Riette Rust

Riette Rust is in die Paarl gebore en het aan die Hoër Meisieskool gematrikuleer. Daarna het sy drama en tale aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer en tussenin vir die koshuisblad en Die Matie geskryf.

Ná universiteit het sy vir KWV in die Paarl as skakelbeampte gewerk, verskeie wynkursusse geloop en later self dié kursusse landwyd aangebied. Hierna is sy as redakteur van KWV se personeelblad, Parskuip, aangestel. Terselfdertyd het sy ’n paar kort kursusse in bedryfsjoernalistiek voltooi. Parskuip is verskeie kere bekroon.

Riette was daarna vir onder meer Sarie ’n vryskutskrywer. Haar artikels is met ’n Media24-merieteprys, twee ATKV-Mediaveertjies, asook ’n Citadel-prys vir finansiële joernalistiek bekroon.

Riette is tans ’n boekresensent vir LitNet, Fine Music Radio, Rapport en Die Burger. In 2016 het sy die kortlys van die kykNET-Rapportpryse, die grootste boekpryse in Afrikaans, gehaal met haar resensie “Warm en wild, maar nie vir almal” (oor Jan van Staden se Boer kry ’n vrou in By, Die Burger, 6 Junie 2015).

Haar vyfde boek, Ek! Ek! Ek! Herken en hanteer narsiste (LAPA, 2016), was die eerste Suid-Afrikaanse en Afrikaanse boek oor dié onderwerp. In 2016  was dit vir ’n hele paar weke onder die top 10 Afrikaanse boeke. Ek! Ek! Ek! is verlede jaar (2017) as een van die top Afrikaanse verkopers van die jaar (onder fiksie én niefiksie) aangewys.

Vlees en bloed, met sy vertaling, Flesh and blood, is in Februarie 2016 uitgegee, ook deur LAPA. Dit handel oor twee (ware) susters wat misdaadtonele skoonmaak en is ’n opvolg van Ilse Salzwedel se Bloedsusters.

Haar Die Aa tot Oe van seks (Tafelberg, 2013) was die eerste volwaardige seksgids in Afrikaans. Dit was volgens Nielsen-syfers die agtste beste verkoper van daardie jaar, onder fiksie én niefiksie. Van die woorde daarin, waarvan sy sommige self geskep het, is in die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal) opgeneem.

Riette het ook ’n kortverhaalbundel, ’n Lyf onthou (Protea, 2012), gepubliseer. Haar eerste boek was Lang bene & Lipstiek – Gebruik jou seksualiteit en behaal sukses (Naledi, 2011).

Dié skrywer het haar eerste TV-draaiboek oor wyn geskryf en dit self op kykNET aangebied. Haar tweede draaiboek is as Bloedsusters op Via uitgesaai. Sy verskyn gereeld op TV en neem aan regstreekse radio-onderhoude deel, onder meer oor die onderwerpe wat sy vir vryskutartikels navors.

Riette is ’n lid van die gesogte SA Brandewyngilde, wat haar vir haar joernalistieke bydrae tot die brandewynbedryf vereer het.

Sy studeer tans sielkunde deur Unisa.

Die lirieke van haar eerste liedjie, “Waar bly jy?”, is op die sanger Willie Strauss se album Seisoene opgeneem.

Haar liefdes sluit in lees (sy het ’n uitgebreide boekversameling), musiek (veral jazz), toneel, kunsflieks, bak, asook goeie kos en wyn. Sy hou van avontuur en het al valskerm gespring (solo!), ’n skubaduikpoging aangewend, self ’n helikopter gestuur en saam met die bulle in Pamplona gehardloop.

Sy woon in ’n noordelike voorstad van Kaapstad. Sy en haar oorlede man, JD, het twee dogters. Zahn (32) het ’n meestersgraad in kuns, is ’n bloemiste met haar eie besigheid in Kaapstad en beoefen ná ure kuns. Cara (26) het ’n dramagraad en werk vir ’n maatskappy wat video’s vervaardig – ook in Kaapstad.

Boekresensie: Die leliemoordenaar deur Lerina Erasmus

Riette Rust Resensies 2017-01-18

"Teen die laaste paar hoofstukke haal jy weens die spanning so vlak asem dat dit voel of jy jou bewussyn gaan verloor."

Ma’ ek meen ma’

Riette Rust Fiksie 2016-07-27

"Dis vanweë sy klein oppervlak dat ’n klippie in die skoen jou so irriteer, het ou Bles met die deurskynende beehive ons op skool geleer."

Tien vrae: Riette Rust oor Vlees en bloed

Riette Rust, Naomi Meyer Skrywersonderhoude 2016-04-12

"Die boek is belangrik omdat dit volgens die Bloedsusters sal help lewens red. Daar is baie raad in oor hoe om misdaad te voorkom. En dit begin by elkeen van ons." 

Boekresensie: Offerlam deur Chanette Paul

Riette Rust Resensies 2016-01-25

"Offerlam word geslaagd uit vier perspektiewe vertel. Paul se taalgebruik skitter en sy geur die teks gepas met Nederlandse en Vlaamse woorde. Die roman bied ’n verfrissende blik op die Belgiese kultuur. Die skrywer lewer gebalanseerd kommentaar op die misdaadsituasie in Suid-Afrika."

Resensie: Woudfontein deur Hannes Haasbroek

Riette Rust Resensies 2015-08-04

"Dit was vernuwend om met Woudfontein ’n nuwe subgenre van die spanningsverhaal te skep. Iets waarop die skrywer en ander skrywers sal kan uitbou."

Boekresensie: In die blou kamp deur Dana Snyman

Riette Rust Resensies 2015-07-21

"In die blou kamp sou ’n tydsdokument genoem kon word, want ’n deel van die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat reeds aan die uitsterf is, word opgeteken – met empatie, verwondering en humor."

Boekresensie: Debora en seuns deur Helene de Kock

Riette Rust Resensies 2015-06-02

"Mens sou dit ’n historiese verhoudingsroman kon noem. Vir  lesers van liefdesverhale werk dit - maar hierdie roman is veel, veel meer as  net dit."

Resensie: My groot vet Griekse egskeiding deur Pat Stamatélos

Riette Rust 2015-03-24 "My groot vet Griekse egskeidingis ligte leesstof en baie snaaks."

150 stories: Nataniël

Riette Rust 2014-11-05 "Nou, as jy ’n langhaarpoedel vat en jy trek hom agteruit deur ’n posbus dat al sy kroese vorentoe staan en jy maak hom regop sit in die middel van ’n bakkie en jy kyk hom van agter af, dan weet jy hoe lyk ’n Pretoria-meisie op ’n date."

Wilhelmina Radebe kom tuis deur Marinda van Zyl

Riette Rust 2014-06-10 Lees Riette Rust se resensie van die verhaal van die dogter van Paul Kruger se agterryer.

Moord in die beloofde land

Riette Rust 2013-12-04 “Wat opval van Moord in die beloofde land, is die diggeweefde storielyn. Nes jy dink jy het al die drade bymekaar, is daar nog (skokkende) verrassings.”

Pastoor deur Pat Stamatélos en Die hart van ’n ma deur Abraham Phillips

Riette Rust 2013-10-17 Riette Rust vergelyk en resenseer twee boeke - in albei hartverskeurende verhale staan die ma-figuur sentraal: Pastoor en Die hart van ’n ma.

Wat’s nuus?: Verkneukel jou in ’n knap-geskrewe, prettige boek

Riette Rust 2012-05-31 "Cruywagen het beslis die vermoë om die leser met geur en kleur in te trek in ’n storie, jou te boei, te laat lag …"

Boekedag 2012: Riette Rust kies 'n karakter

Riette Rust 2012-04-19 As jy enige karakter in ’n boek kon wees, wie sou jy wees en waarom? 

“Dis donker en dis lig en dis swaar” – Riette Rust vertel wat die lyf onthou

Riette Rust, Naomi Meyer Skrywersonderhoude 2012-03-15

“Die taak van die kortverhaalskrywer is tog om ’n slice of life te neem en dit in ’n storie wat iets sê, te omskep, dit te fiksionaliseer.”

Top