Zeus van Wyngaardt en die godin van die jag deur Julio Agrella: ’n FMR-resensie

  • 0

Zeus van Wyngaardt en die godin van die jag
Julio Agrella
Protea Boekhuis
ISBN: 978-1-4853-1237-6

..........
Wat ’n plesier was dit nie om ’n debuutroman van hierdie kaliber te lees nie! Zeus van Wyngaardt en die godin van die jag is goed deurdink en boei tot op die einde.
............

Wat ’n plesier was dit nie om ’n debuutroman van hierdie kaliber te lees nie! Zeus van Wyngaardt en die godin van die jag is goed deurdink en boei tot op die einde.

Die grootste vreugde lê in die skryfwerk en taalgebruik. Dis van die hoogste orde.

Privaatspeurder Zeus gaan deur die lewe met dié naam uit die Griekse mitologie. Die mitologiese Zeus is die god van die hemelruim en van donder en word beskou as die heerser, beskermer en vader van alle gode en mense.

In hierdie misdaadroman vra Zeus die speurder: “Wie noem hulle eniggebore kind Zeus?” Dit word gou duidelik dat sy naam ironies is. Hy is ’n geskeide ekspolisieman, sardonies en sinies. Hoewel hy hom dan en wan aan alkohol vergryp, kry hy sy speurwerk gedoen. Goed gedoen.

Op ’n dag stap die aantreklike Diana Engelbrecht sy eenvoudige kantoor in Springs binne. Zeus sê hy kén godinne. Diana gee hom opdrag om na die verdwene Esias Kok te soek. As kind het Esias albei sy ouers in ’n motorongeluk verloor. Dis net een van die tragedies wat hom bybly en vanselfsprekend sy psigiese gesondheid beïnvloed. Niemand skyn iets van Esias as volwassene te weet nie.   

Zeus vertrek in sy ou Hardbody deur die land om die man met die baie geld en professionele houding te soek. Jy laat tog nie vir godin Diana in die steek nie!

Tydens sy omswerwinge ontmoet Zeus verskeie karakters; volrond geskets. Hul lewens word boonop vindingryk vervleg. Mens kan nie anders as om te wonder hoe lank dit Agrella geneem het om só ’n plot uit dink nie.  

In teenstelling met die Griekse god is Zeus menslik. Hy dra self swaar aan ’n skokkende gebeurtenis, is ontnugter deur die liefde en loop ’n onwaarskynlike gelukkie in die vorm van (die warm!) Wanda Vercuiel raak. Vercuiel was destyds Esias Kok se sielkundige, stel Zeus vas. Dit bly egter Diana wat sy gedagtes beset.

Die gebeure verloop nie chronologies nie, wat die spanning verhoog. Zeus is die verteller, maar die terugflitshoofstukke word uit ander karakters se perspektiewe vertel. Baie van dié feite is onbekend aan Zeus.   

Die roman ondersoek kwessies soos seksuele misbruik, geweld en magsmisbruik. Dit kom in alle lae van die samelewing voor, besef mens net weer. Ek verswyg nóg ’n belangrike vraagstuk. Die ontknoping behoort immers nie verklap te word nie.

.........
Zeus van Wyngaardt en die godin van die jag is nie ’n swaarwigtige roman nie. Die humor vermaak, en as jy ’n filosofieliefhebber is, sal jy genoeg stof tot nadenke hê. Jy kan ook die verhaal bloot vir die spanningselement geniet.  
............

Zeus van Wyngaardt en die godin van die jag is nie ’n swaarwigtige roman nie. Die humor vermaak, en as jy ’n filosofieliefhebber is, sal jy genoeg stof tot nadenke hê. Jy kan ook die verhaal bloot vir die spanningselement geniet.  

Dié toeganklike roman ontknoop so verrassend dat sommige lesers waarskynlik  gelawe sal moet word.

’n Goeie resensie behoort nie nét gloeiend te wees nie, maar ek het werklik geen besware nie. Zeus van Wyngaard en die godin van die jag is eerder ’n leeservaring waarvoor jy tyd in jou kalender sal móét maak. Dis dêm goed.

Bespreking vir FMR Boekkeuse onder redaksie van Amanda Botha. Uitgesaai 20 April 2022. 

 

Hier is jou naaste tak van Bargain Books

As jy nie die boek sien nie, vra gerus die personeel om dit te bestel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top