Ma’ ek meen ma’

  • 0

Dis vanweë sy klein oppervlak dat ’n klippie in die skoen jou so irriteer, het ou Bles met die deurskynende beehive ons op skool geleer. Maar dit wat nou in my sandaal is, steek seer. ’n Duwweltjie? Ek maak die bandjie los, skud die skoen uit. Dis tog ’n klippie. ’n Eienaardige een met skerp uitsteeksels. Nogal swaar vir sy grootte ook. Ek tel dit op, netnou trap iemand anders daarop, en druk die voordeurklokkie.

Sarie Marais klink elektronies, maar verroes op. Dáár trek die klippie en val in die vislose dam langs die stoep. Die water is troebel, fyn rimpels kring langsaam. 

’n Sleutel draai byna dadelik in die slot, asof die inwoner vir my en Ian sit en wag het. “Ant Rosa,” sê sy agter groot borste wat soos ’n kreef se oë kante toe kyk. Sy glimlag, gee ons elkeen ’n druk. “Ag, kinders, ek’s so bly julle’t my kom haal, dankie,” sê sy in ’n stem so verweer soos haar huis, waarskynlik die oudste in Panorama. “Hoe heerlik om uit te gaan vir ete, ek sukkel mos maar elke maand Checkers toe vir McCain.” Sy lag, haar vel kraak soos marmer.

Ant Rosa trek haar ooglede plat teen die flou son en druk die lendelam houtkruisie stewig in die potplantgrond. Die wind skep die herfsblare wat op die stoep lê. Lyk na ’n week s’n. “Ai, verskoon tog. Die ou jong het nie gekom nie. Lui, sê ek julle. Nes ou Adam-hulle op die plaas. Hulle’t nog gesuip ook. Maar julle kinders dink mos hulle hoort in die parlement.”

’n Vliegtuig dreun voor ons dit sien. Ek hoop op goddelike ingryping, ek wil nóú met ’n gin en tonic in my gunsteling sitplek, 17A, sit.

Terwyl ant Rosa brabbel, spring-spring die moesie op haar bolip. “Kom gou in. Ek wil seker maak alles is af.” Sy skud haar hare, lank vir ’n vrou van haar ouderdom en vaal soos uitgebrande hout. Sy lees my gedagtes. “Moet weer die skêr beetkry.” Daar’s ’n fyn kombers hare op haar wange.

’n Oproep van skoonpa uit De Doorns het die ontmoeting voorafgegaan: “Doen my asseblief ’n gróót guns, sal julle? Neem tog my tante Sondag vir ete. Op haar ouderdom woon sy nog alleen. Ná die ou man se dood gaan sy nêrens. Sy bestuur ook lankal nie meer nie.”

“Maar ons ken haar nie eens nie, Pa,” sê Ian oor die luidsprekerfoon.

“Ek weet, ek weet. Maar ek kan nie nou Kaap toe ry nie, ons onderhandel met die plaaswerkers oor grond en so en Sondag hou ons ’n groot konsert. Rosa is nou my verantwoordelikheid. ’Seblief. Sy kan die rekening betaal, skatryk. Uitsig is mos teen ’n rekordbedrag verkoop. Ek sal vir julle in ’n nice eetplek bespreek en sommer die tante se adres WhatsApp. Dink daaraan as julle good deed of the day. Nee, month. Dankie. Skuld julle een.”

Net so. Soos ’n trein wat nie betyds remme kan aanslaan nie.

Met die instap, slaat die reuk van my ouma se Eau de Cologne my. Ek mis haar. Ant Rosa se huis is donker en my voet haak aan die stukkende dikpoolmat vas. Ek herwin balans en loop op groot wynrooi en roomkleurige blomme wat skreiend met die fluweel van die sitkamerstel bots; bont soos ’n kat met ’n straatvoorgeslag. Daar lê ’n laag stof op die bakbeenkoffietafels, bal en klou, ook op die toonbank wat die sitkamer van die eetkamer skei. ’n Borduurwerk van ’n blonde dogtertjie met skelblou oë hang teen die sitkamermuur. Haar blinkpienk lippies reflekteer die kleur van haar rok, ene valle.

“My handewerk,” sê ant Rosa. Dis Jessie, die ou man se hart se punt.” Sy vee haar neus met die rugkant van haar hand af, snuif, en skuif die koperbeker met die syblomme tot in die middel van die eetkamertafel. Haar heupe dein onder die oranje-en-rooi blomrok.

“My dogter, Kobie, en haar man, Jacques, van Londen,” sê sy en wys na ’n bordjie teen die eetkamermuur waarop ’n verweerde foto van die twee voor die Eifeltoring ingebrand is. “Vra húlle ’n bietjie uit oor wat in hierdie land aangaan.” Sy vee oor die toonbank. “Ek’s so bly Kobie het destyds vir Jacques gevat. Dit was so amper Alwyn. Van die verkeerde kant van die spoorlyn, julle weet . . . Die kinders kom net te min Suid-Afrika toe.” 

Ant Rosa sit haar bril op, kry nie behoorlik gefokus op die papiertjie wat op die toonbank lê nie. “Nog my ou man se bril. Ek bodder nie met een nie, wat.” Sy lees die restaurantadres hardop. Lettergreep vir lettergreep. “Behalwe vir die windjie, is dit heel mooi vir Stellenbosch toe ry. Kan nie onthou wanneer laas ek daar was nie.”

“Kan ek gou piepie?” 

“Alte seker, my kind, reguit af in die gang. Bring asseblief vir my ’n tissuetjie saam. Op die rak.”

Dis ’n groot huis, maar nêrens is ’n boekrak, boek of koerant te sien nie. Op die hoektafeltjie in die gang lê Huisgenoot, nog in plastiek verseël. Met ’n vergrootglas langsaan.

’n Ekstra toiletrol skuil onder ’n gehekelde jassie. Ek was my hande en knap my lipstiffie in die raamlose spieël op. Die monoloog in die sit-eetvertrek tel spoed op. Ja-nee, Ian het dáárdie trek om sy mond.    

“Die tissue.”

“Ag, dankie, my kind.” Ant Rosa druk dit voor by haar bra in. “Net gou seker maak alles is af. Kom sommer saam, dis so lekker om mense te hê.”

Sy skuifel kombuis toe, ons drentel agterna. “Dat ek nou jig in my voete moet hê. Julle is nog so lekker jonk, waar’s my dae.”

Die kombuis ruik na muwwe soetsuurdeegbrood. My ouma se brood was altyd vars. Die kraan drup-drup in skottelgoedwater. Sirkels vorm in die grou. “Stukkende waster, vir dae al. As my ou man net hier was, so knap gewees met sy hande.”

Ant Rosa steek haar hand na die muurprop toe uit. Voel-voel. “Die stove is af. Ek vergeet partymaal die ketel ook aan. Die kinders het my ’n nuwe een belowe; een wat self afskop . . . ek wag nou nog. Hou julle van my hondjie?”

“O, teen die muur.” Dis ’n ingekleurde houtskoolskets van ’n bruin hond met dieper bruin oë wat kunsmatig blink. Hy het strikkies, die kleur van flaminkbene, om sy ore. Die wondergom se vetkolle slaan al deur die papier. Ek wurg ’n glimlag uit.

“Lyk nes my Bôbbie van die plaas. Kobie het die tekening in Parys gekoop. Sy sê daar’s ’n buurt waar kunstenaars sommer so in die straat teken. Ag, ek kan tog nie die naam onthou nie.”

“Montmartre?” vra Ian.

Sy trek haar lip op. “So iets. Ek was mos noggie oorsee nie. Gaan ook nie. Net ’n mors van geld. Te oud ook.” Sy loer agter die kombuisblinding in. “Toe, lyk my alles is toe. Tata, Bôbbie.” 

Ant Rosa vat-vat aan haar hare. “Ek’s reg, ons kan ma’ gaan.” Sy dra nie ’n handsak nie. Sy lyk ook nie na ’n vrou wat ’n kredietkaart het nie, die geld is seker saam met die tissue by haar bra ingedruk. 

Met die uitstap voel ant Rosa twee keer aan die voordeurknop. “Mens moet ma’ seker maak, hier drentel elke dag allerhande tipes rond. Pleks hulle op die plase gaan help,” sê sy met ’n groot swaai van die arm. “Waar de joos hulle vandaan kom, weet nugter. En dit in híérdie buurt. Dis nou twintig jaar se demokrasie vir jou, hoor.” Sy draai die huisalarm aan en hinkstap motor toe. Ek is bang sy val en haak by haar in.

“Wil Tante nie voor sit nie?” vra Ian.

“Nooit, kinders! ’n Vrou hoort langs haar man.” Sy syg op die agtersitplek neer.

Daar is ’n vragmotor voor ons. Die passasiers is ongemaklik ingebondel, maar gesels en lag. ’n Meisie se vaalgroen haarlinte flapper. ’n Ander dogtertjie lag oopmond, sy’t al voortande gewissel. ’n Seun trek ’n stoute gesig bo sy strikdassie, vee dan stof van sy swart langbroek af. Die kinders waai en ek en Ian doen dieselfde. Hulle kyk opgewonde na ons en beduie vir mekaar. ’n Vrou knik en glimlag, vou haar wye rok versigtig onder haar in. Met die ander hand klem sy haar Bybel vas. Agter sit ’n paar manne en rook. 

Ian steek verby.

“Kom natuurlik nou van die dorp af. Elkeen met ’n sak meel, los sigrets en ’n kan wyn.”

“Dis tog Sondag, ant Rosa,” sê Ian.

Die kelner trek die ouer vrou se stoel uit. “Nooit besef dis so swanky nie. As oom Piet my in dié grênd plek moet sien, draai hy in sy graf om.” Zwelani, lees ek op die goudkleurige naamplaatjie met die kaart van Afrika op. Hy tel ant Rosa se lapservet van haar kleinbordjie af op.

“Wat wil hy nou maak?” vra sy.

“For your lap, Ma’am.”

“Iets te drink?” vra Ian.

“’n Wyntjie sal lekker wees. Soeterig,” sê ant Rosa. “Met ys.” Sy lag hard. ’n Stukkie goud in haar kunstande glim. ’n Vrou met ’n gepoeierde neus kyk van die tafel langsaan af op. Ek trek my trui aan.

Ons bestel Nederburg se Foundation Lyric, dis medium-droog, die “soetste” op die lys, asook dié plaas se sauvignon blanc. Die restaurant het nie halfbottels nie.   

“Kind, jy sal vir my die spyskaart moet lees.” Ant Rosa vat ’n groot teug wyn en klap haar lippe. “Lekker!” Sy druk haar hand by haar bra in, pluk die tissue uit en blaas haar neus hard. “Ag, jong. Wat beteken daai grênd woorde?”

Zwelani skuif sy strikdas reg.

“Sê hom maar om vis en tjippies te bring. En onthou die tamatiesous.” Ant Rosa neem nog ’n helse sluk wyn. Vandag dra ons haar hier uit. 

“Ek dink nie hulle het tjips of tamatiesous nie, ant Rosa.”

“Nou watse plek is dit dan dié?”

“She’ll have the salmon in a creamy dill sauce, thank you,” sê ek.

“Watse groente het hulle?”

“The vegetables are roasted, Ma’am.”

“Vra vir hom om dit ook te bring. Ek eet nooit groente by die huis nie.”

Sy lig ’n ongetemde wenkbrou en kyk die kelner agterna. “Nog een wat hom grênd hou. Kan kastig nie Afrikaans praat nie. Dis nou wanneer niks iets geword het.”       

“Hy verstaan Afrikaans, Tante . . . Nie een van ons kan tog Xhosa praat nie,” sê Ian. “Hoekom is ant Rosa nie meer gelukkig in Panorama nie?”

“O, jou pa het jou vertel? Ek mis my ou man. En jy weet, daar woon deesdae alles: Chinese, Indiërs, bruin, swart. Ek sê vir die kinders dis daai mense wat so inbreek en moor. Julle het seker verlede week die Huisgenoot gesien? Van die kind wat op pad skool toe ontvoer en doodgemaak is. Dit was nou wel ’n bruin kind . . . ma’ ek meen ma’.”

“Susan, jy’s bleek. Is jy oukei?” vra Ian. Ek haal seer asem, maar knik.

“Hande, gee my julle hande,” sê ant Rosa toe die kos op tafel is. Sy maak haar oë toe, bid vinnig en sonder intonasie: “Segen Heer wat wij eten, laat wij nimmer U vergeten.” Ant Rosa gooi nog wyn by haar keel af en lê weg asof dit haar laaste bord kos voor die galgtou is. Haar bottel is driekwart leeg nog voor sy klaar geëet het.

“Stap solank, ek sal die rekening vra,” sê Ian pas nadat Zwelani ons nageregbordjies weggeneem het. My man bied nie koffie aan nie en ant Rosa sê niks van betaal nie.  

“Wag gou, kinders. Dit was nou baie lekker, ek’s skoon tranerig.” Sy vee haar oë met dieselfde tissue af en draai na my. “Ek het nou ’n behoefte om hierdie vir jou te gee.” Sy haal ’n marcasite-borsspeld van haar kraag af. Daar’s ’n regte pêrel in. “Dit kom uit die Victoriaanse tyd en was een van my voorsate s’n. ’n Britse vrou, nogal.”

“Haai, nee, ant Rosa, ek kan dit nie neem nie.”

“Ag, kind, hoe lank kan ek nog lewe? Ek moet mos tussen húlle gaan lê . . . Ek maak my goeters minder. Hierso. Vat dit asseblief.”     

Sy haak in, hang met haar volle gewig aan my. “Loop maar stadig, die ou voete.” Ek lei haar versigtig oor die sypaadjie se rand, maar sy struikel en doef soos ’n sak sement op die teer neer. Een van haar skoene lê eenkant. Bo haar knee-highs steek bleek vet en blou are uit. Haar beenhare maak hobbeltjies onder die halfmaskouse; die kleur van ’n ou wingerdstok.

“Ag, so jammer! Het ant Rosa seergekry?”

“Dis orraait, my kind, dis nie jou skuld nie. Ek kan net nie op nie.”

Ek vee die droë blare en klipperigheid van haar bene af. Wat sou van ou Bles geword het? Ek probeer nie eens die soutsaklyf vol Lyric optel nie. Ian hoort enige oomblik hier te wees. 

Van oorkant die straat hardloop ’n man nader. Ant Rosa sien hom aankom. “Waar bly Ian tog? Gaan roep hom!” vra sy hier van onder af.

“Hy betaal nog, ant Rosa. Die magnetiese strip van sy kredietkaart gee  deesdae probleme.” Sy kyk op, plaas haar hand teësinnig op die gespierde man se arm. Kreun en sug, maar teen die tyd dat Ian terug is, is ant Rosa weer op haar voete.    

“Nogal gaaf vir ’n bruin man,” sê sy.

“Het ant Rosa nie seergekry nie?” vra Ian terwyl hy die motordeur vir haar oophou en sy oë rol.

“Ek is orraait, sal seker môre bietjie pyn en bloukolle hê. Maar dis niks, my kinders. Ry liewer dat ons by die huis kan kom.” As Ian voet in die hoek sit, is ons binne dertig minute by die huis.

’n Harde kreet van agter uit die motor laat my lyf ruk en sit my hart woes aan die klop. My kop swaai om. Ian verloor byna beheer oor die motor. Hy ry stadiger en trek van die pad af. “Wat is dit, Tante? Het jy pyn?” 

In afgryse kyk ant Rosa na haar oopgesperde hande en gil weer. Stadig, soos die rimpels op die dammetjie en ook in haar wasbak vanoggend, kruip die bruin van haar vingerpunte af op. Oor elke vingerlid, oor haar handpalms, oor haar polse en by haar arms op.

Al die pad boontoe.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top