Domestic terror. Intimate partner violence in South Africa
Nechama Brodie
Uitgewer: Kwela Boeke
Meer vroue en kinders sterf in Suid-Afrika weens huishoudelike geweld/terreur as weens bendegeweld. Tog is daar taakspanne vir die voorkoming van bendegeweld, terwyl dieselfde aandag en onkoste nie gewy word aan die slagoffers van gesinsgeweld nie. Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens se misdaadverslae word meer as drie vroue elke dag in Suid-Afrika deur hulle lewensmaats vermoor.
Hierdie goed nagevorste boek vertel hoe vernietigend huishoudelike geweld in die lewe van die slagoffers is. Die skrywer self noem dit ’n “onaangename” boek (bl 10), omdat die geweld daarin vir haar, self ’n slagoffer van kindergeweld, te persoonlik is. As voormalige slagoffer vind ek die boek bemagtigend en leersaam. Die oorsake van geweld uit die geskiedenis (onder andere slawerny en die patriargale stelsel) word belig – dus vroue se lot sedert voor-Bybelse tye. Onderdanigheid is boonop as ’n vroulike deug voorgehou. Dit was vrugbare teelaarde vir ongebalanseerde verhoudings.
Die Wet op Gesinsgeweld, en slagoffers se regte, word verduidelik, asook die rol van die polisie en gesinsgeweldhowe. Die doel van ’n beskermingsbevel, waar om dit te kry, en onder watter omstandighede dit toegestaan word, word uiteengsit. Ook hoe en waar sodanige bevele tragies misluk het om die nodige beskerming aan slagoffers te bied, en sommige met hul lewens betaal het – dit terwyl hulle die bevelsdokument in hul handsak het.
Hierdie boek is nie soveel ’n navorsingswerk of databron nie, maar ’n boekstawing van die lot van die slagoffers. Dit vertel van vroue en kinders wat nie meer hier is om self te vertel nie, dus om ’n stem aan die dooies te gee. Dit is uiteraard ’n moeilike en uitdagende onderneming om ’n stem vir die dooies te wees. Die skrywer maak die stelling dat hulle “lewens gekonstrueer word uit hul dood” (of omstandighede wat daartoe gelei het); die verhaal wat hulle ligame “vertel” in hof- en polisieverslae. Hierdie verhale/getuienis is noodsaaklik om gehoor te word, want dit is juis uit die Koor van Dooie Stemme dat die samelewing herinner word dat elke individuele geval deel is van die grootskaalse mislukkig van die regstelsel, en die samelewing self, om vroue te beskerm. Die onheilspellende ooreenkomste tussen die verskillende gevalle, ten spyte van die historiese, geografiese en kulturele verskille, bevestig dat dit nie beperk is tot enige groep nie, maar vroue en kinders wêreldwyd raak.
........
Die onheilspellende ooreenkomste tussen die verskillende gevalle, ten spyte van die historiese, geografiese en kulturele verskille, bevestig dat dit nie beperk is tot enige groep nie, maar vroue en kinders wêreldwyd raak.
........
Dit is egter nie net mans wat tereg staan op aanklagte van moord nie. In baie gevalle is dit vroue wat vervolg word ná die moord op hulle man. Selfverdediging word dikwels as versagtende omstandighede aangevoer, hoewel baie mans in hul slaap of op koelbloedige beplande maniere vermoor word. Die term death by instalment word in baie van die gevalle as versagting aangebied; in regsterme verteenwoordig dit die regte van mishandelde vroue om hulself te verdedig, selfs al word hul nie op daardie tydstip aangerand nie. Die term dui op die manier waarop vroue oor jare herhaaldelik aangerand (stukkie vir stukkie doodgemaak) word. Die lot van baie mishandeldevrouemoordenaars kan dus gesien word as die laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het.
Een van die grusaamste gevalle wat bespreek word, is dié van Grant Robinson. Sy vergrype strek oor 20 jaar en sluit drie vroue in wat herhaaldelik beskermingsbevele teen hom bekom het. Slagoffer Een is die moeder van sy eerste twee kinders. Terwyl sy swanger is met baba nommer twee rand hy haar met ’n tuinvurk aan terwyl sy met die eenjarige seun in die arms staan, en breek die kind se bene op drie plekke.
Slagoffer Twee is sy vrou en die moeder van sy derde en vierde kind. Sy verduur erge langdurige mishandeling, maar word weerhou om ’n beskermingsbevel te verkry deurdat hy haar dreig dat “hy sal tronk toe gaan”. Hierdie tendens van trauma bonding kom by talle slagoffers voor, omdat hulle van die aanvaller afhanklik is.
Slagoffer Drie, die 31-jarige Rencia Jafta (beskryf as ’n “intieme” vriendin), se onherkenbare lyk, bedek met ’n kombers, word ’n week na haar verdwyning onder sy bed gevind. Hy voer aan dat hulle die aand saam gedrink en gekuier het en ná konsensuele seks gaan slaap het. Toe hy haar die volgende oggend dood langs hom in die bed vind, kon hy nie dink wat haar dood veroorsaak het nie.
Haar lys van beserings sluit in:
- grootskaalse skeurwonde en stompvoorwerptrauma aan haar genitalië, vagina- en labia-areas veroorsaak deur ’n voorwerp van omtrent 30 cm lank
- drie hoofbeserings veroorsaak deur ’n stomp voorwerp
- breinbloeding as gevolg van bogenoemde hoofberserings
- inwendige bloeding en beserings in die maag en abdominale areas tekenend van vuishoue, skoppe en “stomping” (trap met geweld)
- die skeuring van die interne iliatiese aar wat diep deur die pelvis loop – die uiteindelike oorsaak van haar dood.
Regter Kusevitsky vonnis Robinson tot lewenslange gevangenisstraf en voer aan dat hy vroue as minderwaardige wesens beskou wat net daar is om sy finansiële, fisieke en seksuele behoeftes te vervul. Van die vonnisse sluit 10 jaar gevangenisstraf vir die verkragting van sy drie slagoffers in.
Om die voorkoms van gesinsgweld en vonnisoplegging verder te illustreer, verwys ek na ’n artikel op Maroela Media (12 September 2023, deur Anja van der Merwe) oor Des Erasmus, ’n 66-jarige meganiese ingenieur, geoktrieërde rekenmeester en vlieënier. Hy is op dié datum in die Pretoria-Noord-streekhof tot vier maal lewenslange gevangenisstraf gevonnis vir die verkragting van sy voormalige minnares se vyfjarige dogtertjie. Landdros Pierre Erasmus het by vonnisoplegging gesê dat die geweld teen vroue en kinders ’n groot probleem in die land is, en dat Suid-Afrikaners moeg is daarvoor. Hy haal president Ramaphosa aan oor die pandemiese afmetings van dié tipe geweld. En hy verklaar dat dit die hof se verantwoordelikheid is om sulke misdrywe te bekamp – die gemeenskap maak daarop staat.
Dit is sulke vonnisse wat die hoop versterk dat die gety van geweld teen vroue besig is om te draai, en dat dit teweeg gebring word deur boeke soos hierdie. Dit vorm ons siening van die wêreld waarin ons leef, waar ons veilig of onveilg voel. In baie van die gevalle was daar duidelike gevaartekens wat die slagoffers misgekyk het. Of dikwels is dit die kultuur waarmee jy opgevoed is, soos dat jy die ander wang moet draai en die minste moet wees, wat veroorsaak dat vroue soos skape ter slagting gelei word.
Hierdie is ’n broodnodige boek, omdat blootstelling aan hierdie narratiewe ons vermoë verskerp om beter na onsself om te sien. Kennis van jou regte en die besef van eiewaarde voorkom dat jy in dieselfde lot verval.
Domestic violence is dus ’n boek wat elke vrou en slagoffer in Suid-Afrika moet lees. Dit verdien ’n ereplek op my rak.
- Oor die skrywer:
Nechama Brodie is ’n joernalis, skrywer en akademikus. Sy is ’n dosent aan die Wits Sentrum vir Joernalistiek en waarnemende koördineerder van die Wits-regsprojek. Sy is die skrywer van nege boeke, oa Femicide in South Africa en Farm murders in South Africa. Sy woon in Johannesburg.
- Oor die resensent:
Ilse Verster is die skrywer van So lyk ’n vrou (Lapa, 2022).
Lees ook: