Boekresensie: Offerlam deur Chanette Paul

  • 3

offerlam300Titel: Offerlam
Skrywer: Chanette Paul
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799377118

“Die naglug stink na savannestof en sweet en vrees. Na verraad, gierigheid en magsug. Koloniale Afrika se vrot asem. ’n Asem wat sy goed ken.”

Só begin Chanette Paul se spanningsroman Offerlam. Dis 1961 en Elia, ’n nog onbekende vrou, se groot liefde word grusaam vermoor. Later lees jy dat dié twee se liefde “nie hoereerdery” was nie, maar “liefde in sy suiwerste vorm”.

Maar dis Caz Colijn, ’n hedendaagse vertaler van die Kaap, om wie die verhaal wentel. ’n Oproep van haar suster, Tieneke, vang haar totaal onkant. Hul ma, Josefien, lê in België op sterwe en het belangrike nuus om met Caz te deel, hoor sy. Dit terwyl Josefien en Tieneke haar 31 jaar gelede soos ’n bedelaar van hul voorstoep af gejaag het. Kind op die heup, die kind wat “Lilah” met ’n “h” geword het toe sy ’n internasionale deurbraak as model gemaak het.

Parallel aan dié verhaal loop Ammie Pauwels s’n. Sy’s ’n ouer vrou wat met bloed aan Caz verbind is. Ammie toon tekens van demensie, maar word in Leuven goed deur Lieve Luykens versorg. Die terugblik op haar lewe dui op vele ooreenkomste met Caz s’n. Tog het die ouer vrou ’n “liefdeslewe” gehad wat jou uitasem sal laat. Niemand is eers seker wie Caz se eintlike pa is nie. 

Tieneke se oproep ruk die verlede oop: Caz se kinderjare onder Josefien was kil en liefdeloos. “Ma Fien” is immers betaal om haar groot te maak. Hoewel Caz later trou, stort haar huwelik ineen wanneer die geboorte van haar dogter met ’n groot skok gepaard gaan.

Caz vestig haar jare later in die rustige Overberg, waar ’n inbraak ’n ingrypende effek op haar lewe het. Sy besluit om wel België toe te gaan. Daar probeer sy meer oor haar herkoms uitvind en ook vasstel waar haar dogter se eksotiese voorkoms vandaan kom. 

Mettertyd kom Caz agter dat sy afgeloer en agtervolg word, en wel deur twee Kongolese, Erevu Matari en Njiwa, oftewel Duif. Kan dit wees dat hulle net agter die “nkísi”, ’n beeld en ’n masker, aan is wat jare gelede in ’n kluis toegesluit is? Dié voorwerpe huisves klaarblyklik voorvadergeeste wat magiese krag het. Hulle kan wraak neem of beskerm, word geglo. Erevu reken dat die geeste hom sal kan help om as die argitek van ’n volmaakte Kongo geëer te word. Sy seun, Jela, sal dan sy regterhand wees en sy kleinseun, Njiwa/Duif, sy voetsoldaat. Caz bou ’n vriendskaplike verhouding met Njiwa op. Tog sê haar voorgevoel iets is nie pluis nie. Paul beskryf dié gevoel só: “Hy (Njiwa) laat haar (Caz, die vertaler) dink aan ’n paragraaf wat nie lekker vertaal is nie. Elke woord en sin is presies reg vertaal, maar die geheel dra nie oor wat dit moet nie.”

Die soektog na die nkísi is dringend en wanneer iemand in die Kongolese se pad staan, stuit hulle nie eens vir moord nie. Daarby word die arme Caz die hoofverdagte. Dra sy dan nie juis moordenaarsgene nie? 

Ook professor Luc DeRue, Ammie se stiefseun, kry ’n oproep wat hom uit sy valerige bestaan ruk. ’n Vrou neem hom kwalik oor sy pa se voortydige dood en hy word boonop teen sy sin by Caz se dilemma betrek. Daarby oorheers ’n vrou met ’n sexy stap sy gedagtes ... maar het hy geen benul dat dit Caz is nie. Op haar beurt dink Cas dat Luc (aanvanklik aan haar bekend as Tyl Uilspieël) “die soort man (is) wat mens se lewe op sy kop draai en dan fluitend die gesigseinder tegemoetstap”.     

Offerlam, wat in Suid-Afrika, die destydse Belgiese Kongo (nou die DRK) en België afspeel, werp lig op die beheer wat België oor die Kongo gehad het. Kolonialisme, wat met magsug, hebsug en heerssug gepaard gegaan het, word kundig ondersoek. Die karakters word uitgebuit. Die woord “offerlam” suggereer juis die gebrek aan respek vir ander se lewens.

Die skrywer lewer gebalanseerd kommentaar op die misdaadsituasie in Suid-Afrika. Vir minstens een van die karakters is ons land ook een “wat die bloed deur ’n man se are laat pomp”. Daarby word die uitdagings wat sogenaamde veelrassigheid bied, bekyk en word Sandra Laing, die biologiese bruin kind van wit ouers, se geskiedenis só in herinnering geroep.   

Offerlam word geslaagd uit vier perspektiewe vertel. Die verskillende karakters het almal outentieke stemme. Paul kry dit besonder goed reg om in veral Erevu, die Kongolees, se wese te klim. Nie maklik nie – hy is immers ’n man wat dink dat sy land deur wit diewe van Afrika gesteel is!   

Die roman bied ’n verfrissende blik op die Belgiese kultuur. Dit sluit in die omgewing, die Belge se leefwyse, die verwarrende, maar stiptelike, vervoerstelsels, die gewilde kriekbier en ook “koffie verkeerd” (koffie gemaak met meer melk as koffie). Die besonderhede sorg dat die leser as’t ware saam met die karakters deur België reis. Die geskiedenis van dié land is eweneens interessant, veral dié van die spookdorpie Doel wat herinner aan dit wat hier te lande in Distrik Ses gebeur het.

Daar is nie veel wat pla nie. Dalk net enkele “toevallighede”: Sal iemand wat daagliks die tegnologie inspan, al haar wagwoorde op haar rekenaar stoor, selfs al is sy 53? Die boewe kon dalk eerder kennis van kodering gehad het om só belangrike inligting te kon bekom. Daarby loop Caz reg in Luc vas wanneer albei hulle “toevallig” in dieselfde restaurant in Damme bevind. Wat is die kans? Caz weet ook sommer “ineens” dat dit “verdomp” Luc De Reu is. Nog ’n vraag: Sal ’n vrou uit die misdaadgeteisterde Suid-Afrika in ’n ander land in vreemdes se (“afgeleefde”) motor klim, al is sy hóé desperaat vir ’n rygeleentheid?

Paul se taalgebruik skitter en sy geur die teks gepas met Nederlandse en Vlaamse woorde. Maar daar is een Engels-Afrikaanse woord wat pla: “jean”, pleks van die meer korrekte “jeans”, wat oor en oor deur die verteller gebruik word. En nie as deel van dialoog nie. 

Die lys karakters wat net voor die proloog in Offerlam opgeneem is, is ’n nuttige gids, veral aanvanklik, wanneer jy nogal moet kophou. Die betekenisse van woorde uit Afrikatale en Vlaams/Nederlands word ook gelys. Die leeservaring sou beslis nie so vlot verloop het daarsonder nie.

Offerlam is Paul se 41ste roman. Met die Nederlandse vertaling maak sy haar internasionale debuut. Jy sal die roman nie wil neersit nie. Daar is enkele los drade, daarom kan jy uitsien na die opvolg, Offerande, wat in Oktober sal verskyn. Dis beslis die moeite werd om geld aan dié tweeluik te bestee. Neem byvoorbeeld hierdie paragraaf wat na aanleiding van ’n telefoonoproep geskryf is en aan Ingrid Jonker se “Die kind” herinner: “Die diep sug ruis in haar oor. ’n Sug wat in Gent begin, reis deur België, oor die helfte van Europa, oor die lengte van Noord-Afrika, Sentraal-Afrika, Suider-Afrika tot by die kothuis aan die voet van die Overbergse Kleineberge.”

Chanette Paul stel eenvoudig nie teleur nie.

  • 3

Kommentaar

  • Wat 'n wonderlik ewewigtige resensie in vergelyking met die een wat Sondag in Rapport verskyn het. Sterk en swak punte word genoem sonder om 'n persoonlike aanval te loods. Hierdie is nou 'n resensie wat baie vertel van die geresenseerde werk, maar nog meer verklap oor die resensent. Baie dankie vir 'n puik stukkie werk.

  • Avatar
    Linda Zollner

    Ek is so bly oor die goeie resensie, ek het in myself getwyfel want ek het dan die boek so geniet - en toe sien ek die aaklige resensie in Sondag se Rapport.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top