Debora en seuns
Helene de Kock
Human & Rousseau
ISBN: 9780798169592
Met Helene de Kock se 37ste roman bevestig sy weer eens waarom haar werk verdien om so gewild te wees. Debora en seuns is ’n boeiende verhaal wat jy tot die laaste punt wil aanhou lees.
Mens sou dit ’n historiese verhoudingsroman kon noem. Die verhaal wentel om die vervlegting van twee gesinne se lewens op ’n Oos-Vrystaatse dorpie. Die Tweede Wêreldoorlog dien as agtergrond; ’n milieu wat sterk figureer en sy tol van die karakters eis.
Margot Scott en haar ma, Susan, lei ’n eenvoudige, onopwindende lewe. Hoewel die dorpenaars na Susan as weduwee verwys, het sy nooit met die Britse pa van haar dogter getrou nie. Al wat ma en dogter van die man aangeneem het, is sy van. En al wat Margot van hom het, is ’n foto in sepia. Susan deel nie veel inligting oor Margot se pa met haar nie, daarom word hy sommige dae vir haar “lewensgroot”. Sal sy die “skim van ’n pa” probeer opspoor?
Die Scotts se lewe verander ingrypend wanneer die misterieuse Debora Schlagerfeldt, haar man, herr Dieter, ’n invalide, en hul drie seuns van Duits-Suidwes-Afrika in die Victoriaanse huis oorkant hulle intrek. Dié Duits-Afrikaanse bure is buitestanders oor wie daar geskinder word, maar Margot kan met hulle identifiseer. Met die Schlagerfeldts se intrek is dit asof haar lewe begin.
Margot bou ’n innige verhouding met Debora op. Later ook met dié matriarg se man, herr Dieter, wat nie eens kan praat nie. Die stilte en spanning oor wat met hom gebeur het, is een van die vrae wat jou tot naby die einde van die verhaal sal teister.
Erik, Debora se jongste seun, word Margot se beste maat. Terwyl die dorpenaars reken dat die twee mettertyd ’n verhouding het, is Erik heimlik verlief op sy onderwyseres, die Engelssprekende Elizabeth, wat vinnig Afrikaans leer. Erik se broer Heinrich raak by ’n Joodse meisie betrokke. Dis ’n verbode liefde wat met groot afkeuring bejeën word. Lekker konflik!
Dis die oudste broer, Marnitz, wat intrek neem in Margot se hele wese, maar dié mediese dokter voel geroepe om by die oorlog aan te sluit. Dit laat haar met die vraag: Sal sy aanbly in Debora se huis in die Oos-Vrystaat waar sy ná haar ma se dood ingetrek het, of sal sy haar hart Londen toe volg?
Die soeke na haar geliefde word bemoeilik omdat Marnitz intussen ’n ander naam aangeneem het – hy kom te Duits voor. Sonder geld kan Margot ook nie leef nie en sy word ’n fisioterapeut by Guy’s Hospital. Interessant dat fisioterapie in die dertigerjare nog ’n onbekende beroep was. Die beoefenaars van soortgelyke tegnieke is masseuses genoem. Dit word Margot se taak om verminkte soldate met hul herstel te help.
Dis in Londen waar sy haarself leer ken. Dit kan nie anders nie, want daar moet sy teen bomme skuil, uitvind wat versperringsballonne is en leer om met minder en valer kos klaar te kom. Kordiet, vrees en bekommernis word deel van haar daaglikse bestaan. Maar “die liefde kan dit werd wees,” bespiegel sy.
Nie net Margot se karakter ontwikkel nie, maar ook die terughoudende Marnitz word mensliker. Trouens, al die belangrike karakters is geloofwaardig en ontwikkel behoorlik met verloop van tyd.
Die skrywer het vanselfsprekend die oorlog in besonderhede nagevors, maar die navorsing verdring nooit die storie nie – dis netjies geïntegreer. Die leser kan boonop die verhaal besonder sintuiglik ervaar. Soos hier: “Sy (Margot) herroep tot die geure van die huis. Die botter-en-vanilla van die kombuis, die delikate fyngeur van die laventelbosse in die dubbele dorpserf, die soet geur van gedroogde roosblare wat Debora in seep gegooi het. En die vrou se heserige stem wat tussen die werkery deur opklink.” En hier: “Maar dis die groen wat Margot vang. Sowat van appelgroen, smaraggroen, komkommergroen het sy nog nie gesien nie.”
Die taalgebruik is dikwels treffend. Soos wanneer Marnitz vir Margot sê: “En jou woorde is altyd so helder. Ek kan selfs die kommas en punte hoor.” Of wanneer Debora die deeg “soos ’n pasgebore baba” in die emaljeskottel laat sak. Of wanneer die skip ruk “asof ’n reuse-hand dit klap”.
Wat wel pla, is enkele clichés, waaronder “porseleinwit” tande, tande wat “wit flits”, die “tevrede glinstering” in oë, “’n brandende sekerheid”, “’n brandende smagting”, maer hande wat “krampagtig” klamp, een wat ’n ander met “leepoë” aankyk, ’n hart wat “vreemd saamtrek” in ’n bors en ’n snik wat in ’n keel “ruk”.
De Kock weet egter hoe om gepas sensueel te skryf. Die liefdestonele suggereer, eerder as dat dit uitspel. En hoe romanties is dit nie, daar onder in die Anderson-bomskuiling!
Uiteindelik word al die los drade tot ’n netjiese eenheid saamgeknoop. Sommige antwoorde of oplossings is dalk net te positief vir die literati. Vir lesers van liefdesverhale werk dit, maar hierdie roman is veel, veel meer as net dit.