’n Vrou staan op deur Ilse Verster: ’n resensie

  • 1

Titel: n Vrou staan op
Skrywer: Ilse Verster
Uitgewer: Lapa Uitgewers
ISBN: 978-1-77639-173-8

In ’n Vrou staan op vertel Ilse Verster van haar pad na heelwording. Sy was 40 jaar lank met ’n narsis getroud.

Die skrywer se memoires volg op haar blitsverkoper So lyk ’n vrou wat oor haar huwelik met die narsis handel.

Verster verwys na haarself as Esli, ’n anagram van “Ilse”. Mens neem aan dat sy só afstand tussen haar en die geweldige trauma probeer skep het.

Tydens haar huwelik was sy vasgevang in ’n siklus van narsisme, alkoholisme, mishandeling, leuens en manipulasie. Sy was die narsis se “ideale prooi” en verduidelik dit só: “[A]s jy uit ’n disfunksionele ouerhuis kom, is hy die een ‘wat jou (mos) gaan beskerm teen die ouer wat jou nie lief genoeg het nie.’”

Suiwer ontnugtering volg dan.

Volgens die Diagnostic and statistical manual of mental disorders-5 (DSM-5), die “bybel” van die sielkunde, is die kort definisie van ’n narsistiese persoonlikheidsversteuring ’n omvattende patroon van grootsheid (wat fantasie of gedrag betref), ’n behoefte aan bewondering en ’n gebrek aan empatie.

Ná haar uiteindelike egskeiding vertrek Verster per bus op ’n alleenreis, maar sy voel bang, alleen en op haarself aangewese, oftewel soos “Een middeljarige, afgetakelde vrou teen die wêreld”.

Tydens die reis ontmoet sy “’n sagmoedige heer”, die antitese van haar man, “Bart”. Hoewel hulle mekaar net agt dae lank ken, raak sy en haar nuwe geliefde binne drie weke ná die egskeiding verloof.

Te gou, skinder mense, maar volgens die skrywer was haar eerste huwelik toe al lank “dood”. Haar rouproses kon voortydig begin.

Die nuwe paar was ook reeds middeljarig en het gevoel daar is nie meer tyd te verspil nie. Hulle deel immers waardes en was dolverlief.

Verster besef dan vir die eerste keer dat sy niemand se toestemming of goedkeuring nodig het om te doen wat sý wil doen nie. Maar sy “skrik” ook “oor alles so normaal en vreedsaam is”.

Die werklikheid konfronteer haar. Haar voorgenome huwelik beteken dat sy haar werk sal moet bedank en Kaap toe sal moet verhuis. Sy sal afskeid moet neem van die huis waar sy en haar gesin jare lank gewoon en herinneringe gebou het. Nie net negatiewes nie.

Sy sal haar bejaarde ma en haar geliefde huiswerker moet groet. Miemie het 26 jaar lank vir die gesin gewerk.

Daar is ook haar diere vir wie sy totsiens sal moet sê. Dié wat in die tuin begrawe is en vir Gesiggie, haar kat, wat tydens die skryf van die boek nog geleef het. (En dalk steeds leef?)

Al is die Versters se verhouding gelukkig, was die aanpassing groot. Hulle “moes nog die pad bou”.

Die skrywer het besef dat sy nie summier haar traumatiese verlede kan uitvee nie. Veertig jaar was ’n lang tyd. So ook haar kinderjare, wat eweneens gekenmerk is deur geweld, drankmisbruik en verraad.

Haar pa was ’n problematiese mens. Omdat hy nie kinders wou hê nie, het hy vermoedelik Ilse se swanger ma vergiftig en só twee miskrame teweeggebring.

Verster skryf dat sy baie keer dink aan dié twee “ouer broers” wat sy sou gehad het. Later jare het sy haar pa oor hulle uitgevra, maar hy het nie geantwoord nie, “net hartseer in die niet gestaar”.

Sy stiefkinders het die liefde, materiële voordele en lofprysinge geniet wat Verster en haar bloedsuster, Nira, nie beskore was nie. Verwerping was hul hartverskeurende realiteit.

Ná die vinnige troue het spoke uit die verlede haar bly teister. Posttraumatiese stres en die swart hond het bly kop uitsteek. “As ek net kan ophou onthou,” was haar versugting.

Dis ’n lang pad na emosionele herstel, skryf sy. Oorlewing en heel word is nie ’n eenmalige gebeurtenis nie. “’n Vrou staan nie net een maal op nie. Sy hou aan om op te staan.”

Maar hoekom 40 jaar in ’n gewelddadige huwelik bly?

Haar memoires bied antwoorde: Die konstante aftakeling laat jou met ’n ernstig geskende selfbeeld. Jy het nie die durf om jou man te verlaat nie en glo ook nie dat jy op jou eie sal regkom nie. Veral nie as jy jou kinders sal moet blootstel aan uiterste armoede soortgelyk aan dit wat jy as kind van geskeide ouers moes deurmaak nie.

Verster, haar suster en haar ma was “bywonersarm”, skryf sy. Hulle moes in ’n welsynwoonstel woon en familielede se tweedehandse klere dra. Toe sy haar droomrol as danser in ’n skoolkonsert losslaan, moes sy die rol van die hand wys omdat haar ma nie die kostuum kon bekostig nie.

As Christen het die skrywer buitendien geglo dat haar belofte om getroud te bly, ewigdurend moet wees, dat egskeiding sonde is. Tot die besef dat die Here nie bedoel het dat enigiemand mishandeling moet verduur nie.

Die slagoffer in ’n narsistiese verhouding glo dat elke blyk van “liefde”, hoe klein ook al, die verhouding met die narsis sal verbeter. Maar sy onderskat die metgesel se geslepenheid.

Nes jy ’n narsis wil verlaat, bombardeer hy (of sy) jou met liefde. Daar is ’n Engelse term daarvoor: lovebombing. Dis dan dat jy vir die soveelste keer besluit om liewer te bly.

Die mishandeling duur voort. Gaslighting en ghosting kom onder meer voor. ’n Narsis laat jou eerstens glo jy verloor kop. Hy verdraai jou woorde. Jy moet glo jý is waansinnig, hy nie.

Hy is dikwels nie emosioneel of fisiek beskikbaar nie. Bart het baie keer die arms van ’n ander vrou verkies.

Verster skryf oor haar skuldgevoelens teenoor hul kinders wat jare se mishandeling en fisieke geweld moes aanskou. Sy glo nou dat die grootste geskenk wat mens jou kinders kan gee, is om hul ander ouer lief te hê en te respekteer. Indien jy met ’n narsis getroud is, is dit vanselfsprekend makliker gesê as gedaan.

Soos die meeste slagoffers in ’n verhouding met ’n (narsistiese) alkoholis, bekommer sy haar oor wat ná die egskeiding van Bart gaan word.

’n Vrou staan op bevat velerlei insiggewende feite oor alkoholisme, soos dat mense uit families met ’n geskiedenis van alkoholmisbruik laer endorfienvlakke het en drink om “gelukkig” te voel.

Jy lees ook dat sowat 80% van alkoholiste wernickesindroom ontwikkel. Dit gaan gepaard met gebrekkige spierkoördinasie, ’n krom, inmekaargetrekte liggaam en bewerasie.

Bart het ook ’n diabeet geword en aan sterk pille verslaaf geraak.

Narsisme is inderdaad ’n omvattende en ernstige versteuring, veel groter as die algemene besef. Baie navorsers noem dit ’n “epidemie buite beheer”.

Volgens navorsing deur die Amerikaanse National Institutes of Health het 6,2% van die bevolking ’n narsistiese persoonlikheidsversteuring. DSM-5 beaam dié feit. Dis nagenoeg een uit elke 15 van ons!

Een uit elke ses het dalk nie die “volledige” versteuring nie, maar wel genoeg narsistiese trekke om ander se lewens in hel te omskep.

’n Vrou staan op is nie net Verster se memoires nie; die skrywer bespreek ook die moontlike oorsake van narsisme en werp lig op ’n narsis se funksionering binne ’n verhouding.

Ná Bart haar ingekatrol het met sy sjarme (dis wat narsiste doen), het hy handomkeer verander. Soos in ander narsistiese verhoudings, was dit vir Verster asof sy “skielik die duiwel ontmoet het”. Sy skryf ook “[N]arsiste is soos malaria; hulle kan in jou bloed bly tot jy doodgaan.”

Maar sodra jy uiteindelik deur hul optrede kan sien, is hulle “klaar” met jou. “Vir die narsis is die openbaring van sy ware persoonlikheid en optrede die laaste strooi ... Jy het dan vir hom geen verdere doel nie,” skryf Verster.

Skei jy van hom, of hy van jou (soos in haar geval), is dit “soos ’n tsunami; dit kom met geweld, en die geweld hou aan en aan”.

Om egter ná soveel jaar te skei was vir Verster “soos ’n baba wat doodgebore word of die amputasie van ’n ledemaat. Selfs ná ’n ledemaat vol gangreen geamputeer is, kry jy spookpyne en verlang jy terug na die ledemaat.”

“Die pad vorentoe” is een van die waardevolste hoofstukke. Dit bevat raad oor veiligheid en sekuriteit ná ’n egskeiding van ’n narsis, en oor selfvergifnis.

Verster skryf ook in dié hoofstuk oor die woede wat sy haarself “bitter min gegun het” tydens haar huwelik. Daar was reg van die begin af waarskuwingstekens wat sy misgekyk het. Soos dat Bart reeds voor die huwelik haar doen en late probeer beheer het.

Die skrywer verdien lof vir die manier waarop sy Afrikaans laat lewe. Die wonder van ’n klein gemeenskap soos dié aan die Weskus “wat jou by die naam ken”, voel vir haar byna soos geloof. “In hierdie skoot lê my menswees,” skryf sy.

Met die Versters se troue op Jacobsbaai het die dorp “klaar haar partytjierok aan”. Later som die skrywer haar nuwe lewe só op: “Die wyn van die verlede is verander in waters waar rus is.”

Veel kritiek is daar nie, dalk net dat sielkundige terminologie nie oral verduidelik word nie. Nie alle lesers sal weet wat traumabinding of ’n histrioniese persoonlikheid(sversteuring) is nie.

Aanvanklik verwys die skrywer na selfmoord pleeg; later word dit selfdood pleeg, maar pleeg is ewe negatief. Jy pleeg misdaad, plagiaat of ’n moord. Taal maak wel ’n verskil. Veral as jy stigmas wil afbreek. Ons behoort eerder te sê iemand is oorlede aan selfdood, of het aan depressie gesterf.

’n Vrou staan op onderstreep die belangrikheid van bemagtiging; om noodsaaklike vaardighede vir oorlewing aan te leer, en ook jou kinders, veral jou tieners, oor narsisme in te lig. Jy gun hulle tog nie ’n lewe van ontnugtering, uitbuiting, pyn en twyfel in hulself nie.

Verster het self verantwoordelikheid vir haar oorlewing aanvaar. Sy het trouens triomfantelik geseëvier oor haar traumatiese verlede. “Die vrou wat ek nou is kan haar nie meer identifiseer met die slagoffer wat sy toe was nie,” skryf sy.

’n Vrou staan op behoort wyd gelees te word, veral deur diegene wat hulself in moeilike verhoudings bevind en insig en hoop vir die toekoms benodig.

Lees ook:

’n Vrou staan op deur Ilse Verster: ’n lesersindruk

Die stereotipering van vroue

Barbie: ’n Feministiese ikoon of ’n paradoks in pienk?

Die geskenk deur Riette Rust: ’n resensie

Die geskenk deur Riette Rust: ’n onderhoud met die skrywer

  • 1

Kommentaar

  • Goeie dag, ek stel belang om altwee die boeke te koop. Is dit elektronies beskikbaar en waar? Dankie en groete.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top