Hanna deur Maretha Maartens: ’n resensie

  • 2

Hanna
Maretha Maartens
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796319661

Behoort daar onderskeid getref te word tussen die Bybelroman (’n verhaal wat op ’n gedeelte uit die Bybel gebaseer is) en die sogenaamde sekulêre roman? Die vereistes waaraan ’n goeie roman behoort te voldoen, geld tog eweneens vir romans met ’n spirituele onderbou.

Die Bybelroman verg trouens selfs meer van die skrywer: jy kan tog nie ’n verhaal op geskiedenis baseer en dan nie getrou aan die werklikheid bly nie. Ja, ’n skrywer kan bykomende karakters skep en die verhaal aanvul. Maar nie karakters insleep wat so volksvreemd is dat hulle die leser laat twyfel aan geloofwaardigheid nie.

Nog ’n vereistes wat vir die Bybelroman geld, is dat karakters nie die Here se naam ydellik mag gebruik nie. Nog minder sal lesers eksplisiete sekstonele aantref. Suggestie kan daar wel wees.

Die skrywer behoort beslis ook die Bybel – veral die gedeelte waarop die verhaal gebaseer is – behoorlik te ken. Die tydvak moet so korrek moontlik weergegee word. Die leser kan dalk verwag om olielampies in so ’n verhaal aan te tref, maar nie elektriese lig nie. Jy sal miskien ook lees oor uitwanning, dorsstokke en broodmeel, nie van meganiese toerusting of filodeeg nie. En jy sal waarskynlik seuns in lendedoeke of rokke aantref. Beslis nie in jeans nie.

Met Hanna voldoen Maretha Maartens aan al dié vereistes. En meer. Hanna is ’n knap roman wat aards en sintuiglik aangebied word. Die hoofkarater is die Hanna van 1 Samuel 1:2. Sy is Elkana se vrou en Samuel se ma. Die hooftema is kinderloosheid. Nie lig nie, nee. Anders as wat dikwels afgelei word, is dit juis belangrik dat ’n goeie Bybelroman nie soetlik of sonnig hoef te wees nie.

Dit moes intense toewyding geverg het om met die beperkte gegewe oor die Bybelse Hanna ’n verhaal te kon skep wat jou vasgryp, laat huil en soms laat glimlag. Merab, die vroedvrou, is byvoorbeeld “fris soos ’n man en het ’n stem wat by haar breë skouers en gespierde boarms pas”. Wat ’n karakter!

Die skrywer slaag uitstekend daarin om sóveel fasette van kinderloosheid vas te vang dat die verhaal steeds relevant is. Veral vir vroue. Hulle sal hulle kan inleef in die hoofkarakter se wroeginge teenoor God en teenoor haar man se bykomende vrou, asook in Hanna se twyfel aan haarself as geskikte huweliksmaat.

Arme Hanna. Vroue wat nie kinders kon hê nie, is dorhout genoem. In Bybelse tye was kinderloosheid soveel meer as bloot nie kinders kan hê nie. Dis as God se straf vir sonde beskou. Hanna se straf, so glo sy, kleef al sedert haar kinderjare toe sy haar aggressiewe pa kwalik geneem het vir haar boetie, Nemuel, se dood. En die man boonop vervloek het. Ook die pa-dogter-verhouding word sensitief, maar realisties, aangebied.

Al beteken Hanna (Chanah in Hebreeus) “God se gegewe geskenk aan die wêreld”, is die hoofkarakter nie ’n engel nie. Eerder ’n volronde, gebalanseerde karakter wat ook bitter ontsteld en opstandig kan raak. Daarby ontwikkel sy algaande na behore. En soos dikwels in die werklike lewe gebeur, “vervaag die ouderdomsverskil” tussen dogter en ma algaande. Ma Ada ontken later nie meer die waarheid (oor haar ongelukkige huwelik) nie.

Hanna voel éérs soos ’n mislukking en verstoteling wanneer haar man (vir wie sy nog voor hul verhouding van ’n vlammedood gered het) ook met Peninna, die dogter van ’n Leviet, trou en sy die een volmaakte kind ná die ander het. Om sake te vererger, visualiseer Hanna vir Peninna, “die beeldskone, geil meisie”, saans in haar man se arms. “Hy ken elke kontoer van haar liggaam ...” Dis ook Peninna wat vir Hanna spot en verneder oor haar onvrugbaarheid. Maar ná 26 jaar van onvervuld wees, smeek Hanna die Here vir ’n kind en belowe sy dat sy haar seun vir Hom sal teruggee.

Maartens moet die Bybel, veral Samuel, goed ken om die milieu, tradisies en gebruike van daardie tyd so lewensgetrou te kan weergee. Sy moes ook heelwat navorsing gedoen het sodat die leser nie ’n oomblik aan die egtheid van die gegewe twyfel nie. (Dit bly darem érg dat ’n vrou haar aan haar man moes onderwerp en hom haar heer en meester moes noem. Om nie te praat van 12-jarige meisies wat trou en swanger raak nie!) Selfs insekte en reptiele is nagevors. Soos hier: “Dit (Bosrant) was ’n wilde plek met klipdassies, groot skerpioene, elke soort klipgogga onder die son, die reuk van wilde diere se mis en urine, en spoegkobras wat hul koppe plat trek en regop staan, soos wat die slang in die tuin van Eden seker voor Eva gaan staan het.”

Ook die name van karakters is “Ou-Testamenties”: Seruja, Gesron, Jispan. Die Bybelse verwysings in Hanna is besonder leersaam. Dis hier waar die eindnotas op bl 261 nuttig te pas kom. En indien jy oor die betekenis van ’n woord twyfel, raadpleeg jy eenvoudig die woordelys op bl 259. ’n Ghannab is byvoorbeeld ’n dief, en ruach gees.

Maartens se taalgebruik en beeldspraak is treffend en pas by die ou beskawing in. Jy wil dit dikwels herlees. Soos: “Haar skoonpa se eie verhaal was soos ongesuurde brood met bitter kruie.”

Die dialoog werk goed. Net soms kan jy dalk wonder of ’n pa wel sulke hogere begrippe aan sy jong kinders sou probeer verduidelik. Soos: “Elkana vertel hulle van die ark wat hy nog nooit met sy eie oë gesien het en nooit sal sien nie – die onaantasbare kis met die getuienis van die ewige verbond van God se goedgesindheid en die Goddelike plan met die wêreld daarin.” Hoe het hy dit oorgedra? kan die leser wonder.

Die verlede tyd waarmee sommige hoofstukke begin, pla ook. Soos: “Elkana het sy arm om haar gesit. Hy lei haar stadig weg.” Wat van “Elkana sit sy arm om haar. Hy lei haar stadig weg”? Kort hierna word gebeure weer in die hede geplaas wanneer Maartens skryf: “Hanna kyk om.” Die verlede tyd skep ongelukkig afstand.

Hier en daar kom setfoute voor. Soos: “Sy loop na buiten ...” op bl 220 en die ontbreking van “se” op bl 88: “Goedgesindheid en opregtheid is deel van Elkana wese.”

Ten spyte van dié mindere kritiek, is die lees van Hanna ’n sielsverrykende ervaring. Die roman is besonder goed deurdink en deurleef. Lees gerus hierdie uittreksel: “Jy kry die geur van Kanaän bo die warm reuk van gras en bossies in die beeste se asems en bo hulle gebulk uit. Wat jy daar by die dorsvloer ruik, is die wierook van die saailand.” En hoe prikkelend word die roman nie ingelei nie: “Peninna kyk op en haar gesigsuitdrukking verander.”

Dis wat Maretha Maartens se Hanna waarskynlik ook aan lesers sal doen.

Koop en geniet!

  • 2

Kommentaar

  • suzan de jager

    Hierdie boek sny tot in jou diepste menswees! Dit is sielsverrykkend. Kry hierdie boek vir jouself en sommer vir al jou hartsmense. Die mense van die Ou Testament is van vleis en bloed! Net soos ons!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top