C Johan Bakkes se Hou die kruit droog: ’n resensie

  • 0

Titel: Hou die kruit droog
Skrywer: C Johan Bakkes
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 978-1-4853-1215-4  

“Ons is almal tans ingekerker. Ons dra almal maskers, maar daar is altyd ’n ontsnappingsroete – deur stories.”

Só skryf C Johan Bakkes in Hou die kruit droog wat onlangs verskyn het. Hierdie geskrif is nie ’n boek nie, sê die “verklarende nota” voorin. “Dis net los gedagtes en ’n kopreis gedurende inperking in boekvorm.”

Die skrywer se Facebook-plasings uit dié tyd is in Hou die kruit droog vervat. Omdat van sy ander werk reeds uit druk is, is brokke daaruit ook ingesluit.

Ons het Bakkes leer ken as ’n pittige skrywer wat uit die heup uit skiet. Hy is bekend vir sy aweregse reisjoernale soos norrevøk en nou’s ons in ons donner in. Hou die kruit droog is inderwaarheid ’n waansinnige reis wat jou laat lag en soms hoendervel gee. Volgens die agterplat tree die “kwasterige Bakkes” in al “sy grinterige glorie” na vore. Die titel beteken om jou goed voor te berei (vir ‘n reis of stryd).

Om in uitdagende omstandighede te reis gaan nie oor of daar water is om mee te was nie. Dit gaan nie oor of jy beskut slaap, en of oor jy dalk nie nouvelle cuisine kan vind nie. Dis net jy, die natuur en die groter doel. Jan van der Westhuizen, ’n siener en veldkenner, het dit so gestel: “Johannes, die land is aan ons mense gegee en die mens aan die land. Ons moet na mekaar kyk. As die natuur sieklik is, daarom ook die mens en anders om. Ons moet die natuur dokter sodat ons ook gesond kan word.”

Die skrywer was van kleins af hiperaktief en het as baba “nonstop geskrou”. Sy ma het glo geweet dis omdat hy nog nie kon loop nie. Noudat hy goed kan loop, is hy ’n wêreldreisiger.

Van kleintyd af het boeke, veral oor vreemde plekke, ’n dors om te beleef in hom wakker gemaak. Die bestemmings wat hy al bereik het, sluit Soedan, Santorini, Patagonië en Kasjmir in. Ook die “ste-ste” plekke, soos onder meer die droogste woestyn ter wêreld, asook die koudste, warmste, natste en mees afgeleë plek. Selfs “die mees ekologies-geruïneerde plek” bestaan.

Die titels van die verhale in Hou jou kruit droog nooi jou na binne. Dit sluit in “Drinkrituele, ramen en reisigers”, “Briekloos en Bittereinders”, “Om vlerke te kry – losklos deur Jaagleegte” en “Ek neuk net voort”.

Bakkes reis dikwels saam met sy vriend, Kalie. Ander kere vergesel sy vrou, Nanna, en dogter, Cara, hom om die beurt. Daar is trouens baie vroue in sy familie en vriendekring. Ses van hulle word spottenderwys “die voorste linie van vrees” genoem. Hy het ook ’n “flippen” wyfiekat, voeg hy by.

Oor die swaarkry van sommige van sy UWK-studente weens bendeskietery, sosiale probleme of gebrekkige finansies skryf die professor met die groot hart aangrypend. Hy neem tien studente tydelik in sodat hulle behoorlik kan studeer. Tydens ’n ontspanne oomblik sit hulle om ’n tafel op sy erf. Dis maar een van die foto’s wat in die bundel pryk. (’n Scope-voorblad is nog een.) Al tien studente hét toe hul CA-kwalifikasie (as geoktrooieerde rekenmeester) gekry.

Die milieu – wat die skrywer se kroeg, ’n ou twakstoor tuis, insluit – word sintuiglik weergegee. Tydens ’n reis onderweg na die Kavango in Namibië skryf hy: “Dis laatnag. Die lessenaarlamp is koploos – die ontblote gloeilamp gooi ’n skadu oor my hand wat met ’n pen oor papier dartel. Die halwe bottel sauvignon blanc gooi ’n lang skaduwee. Terwyl ek my pyp brandsteek, prewel Leonard Cohen uit die hoëtroustelletjie ...”

Daar is nie nog ’n plek soos die Kalahari nie, skryf hy ook: “Almal wat daar was, sal jou dit sê, maar nie hóékom nie. Miskien is dit die rooiduin en waaigras. Miskien die grys-, baster- of gewone kameeldoring. Miskien die ongenaakbare barheid van hitte. Miskien die ongelooflike sonsondergange. Miskien die bitter byt van die vroegoggendkoue. Miskien is dit maar net ’n onverduidelikbare gevoel.”

Die beeldspraak is iets om oor huis toe te skryf. Is “die son wil-wil kop verloor” nie pragtig nie! Die skrywer haal vir David Pearson van die Kalahari aan: “Hier tussen die duine in die hart van die Kalahari, kan jou siel weer langbeen sit,” het hy gesê. ’n Sanger, “Egipte se Piaf”, word weer beskryf as een met “foonsnolrooi” lippe.

Bakkes se verhale is dikwels humoristies: Putsonderwater is “Suid-Afrika se Timboektoe – hy verteenwoordig die konsep ‘to hell and gone’”, het die skrywer se ma gesê. Op die plaas “Omkyk” het die reisgenote links gedraai, “nie omgekyk nie”.

Daar is ook die storie van Duusman Bekker van Van Zylsrus wat “net een fout gemaak het”. Hy het ’n kliënt “van ’n sekere ouderdom” as “auntie” aangespreek. “Sy het haar regop geruk en stil-stil nog make-up gaan aansit.” Later het die “auntie” “skril aangekondig” dat die jakkalse in haar tent was. “My make-up-sakkie is weg!” Een van die ander ouens sê toe later: “Kyk! Kyk, julle, daai jakkals het lipstiffie aan!”

Daar is baie feite in die bundel waarvan mens nie sommer andersins sal weet nie. Soos die lekker name van verlate opstalle in die Boesmanland: Stofbakkies, Dikpens, Haaromvlei en Krommaag.

Wanneer jy die joernaal deurgedraf het, sal jy weet wat ’n “katonkstorie”, ’n “Pitador” en ’n “Pallieter” is. Ook waar Regopstaan Kruiper sy naam vandaan gekry het; hoe dit is om met grasie arm te wees; wat die lewe in Afrika behels; en wat “Johannes die Loper” se gunstelingbestemmings is.

Intussen bring Bakkes hulde aan sy oorlede ouers en stel hy ons aan sy ander familielede bekend. Volgens die skrywer het sy pa nooit vir hom gesê hoe hy moet lewe nie, maar hom gewýs hoe om te lewe. Sy ma het weer gesorg “dat daar nooit ’n tekort was nie” – veral aan liefde.

Daarvan moet sy gesin genoeg hê, want dit is waarskynlik nogal ’n uitdaging om ’n kompulsiewe reisiger in jou binnekring te hê. Jy sal boonop elders moet raakvat.

.......

Konvensioneel is dié reisiger allermins. Wanneer hy alleen reis, sit Pop langsaan. Sy is ’n aantreklike winkelpop, volledig geklee, pruik en al. Daarby het Bakkes ’n groot dors na kuier en beman geen wag sy mond nie.

.........

Konvensioneel is dié reisiger allermins. Wanneer hy alleen reis, sit Pop langsaan. Sy is ’n aantreklike winkelpop, volledig geklee, pruik en al. Daarby het Bakkes ’n groot dors na kuier en beman geen wag sy mond nie.

’n Oppervlakkige mens is hy egter nie. Hy haal met bewondering sy oorlede medeskrywer Pieter Pieterse aan: “Elke mens behoort sy draai deur die lewe te loop. Maar elke mens behoort op ’n keer ... te gaan sit om oor homself rekenskap te gee, om binne-in homself in te kyk en uit te vind wat dit is wat regtig vir hom saak maak.”

Bakkes het die laaste woord. “Mens sê nooit: ‘Tot hiertoe en nie verder nie.’ Jy hergroepeer net vir die volgende dag.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top