Robert Hamblin se memoir Robert, a queer & crooked memoir for the not so straight or narrow (ISBN 9781928420972) het onlangs by Melinda Ferguson Books, ’n druknaam van NB uitgewers, verskyn.
Die subtitel sê dit reeds: Hierdie boek gaan jou op reis neem. Not for the straight or narrow! Ek het lanklaas soveel seks in een boek gelees. Lekker. Dis ’n besonder eerlike boek – hoe voel jou ma hieroor?
Ek lag elke keer as ek daai titel hardop lees. Ek het nie soseer die woord “straight” bedoel as ’n seksuele oriëntasie nie. Daar is lekker goed in die storie vir elke mens wat hulself van tafel na bed ken.
Ek noem my ma al jare ’n organiese feminis. Sy was haar tyd baie lank vooruit. Sy het my as kind geleer van voortplanting en plesier voor dit ’n voorstel geword het van die Wêreldgesondheidsorganisasie. Navorsing wys dat kinders wat van jongs af al agter die kap van die byl kom, goeie keuses kan maak oor hulle liggame en seksualiteit. Daar is dan baie minder gevalle van tienerswangerskap en MIV. Dit in teenstelling met kinders wat net geleer word om te weerhou.
Maar my ma (haar naam is Stella) kon nie verder lees as die hoofstuk waar my pa homofobiese geweld ervaar as ’n jong kind nie. Sy eie broer en pa en ma. Sy verwag dat dit alles net gaan pyn wees van mense wie sy liefhet. Ek is nog besig om haar te oortuig dat daar genoeg pret is om van die pyn sin te maak. Het vanoggend vir haar die lys van ligter hoofstukke gestuur. Ek wil hê sy moet sien dat sy haar kind bemagtig het en dat sy ’n rolmodel is vir ouers met die moeilike uitdaging van queer kinders.
Die ander deel van jou subtitel gaan oor die queer & crooked. Jy speel met die betekenis, want dit gaan oor meer as die Q in LBGTQI+, nie waar nie?
Ai, die allerglibberige Q vir queer! Wat presies is die queer nou eintlik, nè? Dit het vroeër jare beteken gay mans en dit was ’n k%ksoek-woord vir ’n lang tyd, maar dit word al hoe meer die woord wat al daai ander letters sal insluit. En ’n ander belangrike beweging is hoe dit toenemend ’n woord word wat heteroseksuele mense kan insluit. Dis daar vir almal wat moeg is vir die vervelige dele van die binêre sisteem.
’n Klein voorbeeld: Ek soek ’n reënjas vir my dogter by Woolies die ander dag. Ek kry nie een op die “dogtersvloer” nie, maar wel drie skakerings blou reënjasse aan die “seunskant”. Ek koop die blou ding. My kind dra die jas. Ek kla later hieroor by ’n vriendin. Sy lag en vertel my sy het die vorige week presies dieselfde ding gedoen. Haar dogter het egter geweier om ’n “seunsreënjas” te dra. Sy sou eerder natreën en siek word as om verwerp te voel by die skool. Arbitrêre magslyne in die winkel. Wanneer mense hulle ignoreer, kan dit ’n groot impak hê. Alles heeltemal onnodig.

“Ek is in ’n wonderlike tyd in my lewe waar al my ervaringe in daai ink en kwas en papier vloei.” Pressure of doubt. Ink en bleikmiddel op A2-waterverfpapier.
En dan die “crooked” ... dit verwys na my pa se “crook”-neigings. Hy het gou agtergekom dat daar sisteme in die samelewing bestaan wat maar basies slegs met gemeenskapsoortuigings aanmekaar gehou word. Sy lang en sterk, wit manlike liggaam hoef homself destyds net aan te meld by ’n bankbestuurder se kantoor of by ’n landlord om ’n huis te huur. Hy was dan duidelik so ’n agtermekaar kêrel! Fop-papierwerk was selfs makliker as fopdossery! Hy het daardie rolle goed gespeel en instansies het altyd die onderspit gedelf met hulle geloof in sy “look”.
Hy het weelderige fantasiehuise vinnig-vinnig met sy vriende aanmekaar geweef; plekke waar hulle veilig kon wees van ’n wêreld se vernederende sienings van hulself. Maar net vir klein rukkies. Drie maande later het hulle ook geweet hoe om gou te verkas en pret-glamour te gaan saai op die volgende landskap.
Jy het my ook teruggeneem na ’n ander pandemie ... Die era van mense wat sterf aan Vigs. Die ongelooflike hartseer beskryf jy op ’n besonderse manier.
Dit is nie altyd so maklik om pyn in detail te herroep nie. Mens kan maklik skryf “dit was ’n moeilike tyd” of “ons het swaar gekry”. Maar om ’n leser soontoe te neem ... my pa se bloed- en liggaamsatrofie ... en om die eensaamheid geloofbaar te maak, moes ek myself indompel. Ek moes my onderbewussyn besoek en my brein se hardeskywe verken op ’n redelik brutale manier. Ons is tog almal al so gewoond aan HIV-woorde en Aids-nagmerries in die media. Wat my gehelp het om my eie taal en diepte te vind, was kursusse en opvolgondersteuningsgroepe by The Life Righting Collective. My mentor daar, Dawn Garisch, het my leer mediteer tot in daardie diepte in en dan ’n gestrooptheid terug te bring waarmee ek daardie dele dan kon skryf.
Die boek gaan meer oor Adéle as oor Robert. Ek weet dis ’n aanvegbare stelling in transkringe, want jy was altyd Robert, maar vir die cispersoon is dit baie interessant om Adéle se belewenis van ’n lyf te ervaar.
Nee wat, ons hoef nie te baklei nie, nie hieroor nie. Ek was nie altyd Robert nie. Identiteit is nie nét biologies of sielkundig nie. ’n Baie groot deel van identiteit is die vermoë om dit wat jy van buite af absorbeer, terug te reflekteer na die massa toe. En so het ek dan die “Adéle Hamblin Konsert” goed gehandhaaf en baat gevind daarby. Ek het baie vreugde, plesier en sukses daaruit geput. ’n Jong vrou wat kom uit ’n organiese feministiese omgewing verstaan haar eie mag.

Robert op ouderdom 6, toe hy nog Adéle genoem was.
Maar wat ook al dit is in ’n persoon se liggaam en psige wat arriveer en die transbelewenis kom opeis, is ongelukkig baie sterk. Ten spyte van voor die hand liggende pyn wat daarmee gepaard gaan, is die roep daarvan onweerstaanbaar. Ek moes my pad loop. Die pad het by ’n baard, ’n grom en harige skouers uitgekom. And I loved it! Nou moes Robert se identiteit gebou word, die een in die publiek en die moeiliker een in my privaat lewe. Daar was enorme druk op my om te demonstreer dat ek manlikheid in goeie diens kon neem. Daardie taak was nie ’n grap nie. Ek het diep waters. Die duiwels wat daaronder ronddraai was meer vergeefbaar toe ek borste gehad het. Dit vat soms ’n fantastiese interne konsert om my manlike persona op die straight and narrow te hou.

“Die pad het by ’n baard, ’n grom en harige skouers uitgekom.”
Adéle se belewenis van die negatiewe manier waarop cisgender gay mense enige vorm van ’n “sex change” (hulle woord van daardie tyd) ervaar het, maak die boek besonders. Dit het duidelik ’n enorme impak op jou jonger self gehad, is ek reg?
Vir die doel van hierdie gesprek sal ek dalk eerder praat oor hoe ouer straight cismense nog steeds vassteek by daardie woord. Dis regtig nie die eksklusiewe sonde van gay mans nie. En ag asseblief, kan ons dit almal tog net los? Dis so oudedoos. Die woord “transmense” is lekkerder. As jy kwaad is vir ’n transpersoon sê maar net f%k jou b%&tch soos vir enige iemand anders. En hoekom praat ons nou eers hieroor? Ek raak nou al amper aan die slaap oor die ou gesprek.

Robert voor sy oorgang op die ouderdom van 30. "’n Baie groot deel van identiteit is die vermoë om dit wat jy van buite af absorbeer, terug te reflekteer na die massa toe. En so het ek dan die ‘Adéle Hamblin Konsert’ goed gehandhaaf en baat gevind daarby. Ek het baie vreugde, plesier en sukses daaruit geput.”
Dalk ’n onregverdige vraag, maar dink jy cisgender gay mans was bang dat transgendermense dalk toentertyd gesien kon word as uitverkopers wat liefs nie wou gay voorkom nie?
Daar is en was allerlei maniere waarop mense hulself van ander wegskeur om te oorleef. Dié tipe redenasies kom voor by alle groepe mense en is regtig alles vervelend.

Robert: “Ek het hard probeer om die boek soos ’n verhaal te laat lees en nie ’n handboek nie.”
Alexis is ’n verbysterende karakter. Wil jy iets uitlap vir mense wat nog nie die boek gekoop het nie?
Alexis was in my pa se huis omdat sy al die hindernislyne van seksualiteit van jongs af verpletter het met haar blink hoëhakskoene. Gay mans was bekoor met haar tewerige skoonheid, en straight mans was bang of oorweldigend jips oor haar. Gay vrouens in ons lewe was pal verlief as sy haar kwaai lang wimpers in hulle rigting gegooi het. Sy’t altyd gedans op die grense tussen mag en seks. Ek praat ook in die boek oor haar pyn, haar hart wat aanhou hunker het na my gay pa en die stories van dwelmpartytjies en die aaklige verraad wat sy beleef het. En dan natuurlik hoe ek myself ontdek teen haar lieflike liggaam.
Daar is ’n ander rede waarom Adéle se storie so interessant is: Om die seksisme in die werkplek in die ou Suid-Afrika deur “vroulike” oë te ervaar is nogal iets. Dink jy ons het darem al gevorder as ’n nasie?
Wat van ons sê eerder “deur ’n transpersoon se oë”, want dit is interessant albei kante toe. Die stilte wat om my gebeur het in korporatiewe omgewings na my transition was baie opmerkbaar. Geen meer innuendos nie; niemand probeer my pryse as ’n vryskutfotograaf bestry nie. En transvrouens is gereeld geskok oor wat vir hulle wag aan die ander kant van die rivier. Ek weet nie wat deesdae in besighede gebeur nie. Ek is heel alleen hier in my studio met my ink en kwasse. Ek neem aan jong vrouens navigeer dinge anders as wat ek het.

Piet en Pik Botha. Die oudminister wou glad hê die fotograaf moes kaal saam met hulle inklim. Die insident word in besonderhede in die boek beskryf. Evil waters, 1998.
Toe ek vir my vrou gelees het oor my jare by Perskor het sy my met skrefiesoë aangekyk. Sy’t my herinner dat die bewustheid destyds anders was. Dit was voor die #metoo movement. My perspektief sou ietwat meer gesluier gewees het.
Ek moes dit oorskryf. Die waarheid was meer interessant en pret, soos jy weet! Baie vrouens reageer op strategiese maniere wanneer hulle mag ontneem word agv seksisme. Daar is maniere om geregtigheid te laat geskied en om klein wrakies te neem wanneer mens besef wat aan die gang is. Ek en Barrie Hough, my gay medewerker, het gereeld wraak opgedis vir straight mans in ons werkplek en so ons eie plek en identiteit uitgekerf. Moenie met ons mors nie! Ek sou nie daardie spel vir my dogter wou hê nie. Dit was soms opwindend, maar dit was meestal uitputtend en onnodig.

Raveboy in the morning. Millennium Man-uitstalling, 1998.
Op ’n vreemde manier voel hierdie “queer & crooked memoir” nie soos ’n boek oor transmense nie. Dit voel soos ’n teks wat baklei teen vooroordeel – van enige aard. Dit is in talle opsigte ’n interseksionele memoir, nie ’n transmemoir nie. Of hoe dink jy?
Ja, en dankie dat jy so diep gelees het, want ek het hard probeer om die boek soos ’n verhaal te laat lees en nie ’n handboek nie. Ek is bly as die temas op ’n gemoedelike manier oorkom.

Ms Kay’s Party Dress. InterseXion 2017. Uitstalling by Iziko Nasionale Kunsgalery met The Diamond Town Girls-steungroep vir transgendersekswerkers van Kimberley.
Eintlik onderspeel jy ’n enorme deel van jou eie transaktivisme. Hoekom? Jy was diep betrokke by die swaai van ons regering se koppe.
Dit was ook die groot hoofstuk in my lewe wat my individualistiese programmering ontrafel het. Tot op die ouderdom van 35 het ek gewerk in die media-, teater- en televisiewêreld waar mens noodwendig ’n groot belegging in selfbemarking moet maak. In my aktivisme was daar egter geen plek vir die viering van my bevoorregte lewe nie. Hier moes ek nederigheid leer, anders sou my siel vergaan. Daaglikse mislukkings was deel van die werk. Mense het soms doodgegaan in die proses. Die laaste strooi wat my die werk laat opgee het, was toe ek met hawelose transkinders moes werk en my aanhou in toe deure bly vasloop het. Een minister het glad vir my ’n e-mail gestuur en reguit gesê daar is nie plek in hierdie land vir sulke kinders nie. Dit maak my gelukkig wanneer jong transaktiviste deurbrake maak. Selfs wanneer hulle die werk wat ander voor hulle gedoen het, ontken. Dit is goed as hulle selfbeeld daardeur verbeter word, want die jirre weet, dis sielsverpletterende werk en hulle verdien enige mooi oomblik.

Mawi. InterseXion 2017. Uitstalling by Iziko Nasionale Kunsgalery met The Diamond Town Girls steungroep vir transgender sekswerkers van Kimberley.
Dis ook ’n wonderlike liefdesverhaal. Lesers moet maar self lees waar “May” en “Trouble” in jou lewe pas.
Vir my derde laaste vraag wil ek hê jy moet asseblief iets oor hierdie sin sê: “May and I have achieved the invisible privilege that comes with not looking queer, the thing my father chased all his life.”
Daar was pyn daarin om skielik straight voor te kom in die samelewing. Ons was nog net so de moer in oor onreg as toe ons duidelik as queer voorgekom het. Ons het nie gevoel of ons nou skielik straight is of enige belangstelling gehad het om so ’n lewe te bou nie. My ma het eendag heel onskuldig vir ons gevra hoekom ons nog steeds voortveg, nog steeds my verlede besoek? Ons is dan nou normaal. Is dit nie waarvoor ons geveg het nie? Dit was ’n moeilike gesprek.
’n Moeilike deel daarvan was om wel te aanvaar dat ons nuwe voorregte ingewin het. Ons kon nie probeer voorgee dat ons nie baat daarby gevind het nie. Die vraag was nou wat om met daardie nuwe identiteit te doen. Nou moes ons hard werk, soos ons wou hê ander straight en cismense moet doen. En dit is inderdaad harde werk om jouself as ’n bondgenoot te bewys aan swart en queer mense. Ons is queer. Die definisie is nou breed.

Ghost Pater. Foto op kunspapier, 100 x 150 cm. Daughter language, 2015.
Billy, jou biologiese pa, was ’n ongelooflike mens ... Jy beskryf die oomblik waar jy besluit om Billy Venter te huldig by jou troue op ’n manier wat my trane laat kry het. Sou jy graag vandag saam met jou pa ’n dop wou drink?
O my genade, ek dink heel eerste aan al die paadjies wat ons sou moes stap as hy nog gelewe het. Hy was erg transfobies. Maar ja, ’n fancy drankie in ’n duur glas sou lekker gewees het saam met my pa. Ek sou ook graag weer ’n kans wou gehad het om na hom om te sien op sy oudag en sy dooddag. Ek lewe steeds met spyt dat ek daardie taak op so ’n jong ouderdom (26) gehad het. Ek sou hom nou beter kon stuur na sy volgende partytjie toe, as ek nou ’n kans kon kry.

Brumilda. InterseXion 2017. Uitstalling by Iziko Nasionale Kunsgalery met The Sistaaz Hood-steungroep vir transgendersekswerkers in Kaapstad.
’n Jong Adéle wou as fotograaf naam maak en nie op kunsfotografie fokus nie. Uiteindelik het Adéle Hamblin se naam sinoniem geword met ongelooflike portretstudies. Adéle se nalatenskap as fotograaf is enorm. As ek egter aan Robert Hamblin dink, dan is die woorde kuns en kunstenaar belangrik. Jou fotografie het baie meer kunsfotografie geword. Met jou uitstalling The Colony was dit nog herkenbare fotografie, maar met InterseXion was daar reeds iets nuut ... ’n bewegende kamera en bewegende mense. Dit was kuns, byna nie meer herkenbaar as foto nie. En nou skilder jy – die kwas het die kamera verbygegaan?
My boek met die ou foto van my en my vroeëre naam wat binne-in gebruik word, was ’n tipe van ’n toestemming, nè? Heelwat mense voel verlig daaroor en ek hoor die naam nou so baie en die foto is oral. Dit sit ongemaklik, maar ek wil tog hê dit moet gesprekke meebring waarin mense kan verstaan hoeveel gewig en magspel in ’n naam en ’n foto kan lê. Vir my is dit maklik genoeg om te onthou dat ek bemagtig was as vrou. By tye wanneer mense wil grappies maak oor my ou foto of naam, is dit moontlik vir my om sterk te staan. Maar weet ook dat daar baie pyn daarin lê en dat sommige transmense tyd nodig het. Hulle mag dalk nooit hulleself daarmee vereenselwig nie.

“Ek weet nie wat deesdae in besighede gebeur nie. Ek is heel alleen hier in my studio met my ink en kwasse. Ek neem aan jong vrouens navigeer dinge anders as wat ek het.” Coral body for Hermes, 2020. Ink en bleikmiddel op waterverfpapier.
En dan ja, ek is nou Robert, die ou met ink en kwasse. Dié ou se werk verkoop ook baie beter as dié van die ou met die lense. Ek is in ’n wonderlike tyd in my lewe waar al my ervaringe in daai ink en kwas en papier vloei. Mense sien dit en wil deel daarvan wees. Ek is uiters dankbaar vir my lewe en die romanse daarvan. Ek is nou ’n trophy husband wat kuns pleeg. Dit gebeur natuurlik eers na die skottelgoed gedoen is en die kind aan die slaap gewieg is. Ek is presies die persoon wat ek altyd wou wees.

“Ek is presies die persoon wat ek altyd wou wees.” Selfportret, 2021.
- Teks: Izak de Vries en Robert Hamblin
- Fotografie en inkwerke: Robert Hamblin
Lees ook:
’n Krities-narratiewe begripsverheldering van biologiese aspekte van die transgenderverskynsel