Titel: Wilhelmina Radebe kom tuis
Skrywer: Marinda van Zyl
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799365047
Koop Wilhelmina Radebe kom tuis by Kalahari.com
Wilhelmina Radebe kom tuis is pas as ’n nuwe, verbeterde weergawe uitgegee. Dis ’n historiese roman met fiktiewe karakters waarvan die eerste uitgawe in 2011 verskyn het, toe as naaswenner van Lapa se romankompetisie. Die teks is egter van voor af geredigeer. Dit was nodig, want lastige taal- en ander foute het die aangrypende roman ontsier.
Die verhaal is gebaseer op navorsing (1987–1993) wat Marinda van Zyl vir haar PhD-proefskrif, “Swart verstedeliking in Vereeniging, 1923–1960”, gedoen het.
Die storie word uit die perspektief van die 81-jarige Wilhelmina Radebe vertel. Sy is een van die meer as 100 000 swart moedertaalsprekers van Afrikaans. Radebe praat regte “Transvaalse” Afrikaans, anders as die Xhosasprekendes in die Kaap. Sy is die fiktiewe kleindogter van Wildebeest, wat werklik die agterryer van Paul Kruger was. Radebe is skerpsinnig, wys en enigmaties.
Die gebeure speel in die apartheidsjare (rondom 1984) af. Dit gaan rof in die township Sebokeng naby Vereeniging in die Vaaldriehoek. Deur die oë van haar agterkleinseun Niklaas, met sy passie vir die struggle, word Radebe teen haar sin by opstande en die huurboikot in die township betrek. Die afgebrande Kentucky word vir haar ’n simbool van alles wat sy verloor; as die dominoblokkies eers begin val, kan niks hulle stuit nie. Teen hierdie agtergrond beleef Radebe weer haar kinderdae en herinneringe.
As jy Afrikaanssprekend is en nog net die een kant van dié versweë geskiedenis ken, sal hierdie roman jou geval. Jy sal waarskynlik met Radebe se liefde en omgee vir haar uitgebreide familie kan identifiseer. En beslis met haar intense vrese en onsekerhede. Hierdie karakter verteenwoordig die moederfiguur in al sy glorie. Alles draai vir haar om haar familie se geluk en veiligheid. Om dié rede begryp sy aanvanklik nie die doel van die opstande nie. Vir haar regverdig niks bloedvergieting nie. Sy voel juis die dood meermale aan eie lyf.
Radebe het empatie met die ondergeskiktes, die onvolmaaktes, soos Pulane die bierbrouer en Maria die prostituut. Maria kom haar daagliks bad en op haar beurt leer Radebe weer die prostituut lees. Deur Pulane ontmoet sy haar eerste man, Adam Pule, ’n tradisionele Sotho. Haar tweede man, Klaas Radebe, mishandel haar en ook haar seun Daniël. Daniël word ’n huisbediende en trek saam met sy werkgewers oorsee. Radebe vind ontvlugting as kleremaakster by Miss Emily. Die een tragedie na die ander tref haar familie. En ná hul pa Nicolas se dood versorg sy self haar agterkleinkinders Niklaas en Angie. Hul ma, Margaret, werk as huisbediende by ’n wit gesin wat hul eie huishoudelike probleme het. Dit vorm ’n goeie kontras wat die tema van die roman – goed of sleg is ’n hart-ding, nie ’n vel-ding nie – geloofwaardig uitbeeld.
Verskeie sosiaal-maatskaplike kwessies, soos gesinsgeweld, oorbevolkte skole, ongeletterdheid en hongersnood, word ondersoek. Van die gebeure, waaronder die halssnoermoorde, is skokkend. Tog word die storie nooit onleesbaar swaar nie. Daarvoor sorg humor. Die karakters is nie net slagoffers nie, maar mense wat lag, huil, vassit en leef. Radebe se karakter ontwikkel netjies. Hoe erg al die gebeure haar aangetas het, besef sy eers wanneer sy byna self deel het aan die dood van ’n onskuldige man.
Twee belangrike simbole kom deurgaans voor: die ashoop as simbool van hoop en die rose voor Radebe se huis as simbool van die mens se onvernietigbare gees. Hoe slegter dit gaan, hoe nader is die uitkoms. Daarom vind Radebe juis op die ashoop ’n pop wat ’n ommekeer in hul lewens bring. Buitebande wat voorheen gebruik is om ander te necklace, kan nou gebruik word om rose in te plant en die geur van verdraagsaamheid en nuwe lewe te versprei.
Jy kan dalk aanvanklik sukkel om werklik deur die storie ingetrek te word. Dit neem tyd om uit te pluis wie al die karakters is, daarom is die bygewerkte geslagsregister so nuttig. Aanvanklik kon daar meer spanning gewees het, iets wat ’n mens wíl laat verder lees. Maar wanneer die spanning eers behoorlik aan die opbou is, sal jy nie sommer die roman kan neersit nie. Daarby weet die skrywer hoe om ons taal behoorlik en beeldend in te span. Die Engelsman wat hom nog witter geskrik het, se sproete vertoon byvoorbeeld dan “soos bloedspatsels” teen sy vel. En hoe heerlik is dit nie om woorde soos “maaifoedie” raak te lees en ook te leer oor die betekenis van ander, soos “tsotsi” en “tjwala” nie. Hoewel “tsotsi” vandag ’n misdadiger aandui, is die term destyds gebruik vir ’n werklose jongmens tussen 16 en 22. “Tjwala” is weer “lekker Basoetoe-bier”.
As jy die roman gelees het, sal jy besef waarom politieke verandering onafwendbaar is en waarom dinge in die nuwe Suid-Afrika soms nog onstabiel is. Om vandag te kan verstaan, moet jy weet van gister. Verstaan met die kop help egter nie. Jy moet dit in jou binnestevoel, asof jy dit self beleef. En dit gebeur beslis wanneer jy Wilhelmina kom tuis lees.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

