’n Vrou staan op deur Ilse Verster: ’n lesersindruk

  • 1

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: ’n Vrou staan op
Skrywer: Ilse Verster
ISBN: 9781776391738
Uitgewer: Lapa

Met ’n Vrou staan op, Verster se opvolg op die boek So lyk ’n vrou wat in 2022 gepubliseer is, kan ’n mens dalk, soos ek, lostrek en lees met die verwagting dat die storie van Esli darem nou merendeels sal fokus op die toekoms, en dat ’n minder droewige verhaal jou te wagte sal wees. So lyk ’n vrou was immers, vir my ten minste, die soort boek wat my ’n hele aantal dae na die lees van die laaste bladsy nog swaarmoedig gelaat het. Maar dit was toe nie heeltemal die geval nie. In hierdie boek gaan delf die skrywer in Esli se kinderjare en ’n volgende somber hoofstuk ontvou. Een wat sonder twyfel in menige familie afspeel of afgespeel het oor die jare. Dit herinner mens opnuut dat die verlede nooit volkome afgehandel word nie. Mense dra maar die letsels daarvan saam vir die res van jou dae en dit vorm jou, maar die uitdaging is om nie deur die verlede gedefinieer te word nie.

.........
[D]ie verteller skryf ook uitvoerig oor die versteuring bekend as narsisme. Patrone ontwikkel oor tyd, en veral vroue, wat deur patriargale, godsdienstige norme en finansiële afhanklikheid beheer word, word gereeld vasgevang in bose kringlope van emosionele en fisiese mishandeling.
.........

Indien mens die vergelyking tussen Verster se vorige boek en ’n Vrou staan op verder as invalshoek wil ontgin, dan sal dit miskien gestel kan word dat in ’n Vrou staan op daar heelwat nuanse gevind kan word, wat die storie ophelder. Terwyl dit in So lyk ’n vrou voel of dieselfde siklus oor en oor herhaal, is daar in ’n Vrou staan op heelwat meer sonskyn wat deurskemer. Dit pas ook nogal by die veelkleurige buiteblad. Die vertelling kom eventueel uit by Esli se verdere lewensloop, na afloop van die einde van haar huwelik met Bart. Dit skets die verteller as iemand wat terugkyk, maar ook vorentoe leef: “[...] hoop is belangriker as brood [...] daarvan kan ek getuig” (235). Dit wat op die oog af doodgewoon is, verander in ’n avontuur, indien daar voorheen vir ’n leeftyd vir jou gedikteer is. Om self besluite te neem sonder om oor jou skouer hoef te loer, kan oorweldigend wees, maar ook bevrydend. Daar is heelwat selfondersoek en selfkritiek: “As ek terugkyk [...] weet ek dat ek beter na myself en my kinders moes omgesien het” (235). Maar die verteller skryf ook uitvoerig oor die versteuring bekend as narsisme. Patrone ontwikkel oor tyd, en veral vroue, wat deur patriargale, godsdienstige norme en finansiële afhanklikheid beheer word, word gereeld vasgevang in bose kringlope van emosionele en fisiese mishandeling. Die outeur spreek gevolglik ook breedvoerig die olifant in die vertrek aan: Hoekom vir dekades lank in so ’n situasie vassit?

’n Boeiende aspek van die verhaal is wanneer Esli se paaie kruis met ene Francois. Aanhangers van die skrywer Dana Snyman sal hierdie deel van die verhaal dalk ook interessant vind, want Snyman speel ’n prominente rol in die gebeure. Esli en Francois ontwikkel spoedig ’n verhouding en dit loop uit op ’n huwelik ná wat mens seker sal kan beskryf as ’n warrelwindromanse. Gedagtig aan haar eie moeder se stormagtige tweede huwelik, gaan Esli die huwelik in te midde van vrese deur haar familie dat dit die verkeerde besluit is, maar ook met die aanmoediging van sommige vriende. Enige vrese word gevolglik ook spoedig besweer. Die boek dokumenteer dan verder ook Esli se pogings om die laaste drade van haar verlede los te maak, onder meer die finansiële en ander kopsere van egskeidings.

.........
Die vertelling kombineer die verhaal van trauma, alkoholisme en huishoudelike en emosionele geweld met elemente van hoop en dien aanvullend ook as ’n soort gids vir mense wat hulleself in soortgelyke posisies mag bevind.
.........

’n Ander aspek wat ook heelwat in die boek aangeraak word, is die tema van posttraumatiese stresversteuring. Die nagmerrie van mishandeling, alkoholmisbruik en narsisme eindig nie spontaan die dag wanneer slagoffers uit die siklus breek nie. Blywende skade wat aangerig is, spook vir baie jare nog by slagoffers. Maar selfs net om uit die siklus te kan breek, is iets wat vir vele nie beskore is nie. Mense ken nie hulle regte nie, vrees vir wraak of voel om finansiële redes verplig om uit te hou in die verhouding. Ongelukkig is daar maar min hulp vanaf die owerhede om slagoffers van huishoudelike geweld effektief van hulp te wees. Vir sommige wat nie gehelp word nie, eindig die siklus eers wanneer hulle deur lewensmaats gedood word.

Huishoudelike geweld en emosionele mishandeling is ’n verskynsel van epidemiese proporsies in Suid-Afrika en is histories ’n taboe-onderwerp gewees, een wat selfs vandag nog nie na behore aangespreek word nie. Die ontwrigting en trauma wat in die spoor daarvan agtergelaat word, skaad individue en gemeenskappe en die langtermyn gevolge is nie so opsigtelik soos ’n af arm of sigbare letsel nie, maar ewe verreikend en dalk selfs meer. ’n Vrou staan op is nie eenvoudig ’n boek wat voortborduur op So lyk ’n vrou nie, maar slaag buitengewoon goed daarin om op eie bene te staan. Die vertelling kombineer die verhaal van trauma, alkoholisme en huishoudelike en emosionele geweld met elemente van hoop en dien aanvullend ook as ’n soort gids vir mense wat hulleself in soortgelyke posisies mag bevind. Daar word byvoorbeeld heelwat praktiese raad in die boek gegee. Met die buitengewone vlakke van gesinsgeweld in Suid-Afrika sal hierdie boek waarskynlik nog baie jare lank gelees word.

Lees ook:

Verskrikking in die ergste graad: So lyk ’n vrou ... deur Ilse Verster

Eerste slukkie: So lyk ’n vrou ... deur Ilse Verster

Domestic terror. Intimate partner violence in South Africa deur Nechama Brodie: ’n resensie

Bied die hof geregtigheid vir die mishandelde persoon?

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top