Riette Rust

Riette Rust is in die Paarl gebore en het aan die Hoër Meisieskool gematrikuleer. Daarna het sy drama en tale aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer en tussenin vir die koshuisblad en Die Matie geskryf.

Ná universiteit het sy vir KWV in die Paarl as skakelbeampte gewerk, verskeie wynkursusse geloop en later self dié kursusse landwyd aangebied. Hierna is sy as redakteur van KWV se personeelblad, Parskuip, aangestel. Terselfdertyd het sy ’n paar kort kursusse in bedryfsjoernalistiek voltooi. Parskuip is verskeie kere bekroon.

Riette was daarna vir onder meer Sarie ’n vryskutskrywer. Haar artikels is met ’n Media24-merieteprys, twee ATKV-Mediaveertjies, asook ’n Citadel-prys vir finansiële joernalistiek bekroon.

Riette is tans ’n boekresensent vir LitNet, Fine Music Radio, Rapport en Die Burger. In 2016 het sy die kortlys van die kykNET-Rapportpryse, die grootste boekpryse in Afrikaans, gehaal met haar resensie “Warm en wild, maar nie vir almal” (oor Jan van Staden se Boer kry ’n vrou in By, Die Burger, 6 Junie 2015).

Haar vyfde boek, Ek! Ek! Ek! Herken en hanteer narsiste (LAPA, 2016), was die eerste Suid-Afrikaanse en Afrikaanse boek oor dié onderwerp. In 2016  was dit vir ’n hele paar weke onder die top 10 Afrikaanse boeke. Ek! Ek! Ek! is verlede jaar (2017) as een van die top Afrikaanse verkopers van die jaar (onder fiksie én niefiksie) aangewys.

Vlees en bloed, met sy vertaling, Flesh and blood, is in Februarie 2016 uitgegee, ook deur LAPA. Dit handel oor twee (ware) susters wat misdaadtonele skoonmaak en is ’n opvolg van Ilse Salzwedel se Bloedsusters.

Haar Die Aa tot Oe van seks (Tafelberg, 2013) was die eerste volwaardige seksgids in Afrikaans. Dit was volgens Nielsen-syfers die agtste beste verkoper van daardie jaar, onder fiksie én niefiksie. Van die woorde daarin, waarvan sy sommige self geskep het, is in die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal) opgeneem.

Riette het ook ’n kortverhaalbundel, ’n Lyf onthou (Protea, 2012), gepubliseer. Haar eerste boek was Lang bene & Lipstiek – Gebruik jou seksualiteit en behaal sukses (Naledi, 2011).

Dié skrywer het haar eerste TV-draaiboek oor wyn geskryf en dit self op kykNET aangebied. Haar tweede draaiboek is as Bloedsusters op Via uitgesaai. Sy verskyn gereeld op TV en neem aan regstreekse radio-onderhoude deel, onder meer oor die onderwerpe wat sy vir vryskutartikels navors.

Riette is ’n lid van die gesogte SA Brandewyngilde, wat haar vir haar joernalistieke bydrae tot die brandewynbedryf vereer het.

Sy studeer tans sielkunde deur Unisa.

Die lirieke van haar eerste liedjie, “Waar bly jy?”, is op die sanger Willie Strauss se album Seisoene opgeneem.

Haar liefdes sluit in lees (sy het ’n uitgebreide boekversameling), musiek (veral jazz), toneel, kunsflieks, bak, asook goeie kos en wyn. Sy hou van avontuur en het al valskerm gespring (solo!), ’n skubaduikpoging aangewend, self ’n helikopter gestuur en saam met die bulle in Pamplona gehardloop.

Sy woon in ’n noordelike voorstad van Kaapstad. Sy en haar oorlede man, JD, het twee dogters. Zahn (32) het ’n meestersgraad in kuns, is ’n bloemiste met haar eie besigheid in Kaapstad en beoefen ná ure kuns. Cara (26) het ’n dramagraad en werk vir ’n maatskappy wat video’s vervaardig – ook in Kaapstad.

Dan sien ons mekaar deur James Scott: ’n resensie

Riette Rust Resensies 2023-10-30

"Dit wat dié sielkundige daagliks in sy tuiskantoor beleef, gee hom nie net insig in die lewens van ander nie, maar ook die geleentheid om die lief en leed van sy eie lewensreis te deel."

’n Dagreis ver deur Zarine Roodt: ’n resensie  

Riette Rust Resensies 2023-01-24

"Vir ander kan sy nou sê: Die Camino-avontuur, veral die potensiaal vir insig, is net ’n dagreis ver, soos ook die titel suggereer. Ėlke dag van die staptog was trouens ’n nuwe reis. So ook elke dag wat vir elkeen van ons begin."

Die hart het sy redes deur Helena Gunter: ’n resensie

Riette Rust Resensies 2022-12-06

"Jy voel jy ken Gunter se karakters. Jy vóél trouens vir hulle."

Zeus van Wyngaardt en die godin van die jag deur Julio Agrella: ’n FMR-resensie

Riette Rust Resensies 2022-05-16

"Zeus van Wyngaardt en die godin van die jag is nie ’n swaarwigtige roman nie. Die humor vermaak, en as jy ’n filosofieliefhebber is, sal jy genoeg stof tot nadenke hê. Jy kan ook die verhaal bloot vir die spanningselement geniet." 

Robert – a queer and crooked memoir: ’n onderhoud met Robert Hamblin

Riette Rust, Robert Hamblin Skrywersonderhoude 2021-12-10

"Op my ouderdom en vanweë dit wat ek ervaar het, is gender en seks heeltemal oop en bestaan daardie kategorieë slegs soos blomme met baie kleure en teksture sáám in ’n bos. Nie soos mielies in rye langs rye lusern in ’n nabye land nie."

C Johan Bakkes se Hou die kruit droog: ’n resensie

Riette Rust Resensies 2021-09-06

"Hou die kruit droog is inderwaarheid ’n waansinnige reis wat jou laat lag en soms hoendervel gee."

’n Baie lang brief aan my dogter deur Marita van der Vyver: ’n resensie

Riette Rust Resensies 2021-06-10

"Skuif vir eers alle moet-doen take opsy en lees gerus hierdie lang brief van ’n besondere ma aan haar dogter. Dit is onteenseglik die moeite werd. Veral as jy ook in die sestigs en sewentigs jonk was."

Rooiborslaksman deur Marinda van Zyl: ’n FMR-resensie

Riette Rust Resensies 2021-05-31

"Die skrywer se navorsing is omvattend en goed geïntegreer by die res van die verhaal. Van Zyl se skryftalent is onmiskenbaar."

Skadukant deur Rika Cloete: ’n FMR-resensie

Riette Rust Resensies 2021-03-24

"Skadukant is ’n spanningsvolle roman vol intrige en wendings. Wanneer die skuldige eindelik vasgetrek word, raak die sielkunde agter die wreedhede éérs boeiend."

Middernag deur Sidney Gilroy: ’n FMR-resensie

Riette Rust Resensies 2021-03-23

"Alles in hierdie misdaadroman werk. Nie net die spanningslyn en die karakters nie, maar ook die perspektiefwisseling, die beskrywing van die milieu, die intrige én die navorsing oor onder meer psigopatie en patologiese prosedures."

Gangsters deur Carla van der Spuy: ’n resensie

Riette Rust Resensies 2021-03-05

"Die Covid-inperkings het die bendeprobleem vererger, skryf Van der Spuy. Kinders het vir lank nie skoolgegaan nie en dikwels by bendes aangesluit."

Merk deur Rudie van Rensburg: ’n resensie

Riette Rust Resensies 2020-10-08

"Merk is hoogs toeganklike leesstof. Dis trouens een van die boeiendste ervarings wat jy in ’n lang tyd sal hê."

Resensie: Klaskamer deur Vita du Preez

Riette Rust Resensies 2020-01-24

"Vita du Preez verdien lof vir haar waagmoed om die BDSM-tema (in Afrikaans) te takel. As die Fifty Shades-reeks wel vir jou boeiend was, skaf gerus Klaskamer aan."

NouNet-mening: Drink en bestuur – "Mamma wag nie vir my nie"

Riette Rust NouNet 2019-09-26

"’n Nuwe perspektief oor drink en bestuur is nodiger as ooit. En dit sluit nie padblokkades en blou ligte in nie."

Boekresensie: Liefde agter tralies deur Carla van der Spuy

Riette Rust Resensies 2019-09-26

"Die gevangenes en hul metgeselle buite die tronk vertel hul verhaal in ’n eiesoortige stem. Dis asof karakters in ’n roman aan die woord is."

Top