
Titel: Die geskenk: liefde, selfdood, dieper leef
Skrywer: Riette Rust
Uitgewer: Tafelberg (2024)
ISBN: 9780624095354
Riette Rust praat openhartig met Yolanda Wessels en Naomi Meyer oor Riette se boek, Die geskenk.
Yolanda: Riette, Die geskenk is nie jou eerste boek wat handel oor ’n omstrede onderwerp nie. Van narsisme (Ek! Ek! Ek! Herken en hanteer narsiste), misdaadtonele (Vlees en bloed) tot seksualiteit (Die AA tot OE van seks). Wat prikkel jou om ’n spesifieke onderwerp aan te pak en ’n boek daaroor te skryf?
Ek skryf nie oor ’n onderwerp omdat dit omstrede is nie, maar omdat die kennis daarvan oor die algemeen maar gebrekkig is. My doel is om ander deur middel van my navorsing te help.
Ek word dikwels gevra om ’n boek oor ’n spesifieke onderwerp te skryf, waarskynlik omdat ek al jare lank ’n joernalis is. Die AA tot OE van seks is so ’n voorbeeld. Omdat ek dikwels vir Sarie oor seks en intimiteit geskryf het, het André le Roux, toe assistent-redakteur, my as skrywer van die boek by Tafelberg-uitgewers aanbeveel.
Ek het destyds oor seks begin skryf om te kyk of ek kon en of ander aanklank daarby sou vind. Ek het selfs ’n erotiese verhaal of twee vir LitNet geskryf. Dit was ’n uitdaging om Afrikaanse terminologie te skep en ook om sekstonele in Afrikaans te skryf. Ek wou seks net nie laat klink soos ’n gevoellose, biologiese daad nie.
Ek het ingestem om Die AA tot OE te skryf, omdat ek al soveel keer moes hoor dat konserwatisme in veral vroue se ouerhuise latere verhoudings opneuk. Dis ook ’n feit dat jong mans baiekeer nie weet hoe ’n vrou se liggaam werk nie. Vroue en mans sê dikwels so.
As jy konserwatief grootword, word jy geleer seks is sonde en dat jy ’n maagd moet bly tot jy trou. Maar hoe kan jy oornag die sprong maak van seks-is-sonde na laat-vaar-jou-inhibisies? Dit maak hoegenaamd nie sin nie.
Baiekeer lei seksuele konserwatisme tot vaginisme (soms “vaginismus” genoem). Dis die onwillekeurige sametrekking van die bekkenvloerspiere – daardie deel wat jy toeknyp om urienvloei te onderbreek – tydens ’n poging tot penetrasie. Vrees vir jou eerste seksuele ervaring kan veroorsaak dat hierdie spiere in spasma gaan. Dit skep geweldig baie probleme in verhoudings.
Sommige ouers vertel ook steeds nie vir hul kinders van seks nie, nog minder dat dit plesier kan verskaf en mooi kan wees in ’n goeie verhouding. Dís wat ek alles met Die AA tot OE van seks wou aanroer. Die ironie is dat baie dominees hul dankbaarheid vir die boek uitgespreek het. Seks is ’n groot probleem onder vele lidmate wat konserwatief grootgeword het.
’n Uitgewer het my ook gevra om Vlees en bloed te skryf. Dis ’n opvolg van Bloedsusters deur ’n ander skrywer. Ek wou graag met die twee ware susters wat onder meer misdaadtonele skoonmaak, onderhoude voer. Mens moet eenvoudig weet dat jy nie self jou geliefde se bloed hoef skoon te maak nie. Min het ek geweet dat ek eendag self dié soort hulp nodig sou kry.
Die twee susters se bonatuurlike ervarings het my geweldig geïnteresseer, juis omdat ek self ietwat psigies is. Daarby het ek hul sin vir humor, wat dikwels hul redding onder moeilike omstandighede was, baie geniet.
Ek besef dat elkeen van ons ’n donker kant het, dis dié dat ons so graag misdaadboeke lees of -programme kyk. Sou jy jou donker kant ontken, kan jy allerhande neuroses en psigoses ontwikkel. Dit durf ek nie toelaat nie!
Wat narsisme betref ... Ek het ’n artikel oor dié onderwerp vir Sarie geskryf. Sielkunde is my groot passie. Die terugvoer was oorweldigend. Baie lesers het nog altyd gewonder wat ’n vriend of familielid wat eienaardig en ontstellend optree makeer, en die artikel het hulle daarmee gehelp.
Ek het die nodigheid van ’n boek raakgesien. Daar is veel meer mense as wat ons besef wat narsistiese eienskappe of ’n narsistiese persoonlikheidsversteuring het. As jy narsisme verstaan, is dit ’n verligting om te besef jý is nie die “mal een” nie, dis die narsis wat jou dit laat glo.
Narsisme gaan natuurlik nie net oor egogedrewenheid nie. Daar is nege eienskappe waaraan iemand met ’n narsistiese persoonlikheid kan voldoen. Dis geweldig interessant. Die boek is twee keer herdruk. Die behoefte aan inligting was so groot dat ek sélf vir ’n derde druk betaal het. Ek jok nie as ek sê dat ek agt jaar ná die verskyning steeds navrae oor die boek kry nie. En dít ná sielkundiges my gewaarsku het oor die ingewikkeldheid van die onderwerp. Ná die narsismeboek se verskyning lag ek elke keer wanneer iemand (sielkundiges ingesluit) sê my navorsing is ’n doktoraal werd! Navorsing oor alle aspekte van narsisme was skaars, die boek het my drie jaar geneem om te voltooi.
...........
My nuwe boek, Die geskenk – liefde, selfdood en dieper leef, was die moeilikste een om te skryf. Emosies het my dikwels oorweldig. Ek het in ’n stadium die manuskrip vir ’n jaar lank eenkant geskuif. Daarna het ek weer vasgebyt met net een doel voor oë, om lesers wat net so verlore gevoel het soos ek ná ’n geliefde se selfdood, te help.
...........
My nuwe boek, Die geskenk – liefde, selfdood en dieper leef, was die moeilikste een om te skryf. Emosies het my dikwels oorweldig. Ek het in ’n stadium die manuskrip vir ’n jaar lank eenkant geskuif. Daarna het ek weer vasgebyt met net een doel voor oë, om lesers wat net so verlore gevoel het soos ek ná ’n geliefde se selfdood, te help. Daar is nie ’n soortgelyke boek in Afrikaans nie. Ek glo ons moet oor selfdood praat, en reg praat, want hoe anders kan ons van die stigma daaraan verbonde ontslae raak?
Yolanda: Ná Vlees en bloed het jy vertel dat jy ná elke onderhoud ’n breek moes neem om weer kalm te raak. Spoor sulke ontstellende gebeure jou aan om meer te wete te kom en meer vrae te vra?
Stel dit só: Die feit dat die onderwerpe ontstellend kan wees, spoor my nie aan nie, wel om meer te wete te kom daaroor. Die enigste doel van my skryfwerk is om onderwerpe te takel waaroor daar min inligting in Afrikaans bestaan. Só hoop ek om ander se lewe ten goede te kan verander.
Yolanda: Jou pasvrygestelde boek is Die geskenk. Die aanhaling aan die begin lees: “In some ways suffering ceases to be suffering at the moment it finds meaning.” Wat het jou laat besluit op dié titel en meegaande aanhaling?
Ek het nie die titel gekies nie, my uitgewer het. Dit het aanvanklik vir my geklink of Die geskenk na ’n pienk boekie verwys, wat dit allesbehalwe is.
Maar ek het gou besef die titel werk. Dit bevat ’n tikkie ironie. Ek wil tans net dít aan potensiële lesers sê: My man, JD, het sy dood as ’n geskenk aan my en ons dogters gesien.
Wat Viktor Frankl se aanhaling uit Man’s search for meaning betref: Ná tragedie het jy ’n keuse. Jy kan vir ewig bly lê, of jy kan doelbewus besluit om op te staan. Handel net eers al die stappe van rou af en probeer dan betekenis in jou tragedie vind. Dis posttraumatiese groei. As ek ná my tragedie geil kon groei, kan jy ook.
Naomi: Riette, die titel van die boek is ongeveer die laaste ding wat mens voel as mens iets beleef soos jy. Dink jy die geskenk van die dood is juis die lewe? Elke dag?
Waarskynlik, maar vir my lê die geskenk in so baie ander dinge ook. JD het nie nou meer bekommernisse, of geestelike of fisieke pyn nie. Ná sy dood kon ek my ingevalle huis herbou en daar bly woon. My huishulp kon haar werk behou.
Maar my grootste geskenk lê daarin dat ek dit kon regkry om op te staan. JD sou ook nie wou gehad het dat ek vir altyd in ’n bondeltjie moes bly lê nie. Die geskenk is ’n monument vir hom. Daarmee eer ek sy nagedagtenis.
Yolanda: Jy deel baie van jou eie verhaal en gebeure hierin: van jou kinderjare; jou pa se alkoholisme; ’n onbeplande swangerskap en nageboorte-depressie; jou man JD se siekte, verslawing en dapper herstel tot sy selfdood. Hoe maklik of moeilik kom dit om jou lewensreis met lesers te deel op so ’n eerlike en naakte wyse?
Daar is net een manier om memoires te skryf en dit is opreg eerlik. Daar is geen twyfel dat jy jou kwesbaarheid met lesers moet deel nie, want hoe anders sal hulle hulle met jou en jou lewe kan vereenselwig? Kwesbaarheid verg krag en moed, maar dis ook ’n teken van ’n sterk mens, sê kenners.
Die skryfproses het soms onmoontlik gevoel, ook die idee dat ek myself so gaan blootstel, maar die terugvoer maak dit absoluut die moeite werd. ’n Vrou het gesê sy het nog vir niemand vertel dat haar pa 25 jaar gelede aan selfdood gesterf het nie. Nie eens vir haar man of haar kinders nie. Ek het haar omhels en sy kon onbevange huil.
Meeste ander lesers wat al selfdood of enige ander tragedie moes hanteer, sê ná die lees van Die geskenk dat hulle nie meer so alleen voel nie. Hulle weet ook nou dat sommige van ons op ’n manier verstaan.
Ander sê hulle besef nou dat hulle voor die lees van die boek niks oor selfdood geweet het nie. Hoe kan mens dan die stigma afbreek?
Ek lig my en JD se lewensverhaal toe met wetenskaplike feite en dít is wat ander se oë laat oopgaan. Ek moet net byvoeg dat die boek nie ’n treurmare is nie. Ek sien altyd humor in die lewe raak en daar is baie daarvan in die boek. Humor het my ook tot ’n groot mate gehelp om die geweldige tragedie te kon oorleef.
Ek wou hê dat Die geskenk soos ’n roman (’n blitsblaaier!) moes lees, dialoog en al, sonder vervelige dele wat jy in elk geval sou verbyblaai. Ek het lank oor die struktuur nagedink en veral die eerste hoofstuk etlike kere herskryf. My vertelling moes beslis nie soetsappig klink of te veel byvoeglike naamwoorde bevat nie.
Yolanda: Dink jy ’n mens kan werklik verstaan hoe ’n depressievegter se kop werk as jy nie al self in die kloue van depressie vasgevang was nie?
Ek weet nie. Ek kan net sê dat ek en my twee dogters genetiese depressie het (JD natuurlik ook) en daarom verstaan hoe ander lyers (of vegters) se koppe werk. Ek en my kinders “bestuur” die siekte voltyds. Sielkundige en psigiatriese hulp is nodig. Ek het ook ervaar dat stysel en suiker ’n negatiewe effek op my gemoed het en dat ek nie sommer insinkings ervaar sedert ek daagliks goeie probiotika neem nie. Omdat jou gut, soos jou brein, serotonien bevat, is balans in jou kolon ewe belangrik. Sodra ek dié reëls oortree, sak my gemoed.
JD het gereeld twee goed kwytgeraak: “Depressie bestaan nie, dis ’n klomp twak.” En: “Hoe kan iemand aan selfdood sterf? Daar is áltyd uitkoms en hoop.” Sy woorde het hom ongelukkig ingehaal. Ek is egter dankbaar dat ek – ook met behulp van navorsing – kon vasstel hoekom JD aan selfdood oorlede is. Daar is meestal meer as een rede. In hierdie opsig is ek besonder bevoorreg. Sommige mense het geen idee waarom hul geliefde só oorlede is nie.
Yolanda: Hoe belangrik is die rol van die persoon naaste aan ’n depressievegter om die skaal te help balanseer? Hoe maklik is dit om self verlore te raak in die donker om jou lewe met so iemand te deel of hoeveel skuld ervaar jy self teenoor jou maat?
Dis nie jou verantwoordelikheid nie. Jy kies om so iemand by te staan omdat jy die persoon liefhet. Natuurlik raak dit vir jou ook soms donker. Ek het dikwels moedeloos gevoel. Ek het JD gereeld gemotiveer, soos om te sê jou hartoperasie het jou ’n tweede kans op leef gegee, gebruik dit. Ek het hom herinner daaraan dat hy nog ’n groot rol te speel het, daarom het hy sy siekte oorleef en al het hy sy werk kort voor sy dood verloor. Ek het hom ook gereeld herinner hoe lief ek hom het. Daarby het ek hom altyd na dokters, sielkundiges en psigiaters vergesel. Hy wou niks sonder my doen nie. Ek het ook gesorg dat hy sonder sy wete antidepressante inkry. Maar die breinskade ná sy beroerte (’n gevolg van sy ernstige opehartoperasie) en gevolglike onbehandelbare angs, was onomkeerbaar.
Dis normaal om skuldgevoelens te hê ná ’n geliefde se selfdood, al het jy alles moontlik gedoen om hom te help en al kan jy, soos ek, sin maak van die hoekoms.
Allerhande vrae het my aanvanklik geteister: Het ons JD se daaglikse omstandighede so ondraaglik gemaak dat hy nie meer kans gesien het om te lewe nie? Het hy opgehou om vir my en die kinders lief te wees? Moes ek hom nie nog meer kere van my liefde verseker het nie? Moes ek nie vir Sadag (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) gebel het en raad gevra het toe hy geweier het om in die hospitaal te bly nie?
Só kan jy vir ewig aangaan, daar sal niks van jou oorbly nie.
Yolanda: Wat was jou opinie oor depressie voor en ná JD se dood?
Dit het nie verander nie. Ek het net nie besef hoe wreed ander se kommentaar ná JD se selfdood sou wees nie. Ek het vrae gekry soos het hy ’n dubbelloop- of ’n enkelloop-haelgeweer gebruik? Hoe ver het die bloed gespat? Wat was dan fout in jul huwelik? Het jy dit sien kom? Laasgenoemde vraag was vir my een van die ergste. Bedoel die “spreker” ek het geweet JD gaan dit doen, maar dié feit geïgnoreer en daarom is ek nou ’n moordenaar?
Die mees algemene opmerking was en is steeds in so ’n geval: Ek weet presies hoe jy voel. Nee, jy weet nie. Veral nie as jou ouma van 95 onlangs oorlede is nie. Jy kán en behoort dit nie met selfdood te vergelyk nie. Die sonde weet, ek het eenvoudig gesê, ag, ek is so jammer om te hoor jou ouma het ook haarself om die lewe gebring met ’n haelgeweer in jou kombuis, en dat jy op haar liggaam afgekom het.
Ek het nie eens sleg gevoel oor my kommentaar nie.
“Gelowiges” het my eweneens ontstel. ’n Priester het aan my geskryf: “As jy dink jou man sit aan die Here se regterhand, is jy verkeerd, hy sit aan die duiwel se linkerhand.”
...........
Hopelik help Die geskenk om die boodskap oor te dra dat depressie ’n breinsiekte is, net so erg en potensieel dodelik soos enige ander terminale siekte. Hoekom daarteen diskrimineer?
...........
Hopelik help Die geskenk om die boodskap oor te dra dat depressie ’n breinsiekte is, net so erg en potensieel dodelik soos enige ander terminale siekte. Hoekom daarteen diskrimineer?
Yolanda: Verwerk ’n mens ooit ’n maat se dood as gevolg van depressie en selfdood? Hoe het jy dit hanteer? Is daar skuldgevoelens van jy moes dit raakgesien/anders opgetree/nog hulp gekry het?
Die verbystering, skok, fisieke en geestelike pyn wat met ’n geliefde se selfdood gepaard gaan is onbeskryflik. Veral as jy op die liggaam afgekom het. Onmiddellike en intense terapie is nodig en jy moet die rouproses (soos uiteengesit in my boek) voltooi. Eers ná sowat vier jaar het my gemoed begin lig. Ek het ook doelbewus – en dit was bitter moeilik – gekies om weer op te staan en baie hard gewerk om dit te kon regkry. Ek het besef dat JD dood is, maar dat ék lewe en dat daar ’n doel of twee met my lewe is. Die boek is een van hulle.
Jy kom nie óór selfdood nie, jy leer wel mettertyd om met die letsel saam te leef. Sielkundige hulp het my gered, maar ek sal nooit die beeld van dit wat ek in my kombuis aangetref het, uit my kop kan kry nie.
Naomi: Met my eerste vraag het ek sommer met die deur in die huis geval. Ek wou vir jou vra: Hoe gemaak – eers die verlies van JD en toe die verlies van die nuwe liefde in jou lewe. Hoe op aarde gaan mens aan? Ek bedoel dit letterlik: In die oomblik wat mens op jou man afkom, of die nuus ontvang … wat maak mens onmiddellik?
Op die manier waarop JD gelê het, het ek dadelik geweet hy is dood. Hier eindig my lewe ook, het ek gedink. Ek was oorweldig deur die beeld van hulpeloosheid, magteloosheid en hartseer wat ek hier gesien het. JD was die een wat altyd gevra het hoe iemand aan sy eie hand kan sterf. Daar is áltyd hoop, het hy gesê. Dat hý so iets moes doen, het my verstand te bowe gegaan.
Ek kon die skrik en bewing regdeur my lyf nie beheer nie. Daar was ’n geweldige pyn in my bors, dit sou vir maande daar bly. My hart wou gaan staan. Ek het flou gevoel en kamer toe gestrompel terwyl ek met my hande teen die gangmure druk. Ek het op ons bed gaan sit. Ek wou tee hê, maar hoe maak jy tee daar in die kombuis?
Mens weet nie wat om te doen nie. My huishulp stel toe voor dat ek die polisie bel. Ek kon nie hul nommer onthou nie, dis wat trauma doen, maar sy het.
Daarna het ek my ma gebel omdat ek ondersteuning nodig gehad het. Eintlik moes ek JD se ma gebel het, maar sy was al bejaard en moes liewer die nuus persoonlik hoor en terselfdertyd ’n “bedaarpilletjie” kry, soos my skoonma na ’n kalmeermiddel verwys het.
Omdat ek die boek Vlees en bloed oor twee ware vroue wat misdaadtonele skoonmaak, geskryf het, het ek besef ek het iemand soortgelyk nodig. (Die “Bloedsusters” het in ander provinsies gewoon.) Maar eers het speurders, forensiese kenners en die polisie se traumaterapeut opgedaag. Tydens ondervraging het ek en Sanna soos misdadigers gevoel, maar gou besef dis normale polisieprosedure om seker te maak dat diegene wat tuis was, nie skuldig is nie.
Ná die liggaam verwyder is, het ek my kinders laat kom. Om vir hulle te moes sê wat gebeur het, was byna erger as dit wat gebeur het. Albei het ineengestort.
’n Familielid het ons almal, ook vir Sanna, genooi om daar te kom oornag. Ek wou eers nie, ek wou in ’n bondeltjie lê en self doodgaan, maar dit was vir ons van baie waarde om uit die omstandighede te kom, al was dit tydelik.
Daarna begin mens om dit wat gebeur het, met hulp te verwerk. Jy het geen ander keuse nie. Ek en my kinders het minuut vir minuut probeer oorleef en deur die stappe van rou gewerk. Tussendeur moes ek amptelike instansies in kennis stel van JD se dood en só het die oneindige proses van administrasie begin. Ek moes treur afwissel met vorms invul, oproepe beantwoord, mense ontvang. Vir my was die belangrikste om daar te wees vir my kinders. Die gedenkdiensreëlings en verassing moes tussenin gereël word.
...........
JD se selfdood was die ergste nagmerrie wat ek en my kinders nóg beleef het.
...........
JD se selfdood was die ergste nagmerrie wat ek en my kinders nóg beleef het.
Toe sterf my nuwe geliefde ook nog verlede jaar. Hy het terminale kanker gehad. Omdat ek psigies is, het ek presies geweet op watter oomblik my Bleskoppie gesterf het. Ek het dadelik sy dogter gebel en sy het dit bevestig.
Al het ek besef dat hy binne enkele dae – ná twee jaar se lyding – sou sterf, was dit steeds ’n verskriklike skok. Toe die werklikheid inskop, was ek ontroosbaar.
Ek het aanvanklik niemand van sy dood laat weet nie. Ek was so gedaan, dit was lang, intense dae langs sy bed en baie ryery heen en terug Somerset-Wes toe waar hy gewoon het en versorg is. Twee of drie keer ’n week het ek hom ook na spesialiste geneem. Ek wou net stilte om my hê en het op die bank in my sonkamer bly sit en oor die tuin gestaar.
Vir lank was die dae stil. Omdat ek net enkele mense van sy dood moes laat weet, en nie verantwoordelik was vir die nadoodse administrasie nie, kon ek dadelik met die rouproses begin, oftewel dit voortsit. (Mens begin mos voortydig rou wanneer jy weet iemand is sterwend.)
Ek het nooit oor my kinderjaretrauma of ná JD se dood gevra hoekom nie. Met Bleskoppie se dood het ek wel, veral omdat ek uiteindelik weer geluk gevind het. Al klink dit selfsugtig, is dit menslik om vrae te hê.
Tog het ek dadelik vir Bleskoppie die rus en pynloosheid gegun. Die feit dat ons gereeld vooraf oor die dood kon praat, het baie gehelp. Ek het geweet hy het ou familie- en vriendskapsbande opgetel, mense vergeef, en dat hy uiteindelik gereed was om te sterf. Hy het gereeld om verskoning gevra oor ek weer ’n geliefde aan die dood moes afstaan. Asof dit sy skuld was. Hy het ook gereeld gesê: “Daar is so baie wat ek nog saam met jou wou doen.”
Al het ek berusting gevind, verlang ek steeds elke dag na Bleskoppie. Terselfdertyd besef ek ook om te lewe is om pyn te hê, en om pyn te hê is om te lewe.
...........
Terselfdertyd besef ek ook om te lewe is om pyn te hê, en om pyn te hê is om te lewe.
...........
Yolanda: In hoofstuk 9 raak jy verskeie belangrike gedetailleerde punte aan oor selfdood en die persoon wat agterbly. Wat het jou genoop om dit spesifiek in te sluit, is hulp en ondersteuning vir dié wat agterbly, werklik so beperk?
Baie mense weet nie hoe om op te tree teenoor die naasbestaandes van iemand wat aan selfdood oorlede is nie. Ek bespreek dit wat jy liefs nie behoort te sê nie, asook dit wat jy wel kan sê. Ek kry baiekeer navrae oor hoe om met naasbestaandes te empatiseer. Dis een van die onderwerpe wat ek in hoofstuk 9 bespreek.
Ek skryf ook daar dat ons asseblief nie moet praat van selfmoord pleeg nie. Ek het dit al lank reeds voor JD se selfdood geglo.
Die woord selfdood val nie so hard op die oor nie. Veral nie as jy self daardeur geraak word nie. Selfdood is versagtend om dieselfde rede as wat agtergeblewenes, voorheen benadeelde mense geword het, en woorde soos vertraagdes of dwergies nie meer gebruik behoort te word nie. Sagter en polities-korrekte woorde het hul plek ingeneem. Sê eerder iemand is oorlede aan depressie, of hy is oorlede aan selfdood.
Die oorledene het buitendien niemand vermoor nie, hy was siek. Sy geestelike pyn was trouens so oorweldigend dat hy net nie meer kans gesien het vir leef nie.
Yolanda: Jy het sekerlik ongelooflik baie introspeksie gedoen. Hoe moeilik was dit om jouself so naak bloot te stel? Wat was die oorweldigende gevoel toe jy die laaste bladsy skryf – helend, berustend?
Nee, ek het die skryfproses hoegenaamd nie as terapeuties ervaar nie. Terwyl ek geskryf het, was ek opnuut getraumatiseer. Ek het nie Die geskenk vir myself geskryf nie, maar vir ander.
Terwyl ek die laaste hoofstuk oor my tweede geliefde se siekte en dood geskryf het, het ek so gehuil dat ek nie kon sien wat ek tik nie. Ek was besig met die laaste paragraaf van die boek toe ek die nuus kry dat my Bleskoppie pas gesterf het. Dit was maar ’n jaar gelede en is steeds seer. Dis wel ’n voorreg dat ek vooraf geweet het hy sou sterf, ek kon daarom vir twee jaar voortydig begin rou. Ek het verskeie kere voor en ná Bleskoppie se dood uitmekaargeval, maar weer opgestaan. Sukkelend, maar darem.
Wat ek wel kan sê, is dat al die onderhoude wat ek nou voer wel ’n terapeutiese effek het. Omdat ek heeltyd oor my kinderjare en die sterftes in my lewe moet praat, is dit asof ek vir die eerste keer afstand van my emosies kan kry. Oftewel meestal. Tydens my eerste onderhoud (op TV) was ek ’n wrak. Ek kon toe ook nie my emosies beheer nie.
Yolanda: Waar/hoe moet ’n ouer, vriend, familielid begin om die selfdood van ’n geliefde te verwerk sonder dat die skuldgevoelens hul dalk self onderkry?
Skuldgevoelens sál jou aanvanklik onderkry, al was jy hoe perfek terwyl jou geliefde nog geleef het. Dis normaal. Kry so gou moontlik terapie, maak daagliks tyd vir rou – gee jouself ’n uur vir bepeins, wroeg en huil – maar probeer dan jou dagtake voortsit. Al vul jy net een van die honderde vorms ná jou geliefde se dood in.
Vir my het dit gewerk om minuut vir minuut, daarna uur vir uur en daarna dag vir dag geestelik te probeer oorleef. Soms het dinge donker geword, maar later het die aanvanklike minuut ’n maand geword.
Lees alles moontlik oor selfdood en pas toe wat kenners sê. Rou behoorlik. Die ses stappe (ja, ses!) hoef mekaar nie op te volg nie, jy kan ook weer terugkeer na een van die stadiums en jou rouproses verskil van iemand anders s’n. Onthou ook dat jy nie al een is wat rou nie, wees daar vir jou kinders.
Stel uitdagings, dwing jouself om vir die eerste keer jou huis te verlaat, al is dit net om brood te koop. Volgende keer kan jy saam met jou kinders of ’n vriendin uitgaan vir ete.
Onthou om te praat oor wat gebeur het. Nie sommer met enigeen nie, met vertrouelinge.
Daar is talle voorstelle in my boek oor hoe om stelselmatig op te staan en fasette van jouself te ontdek wat jy nie geweet het bestaan nie. Om te groei is ’n keuse. Doen dit net.
Naomi: Wat maak mens met die eerste ruk se stilte, die afwesigheid? ’n Oop stoel, ’n leë tafel, een koppie tee in plaas van twee? Wat was jou allergrootste aanpassings?
Jy soek jou geliefde oral in die huis, al weet jy hy het gesterf. Die gemis is onbeskryflik. Jou hart pyn letterlik. Ek het daagliks tyd gemaak vir rou, maar ook besef ek moet voortgaan met my lewe.
Ek het binne drie maande ná JD se dood uit die huis getrek en ons ingevalle huis laat herstel. Ek wou in elk geval die kombuis skuif, ek kon eenvoudig nie elke dag gekonfronteer word met “daardie” beeld nie.
Kort ná ek by vriende se tuinwoonstel ingetrek het, het ek ’n Unisa-opdrag voltooi (ek het sielkunde gestudeer). Die vriende was so goed vir my. Hulle het my tuis laat voel in hul vriendekring en my deur alles gehelp. Ek het selfs weer geglimlag.
Al behoort mens nie so gou ná iemand se dood groot besluite te neem nie, was die herbou van die huis vir my die regte een, lewensreddend eintlik. My “nuwe” huis was vir my ’n nuwe begin, ook om aan te pas by my nuwe normaal.
Die omwenteling in my en die kinders se lewens was onverdunde hel, maar ons is daardeur. Net soms vang die trane ná nagenoeg agt jaar ons steeds onverwags.
Naomi: Gaan verlies ooit verby? Hoef dit? Moet dit?
Jy het geen keuse as om die verlies mettertyd te leer aanvaar nie. Dit gaan nie verby nie, jy leer om met die letsel saam te leef. Die intense pyn (en dis lig gestel) raak wel met die jare sagter. Maar jou lewe het in ’n oogwink verander. Jou prentjie van die toekoms lyk ook skielik anders. Maar as jy besluit het om posttraumaties te groei, breek ’n nuwe, wonderlike dag aan.
Naomi: Hoe deel mens alles wat jy beleef, in woorde as die seer en die omvang van wat jy moet verwerk, te groot is vir woorde? Jou talent het jou die afstand gegee.
Al het ek ’n paar jaar gewag voor ek begin het om woorde op papier te sit, het dit dikwels onmoontlik gevoel. Ek moes gereeld breke neem, een keer vir ’n jaar lank. Ek dink nie ek sou die manuskrip uiteindelik kon voltooi as ek myself nie gereeld aan my hoofdoelwit – om ander in dieselfde situasie te help – herinner het nie. Toe die uitgewer my boonop ’n sperdatum gee, kon ek nie meer wegloop of huil nie. My fokus was gerig op die voltooiing van die manuskrip. Ek het toe 15 uur per dag gewerk, regdeur die sogenaamde Kersvakansie.
Yolanda: Wat is die terugvoer, veral van jou dogters, maar ook die media en publiek ná die vrystelling van Die geskenk? Het jy bereik wat jy voor gehoop het?
Omdat dit so noodsaaklik is dat ’n (goeie) Afrikaanse boek oor selfdood bestaan, het die heelal met my saamgewerk. Tydens die skryfproses het dit gevoel of my woorde van ’n bonatuurlike bron af kom, asof ek dit net moes vergestalt op papier.
My kinders is geweldig sensitief en verkies om liefs nie die boek te lees nie, maar hulle ondersteun my in alle opsigte. Hulle is ook “verskriklik trots” op my.
Tot dusver het Die geskenk net positiewe resensies gekry. Ek haal uit enkeles aan:
“Rust is in voeling met haar emosies en kan dit uitstekend verwoord; die hartseer, vertwyfeling, die woede, selfs die verligting; dat sy [JD se] pyn uiteindelik verby is [...]. Maar bowenal is dit ’n onneersitbare, aangrypende outobiografie.” – Deborah Steinmair, boekeredakteur van Vrye Weekblad.
“Ek kon jou boek nie neersit nie. Dis ongelooflik goed. Ek kan nie onthou wanneer laas ek ’n boek so waardeer het nie [...]. Jy sal ’n great sielkundige wees [...]. Baie dankie vir jou geskenk aan my.” – James Scott, Suid-Afrikaanse sielkundige wat in Australië werk.
“Ek is jou oneindig dankbaar vir hierdie boek. Jy was nie tevrede om bloot net te oorleef nie; jy het betekenis gaan soek totdat jy dit gevind het.” – Anschen Conradie, boekkommentator en staatsaanklaer.
Die geskenk haal topverkoperlyste, maar vir my lê die sug van verligting in die terugvoer van lesers. Hulle deel hul persoonlike verhale met my en sê dat die boek lewensveranderend is. Sommige voel hulle “moes die boek al vyf jaar gelede gehad het”. Ek het dit juis geskryf oor ek self so verlore gevoel het ná JD se dood.
Naomi: En vandag? Elke dag? Het jy elke dag ’n plan van aksie?
Nee, nie in die lig van my geliefdes se dood nie. Aan die einde van elke dag is ek net intens dankbaar dat die dag (meestal) goed was en dat ek nie nóg iemand aan die dood moes afstaan nie.
Lees ook:


Kommentaar
Ek wonder tog oor: “Daar is nie ‘n soortgelyke boek in Afrikaans nie.” In 2011 is, As die stroom jou vat - die raaisel van selfmoord deur Jeanne Els gepubliseer. Ek sou raai daar is ooreenkomste.
Ek wonder ook of ‘n film soos Cloud Atlas met Tom Hanks nie ‘n alternatiewe, meer verligte lig op die dood en sulke tipe sake kan werp nie.
Ek praat van die aard van die boek. Memoires, wetenskaplike feite. Dis ook allesbehalwe 'n pienk boekie. Lees dit gerus. Natuurlik is dit "verlig".