Eerste slukkie: So lyk ’n vrou ... deur Ilse Verster

  • 6

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Oor die boek

Titel: So lyk ’n vrou ...
Skrywer: Ilse Verster
ISBN: 9781776354863
Uitgewer: LAPA

Terug in die spaarkamer. Skok tree in. Bewerasie, naarheid. Die huis klink hol. Ek hoor iemand huil. Tyd staan stil. Ek sit. Dreunende klanke en pyn. Harde klappe teen die kamervenster laat my skrik. “Esli, maak oop!” Hy stap verby my. “So lyk ’n vrou wat met haar man kak soek,” sê hy.

Bart, die aantreklikste ou in haar matriekklas, soen Esli uit haar vel. Vir meer as veertig jaar deel hulle hul lewens, maak saam kinders groot en sien om na vriende en familie. Jaarliks vier hulle Kersfees in Kleinmond met geskenke en trifle en stappies langs die see met hul worshond.

Maar hoekom val Bart se broer uit ’n boom voor Esli se ouerhuis? En watter donker geheim is onderliggend aan Bart se ma se vreemde gedrag en onfatsoenlike grappe? Wat dink kollegas van Esli se haarstyleksperimente en panda-oë? Verdien sy om in die spaarkamer te skuil omdat sy, volgens Bart, aand na aand die kos brand en die hond se pote laat nat word as dit reën?

In So lyk ’n vrou... vertel Ilse Verster van Esli se heelwording en hoe sy, ná ’n leeftyd van mishandeling, in ’n rooi rok op die strand kon staan met een vuis in die lug en vry kon voel. Sy gee stem aan ’n stukkende vrou wat net wil hê die pyn moet stop. Sy deel wat dit verg om jou teen die muur op te trek, jou teen die samelewing te handhaaf en jouself te red.


Oor die skrywer

Ilse Verster woon in die Kaap saam met haar tweede man. So lyk ’n vrou ... is haar eerste boek. Sy het eerstehandse ervaring van die gebeure wat sy beskryf.


Uittreksel

Hoofstuk 13: The first cut is the deepest

Hannes se drankprobleem het Bart laat skrik. Vir ’n ruk drink hy glad nie. Maar hy bly steeds vir my ’n enigma. Soveel soos wat ek dink ek ken hom en hanteer hom deur my onderdanigheid, soveel bly hy onvoorspelbaar. ’n Mens is nooit seker wat kan gebeur nie.

Gedurende die seuns se laerskooljare studeer hy verder en voltooi sy M-graad. Dit is nou tyd vir vooruitgang in sy beroepslewe.

Of so dink ons. Dis 1994. Alles verander.

Die spanning van die veranderende werksomgewing, gerugte van poste wat afgeskaf word en verpligte pakkette het ’n negatiewe uitwerking. Bart drink meer. En sy jaloesie word al hoe erger.

Bart het in ons vryersjare hoë agting vir my ma gehad. Ná Bernard se geboorte verander dinge geleidelik. Hy kritiseer my ouers al meer. Gewoonlik wanneer hulle vertrek of ná ’n kuier by hulle, moet ek hoor hoe hulle Wian bederf.

“Jou ma koop net vir hom duur speelgoed. Hulle koop nie dieselfde vir ons kinders nie. Dis onregverdig dat Wian ’n Meccano-stel kry en Bernard verleë moet toekyk terwyl hy daarmee speel.”

Wanneer ek teëstribbel dat ons dit vir ons kinders moet koop, nie my ouers nie, raak hy woedend.

“Dis oor jy nie kan aanvaar dat jou ma nie soveel vir jou voel as vir Wian nie. Wanneer gaan jy besef dat nie jou ma of jou useless pa jou eintlik wil hê nie? God weet wat van jou sou word as ek nie daar was nie.”

“Dis strooi. My ma het my lief. Hoekom haat jy hulle ewe skielik?”

“Jy is pleinweg dom. Jy dink omdat jy goed voel oor jouself ander ook so voel. Niks is verder van die waarheid nie.”

Ek leer harde lesse. Een is om nie ’n opinie oor ander mense te hê nie. Ons kuier by ons vriende en neem Leandri,’n niggie van Bart, saam. Sy is pas geskei. Die aand vier ons vriend Wikus en sy tweelingbroer Jaco se verjaarsdag. Jaco is ook alleen.

Gou dans Jaco en Leandri die hele aand. Kort daarna begin hulle mekaar sien, maar haar planne om te verhuis is reeds gefinaliseer. Bart is verlig. Hy het nie een goeie woord vir die man nie. Op ’n dag bel Leandri. Sy praat lank en al waaroor sy wil praat is Jaco. Ek stel voor dat sy eerder van hom vergeet. Hy is verskeie kere geskei en betaal meer onderhoud as wat sy salaris is.

Toe Bart tuiskom, vertel ek hom laggend van die oproep en dat Leandri wil terugkom Pretoria toe oor Jaco. Ek sien hoe hy wit word. Voel hy sleg, wonder ek.

Die volgende oomblik klap hy my so hard dat ek my balans verloor. “Jou bitch, jy het dit natuurlik vir haar gesê oor jy verlief is op hom. Jy wil hom vir jouself hê, dis hoekom jy haar probeer weghou van hom af.”

Hy klem my kop onder sy arm vas en sleep my na die badkamer. Daar druk hy my kop in die toilet en laat dit spoel. Ek verdrink amper in my eie toilet. Met sy knie op my nek druk hy my kop in die bak. My keel is toegedruk, dis onmoontlik om asem te kry. Ek onthou die gevoel toe ek byna in Durban verdrink het. Ek hou op om weerstand te bied. As ek nie hier uitkom nie gaan hy my vandag doodmaak. Ek bid: “Here, help, voor hy my doodmaak.”

Die voordeur gaan oop en helder kinderstemme kom in die gang af. “Ma! Waar is julle. Kan ons pelle hier kom rugby kyk?”

Bart laat my los, loop uit die badkamer en klap die deur agter hom toe. Teen dié tyd is die seuns al by die aantrekkamer tussen die slaapkamer en die badkamer.

Hy keer hulle weg met “Ma is in die badkamer en sure, als is reg, wil julle manne koeldrank hê?” Doodkalm.

“Vrou,” roep hy uit voor hy loop, “hier is ’n klomp honger telge wat wil middagete hê. Hoe lyk dit, is julle lus vir hot dogs?” Hul stemme verdwyn in die gang af. Ek kry asem. Dankie, dankie, Here. Ek bly in die badkamer tot ek kalm is. Toe was ek hare, blaas dit droog en gaan maak middagete. My keel is rou. My hees gekwaak maak Bart net weer woedend en hy beskuldig my daarvan dat ek aansit.

Bart drink die res van die dag. Toe ek aandete maak, lê hy reeds half bedwelm op die bed.

Toe ek laataand my bedliggie afsit, onthou ek die heel eerste keer toe Bart my geslaan het. Die seuns was klein; Aldo was drie jaar oud. Hulle het al geslaap. Hy het begin uitvaar oor iets wat ek verkeerd gedoen het. Toe ek terugpraat, klap hy my deur die gesig en beveel my om my goed te vat en te trap uit sy huis uit. Hy wil my nie langer daar hê nie. Ek is nie meer welkom nie.

“Toe, vat jou klere en fokkof of moet ek jou uitgooi?” Ek staar hom verstom aan. “Maar waarheen moet ek gaan?” vra ek. “Dis mos my huis ook?” Hy storm op my af en ek hardloop in die gang af. Hy keer my in die voorportaal vas.

“Dis wat jy dink, teef. Hierdie huis is mý huis. Myne en myne alleen. Hy is op mý naam. Ek sal sorg dat jy fokkol kry. Toe, fokkof.” Hy maak die voordeur oop en stamp my uit. Toe sluit hy die deur. Ek staan op my eie voorstoep. Dis winter. Ek klop die bure op en bel vir Maria. Sy stuur Hannes om my te kom haal. Hulle jaag my ’n slaappil in voor ek kan slaap.

Ek is die volgende oggend skaars wakker toe Bart met twee betraande seuntjies opdaag. Hulle storm na my toe en klou my vas.

“Kom huis toe, my vrou. Dis waar jy hoort.”

“O. Nou hoort ek daar. Gisteraand het jy my geslaan en by die deur uitgegooi soos vuilgoed.”

Die seuns begin weer huil. Dit breek my hart. “Asseblief, Noekie. Jy ontstel die kinders onnodig.”

“Kom jy saam met my sitkamer toe. Hannes, kyk asseblief na my kinders.” “Bart, as jy ooit weer aan my slaan, so waar as die Here my hoor, ek sal my kinders vat en gaan. Jy sal dit nooit, nooit weer doen nie.”

“Ja, ek het jou gehoor. Ek is jammer. Kom ons ry voor die kinders weer begin huil.”

“Nee. Nee. Dink jy dis so maklik? Jy sit ons almal deur hel en al wat jy vir jouself te sê het, is: ‘Ek is jammer.’ Jy slaan my en dan probeer jy keer dat ék die kinders ontstel. Weet jy wie is jammer? Ek. Ek is jammer dat jy nie eers jou kinders lief genoeg het om ’n waardige pa vir hulle te wees nie. En dan waag jy dit om my familie sleg te sê. Ek bel eerder my ma om my en my kinders te kom haal. Ek gaan hulle nie blootstel aan dieselfde geweld waarmee ek grootgeword het nie.”

Bart loop uit en kom terug met Hannes, Maria en die seuns. “Ma, praat asseblief met Esli. Sy wil nie huis toe kom nie.”

“Nee, ek gaan nie, nie voor jy voor God en jou ma belowe om my nooit weer te slaan nie.”

“Oukei. Ek belowe. Ek sal nooit weer my hand vir jou lig nie. Ek is regtig jammer. Ek is lief vir jou. Ek belowe …”

Toe ons huis toe ry, sit ek agter by twee verwarde seuntjies. “Mamma, toe ons wakker word is Mamma weg. Ma moet ons asseblief nooit weer alleen los nie,” sê Bernard met traanstrepe oor sy gesig. My hart breek. Bart kyk vir my in die truspieëltjie. Al my kindervrese is terug. Hoe gaan ek my en die seuns beskerm? Bart het geen selfbeheersing nie.

Dit was die eerste keer. En dit sou aanhou. Jare en jare lank.

  • 6

Kommentaar

  • Sjoe, ek kan nie wag om die boek te lees nie. Ek is so bly jy deel jou storie met ons. Jy is 'n dapper vrou en ek haal my hoed af vir jou. Baie geluk!

  • Sjoe, Ilze, my hart breek vir jou oor die vreeslike wreedhede waaraan jy blootgestel was.
    Geen mens behoort deur hierdie hel te gaan nie.
    Maar jou pyn en vernedering kan vir ander, wat ook hierdeur gaan, hulp verleen hoe om te oorleef en hoe om uit hierdie hel te kan ontsnap.
    Ek sal graag jou boek wil lees.
    Jy was fisiek en verbaal aangerand en sulke wreedhede breek iemand se menswaardigheid stukkie vir stukkie af.
    Ek is nie deur dieselfde hel as jy nie, maar my oorlede man het ook soms sy hand vir my gelig en was baie ongeskik met my en ek het altyd gevoel dat ek nie goed genoeg is nie.
    Ek kon hom nooit uitvang nie, maar het wel geweet op wie hy verlief was.
    Ons was een aand by ’n funksie en die meisie vra so ewe: O, is tannie ook hier? Ek was in die hospitaal en het vroeër die dag uitgekom.
    Ek het nie ’n dooie woord gesê nie. Toe ons terug by die huis kom, het hy vreeslik tekere gegaan en op my gegil dat ek ’n scene gemaak het.
    Ek het stilgebly en toe hy ’n slag moes asem skep, het ek hom gevra of ek eén woord gesê het.
    Hy het skielik ophou skree en gesê dat my stilswye meer gesê het.
    Hy het toe nie meer aan my geslaan nie, want my ouers het by ons kom kuier in ons vorige dorp.
    Hy was by die werk toe my pa vir my sê dat hy weet wat aangaan, dat ek moet sê of ek wil terugkom na my ouerhuis toe.
    Hy sal my kom haal, ek moet net sê.
    Ek vermoed dat my pa met hom gepraat het. Wat my pa gesê het, sal ek nooit weet nie; my ouers en my man is almal nou reeds oorlede.
    Al het hy nie meer aan my geslaan het nie, het hy tog nog onbeskof met my gepraat.
    Daar was goeie tye ook en hy het, soos hy ouer geword het, minder woedebuie gehad.
    Ek is nou amper 13 jaar alleen en is gelukkig op my eie.
    Ek is bly dat jy verlos is van die monster.
    Die Here het jou gered, ook vir my.
    Wees geseënd met jou nuwe lewe.🙏🙏🙏

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top