Lavis en Sohail Booise is Cheryl.

Mavis mettie marbles word 1 en 4 Mei in die fees se CPUT Zip Zap Dome, die groot tent agter Kunstekaap, aangebied, wat ook die venue is vir Aunty Cheryl se lunch op 1 Mei. Mavis is alleen op die verhoog, en Sohail Booise as Auntie Cheryl word deur Natasha Pondo en Kaydee Griebelaar bygestaan. Beide Mavis en Auntie Cheryl delf diep in sosiale media as ’n bron van eindelose pittighede.

Vertonings in die Suidoosterfees se komedie-segment word aangevul deur skreeusnaakse dramas in die NATi Teaterfeesprogram en kort, kragtige 30-minuut-vertonings in die fees se Kort voor lank-programafdeling.

Al dié programsegmente, asook die volledige feesprogram, is beskikbaar op suidoosterfees.com, en kaartjies kan deur Webtickets bespreek word.

Die Suidoosterfees word geborg deur die departement van sport, kuns en kultuur; die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport; Stad Kaapstad; Netwerk24; Die Burger; NATi; kykNET; die ATKV en Kunstekaap.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top