
https://naledi.co.za/product/n-dagreis-ver/
Titel: ’n Dagreis ver
Skrywer: Zarine Roodt
Uitgewer: Naledi
ISBN: 978-1-77617-207-8
............
Dis glad nie vreemd dat ’n middeljarige tot stilstand kom en vra “Wat nou?” nie.
Jou kinders is uit die huis, jy het familielede en vriende aan die dood afgestaan en jy het waarskynlik tot waar moontlik in jou loopbaan gevorder.
Dis dan dat jy na binne keer en wonder: Wie is ek werklik? Sonder etikette, sonder dat my ouers of ander my in ’n boksie probeer forseer het.
..............
Dis glad nie vreemd dat ’n middeljarige tot stilstand kom en vra “Wat nou?” nie.
Jou kinders is uit die huis, jy het familielede en vriende aan die dood afgestaan en jy het waarskynlik tot waar moontlik in jou loopbaan gevorder.
Dis dan dat jy na binne keer en wonder: Wie is ek werklik? Sonder etikette, sonder dat my ouers of ander my in ’n boksie probeer forseer het.
Dís die onderwerp wat die skrywer Zarine Roodt ondersoek.
In 2014 het sy met enkelreis (Hemel en See) gedebuteer. Sy het toe 50 geword. Om hierdie mylpaal te herdenk het sy na Engeland en die afgesonderde eiland Alonnisos en die Pelion-skiereiland in sentrale Griekeland gereis.
Die reis word toe ’n “argetipiese binnereis”, het sy in ’n onderhoud vertel. In stilte en alleen het sy na haarself gaan soek, na dit wat so maklik verlore raak tussen “baie dinge wat ons as belangrik beskou in die eerste deel van ons lewe”.
In ’n Dagreis ver sit sy, in die proses van 60 word, haar transformasie voort.
Dagreis, wat onlangs verskyn het, is nie ’n outobiografie nie, maar memoires. Dit handel dus nie oor die skrywer se hele lewe nie, maar oor ’n belangrike gedeelte daarvan: die stap van die Camino Portugués.
............
Dagreis, wat onlangs verskyn het, is nie ’n outobiografie nie, maar memoires. Dit handel dus nie oor die skrywer se hele lewe nie, maar oor ’n belangrike gedeelte daarvan: die stap van die Camino Portugués.
............
Volgens Roodt was dit “die heel moeilikste ding” wat sy ooit aangepak het. Sy was immers onfiks en het gesondheidsprobleme gehad. ’n Spesialis het al na “metaboliese sindroom” verwys. Die skrywer is ook ’n depressievegter.
Sy het drie maande gehad om in fiks te word. Net drie maande!
’n Familielid het haar vooraf aan haar bondgenoot en “mentor”, Benita, voorgestel. Sy erken dat sy nie veel geweet het van dinge soos stapskoene, geskikte voetsalf of stapstokke nie. Benita het praktiese raad gegee.
Roodt wou egter nie vooraf oornagplekke bespreek nie. Sy het ook nie presies geweet watter roete sy elke dag sou stap nie. Só wou sy wegkom van die “absolute geordenheid en struktuur” van haar lewe.
Haar ervarings van nagenoeg 25 oornagplekke – veral wat die soms eienaardige en/of knorrige eienaars betref – was deel van haar oppe en affe.
Die reis was aanvanklik pure loutering. Hél, skryf sy. Die woord “uitputting” het ’n nuwe gedaante aangeneem en die pyn in en blase op haar voete het haar keer op keer laat wonder of sy die reis – in storms, felle son en tussen die trane deur – sou kon voltooi. Sy skryf trouens: “Ek moes mál gewees het om te dink ek kan die Camino aanpak.”
Sy het egter tog ná twee weke haar stapritme gevind en later haar doel bereik.
Maar daar was ander komplikasies ook. Sy kon nie die taal praat nie en haar rigtingloosheid het in haar ergste nagmerrie ontaard.
Sy moes haar stapstokke reeds by die lughawe indien oor sy nie geweet hoe om dit te vervoer nie. Daarby het sy haar sonhoed, rugsak se reënbedekker en modem verloor. Haar brilraam het ook gebreek.
Sy het later die verdwalery sielkundig ontleed. Sy sluit aan by wat Rebecca Solnit in The art of getting lost skryf: “Getting lost means accepting change.” Die skrywer voeg by dat dit wat mens dan onverwags beleef, een van die voordele van verdwaal is.
Medepelgrims wat sy by eindbestemmings ontmoet het, het haar perspektief verruim, maar ’n “pelgrim” in onvanpaste klere vir so ’n staptog het haar sin vir veiligheid bedreig deur haar te agtervolg. (Sy was op haar eie.) Dit, en die feit dat sy letterlik moeilike berge moes oor, sorg vir spanningsvolle leesoomblikke.
Terwyl Roodt soms kon afskakel, het sy eerder haar selftwyfel en diepste emosies in eerlike skrywes aan Dominique, ’n jare lange vriendin, verwoord. Sy besin ook oor sekere gebeure in haar lewe.
Benewens haar sielkundige groei was die staptog in ander opsigte positief. So het sy haar byvoorbeeld aan die prag van die omgewing verwonder.
Dis veral haar besoeke aan kerke en katedrale wat my bekoor het. Tydens ’n pelgrimsmis het sy onder meer die Botafumeiro in die Catedral de Santiago de Compostela beleef.
Die Botafumeiro is ’n “indrukwekkende” wierookbrander wat met spesiale seremonies in die katedraal aan lang toue opgehys en van kant tot kant deur die koepel geswaai word.
Tog is die staptog self nie dit wat haar memoires anders maak as ander oor die Camino nie (sien die bronnelys van ’n Dagreis ver), maar wel haar psigiese verruiming.
Tydens die reis het sy onder meer haar broer se moord herbesoek, probeer sin maak van haar gebrek aan verbintenis met haar afwesige pa, en ook met haar komplekse verhouding met haar ma. Sy het besef dat sy nie haar werk geniet nie en dat haar sterflikheid daagliks ’n dreigender werklikheid word.
Sy skryf dat sy eerder spiritueel as godsdienstig is. ’n Soeke na betekenis is haar interpretasie van spiritualiteit.
Roodt beleef sinchronisiteit ook, ’n term wat deur Carl Gustav Jung gemunt is. Sy beskryf die betekenis as die “saamval” van fisieke en sielkundige omstandighede wat op die oog af nie verbind is nie. Aan toeval glo sy nie.
Die skrywer, wat onder meer sielkunde gestudeer het en gereeld vir Jung aanhaal, verwoord haar psigiese ervaring só: “Die staptog was vir my ’n individuasieproses in die kleine waarin ’n dialoog tussen my bewuste en onbewuste ontstaan het.” Soms het sy wel na haar “uitgediende persona” teruggeglip, skryf sy, wat beteken dat sy met haar skadukant gekonfronteer is.
Dit was eers toe sy terug is in haar eie land dat sy die aard van haar transformasie besef het. Toe eers kon sy met ’n onbekende non se woorde identifiseer: “May you open your heart to silence.” Want dit het sy wel tydens die staptog gedoen.
Roodt se strewe was dus nie net beter gesondheid of meer fisieke krag nie; sy wou die stukkies van haarself aanmekaar gom.
Vir ander kan sy nou sê: Die Camino-avontuur, veral die potensiaal vir insig, is net ’n dagreis ver, soos ook die titel suggereer. Ėlke dag van die staptog was trouens ’n nuwe reis. So ook elke dag wat vir elkeen van ons begin.
Die Amerikaanse skrywer Joseph Campbell stel dit só: “Your own path you make with every step you take. That’s why it’s your path.”
Wie is Zarine Roodt nou?
“Ek is ’n vrou wat gereis het, en altyd binnewaarts sal reis. Daar is immer meer van my – meer om ontdek te word, vergeef te word, en lief te hê,” skryf sy ten slotte.

