Titel: Dink jouself gelukkig
Skrywer: Pieter van Jaarsveld
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 978 0796 323 521
As jy die wetenskaplike raad in Dink jouself gelukkig toepas, sal jy nie anders kan as om gelukkig te wees nie. Neem aksie; dit werk vir my.
Dink jouself gelukkig het die eerste keer in 2015 verskyn en ses herdrukke beleef. Omdat daar steeds ’n groot aanvraag was, het die skrywer die handleiding herskryf. Die nuwe weergawe het onlangs verskyn.
Die kernwaarhede van voorheen is behou, maar die handleiding is ook praktieser, korter en eenvoudiger geskryf, sê Pieter van Jaarsveld in sy voorwoord. Die inligting is deeglik in die wetenskap gefundeer, maar word hoogs toeganklik aangebied.
Dink jouself gelukkig is meer as ’n boek oor positiewe denke. Jy sal leer hoe om jou brein te herbedraad en daarom die vermoë te kan ontwikkel om jouself gelukkig te dink.
Van Jaarsveld se navorsing is deeglik. Die bronnelys is omvattend. Indien jy nie die versoeking kan weerstaan om self jou hande op dié lys werke te lê nie, sal jy ’n hoogs interessante leesjaar beleef.
........
Dink jouself gelukkig is meer as ’n boek oor positiewe denke. Jy sal leer hoe om jou brein te herbedraad en daarom die vermoë te kan ontwikkel om jouself gelukkig te dink.
........
Die skrywer is self ’n kenner van sielkunde, veral positiewe sielkunde. Hy het twee meestersgrade (in sielkunde en teologie), en ook ’n doktorsgraad vir sy proefskrif oor selfdunk en eiewaarde. Hy werk plaaslik en internasionaal as konsultant vir leierskapontwikkeling.
Aan die hand van gevallestudies illustreer Van Jaarsveld hoe jy geluk deel van jou lewe kan maak. Daar is ook ’n deel oor bekendes wat hul uiters moeilike uitdagings in triomf omskep het.
Die meeste van ons is waarskynlik bekend met Viktor Frankl se verhaal. In Man’s search for meaning vertel dié wêreldbekende Oostenrykse neuroloog, sielkundige en filosoof wat dit was wat hom in staat gestel het om verskeie Nazi-konsentrasiekampe, waar altesaam ses miljoen Jode gesterf het, te oorleef: Jy kan dalk nie kan kies wat met jou gebeur nie, maar jy kan wél kies hoe jy daarop reageer.
Baie van ons is waarskynlik minder bekend met Edith Eger se indrukwekkende verhaal wat in Dink jouself gelukkig vertel word.
Sy het nie net die onbeskryflike trauma van die Auschwitz-konsentrasiekamp oorleef nie, maar ook haar denke oor die verbale mishandeling van haar kinderjare ten gunste van haar oorlewing aangewend.
Maklik kon dit nie gewees het om te moes hoor dat haar pa eerder ’n seun wou gehad het en dat sy volgens haar ma onaansienlik is nie. As kind het Eger reeds uiterse diskriminasie beleef omdat sy Joods is.
Haar lewenslesse word in Dink jouself gelukkig belig en dien tot ’n groot mate as fondament van dié handleiding.
Só ondersteun Van Jaarsveld die fokus van die sielkunde wat in die 1990’s vanweë die insette van onder andere Martin Seligman verander het. Van ’n mediese model om mense met psigiese uitdagings te behandel na hoe om gewone mense te help om gelukkiger te leef.
Daar was toe weinig wetenskaplike bewyse dat geluk mense laat floreer. Die positiewe sielkunde is daarna gebore en in 2007 is wetenskaplike navorsing wel deur die Amerikaanse Sonja Lyubomirsky gepubliseer.
Van die tegnieke en vaardighede in Lyubomirsky se The how of happiness: a scientific approach to getting the life you want word ook in Dink jouself gelukkig toegepas.
Eger se verhaal is aangrypend. Dis ontstellend, maar terselfdertyd bewonderenswaardig. Mens kan nie glo dat ’n kind – of enkele kinders ̶ sulke ernstige honger, koue, angs, vernedering en die dood van hul ouers in konsentrasiekampe kon oorleef nie.
Soos Frankl, het dié merkwaardige vrou in haar gedagtes geleef. Gedagtes, sê Eger, is dit “wat niemand van jou kan wegneem nie, dit wat jou vry maak”. Hare het gesentreer om die moontlikheid wat woorde, hoop op weersiens, liefde en dagdrome oor Hongaarse geregte vir haar ingehou het.
Eger het ook nooit haar ma se woorde: “As die deur vir jou toe is, klim jy deur die venster” vergeet nie. Sy het later in haar lewe gefloreer deur onder meer ’n sielkundegraad te behaal.
........
Waarom voel sommige mense dan dat hul uitdagings onoorwinlik is, of dat hulle hoop wil verloor? Volgens die skrywer is dit menslik en natuurlik om eerste die donker kant van die lewe raak te sien, selfs al beskou jy jouself as positief.
........
Waarom voel sommige mense dan dat hul uitdagings onoorwinlik is, of dat hulle hoop wil verloor? Volgens die skrywer is dit menslik en natuurlik om eerste die donker kant van die lewe raak te sien, selfs al beskou jy jouself as positief.
In hierdie lig deel Van Jaarsveld een van vele feite oor die brein: Die amigdala is so ontwerp dat dit gedurig oplet of ons nie dalk in gevaar is nie.
Later lees jy dat dit ook die stoorplek van ervarings uit ons kinderjare is, soos traumatiese gebeure, mishandeling, verwaarlosing en verwerping.
Wanneer dié amandelvormige deel van die brein oorreageer, kan jou ingesteldheid ’n negatiewe kleur kry, maar omdat die brein neuroplasties is – dit kan verander ̶ kan nuwe neurologiese verbindings ontstaan.
Jy kán die amigdala se oorreaksies kaap en jy kan die negatiewe stem in jou kop na realistiese selfspraak verander.
Jy kan daarom jou brein herbedraad en sodoende positiewe verandering in jou lewe teweegbring. Nes Frankl en Eger bewys het.
Dis egter kommerwekkend dat 70 persent van die sowat 60 000 gedagtes wat ons daagliks het, negatief is. Ons gebruik ook nie eens 10 persent van ons breinpotensiaal nie.
Maar, beaam die skrywer, emosionele intelligensie is baie belangriker vir geluk en sukses as jou intelligensiekwosiënt. Emosionele intelligensie het onder meer te doen met inisiatief en deursettingsvermoë – eienskappe wat die oorlewendes van konsentrasiekampe waarskynlik moes gehad het.
Nou wonder jy dalk: Wat bepaal geluk? Jou ma se sonnige geaardheid of jou pa se knorrige of depressiewe persoonlikheid? Of dalk al twee?
Ook hiervoor het die skrywer ’n antwoord: Jy het ’n genetiese vaste punt waarheen jou algemene gelukvlak keer op keer terugkeer. Jy kan egter wel die mate van geluk wat jy ervaar, verander.
Drie feite is hier van belang, skryf Van Jaarsveld. Wat jou gelukvlak betref, tel jou genetika 50 persent en jou omstandighede 10 persent. Jý is egter in beheer van die oorblywende 40 persent wat bepaal hoe gelukkig jy is.
Die doel van Dink jouself gelukkig is juis om jou te help om die 40 persent wat jy met jou keuses kan beïnvloed “tot die hoogste vlak te neem sodat jy ’n gelukkige, suksesvolle en gesonde lewe” kan lei.
Die ophef oor geluk is nie onnodig nie. Inteendeel. Die handleiding belig verskeie feite in dié verband. Soos dat gelukkige mense innoverend, produktief en beter leiers is. Hulle verdien ook meer geld.
........
Een van die insiggewendste afdelings handel oor die invloed van gedagtes en gevoelens op die afskeiding van hormone. Dit verduidelik onder meer waarom jy so maklik siek word as jy in ’n baie moeilike situasie is, of deur trauma gaan.
........
Een van die insiggewendste afdelings handel oor die invloed van gedagtes en gevoelens op die afskeiding van hormone. Dit verduidelik onder meer waarom jy so maklik siek word as jy in ’n baie moeilike situasie is, of deur trauma gaan.
Al ervaar jy net vir vyf minute negatiewe emosies, skei jou liggaam nie in dié tyd immunoglobulien (IgA) af nie. Dis die hormoon wat vir immuniteit verantwoordelik is en jou daarom gesond hou.
Jy sal ook uitvind hoe om negatiewe emosies te hanteer, hoe belangrik positiewe stellings aan jouself is, en wat die invloed van ’n selfvervullende profesie kan wees. ’n Onderwyser sê dalk vir ’n leerder: “Jy het geen selfdissipline nie, daarom sal jy nêrens in die lewe kom nie.” Die kind neem dit ter harte en leef dit uit.
Jy sal uitvind hoe om jou lewensdoel te bepaal. Volgens Frankl moet jy in elk geval nie vra wat die sin van die lewe is nie, eerder watter sin jý aan die lewe kan gee.
Jy sal uitvind hoe om jou doelwitte te bereik, wat die waarde van visualisering is en hoe jy toksiese positiwiteit kan vermy, maar positief kan leef.
Dankbaarheid is eweneens ononderhandelbaar. In haar boek The choice vertel Edith Eger hoe sy deur die trauma van Auschwitz moes werk en watter rol dankbaarheid in haar oorlewing en heling gespeel het.
Martin Seligman, ’n gerespekteerde Amerikaanse sielkundige en baanbreker op sielkundegebied, se navorsing sluit hierby aan. Toe hy depressiewe mense gevra het om drie weke lank elke dag aan drie dinge te dink waarvoor hulle dankbaar is, het hul gemoedstoestand met 94 persent verbeter.
........
Om hoop te hê is ewe belangrik vir geluk. As jy hoop verloor het in Auschwitz, sou jy waarskynlik gesterf het.
........
Om hoop te hê is ewe belangrik vir geluk. As jy hoop verloor het in Auschwitz, sou jy waarskynlik gesterf het.
“Ons moet hoop skép,” skryf Van Jaarsveld. Maar as jy hulpeloosheid aangeleer het, kan jy dit afleer, staan daar ook.
Jy kan selfs anders na pyn leer kyk. Volgens Eger is pyn ’n geleentheid waaruit jy betekenis en wysheid kan haal.
In Dink jouself gelukkig sal jy wetenskaplike toetse aantref wat kan bepaal hoe positief en ook hoe optimisties jy is.
Die handleiding wys jou hoe om die sg REACH-tegniek aan te wend en só ander te vergewe. Suid-Afrika se bekendste oudpresident, Nelson Mandela, het die doel van vergifnis terdeë besef toe hy ná 27 jaar in die gevangenis gesê het “I knew if I didn’t leave my bitterness and hatred behind, I’d still be in prison.”
Die ABCDE-tegniek kan jou weer help om verantwoordelikheid vir jou keuses, jou gedrag en jou selfspraak te aanvaar en daarom gelukkiger te leef.
As jy kan leer om nie ander mense se woorde persoonlik op te neem nie, sal jou lewe in vele opsigte kan verbeter.
Is jy een van die vele mense wêreldwyd wie se verhoudings met ander agteruitgaan, sal jy uitvind hoe om positiewe verhoudings te bou. Ook met jou liefdesmaat, kinders en kollegas.
Volgens navorsing aan Harvard-universiteit sorg die handhawing van goeie verhoudings vir geluk en goeie gesondheid. Edith Eger voeg by dat verbintenisse met ander ons help om moeilike tye te oorleef en sin in die lewe te vind.
In teenstelling met hierdie feit, neem eensaamheid wêreldwyd pandemiese afmetings aan. Sóveel dat Brittanje ’n minister aangestel het om eensaamheid te probeer beperk.
Hoewel die belangrikheid wat geloof in geluk speel, beklemtoon word, is daar niks dweperigs of sentimenteel aan Dink jouself gelukkig nie.
Daar is wel enkele jakkalsies: Die take wat deur vroue verrig word, word deurgaans as dié van tuisteskeppers beskryf. Soos dat hulle bondels wasgoed was, hoenderpastei bak, naaldwerk moet doen en vir hul mans kos in die lou-oond hou. (Bestaan daar in elk geval nog so ’n oond?)
Goed en wel oor tuisteskeppers, maar sakevroue word nie as voorbeeld gebruik nie. Dít terwyl die grootste persentasie vroue buitenshuis werk.
Die skrywer verkies deurgaans die Engelse woord mindset. Hoewel dit die meer bekende woord en begrip is, sou ’n eenmalige verwysing daarna voldoende gewees het. Die Afrikaanse woord ingesteldheid sê tog presies wat bedoel word.
Word daar nie ook deesdae na skoonheidsterapeute as somatoloë verwys nie? En wat is “sinusgolwe”?
........
Dis asof die skrywer soms sy leser onderskat, soos hierdie aanhalings aandui: “Ek wil dit net so eenvoudig moontlik vir jou stel ...” “As dit jou ingesteldheid ... is, is jy verkeerd.”
........
Dis asof die skrywer soms sy leser onderskat, soos hierdie aanhalings aandui: “Ek wil dit net so eenvoudig moontlik vir jou stel ...” “As dit jou ingesteldheid ... is, is jy verkeerd.” “Verstaan jy hierdie goeie nuus?” “Ek vertel hier net ’n ietsie daaruit sodat jy sy lewensfilosofie beter kan verstaan.”
Die naam van die skrywer van die “bietjie humor met baie waarheid daarin” wat op bladsy 83 in die vorm van ’n gedig geplaas is, word verswyg. Selfs as iemand as anoniem aangedui word, of Van Jaarsveld die woorde dalk self geskryf het, behoort dit so aangedui te word.
Hoewel Barbara Fredrickson, ’n Amerikaanse navorser oor positiewe sielkunde, se naam elders genoem word, word daar nie pertinent gesê dat sy die opsteller van die positiwiteitstoets op bladsy 88 was nie.
Soms word terminologie nie omskryf nie. Waar presies is die “subkortikale” deel van die brein en wat is ’n “allel”?
Ten spyte van moontlike klein verbeteringe, is Dink jouself gelukkig leersaam, inspirerend en verrykend.
Daar is talle betekenisvolle aanhalings deur bekendes wat jou kan bybly. Soos dié van Thomas Edison, die uitvinder van die gloeilamp en fonograaf, ’n apparaat wat dit vir die eerste keer moontlik gemaak het om geluide te kan opneem en weer te speel.
Toe ’n joernalis vir Edison vra waarom hy ná 10 000 mislukkings steeds aan ’n projek bly werk het, was sy antwoord dat dit hom toegelaat het om 10 000 opsies te ontdek wat nié werk nie. Sy heel bekendste uitspraak was “I failed my way to success.”
As daar een rede is om Dink jouself gelukkig aan te skaf, is dit sekerlik om sélf Matthieu Ricard se definisie van geluk te kan ervaar. (Wie Ricard is, word nie gesê nie, maar Google dui aan dat hy ’n Nepalees-Franse skrywer en Boeddhistiese monnik is.)
Ricard se definisie van geluk word in Engels geplaas: “Happiness is a deep sense of flourishing that arises from an exceptionally healthy mind. This is not a mere pleasurable feeling, a fleeting emotion, or a mood, but an optimal state of being.”
As jy hierdie vaardigheid joune wil maak, sal Dink jouself gelukkig jou wys hóé.
Lees ook:
Boekevat met Deborah: Dink jouself gelukkig, Hollywood on the veld en Khaki fever
Heil die Leser!: Die waarde van selfhelpboeke en motiveringslektuur

