Resensie: My groot vet Griekse egskeiding deur Pat Stamatélos

  • 0

Titel: My groot vet Griekse egskeiding
Skrywer: Pat Stamatélos

Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781415207376

Pat Stamatélos is nie bang om gewigtige temas te takel nie. In haar romans Kroes en Pastoor ondersoek sy onderskeidelik die tragiese effek van apartheid, en kindermolestering. Maar reeds met die optel van My groot vet Griekse egskeiding is dit duidelik dat dié roman ’n perd van ’n ligter kleur is. Die titel herinner oombliklik aan die romantiese komedie My Big Fat Greek Wedding,wat so gewild onder fliekgehore was. Die Griekse lettertipe op die voorblad sluit by dié prettigheid aan.

Die titel word hierdie keer ironies ingespan, want My groot vet Griekse egskeiding handel nie werklik oor ’n egskeiding nie, eerder oor die gesukkel om te skei en die poging om ’n verdwene man op te spoor.

Polly Ballas se huwelik met haar Griekse man, Achilles (dié naam dui op ’n swak of kwesbare plek), kry reeds op hul wittebrood ’n knou wanneer hy beskuldigend verklaar: “There is no blood.” Wie vir die brutale ontneming van haar maagdelikheid verantwoordelik is, is ’n belangrike deel van die intrige.

Polly, wat graag haar van na Callas wil verander, is nie rasend gelukkig getroud nie. Sy voel dat sy nie werklik kan kommunikeer met ’n man wie se gunsteling-sêding “You crazy woman!” is nie. Daarby het Achilles, oftewel Archie, nie ’n sin vir humor nie, maar eerder ’n groot obsessie met sy haarverlies. Dermate dat hy ’n vibrator op sy kop aanwend om haargroei te stimuleer. Van sy goddelike Griekse lyf is daar ook niks meer oor nie. Trouens, hy kom maar glibberig oor.

Ten spyte daarvan is Polly platgeslaan wanneer haar huishulp, Catherine Dhlomo, aankondig dat Archie by hul huis weg is met ’n vrou wat groot hare en pers naels het. Aan haar hande kon Catherine glo sien dat “Miss Big Wig” jonger is as Polly, wat haarself op 48 as middeljarig beskou.

Ná ’n jaar is Archie steeds weg. Al kontak is sy e-posse aan sy kinders, Athena en Neo, maar daarin sê hy ook nie waar hy hom bevind nie.

Só kan dit nie aangaan nie, besluit Polly en wend haar tot die egskeidingshof. Die jonger bestuurder van haar boekwinkel – sy bynaam is Janrap – raak juis by die dag vriendeliker en aantrekliker.

Maar dan daag Archie nie by die hof op nie en bly Polly vir eers getroud. Tog ontmoet sy dié dag ’n vreemdeling, Gugu Jam-Jam, wat haar van die grond af optel toe sy voor die hof val. Gugu is ’n huweliksberader en dalk net wat Polly nodig het.

’n Jaar word ’n jaar en ’n half en steeds is daar geen spoor van Archie nie. Polly maak die afleiding dat haar man dalk op Harrismith kan wees en vat die pad soontoe saam met haar nuwe vriendin, Gugu. Kort hierna neem die roman ’n heel onverwagse wending ...

Intussen openbaar Archie se ewe slymerige broer, Otis Lambros, sy gevoelens aan Polly en kom die leser agter dat Lambros ’n groot, agteraf skelm is. Vir sulke probleme wend Polly haar tot haar welgestelde vriendin, Monica Tredoux-Theron (75), “’n wyse ou uil wat ’n mengsel van Engels en Afrikaans praat sonder om skuldig te voel daaroor”. En wat sonder skroom erken: “I’ve been around the block a few times.” Monica is die tipe vrou wat haar ou skoene afpluk en in die oond druk wanneer iemand onverwags aan haar voordeur klop. Sy glip dan haar rooi hoëhakskoene, wat “toevallig” netjies by die voordeur staan, aan.

Die karakterisering is oor die algemeen goed. Jy glo veral in die opregte Catherine wat so nagmerries kry. Polly self kruip ongelukkig nie werklik in jou hart in nie en dit skeel jou maar min of sy haar man vind of nie.

My groot vet Griekse egskeiding is ligte leesstof en baie snaaks. Daarom vergeef jy Stamatélos die onwaarskynlikhede: Sal ’n vrou wat permanent aan kolonontsteking ly, aanhou koffie drink tot kort voor sy in die hospitaal beland? Jy wonder ook hoe ’n groot man soos Archie summier kan verdwyn. Sy e-posse hoort tog ondersoek te word vir leidrade. Derdens: Sal jý ’n vrou wat jou in die straat ophelp, bykans dadelik nooi om saam met jou op reis te gaan en boonop ’n kamer met haar deel? Nietemin sorg die vriendskap tussen Polly en Gugu vir jolige kinkels rondom hul verskillende kulture.

’n Glips wat lesers kan verwar, is dat Polly se seun in die middel van die storie summier en onaangekondig van naam verander. Neo word Leo. ’n Hele paar keer. Waar was die teksredakteur en proefleser toe?

Enkele clichés ontsier die roman. Donker oë word as “sielvol” beskryf. Iemand se vel is “so glad soos ’n baba se boudjies”. Die aantreklike Janrap se oë is “neonblou” en Polly se gedagtes is “’n warboel”.

Talle lesers, veral vroue, sal kan identifiseer met die verval van Polly se huwelik wanneer romanse plek maak vir ontnugtering, frustrasie en verset. Stamatélos lewer deurentyd kommentaar op dié instelling, maar nooit op ’n neerdrukkende wyse nie. “Die húwelik is die hoofoorsaak van alle egskeidings,” skryf sy. En: “(D)it was nog vroeg in hul huwelik, voor irriteer die plek ingeneem het van amuseer.”

Die roman bied goeie insig in die Griekse kultuur, wat as’t ware ’n bykomende karakter in die roman word. Selfs die mitologie word (funksioneel) bygesleep. Soos wanneer Polly vertel hoe Achilles, daardie Griekse held in die Trojaanse oorlog, sy naam gekry het.

Hoewel die roman nie soveel vleis aan die been het soos die meeste van Stamatélos se vorige werk nie, is daar genoeg pittighede en insig in verhoudinge om die lees daarvan die moeite werd te maak. Soms wil jy tog net ’n slag behoorlik ontspan en is My groot vet Griekse egskeiding die ideale boek om dit te mee doen.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top