Bied die hof geregtigheid vir die mishandelde persoon?

  • 0

 

Rinda Botha verwys tereg in haar artikel na die “onaangename werklikheid” van huishoudelike geweld. Die statistiek wat sy aanhaal ter ondersteuning is, alhoewel amptelik korrek, waarskynlik net die ore van die seekoei. Bloot uit persoonlike ervaring in privaat praktyk is dit duidelik dat vele gevalle bloot net nie bekend gemaak word nie. Regoor die wêreld is dit oorwegend mans wat die skuldiges is. Alhoewel die mens oor die algemeen magsugtig in verhoudings blyk te wees, is vroue is normaalweg fisies swakker, kleiner en minder aggressief en maak hulle dit dus vir mans makliker om hulle te mishandel.

Botha verwys verder na die twee tipes verwere wat “mishandelde beskuldiges” mees algemeen opper, naamlik noodweer en niepatologiese ontoerekeningsvatbaarheid. Sy bespreek outomatisme nie verder nie, omdat sy met reg opmerk dat die howe selde niepatologiese ontoerkeningsvatbaarheid aanvaar as verweer. Myns insiens is dit ’n refleksie van hoe moeilik (en soms onmoontlik) dit is om as deskundige getuie menslike gedrag in huidige regsterme aan die hof te verduidelik, meestal tot die nadeel van ’n mishandelde slagoffer. My persoonlike ervaring in sake waar niepatologiese ontoerekeningsvatbaarheid as verweer gebruik is (S vs O’Shea, S vs Makalima, S vs Brown, S vs Letsoalo, S vs Manton, S vs Thatana), sowel as literatuur oor soortgelyke gevalle, lei tot ’n subjektiewe gevolgtrekking: Verreweg die meeste mishandelde slagoffers wat van moord of strafbare manslag aangekla word, het eintlik op die spesifeke oomblik in ’n staat van outomatisme opgetree. Omdat die reg nie voorsiening maak vir’n gekontekstualiseerde beskrywing van bewussyn nie, word regsverteenwoordigers egter “gedwing” om na ’n ander verweer soos bv. putatiewe noodweer te gryp. Sodoende kry die howe dan ook nie die geleentheid om die volle konteks en psige van die mishandelde persoon wat skielik “sneller” en dan gewelddadig optree, te verstaan nie.

Louis Awerbuck
Rinda Botha

Beskuldigdes wat slagoffers van mishandeling is, het oor ’n tydperk so geword, en het gewoonlik geleidelik op ’n sekere punt “versadigingsvlak” bereik. ’n “Sneller” (bv ’n belediging of ’n aanranding) veroorsaak dan optrede wat gewoonlik nie beplan is nie, maar “sonder om te dink” op die ingewing van die oomblik uitgevoer word. ’n Goeie voorbeeld is dié van ’n vrou wat per toeval besig is om vleis te sny met ’n skerp mes terwyl sy vir die hoeveelste keer verbaal of fisies geteister word deur haar man, en voor sy haar kom kry lê hy dood op die vloer. ’n Mens kan verstaan dat die hof nie sommer so gaan aanvaar dat sy nie kon onderskei tussen reg en verkeerd, of haar gedrag kon beheer op daardie oomblik nie. Volgens die huidige definisie van toerekeningsvatbaarheid kan die vrou in hierdie voorbeeld baie maklik skuldig bevind word aan moord, en spesialis sielkundige getuienis (indien sy dit kan bekostig) sou dan eers relevant wees ter strafversagting. Rinda Botha onderstreep in haar artikel hoe “onmoontlik” dit vir ’n persoon is om sonder deskundige getuienis die verweer van niepatologiese ontoerekeningsvatbaarheid aan te pak, en hoe onwaarskynlik hierdie verweer selfs met die beste deskundige getuienis, deur die hof aanvaar sal word.

Wat van toepassing in verwere van noodweer en/of outomatisme behoort te wees, is dat persone wat oor ’n lang tyd aan verbale en/of fisiese mishandeling blootgestel is, heel waarskynlik angsverwante toestande, kliniese depressie en/of posttraumatiese stres ontwikkel het. Dit maak dit dus objektief (volgens erkende diagnostiese navorsing) moeilik vir hulle om emosioneel beheersd en beredenerend op te tree. Verder word die effek van verbale mishandeling (wat feitlik altyd fisiese mishandeling voorafgaan), nie as oorsaak vir noodweer, of “rede genoeg” deur die hof beskou om bv. tot moorddadige gedrag oor te gaan nie. Verbale mishandeling is egter nie net uitskel, vloek of slegsê nie, maar sluit ook die volgende in:

  • ’n Konstante stryery, argumentering en afkraking van die ander party se opinie (dis “belaglik”, “onlogies” en “dom”), veral voor ander mense
  • Weerhouding van inligting wat ’n ander persoon in die verleentheid kan bring
  • Vernedering wat as ’n “grap” vermom word
  • Aanhoudende beskuldigings en verwyte
  • Konstante veroordeling en kritisering
  • Dreigemente of onderliggende implikasie van dreigemente
  • Doelbewuste ondermyning van die ander persoon se planne of pogings.

As hierdie optrede aanhoudend en intens voorkom, sou dit ’n relevante vraag wees wat die toets vir die “gemiddelde, redelike” persoon sou wees waarvolgens ’n teenreaksie uit noodweer regverdigbaar sou wees. Dieselfde vraag sou waarskynlik ten opsigte van putatiewe noodweer gevra kon word. Alhoewel daar vordering op regsvlak blyk te wees (S vs Engelbrecht), is dit by verre nie genoeg om, soos Rinda Botha dit stel, “erkenning van die mishandelde persoon se unieke omstandighede” te bewerkstellig nie.

Wat noodsaaklikheid aanbetref, neem die hof ook selde die intensiteit van “slagoffer-mentaliteit” in in ag. Alhoewel dit teoreties natuurlik waar is dat ’n slagoffer eers die polisie en/of die gemeenskap genoeg kans kan gee om te help, is dit in praktyk selde sielkundig moontlik. Angs as ’n diagnose het ’n emosioneel en fisies verlammende effek, en dit vorm ’n bose kringloop van vermyding van oorsaak en gevolg. Die voorkoms ondersteun die navorsing wat Botha aanhaal oor sogenaamde “onlogiese” optrede van mense wat nie “ontsnap” van verhoudings waar hulle mishandel word nie. Objektiewe struikelblokke waarna verwys word, bv. die verkryging en toepassing van beskermingsbevele, is ’n realtiteit en veroorsaak verdere “aangeleerde hulpeloosheid” by die slagoffer. Een moedige poging van ’n slagoffer wat in die wiele gery word deur die “boemerang-effek” waarna Botha verwys, is genoeg om alle hoop te laat kwyn vir iemand wat intens mishandel word.

Die aantasting van kognitiewe vermoëns wat gepaard kan gaan met ’n angsverwante diagnose blyk verder relevant te wees, veral in die geval van putatiewe noodweer. Die toets van die “objektiewe redelike persoon” sou dus nie hier regverdig wees nie, alhowel ontoerekeningsvatbaarheid egter ook nie van toepassing is nie.

Rinda Botha spreek haarself sterk uit deur te beweer dat die Suid-Afrikaanse strafregstelsel dié mishandeling tans “indirek voortsit”.

Sela.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top