Robert
Robert Hamblin
Melinda Ferguson Books (’n druknaam van NB Uitgewers)
ISBN: 978-1-928420-97-2
Robert Hamblin beantwoord Riette Rust se vrae oor sy debuut wat onlangs verskyn het.
Robert Hamblin se memoires, Robert, handel oor liefde, seks, leuens, gender en identiteit. Volgens regter Edwin Cameron daag Robert elke Suid-Afrikaner uit om nie net hul eie seksualiteit en identiteit te ondersoek nie, maar ook hul menslikheid (op die voorplat).
Hamblin se verhaal handel eerder oor identiteit en vooroordeel as oor die skrywer se genderbelyning (my vertaling van gender alignment), oftewel sy uiterlike transformasie van vrou na man.
Die subtitel, A queer and crooked memoir for the not so straight or narrow, laat mens wonder oor die woord queer. Dit wás ’n beledigende term, maar is deesdae die sambreelterm vir LGBTQIAA2++. Die ++ staan vir “al die mooi, asemrowende moontlikhede” sê Robert. Hy skryf: “Being queer is no longer only about same sex love. It’s a way of being – rejecting the binary of gender.”
Hamblin sê dat hy steeds nie sekerheid het oor sý identiteit nie. “Hopelik sal ek dit nooit hê nie.”
Wat transgenderism betref, is sy siening “meer feministies”. “Het feminisme ons dan nie geleer dat jou liggaam nie jou mag en geleenthede in die samelewing moet bepaal nie? Hoekom dan so klou aan die ‘stabiliteit’ van gender?” vra hy. Hy verkies ook die woorde kontinuum en vloeibaarheid.
........
Sy debuut lees soos die skryfwerk van ’n gesoute vakman. Hy besit ook een van die belangrikste eienskappe wat ’n skrywer behoort te hê: die bereidwilligheid om te herskryf. Robert is trouens drie keer oorgeskryf. Daarby het die skrywer sy verhaal benader soos dit goeie memoires betaam: absoluut eerlik. Hy skryf trouens uit sy murg uit.
.........
Sy debuut lees soos die skryfwerk van ’n gesoute vakman. Hy besit ook een van die belangrikste eienskappe wat ’n skrywer behoort te hê: die bereidwilligheid om te herskryf. Robert is trouens drie keer oorgeskryf. Daarby het die skrywer sy verhaal benader soos dit goeie memoires betaam: absoluut eerlik. Hy skryf trouens uit sy murg uit.
Daar is vele byvoeglike naamwoorde waarmee mens Robert se lewensreis tot hier kan beskryf: dapper, intiem, skokkend, hartverskeurend en soms selfs snaaks. Sy kinderjare gryp, ruk en skok jou tot jy ’n kant van gender ontdek waarvan jy waarskynlik nie bewus was nie.
Jy lees met empatie aan die gemarginaliseerde “karakters” en vra jouself: Hoe durf enigiemand oordeel?
Hoekom het jy die boek in Engels geskryf?
Ek het grootgeword in ’n tweetalige huis en as kind drie Engelse tienerboeke geskryf. My moedertaal is Afrikaans en my huistaal Engels. Dit was daarom nie moeilik om in Engels te skryf nie.
Dit was egter ’n groot uitdaging om as volwassene in Afrikaans te probeer skryf. Ek het baie dilemmas rakende my eie mense, en dit was net te pynlik om te begin. Ek kon ook nie uitwerk met wie ek praat nie, die rassiste of dié wat al begin “gesond” word het. Ek het toe maar deur middel van Engels afstand geskep terwyl ek my kwessies deurwerk.
Jou boek bevat geweldig baie besonderhede. Dis ook filmies en sintuiglik. Het jy deur die jare dagboek gehou of het jy op jou geheue staatgemaak?
Ek het twee keer ’n kursus by The Life Righting Collective geloop. Hulle help mense om memoires te skryf met die doel om van allerlei dinge, soos trauma en chroniese mediese simptome, te herstel. Hulle sien ook om na jou algemene psigiese gesondheid. So nou en dan skryf iemand ’n boek daaroor.
.......
Dít, meditasie en mindfulness-oefeninge het my gehelp om interpretasies en ervarings uit my onbewuste na vore te bring. Ek het ook báie foto’s. Om die bewustheidstegnieke toe te pas terwyl jy na die foto’s kyk, maak jou oop vir intense herervarings.
........
Dít, meditasie en mindfulness-oefeninge het my gehelp om interpretasies en ervarings uit my onbewuste na vore te bring. Ek het ook báie foto’s. Om die bewustheidstegnieke toe te pas terwyl jy na die foto’s kyk, maak jou oop vir intense herervarings.
Jou boek lees meer soos ’n roman. Was dit doelbewus?
Ek is nie ’n leser nie. Ek het redelik ernstige ADHD (aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring). Omdat ek sukkel om te lees, kon ek nie op daardie manier leer skryf nie. Boonop het ek nie lekker geweet met wie ek al skrywende ’n gesprek voer nie.
Ek het met genot op my eerste lees- en skryfervaringe as kind of jeugdige teruggeval. Mills & Boon- en Silhouette-romanses uit my tienerjare het die pas aangegee. My ervaring as kunstenaar (fotograaf, nou ook visuele kunstenaar) het gesorg vir die res.
Melinda Ferguson Books (NB Uitgewers) was jou uitgewer. Hoe sou jy Ferguson self se bydrae tot jou boek beskryf?
Melinda neem op ’n baie intieme manier aan haar skrywers se prosesse deel. Sy word jou beste vriendin en jou kwaaiste tante. Dis baie persoonlik. Ons het al twee ’n bietjie cuckoo geraak gedurende die grendeltydperke toe ek die grootste deel van die boek geskryf het.
Voor Covid was ons verhouding intens en fisiek, in dié sin dat ons mekaar baie gesien het. Sy is ’n gerehabiliteerde verslaafde en ek die kind van ’n verslaafde. Ons verhouding was by tye perfek en by tye pynlik. Ek noem haar nou Gaia – wrede moeder vir wie se guns ek hard werk.
Wanneer dit my beurt is om teen haar arm te lê is dit belaglik fantasties. Wanneer sy verder wegdryf, is ek half jaloers op die ander skrywers en meestal kwaad vir haar. ’n Hele paar skrywers het dieselfde ervaring.
In die boek delf jy diep en emosioneel in bitter moeilike tye, soos toe jy jou gay pa wat vigs gekry het, opgepas het. Hoe het jy die emosionele pyn gedurende die skryfproses hanteer?
Ek was redelik verskrik nadat ek so ’n hoofstuk geskryf het. Soms het dit weke geduur voor ek dit weer kon lees, of voor ek weer kon skryf. Ek moes myself gereeld vra of dié dinge regtig gebeur het. My hart het heling ondergaan deurdat ek detail vergeet het. Ek het daardie dinge in my geheue verpak en moes dit weer ontrafel. Dit het weer groot en kompleks gelyk. Noudat ek ouer is, kan ek gelukkig dualiteit beter integreer met my interpretasie van leef.
Jy het jou over the top pa eers ná jou kinderjare ontmoet. Jy skryf “I become a mess of pity and anger and love for him.” Hoe sou jy sy invloed op jou lewe beskryf?
Dit is moeilik om ’n verslaafde se kind te wees. Dit het ’n goed gedokumenteerde sosiale impak op jou lewe. Dit was die moeilike deel, die deel wat my baie geleer het.
Met betrekking tot die res: My pa se partytjies, sy glamour en selfs sy verraad teenoor groot maatskappye het my geleer om outsiderness te vier en te geniet.
My vrou sê altyd “Queerness saves you”: Wanneer jy op die rand van die samelewing staan en na binne kyk, het jy baie keer ’n beter begrip van die pyn van menswees en gaan jy met oper oë deur die lewe.
Hoe moeilik was dit vir jou ma, Estelle (Stella), om nie meer ’n dogter te hê nie? Mens rou tog seker oor die kind wat jy “verloor” het?
My ma is nie so analities nie. Sy’t nooit so ’n ding gesê nie. Sy was eerder bang vir die samelewing se reaksie, ook oor wat met my liggaam in die hande van medici sou gebeur.
.......
Ek neem aan dat om jou kind se gender weg te snoei, pynlik is, veral wanneer jy nog self in die waas daarvan sit. Wanneer jy daardeur gekom het, besef jy daar was geen verlies nie. Jou kind het op ’n interessante manier ouer geword. Basta!
.......
Ek neem aan dat om jou kind se gender weg te snoei, pynlik is, veral wanneer jy nog self in die waas daarvan sit. Wanneer jy daardeur gekom het, besef jy daar was geen verlies nie. Jou kind het op ’n interessante manier ouer geword. Basta!
Een van die andersoortige “karakters” in jou boek, die sensuele Alexis wat haar nie aan gendergrense gesteur het nie, hoort in ’n film. Was dit nie vir jou eienaardig dat sy jou in die plesiere van haar lyf ingelei het, maar ook op jou pa verlief was nie?
Ek wil sê glad nie. Op my ouderdom en vanweë dit wat ek ervaar het, is gender en seks heeltemal oop en bestaan daardie kategorieë slegs soos blomme met baie kleure en teksture sáám in ’n bos. Nie soos mielies in rye langs rye lusern in ’n nabye land nie. In die boek waar ek as tiener in die eerste persoon praat, wonder ek egter self hoe dit moontlik is.
Ten spyte van al die makietie in my pa se lewe het hy altyd gesê hy sal gaywees nie vir sy ergste vyand toewens nie. Vroeg in die boek lees jy hoekom. Ek sou egter mý lewe nooit vir ’n oomblik vir ’n ander een wou verruil nie.
Daar is ’n wonderlike sensuele toneel tussen Adéle (jou destydse naam) en Alexis. Dis nie maklik om so intiem te skryf nie. Was dit ook vir jou ’n uitdaging?
Glad nie. My persepsie van myself as vrou is fantasties. Ek het dalk genderdisforie gehad – dit het my soos chroniese griep destyds besoek – maar my persona het gesorg vir lieflike ervarings en wonderlike queerseks met straight vroue. Ek het toe my verborge manlikheid laat geld.
Die seks met mans was ook nie juis bybels nie. Teenoor hulle het ek ook gereeld manlik opgetree, hul homo-erotiese fantasieë gefasiliteer.
Om manlik te wees terwyl jou liggaam vroulik voorkom, is terloops nie net die transpersoon se “dansie” nie. Gedurende seks raak gender vir baie mense vloeibaar, mits hulle dit toelaat. Wanneer hulle uit die bed klim, gaan hulle voort met hul lewens sonder om ’n genderidentiteitskrisis te hê.
Elke keer dat ek vir ander van jou boek vertel, is daar sommige wat sê transitioning is “net ’n geit, ’n in-die-mode-wil-wees”, maar jy skryf: “Who I am feels dead, my beautiful feminine body a tomb that holds a beating heart but a spirit without understanding of its meaning or where it fits.”
Jongmense uit elke generasie eksperimenteer met gender. Ons leer van hulle. Ons het ook van bekendes soos David Bowie, Boy George, Grace Jones en Adam Ant geleer. In die proses raak gender meer vloeibaar.
Vandag se jongmense en tieners laat hulself toe om met gender te eksperimenteer en te speel. Ek glo dis omdat hulle meer inligting tot hul beskikking het.
Ons moet net asseblief nie hierdie eksperimente verwar met transgenderkinders en ˗grootmense wat mediese bystand benodig vir genderidentiteitsversteuring, liggaamsdisforie of liggaamsdismorfie nie. In hul geval is dit nie ’n fase of eksperimenteel nie. Net gespesialiseerde mediese bystand kan hulle help om psigies gesond te kan leef.
Daar is heelparty mense en organisasies wat uiters hard werk om transregte te bevorder. Hoe ver is ons al op dié pad?
Die transgenderkeerpunt het gekom toe Lavern Cox op die voorblad van Time was. Ons sal nie meer terugdraai nie. Jongmense wil om magsredes nie meer vasgestelde grense hê nie. Hulle wil pret met gender hê. Ek staan agter hulle.
Is jy steeds ’n transgenderaktivis?
My kuns en skryfwerk is uiteraard aktivisme. Ná die publikasie van my boek het ek baie gesprekke met ouers (van kinders met genderdisforie) wat my via sosiale media nader. Maar as ek agterkom hulle het meer as kort gesprekke nodig, verwys ek hulle na Triangle Project, Iranti en Gender DynamiX, asook na ’n paar mediese mense vir wie ek vertrou.
Hoekom kies sommige vroue wat genderbelyning ondergaan om nie ’n penis te kry nie, maar wel ’n mastektomie te ondergaan?
Genderdisforie het vlakke. Soms word dit verlig deur net ’n nuwe naam en voornaamwoord te kies, ander kere maak hormone jou gesond en partykeer het jy sjirurgie nodig. Dit hang af van hoe ernstig die disforie is.
In watter mate verskil jy met die stelling dat ’n penis iemand se manlikheid aandui en ’n vagina vroulikheid?
Soms ja, soms nie. Om dit uit te pluis is nie vir my skrikwekkend nie, dis ’n heerlike spel.
Ek en my kind (7) het onlangs verby ’n groep jongmense gery. Een van hulle, ’n vroulike transpersoon, het haar arm gelig, vir my gegil en met my geflankeer. My dogter het gevra hoekom ek terugwaai – ken ek dan die persoon? Ek sê toe nee, maar ek hou van haar want sy is ’n transgirl. Sy wou weet hoe ek dit weet. Dit was moeilik om te beantwoord. Ek wou nie outydse taal gebruik soos “dis ’n man met ’n rok aan” nie. Sy sou dit buitendien steeds bevraagteken het.
“Dit lyk of die transmeisie ’n effense stoppelbaard het, maar haarself tog gemaklik uitleef as ’n vrou,” sê ek toe. My kind het verstaan.
Ek maak haar soos ’n seun groot en my vrou maak haar soos ’n dogter groot. Ons besoek die seuns- én dogtersafdelings in winkels (wat wel hierdie onderskeid tref). Ek speel rowwerig met haar en neem haar vir branderplankry en karate. Ek por haar aan om te grom, te spoeg, hard te poep, te vloek en spiere te wys. My vrou leer haar weer die fynere kuns van vroulikheid. Ons dogter geniet dit alles, maar verstaan ook wanneer mens daardie “vaardighede” waar gebruik.
Sy is nie verward nie. Sy verstaan al die kontekste, dit wat ons glo en dit wat ander glo. Om haar so groot te maak is deel van haar opvoeding en van maniere leer. Dis vir haar normaal. Terloops, sy identifiseer baie sterk as meisie. En dit ontneem haar niks nie.
Hoe sal jy eendag vir haar verduidelik dat jy voorheen ’n man in ’n vroulike liggaam was?
Sy het dit nog altyd geweet. Ons het hierdie vraag nou die dag tydens ontbyt ondersoek en almal het lekker gelag.
Is daar iets wat jy mis van die tyd toe jy Adéle was?
Almal mis iets uit hul jeug.
.......
Terloops, ek dink nie aan myself as twee mense met twee lewens nie. Ek het ’n vrouenaam en -liggaamstrekke gehad. Daar was pret en pyn. Dit het stelselmatig gegroei tot manlikheid en ouerskap. Dit was die verloop van ’n lewe, nie twee lewens nie.
.........
Terloops, ek dink nie aan myself as twee mense met twee lewens nie. Ek het ’n vrouenaam en -liggaamstrekke gehad. Daar was pret en pyn. Dit het stelselmatig gegroei tot manlikheid en ouerskap. Dit was die verloop van ’n lewe, nie twee lewens nie.
Ek moes net my naam verander omdat die Westerse wêreld daardie lyn so hard trek. Ek sou wou gehad het dat mense van my praat as vóór my transition en ná my transition.
Moet jy steeds testosteroon neem, of is dit ná agt jaar verby?
Ek hoef nie, maar dit sou beteken dat die wêreld te doen sou kry met ’n grumpy old man.
Wat is die grootste aanpassing vir jou in mansgeselskap?
Dis ’n baie pynlike gesprek. Ek sal eerder nie te veel uitbrei nie. Die meeste heteroseksuele mans is soos babas in ’n revolusie. Ons (vroue en queers) sal hulle moet help deur baie geduldige en streng grootmense te wees.
Ek moet byvoeg dat ek die laaste 15 jaar vir my ’n groepie diverse mans versamel het wat nie so is nie. Ons druk, soen en troos mekaar sonder vrees vir homofobie.
Hoe verskil ander se hantering van jou en Sally, jou vrou, wat nou skynbaar heteroseksueel is?
Ons mis dit om in die openbaar deur ander queer mense raakgesien te word. Ons identifiseer nie met ander wat vassit in heteroseksuele en binêre sisteme en nog hul afstand wil behou nie.
Ons sien gereeld cishet-mense se teleurstelling wanneer ons oop is oor ons queer-identiteit en krities is oor hul isolasie. (’n Cishet-mens identifiseer met die gender waarmee hulle gebore is. Hulle is aangetrokke tot mense van die teenoorgestelde geslag.)
Maar julle beskou julself nie as heteroseksueel nie?
Nee, ons is al twee in all opsigte queer. My vrou is die hoofbroodwinner. Ek is die house-husband en kinderoppasser. Sy is ’n wonderlike broodwinner wat haar deel doen in die huishouding en wat kinderversorging betref.
As ’n groot vrou staan sy ook in die skadu van stigma en waninformasie oor hoe ’n liggaam en gesondheid werk. Daar is nog ’n lang pad om te stap. Baie oorgewig mense werk saam met queer mense, swart mense en mense met gestremdhede wat betrokke is by interseksionele aktivisme.
Wat ons seksuele oriëntasie betref, is ons om verskeie fisieke en politieke redes redelik verslaaf aan mekaar. As ons ons seksuele oriëntasie moet verantwoord, sou ek sê ek hou van die vroulike gender en sy van die manlike gender. Die fisieke geslag van die persoon maak nie saak nie.
.......
Wat ons seksuele oriëntasie betref, is ons om verskeie fisieke en politieke redes redelik verslaaf aan mekaar. As ons ons seksuele oriëntasie moet verantwoord, sou ek sê ek hou van die vroulike gender en sy van die manlike gender. Die fisieke geslag van die persoon maak nie saak nie.
.........
Gaywees word gelukkig nie meer in die Diagnostic and statistical manual of mental disorders as ’n afwyking beskou nie. Is daar waaragtig mense wat nog so dink?
Ek weet nie so baie van daardie politiek nie, maar ek weet wel dat genderdisforie steeds ’n diagnose is en ek het dualistiese gedagtes daaroor.
’n Identiteitsbelewenis word net ’n versteuring wanneer dit jou alledaagse funksionering beïnvloed, met ander woorde wanneer ander mense jou identiteit teenstaan. Jou eie gewroeg word toegeskryf aan die samelewingstaboe verbonde aan die spel met seks-gender-verbintenis.
Nou ja. Tot die samelewing radikaal aanpas, word transmense se lewens ontwrig. Daarmee saam kom pyn en vele chroniese kondisies (soos depressie en angs) waarvoor behandeling nodig is. ’n Diagnose is nodig om behandeling te kan kry. Dis die konflik.
Wat is die belangrikste ding wat jy vir ander ouers sou wou sê oor die hantering van ’n kind wat wil transition?
Die hele wêreld sal vir jou kind “nee!” skree. Moenie ook daardie rol speel nie. Help haar met haar genderdisforie en kry professionele hulp. Dis ’n baie ernstige kondisie. Liefde en geduld bied verligting. Om paniekbevange te raak en op sjirurgie en hormone te fokus, laat jou net vries en maak jou simpel. Take it easy.
Onthou dat enige puberteit sewe tot agt jaar neem. Help jou kind daardeur. Wees die skild teen die samelewing se kritiek, en nie nog ’n naysayer wat jou kind isoleer en sodoende meer pyn veroorsaak nie.
Wat is die terugvoer op Robert – en dalk kritiek?
Tot dusver is die terugvoer, ook internasionaal, oorweldigend positief. Lesers wat oor die algemeen positief teenoor seks ingestel is, asook queer lesers, is deur die bank dankbaar en opgewonde oor die openlikheid daarvan. My reis was liggaamlik. Seks tel in daardie landskap.
In ander kringe is daar wel kritiek oor die seks in die eerste helfte van die boek, maar hierdie mense behoort hul fobies te bekyk.
Wat was die reaksie van jou kollegas ná jou oorgang?
Ek het in die teaterbedryf gewerk. Vir enige gesoute akteur is genderoorgange ’n vereiste.
Aan die begin was daar opwinding. Teen die tyd dat my baard lank was en my liggaam harig en vol spiere, was hulle al gewoond daaraan. Ek sou wou hê alle bedrywe, vriendekringe en korporatiewe organisasies moet met opgewondenheid reageer en die feit dan net by hul lewens integreer.
’n Translewe is ’n normale lewe. Hoe minder mense weerstand daarteen bied, hoe minder ontwrigtend sal dit wees. Dit is ander se weerstand wat ontwrigting veroorsaak, nie die transpersoon se oorgang nie.
Wat was jou doel met die boek, of wat sou jy wou hê lesers moet sê wanneer hulle dit toemaak?
Ek wil hê mense moet baie vrae hê, dieper vrae as wat hulle voorheen gehad het. Vrae is altyd beter as sekerhede. Hulle moet ook weet dat alles oukei is. Ek, ’n transpersoon, gaan aan; ek het pyn, maar oorkom dit soos enige ander persoon.
Na watter skryfwerk kan ons volgende uitsien?
Ek skuld Marga Stoffer van NB Uitgewers nog daardie Afrikaanse boek wat ek haar belowe het.
Ek is tans besig met ’n moeilike ding, ’n storie oor iets wat my familie raak. Wie weet of ons dit sal publiseer. Ons het dalk net nodig om dit te skryf en in die kluis te bêre. Soms is dit waar sekere soorte boeke hoort.
Lees ook:
Kommentaar
Een van die aangrypendste memoires; jy kan die boek eenvoudig nie neer sit nadat jy dit begin lees het nie. Mens bly dwarsdeur op hoogtepunte wat my voortdurend hoendervleis, omkrultone en trane besorg het. ‘n Boeiende verhaal…