
Die geskenk: liefde, selfdood, dieper leef deur Riette Rust (Tafelberg, 2024)
Titel: Die geskenk: liefde, selfdood, dieper leef
Skrywer: Riette Rust
Uitgewer: Tafelberg (2024)
ISBN: 9780624095354
Hierdie boek met die titel wat mens aanvanklik verwar, neem jou deur die volle spektrum van emosies – van skok, al die fases van rou en dan uiteindelik berusting en hoop. Die omslag lui dat dit oor “liefde, selfdood en dieper leef” gaan.
(Later verstaan mens presies wat die skrywer met die woord geskenk bedoel.)
Daar ís lewe na ’n geliefde se dood. En selfs weer liefde soms ook, al is jy in jou herfsjare.
Riette Rust is bekend vir die veelsydige titels wat sy as skrywer aangepak het, en wat van Die AA tot OE van seks en Vlees en bloed (’n opvolg van die topverkoper Bloedsusters deur Ilse Salzwedel) tot Ek! Ek! Ek! Herken en hanteer narsiste wissel. Eie aan ’n ervare joernalis wat ’n wye belangstellingsveld het.
Maar ek dink Die geskenk wat as “dapper” en “inspirerend” beskryf word en tot dusver heelwat lof uitgelok het, is los hande haar beste boek. Nie net omdat dit met soveel emosie en empatie geskryf is nie, maar ook omdat dit leersaam is en mense wat dieselfde belewenisse gehad het, kan help met die wete dat jy nie alleen is nie. Dis normaal om soms te voel soos wat jy voel, is die boodskap.
........
Dis normaal om soms te voel soos wat jy voel, is die boodskap.
........
As jou man op so ’n skokkend gewelddadige wyse selfdood gepleeg het en jy as sy vrou op die toneel afgekom het, word die mat onder jou voete uitgeruk. Veral as sommige mense net uit nuuskierigheid by jou aanklop om van al die grusame besonderhede te hoor. Maar gelukkig is daar ander wat toon wat ware vriendskap is. Die kaf word as’t ware van die koring geskei in jou vriendekring.
Riette vertel hoe sy met emosies, sowel as praktiese probleme as weduwee te make kry. Take moes oorneem wat JD altyd aangepak het.
Die feit dat sy Sielkunde gestudeer het en wyslik terapie ondergaan het, het haar baie gehelp. En ek glo die skryf van die boek ook, wat as joernaalterapie deur sielkundiges beskou word, hoewel sekere dele van haar verhaal haar ook van voor af moes getraumatiseer het.
Riette vertel op openhartige wyse van haar kinderjare en alkoholispa. Sy hou nie terug nie.
Sy het in ’n gemiddelde woonbuurt in die Paarl grootgeword waarop sommiges neerhalend as “die verkeerde kant van die hoofstraat” neergesien het.
Sy ontmoet JD toe hulle albei nog bloedjonk was. Hy vertel haar aanvanklik dat sy nie sy “ideale vrou” is nie. Daar word op die dorp geskinder dat sy “bokant haar klas mik” en “met haar gat in die botter geval het” wanneer die verhouding tog ernstig raak.
Sy glo vas dat haar suster die “mooi” een is en sy die “lelike” een. Dit verbaas mens, want sy is dan vandag so glansryk.
Dan word sy boonop as “dom” deur haar pa uitgeskel omdat sy 23% vir Geskiedenis gekry het. Dieselfde meisie wat later onderskeidings in Sielkunde as universiteitsvak gekry het.
Haar kinderjare is stormagtig, haar ouers se huwelik verwoestend. Sy moes en het haar pa later vergewe.
Wanneer sy universiteit toe gaan om Drama te studeer, gaan JD eers vir sy lugmagopleiding en moedig haar aan om met ander mans uit te gaan eerder as om vir hom te wag.
Haar ouers moedig haar aan omdat hy klaarblyklik in elk geval nie langtermynplanne met haar het nie.
Ironies genoeg is sý die een wat later kanselvrees kry as die klanke van die troumars al amper begin weergalm.
Riette sukkel na ’n onbeplande swangerskap met nageboorte depressie. Sy is te vreesbevange om haar baba te bad. Hiermee kan baie vroue identifiseer. Daar word nie baie oor die onderwerp gepraat nie.
Dis ontstellend dat Riette se hele gesin, sy, haar man en dogters, aan genetiese depressie ly. Sy glo ook dat JD wat dink sielkundige behandeling is onsin, ’n swak selfbeeld gehad het.
Na sy beroerte gaan dit van kwaad tot erger met hom. Hy verloor sy werk en voel nutteloos. Die egpaar beleef uitmergelende emosies. Sy moet sterk bly en moed inpraat.
Om hom agter glas in die lykshuis te gaan uitken, was wreed. Veral as gevolg van die impak van die skoot in sy gesig. Maar sy móés dit doen.
........
Riette verskaf deurleefde raad oor hartseer, veranderende rolle, skaamte, selfondersoek, skuldgevoelens, teisterende vrae, die stigma rondom selfdood, woede en later begrip.
........
Riette verskaf deurleefde raad oor hartseer, veranderende rolle, skaamte, selfondersoek, skuldgevoelens, teisterende vrae, die stigma rondom selfdood, woede en later begrip.
Sy benadruk dit dat sekere “trooswoorde” soos “jy het so baie om voor dankbaar te wees” eenvoudig onvanpas is. Wat om te sê en wat om nie te sê nie. Mense kan soms so gevoelloos wees.
Dit help wel om blomme te stuur en dit word waardeer as jy die begrafnis kan bywoon.
Sy skryf breedvoerig oor die oorsake van selfdood en indringende vrae oor hoe sy dit kon voorkom het. Rou, eerlik en sonder om ’n moordkuil van haar hart te maak.
Mens lees ook van die verskillende soorte rou en die aanname dat tyd heling bring. Ek glo egter nie dat dit altyd van toepassing is op ouers wat kinders verloor het nie. Dit het met vier van my vriendinne gebeur. Dit los jou nooit nie; jy leer net om daarmee saam te leef, selfs dekades later, het hulle my vertel.
Mens sou ook graag meer oor haar suster wou lees met wie sy dikwels tydens haar kinderjare ongunstig vergelyk is.
Riette skryf dat ekstroverte meer geneig tot posttraumatiese groei is as introverte. Ek weet darem nie. Verlies bly verlies en dis ook deesdae hoogmode om ’n “introvert” te wees. Lees maar net onderhoude met bekendes. Ek het jare laas ’n ekstrovert ontmoet.
Dit is bemoedigend dat Riette na ’n ramp of twee met ongeskikte kandidate weer liefde by Bleskoppie gevind het, en dit nogal op ’n afspraakwerf wat deesdae as heel respektabel geag word. Maar toe sterf hy weens kanker en weer eens raak verdriet haar metgesel.
En weer eens moes sy sterk wees.
Soms het mens egter geen ander keuse nie as om sterk te wees.
So het ’n dapper boervrou wat ’n wrede plaasmoord op haar geliefdes beleef het, aan my vertel: “You don’t know how strong you are until being strong is your only choice.”
Lees ook:
“Dis donker en dis lig en dis swaar” – Riette Rust vertel wat die lyf onthou

