
Titel: Bloed van ’n vlinder
Skrywer: Marieta Carrick
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 978-0-7958-0285-0
Bloed van ’n vlinder is die eerste Afrikaanse hospitaalriller deur ’n skrywer wat in die mediese-tegnologie-bedryf werk. Daar hoef dus geen twyfel te wees dat die mediese inligting in dié roman korrek is nie.
Die verhaal boei van die begin af.
Suster Libby Lucas keer terug van die Demokratiese Republiek die Kongo, waar sy vir Dokters sonder grense gewerk het. ’n Ervaring in die Kongo het haar met posttraumatiese stresversteuring (PTSV) gelaat.
Professor Cole Thompson van die hospitaal waar suster Libby werk, sien haar simptome raak en sê: “No normal, unscathed person falls face down for cover at the sound of a steel kidney dish that’s fallen to the floor.”
Suster Libby ly trouens aan meer as PTSV. Dis een van die verhaalelemente wat jou intrek. Sy beleef ook psigotiese episodes en kry hallusinasies – klaarblyklik as newe-effekte van haar medikasie, of weens die nalaat om dit te neem.
Mens is nie altyd seker wat “werklik” is nie: Wie is die rooikopmeisie wat onaangekondig in veral die huis se tuin opdaag en eensklaps weer verdwyn? Waarom is daar vlinders ̶ tegelyk pragtig en onheilspellend ̶ op grieselrige tonele? Wie is die persoon (of “gees”) wat die letter B met ’n sterretjie langsaan maak?
Dié onverwagse verskynings gee die roman ’n magies realistiese gevoel.
Al wat suster Libby egter wou doen, was om ’n nuwe lewe by Noordeberg Hospitaal te begin. Sy het by die Straumann-huis waar haar kollegas woon, ingetrek.
Die storie loop gou dat iemand daar vermoor is, dat die huis vervloek is. Dit lyk trouens of die onheil van suster Libby se verlede haar bly agtervolg. Veral toe nóg ’n verpleegster ̶ een na aan haar – vermoor word. Haar lyk word boonop surrealisties uitgestal.
Wie is die moordenaar en hoekom doen hy of sy iets so absurd? Werk die skuldige dalk in die hospitaal, of is een van die eienaardige pasiënte dalk die moordenaar?
........
Wie is die moordenaar en hoekom doen hy of sy iets so absurd? Werk die skuldige dalk in die hospitaal, of is een van die eienaardige pasiënte dalk die moordenaar?
.........
“Mister” Dower is die grillerigste een. Hy het ’n “bose, goddelose” lag, dreig iemand met die dood, en sing die wiegeliedjie “Rock-a-bye baby, on the treetop” wanneer dit geheel en al onvanpas is.
Maar daar is ook die pasiënt wat in haar trourok opgeneem word. En Keira, die onaangename inwoner van Straumann-huis.
Die mediese prosedures is soms ewe vreemd. ’n Man het sy vrou se huissleutels ingesluk. Iemand anders met ’n spanningspneumotoraks moet naalde-dekompressie kry. Fassinerend!
Maar wie skryf die dreigbriewe ̶ “Jy is volgende” ̶ aan suster Libby?
Bloed van ’n vlinder is Marieta Carrick se tweede roman – haar Waar bloed kruip het in 2020 verskyn. Sy hou nie terug nie. Sy skok, hou haar lesers wakker en aan die lees. Uitwerkings wat die belewing van ’n hospitaalriller behoort te hê.
Carrick is hier om te bly. Vlinder het reeds die Nielsen-topverkoperlys gehaal. Die roman het tonge aan die klap.
Carrick se karakterisering is ’n sterk punt. Dis volronde karakters met wie ons te make kry. Hulle is geheel en al verskillend en veelkantig ook.
Daar is byvoorbeeld Mia van der Walt – die ene sonskyn, al verwys ’n ander karakter na haar as ’n “los” meisie.
Die tradisionele speurder kom nie meer algemeen in Afrikaanse misdaadromans voor nie. Hier ook nie. Sean Allen is Engelssprekend, dra daagliks strikdas en word beskryf as die “nerd” van Harry Potter se Fantastic beasts (’n rolprentreeks). Moet hom egter nie onderskat wanneer dit by die oplos van sake kom nie.
Professor Thompson se doen en late sorg vir vermaaklike leesstof. Hy is eienaardig, perfeksionisties en outokraties. Dis vir hom belangrik dat ander volgens sý vereistes en standaarde dink en doen. Sy donker kant manifesteer werklik vreemd. Hy hou van bloeddeppers en insekvretende plante. Hy raak in vervoering oor die manier waarop ’n lyk uitgestal is. Hy sê die bloederige “wattetjies” slaan sy asem weg. “The beauty of it all. The way the red of the blood stains the purity of the perfectly white swab.”
Sonder dat feite in jou keel afgedwing word, is die roman leersaam. Jy vind meer uit oor talle mediese prosedures, asook wat “groenpasiënte” en “fat tax” is. Jy wonder oor die behandeling wat dokters behoort te kry wanneer ’n bloedstraal hulle tref.
En as jy nie geweet het wat die Afrikaans vir “pin” is nie ̶ soos in “Stuur vir my ’n pin sodat ek jou huis sal kan vind” – sal jy die treffende woord in dié roman aantref: “plekspykertjie”.
Carrick moes vanselfsprekend soveel moontlik oor vlinders navors. Dié insekte het eienskappe wat doelbewus gekies is om die simboliek en spookagtigheid van die verhaal- en ander gegewens te weerspieël. Soos dat hul bloed nie hemoglobien bevat nie en daarom nie rooi is nie, maar “net ’n deurskynende stof” is.
Die hasie Stet ̶ sy naam is van “stetoskoop” afgelei ̶ bied troos in ’n harde wêreld. Jy kan dalk tog wonder of ’n Glen Close-karakter soos in die rolprent Fatal attraction sal nader tree met ’n pot kookwater. Hoewel so iets in dié riller sou tuishoort, hoef diereliefhebbers darem nie dít te vrees nie.
Die milieu ondersteun deurgaans die genre. Mens kan die salf en die “ontwerperskoffie” ruik. Ook die “steriliteit” van die hospitaalteater, hoewel onbeskryfbaar.
Jy hóór die klop, klop, klop in die lykshuis. En sién die weelderige plante en blomme wat deurgaans voorkom. Op ’n keer net een orgidee, ingesteek by die tou om ’n (dooie) pols.
Al wat pla, is die oorgebruik van byvoeglike naamwoorde, soos in “verbleikte grys naambordjie” of “’n Kort, jongerige man”. Wat maak dit ook saak of ’n stoel oranje of blou is? Dis irriterend dat soveel onderwerpe volgens kleur beskryf word.
Sinne kon dikwels korter gewees het, soos hier: “Eers gaan jy reguit, dame, totdat jy by ’n vierrigtingstop kom, begin hy verduidelik. Sy luister aandagtig na die res, dan gryp sy ...” Wat van: “Eers gaan jy reguit, dame, totdat jy by ’n vierrigtingstop kom. Sy luister aandagtig, dan gryp sy ...”?
Die woord “begin” word baie keer onnodig ingespan. Soos in: “Adrenalien begin stormloop deur haar are”, pleks van “Adrenalien stormloop deur haar are.” (Iets wat stormloop is in elk geval nie in die beginfase nie.)
Instrumente (wat vir chirurgie ingespan word) kan ook nie “teenwoordig” wees nie. Dié woord is van toepassing op mense.
Enkele clichés kom voor, soos ’n “hoekige” kakebeen, ’n glimlag wat “sprei oor ’n gesig”, hitte wat “in ’n nek (’begin’!) opkruip”.
Maar dié jakkalsies is klein.
Soos dit hoort, stuur die roman op ’n onverwagte ontknoping af. Skouspelagtig ook. Die identifisering van die moordenaar is eweneens ’n verrassing. Die sielkundige rede agter die moord ook.
Die vraagstukke wat in die verhaal belig word, bly jou lank by. Kan jou donker kant tot so ’n mate oorneem dat ook jy onder die “regte” omstandighede sou kon moor?
En in watter gevalle word genadedood geregverdig?
Mens kan nie anders nie as om van vooraf uiterse respek te kry vir medici en ander wat daagliks ’n noodeenheid of hospitaalteater beman. Dit verg ’n uitsonderlike mens wat kans sien om sulke trauma eerstehands te moet beleef.
Die wil om te veg vir lewe moet sonder twyfel daar wees. Bring ’n spesialis wel iemand terug uit die dood, móés daar eenvoudig bonatuurlike ingryping gewees het.
Jy wonder oor hoe medici van dié kaliber ontlont en of hulle, soos suster Libby, professionele behandeling vir posttraumatiese stresversteuring kry.
.......
Mens besef opnuut dat die verskil tussen lewe en dood ragfyn is. Soos ’n vlinder se vlerke.
.........
Mens besef opnuut dat die verskil tussen lewe en dood ragfyn is. Soos ’n vlinder se vlerke.

