’n Baie lang brief aan my dogter
Marita van der Vyver
Tafelberg
ISBN: 9780624090014
........
Marita van der Vyver se jongste boek, ’n Baie lang brief aan my dogter, word as jeugmemoires beskryf. Die skrywer self verwys daarna as ’n “outobiografiese boek”. Dit ís een. Maar wat is die verskil tussen ’n outobiografie en memoires eintlik?
.........
Marita van der Vyver se jongste boek, ’n Baie lang brief aan my dogter, word as jeugmemoires beskryf. Die skrywer self verwys daarna as ’n “outobiografiese boek”. Dit ís een. Maar wat is die verskil tussen ’n outobiografie en memoires eintlik?
’n Outobiografie kan oor ’n hele leeftyd strek, terwyl memoires op ’n spesifieke deel van die skrywer se lewe fokus. Memoires het, soos hierdie een, ook ’n meer persoonlike aanslag.
Hoewel Van der Vyver se lang brief aan haar Franse dogter, Mia, gerig is – en dís die samebindende faktor – is dit vanselfsprekend op ’n wyer lesersgehoor gemik. Dis ’n samevatting van ’n stuk Suid-Afrikaanse geskiedenis. Die belang daarvan mag nie onderskat word nie. Mens kan tog nie vorentoe beweeg as jy nie weet wat agter jou lê nie.
Van der Vyver belig onder meer die wreedheid en hartseer van die apartheidsbestel in die sestiger- en sewentigerjare van haar jeug. Ook deur die ervaringe van hul destydse huishulp, Dolly Titus van Kenhardt. Titus en haar rasgenote is nie eens toegelaat om boeke by die biblioteek uit te neem nie.
Hoewel die euwel van apartheid onvermydelik deel van baie van ons se teer en seer weefsel geword het, handel hierdie memoires nie net daaroor nie. ’n Lang brief aan my dogter is eerder ’n verhaal oor taal, woorde en boeke, spesifiek oor die leeswerk wat die skrywer se lewe beïnvloed het.
.......
’n Lang brief aan my dogter is eerder ’n verhaal oor taal, woorde en boeke, spesifiek oor die leeswerk wat die skrywer se lewe beïnvloed het.
.........
Die rol van taal, spesifiek Afrikaans, val dadelik op in hierdie memoires wat só begin: “Eintlik behoort ek hierdie brief in Frans te skryf, maar ’n tweede of derde taal sal altyd ’n taal van die verstand eerder as die hart wees. En wanneer ’n ma haar eie storie vir haar dogter vertel, moet sy dit in die taal van haar hart doen.”
Van der Vyver “eis” haar eie taal “op”. “Ek wil lankal nie meer Engels, of selfs Frans, wees nie. Ek het onbeskaamd Afrikaans geword,” skryf sy.
Die taal skitter, soos hier: “Ek is gebore uit woorde. Nie boekwoorde nie, dit het eers later gekom, toe ek begin lees en skryf het ... Maar in die begin was dit praatwoorde en luisterwoorde. Rymwoorde en toorwoorde. Liedjies wat Pa vir ons gesing het en sprokies wat Ma ons vertel het.”
Kom dit by die verhaal self, vind lesers uit hoe Van der Vyver van ’n skugter boekverslaafde uit ’n middelklasgesin ontwikkel het tot ’n (bekroonde) skrywer. Die leser word ’n soort voyeur wat van buite af inkyk na die skrywer se lewe, haar verhouding met haar dogter en ’n gewese Suid-Afrika.
Mens het nog nie werklik gelewe as jy heeltyd op die reguit pad gebly het nie, skryf sy. Haar eie lewe het soms teen die norm ingedruis. Dit was nie destyds aanvaarbaar om in enige ander plek as die kerk te trou nie. Van der Vyver het haar sitkamer in Kaapstad verkies. Haar tweede huwelik het in ’n Franse burgemeesterskantoor plaasgevind. Om nie te praat van die “sonde” wanneer ’n kind buite die eg gebore word nie! Haar dogter, Mia, het op nege maande in haar ouers se arms die seremonie bygewoon.
Volgens Van der Vyver klink sy vir haarself “soos ’n sletterige sukkelaar uit ’n storieboek” wanneer sy vertel dat sy drie kinders by drie mans gehad het. Maar die lewe werk mos nie altyd uit soos mens dink dit sal nie, skryf sy ook.
Sy vertel oor liefdesverhoudings wat nie uitgewerk het nie, oor tradisioneel ongemaklike onderwerpe tussen ma en dogter, soos seksualiteit, en deel ook die skokkende feit dat sy as kind op ’n keer betas is.
Só beskou Van der Vyver haar ontboesemings: “Uiteindelik is eerlikheid steeds vir my die grootste toets vir wat ek ook al skryf – en selfsensuur waarskynlik die grootste slaggat waarin ek kan val. As jy eers met selfsensuur begin, word daardie slaggat weldra ’n bodemlose put waaruit jy nie weer kan klim nie.
“En dan is alle eerlikheid in elk geval daarmee heen.”
.......
Sonder emosionele skrywery val die hegte band tussen ma en dogter op. Daarby is Van der Vyver manhaftig genoeg om om verskoning te vra vir die kere dat sy reken sy haar dogter teleurgestel het.
.........
Sonder emosionele skrywery val die hegte band tussen ma en dogter op. Daarby is Van der Vyver manhaftig genoeg om om verskoning te vra vir die kere dat sy reken sy haar dogter teleurgestel het.
Soos baie van die vroue in hul familie is ma en dogter duidelik geestelik sterk: “Dis jou tribe, my kind, vroue wat hulle voete kan neersit.”
Reis is ’n opvallende tema. Nie net letterlik nie, maar ook die lewe as reis. In hierdie verband haal die skrywer vir William Shakespeare uit The Tempest aan: “What’s past is prologue.”
As jy self jonk was in die sestigs en sewentigs, sal jy met die lees van ’n Baie lang brief aan my dogter ’n nostalgiese reis soos min onderneem. Die skrywer slaag goed daarin om die destydse milieu weer te gee. Nie net wat plek- en ook omgewingsbeskrywings betref nie, maar ook deur middel van rolprente, musiek, modes en natuurlik boeke.
As jy self toe jonk was, sal jy sekerlik die telefoontjiespeletjie, outydse papierpoppe en LM Radio (onder die kombers) onthou. Kapenaars sal natuurlik ook nie Adderleystraat se ou, statige Stuttafords met sy bejaarde hysbak-“bestuurder” vergeet nie.
Jy roep waarskynlik soms juffrou se liniaalhoue op jou handpalm in herinnering, of, as jy manlik is, dalk die lyfstraf wat Pa jou gegee het.
Besonder insiggewend is die skrywer se kommentaar oor die dun lyn tussen werklikheid en fiksie. In hierdie verband haal sy soms uit eie publikasies aan.
Briewe, waarvan hierdie boek ’n voorbeeld is, is ’n gereelde verskynsel in Van der Vyver se romans, soos Grensgeval (2019). Sy het behoorlik naam gemaak met die oopskryf van (warm) sensualiteit in Griet skryf ’n sprokie wat in 1992 verskyn het. Dié verhaal was haar eerste roman vir volwassenes.
Wie sou kon dink dat Van der Vyver as tiener Mills & Boon-liefdesverhale gelees het? Deesdae voel sy vanselfsprekend meer tuis in die wêreld van letterkunde, “die nimmereindigende vreugde van lees, van boeke, stories, ware stories en liegstories, fiksie en niefiksie”. Sy sien egter nie neer op ander se leessmaak nie, maar gun trouens elke diertjie sy leesplesiertjie.
........
’n Baie lang brief aan my dogter weerspieël die voltooiing van lewensiklusse, geboorte en dood. Van der Vyver se ma is oorlede kort ná Mia se geboorte. Later lees jy iewers dat haar pa oorlede is toe sy die eerste eksemplare van dié boek ontvang het.
.........
’n Baie lang brief aan my dogter weerspieël die voltooiing van lewensiklusse, geboorte en dood. Van der Vyver se ma is oorlede kort ná Mia se geboorte. Later lees jy iewers dat haar pa oorlede is toe sy die eerste eksemplare van dié boek ontvang het.
’n Baie lang brief aan my dogter skitter van spatsels humor. Van der Vyver skryf byvoorbeeld dat haar suster geweier het om haar ouma Tina te soen omdat die ouer vrou in die laaste dekade van haar lewe ’n stekelrige snor ontwikkel het.
Met die reis deur hierdie brief besef mens dat jy dit wat eie is aan jou land, jou kultuur, jou agtergrond en jou taal as vanselfsprekend aanvaar. Wanneer jy egter jou verkyker uithaal en in hierdie geval deur ’n Afrikaans-Franse lens kyk, tree vervreemding in. Alles lyk nuut, soms selfs eienaardig. Soos ook die eenvoudige sêding oor Dog wat ’n veer geplant en gedink het dat daar ’n hoender gaan opkom.
Skuif vir eers alle moet-doen take opsy en lees gerus hierdie lang brief van ’n besondere ma aan haar dogter. Dit is onteenseglik die moeite werd. Veral as jy ook in die sestigs en sewentigs jonk was.
Kommentaar
Ek soek die boek! Twee dogters en een kleindogter so ver in NZ.
Agge nee wat, gaan my tog verby, O Heiland! Mooiskrywery, smaak dit my. Dit maak my kriewelrig ... nou skielik vreeslik anti-apartheid et al. Sal nou nie eintlik vuisslaan oor dié nie. Haar eerste boek was goed. “Dinge van ‘n Kind”, erg vervelig. Die jeugroman, die titel ontgaan my, wat my kind as naïef en “embarrassing” beskryf het - voorgeskrewe boek op skool, kon ek ook nie vat aan kry nie. Nié my koppie tee nie. Nee, dankie! Maar dan was ek nogal maar altyd aweregs ...
Sou graag haar "lang brief" wou lees. Interessante skryfwyse.
Welgedaan, Riette! Hierdie was een van my top boeke sover die jaar.