Boekresensie: Die leliemoordenaar deur Lerina Erasmus

  • 3

leliemoordenaar

Titel: Die leliemoordenaar
Skrywer: Lerina Erasmus

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798174213

Eers was Lerina Erasmus bekend as aktrise, maar in die tagtigerjare het sy ook begin skryf, onder meer aan radioreekse soos My hartjie my liefie, Noodskoppelmaai, Solitaire, Vriendinne en Die Mannheim-Sage. Erasmus het werklik ’n huishoudelike naam geword toe Die Mannheim-Sage vir televisie verwerk en in 1986 uitgesaai is. Dis ’n periodedrama wat in die era van die goudstormloop aan die Witwatersrand afspeel en is ook as trilogie uitgegee. Nog TV-reekse, waaronder Moordspeletjies en Dot & Kie, het gevolg.

Die leliemoordenaar is Erasmus se eerste misdaadriller. Die skrywer het onlangs beaam dat sy reeds ’n tweede een aan die skryf is. Die leliemoordenaar speel oor twee tydvakke af: tydens die apartheidsbestel én in hedendaagse Suid-Afrika.

Braam Brink, ’n ondersoekende joernalis, en Adam Williams, wat in die weermag is, ontmoet mekaar deur hul gedeelde belangstelling in motorfietsry. Wanneer dié twee een oggend – in 1985 – in ’n plattelandse kafee naby Hartebeespoortdam bymekaar kom, hoor Brink vir die eerste keer van sy vriend se rol as soldaat. Tydens ’n ekspedisie in Angola verdwyn Adam egter. Braam stel ondersoek in, maar dan word sý liggaam tuis gevind. Selfdood is die bevinding.

Sowat 30 jaar later volg Braam se dogter, Daniella (Danny) Hector, die spoor van ’n berugte reeksmoordenaar. Teen dié tyd is sy al ’n topspeurder; selfs die FBI wil haar aanstel. En dit ten spyte van haar vrees vir vuurwapens. Danny se brose gesinslewe word versteur wanneer sy Johannesburg toe verplaas word om die “klipmoordenaar” te probeer vastrek. Tot dusver kon niemand die saak oplos nie. Haar onwillige ma, Rachel Brink, en dogter, Nadia, trek saam.

Om die reeksmoordenaar te vang, blyk onmoontlik te wees. Nes Danny op sy spoor is, wyk hy van sy gewone moordpatroon af. Aanvanklik moor hy elke drie weke – wanneer die rooi lelies blom. Die slagoffer se hart word uitgesny en met ’n klipgrafsteentjie waarop ’n lelie uitgekerf is, vervang. Die wit lelies blom op ander tye ...

Met die hulp van ’n span deskundiges wat spesiaal uitgesoek is, volg Danny elke leidraad op. Die web span al nouer. Hou die moorde dalk verband met ’n figuur uit dié topspeurder se verlede? Dalk selfs met haar pa se dood lank gelede? Danny besef nie dat die moordenaar háár ook dophou nie. Trouens, sy is die een wat hy uitgekies het om hom te vang.

Hierdie misdaadroman is allesbehalwe alledaags. Eerstens kan die leser gou aflei wie die moordenaar is. Tweedens is Die leliemoordenaar een van die grusaamste romans in Afrikaans. Jy ril en gril tot in jou haarwortels. Derdens is die storie kompleks en oorspronklik. Leon van Nierop sê juis op die agterplat dis “propvol warm intrige, spanning en onverwagse wendings”. Vierdens word die liefdeselement totaal onderbeklemtoon. En laastens worstel die leser met vrae wat die spanning geleidelik laat opbou. Soos: Sal Danny weens haar vrees vir vuurwapens kan skiet wanneer sy uiteindelik die monster vang?

Dit het duidelik fyn skryfwerk gekos om van die moordenaar ook ’n mens, oftewel ’n volronde karakter, te maak. Hy is ’n gebroke man wat wraak neem op dié wat indirek verantwoordelik is vir die dood van sy vrou en kind. Eienaardig genoeg is die leser saam met hom verlig oor een van sy moordpogings.

Erasmus se roman is hoogs toeganklik. As aktrise hoor sy waarskynlik ook haar karakters praat, so vlot vloei die dialoog. Soos dit ’n goeie romansier betaam, het sy aan elke karakter ’n eiesoortige praatstyl gegee. Sersant Koot Human sê byvoorbeeld: “Delicia Brown ... Sy het glo in een van daai sleaze clubs gewerk, ’n stripper of iets.” Aan humor ontbreek dit nie: Billy Venter sal “met graagte die donner” wat nou by sy gewese vrou kuier “se gesig vir hom herrangskik”. Iemand anders word as “laer as slangsnot” beskryf.

Die skrywer se navorsing is puik. Erasmus sou moes ondersoek ingestel het na die (ware) Cradock Vier wat in die apartheidsjare vermoor is, moordwapens, die effek van sekere dwelms en die bosoorlog in Angola. Daarby hoort sy teen dié tyd ’n kenner van amarillisse te wees.

Die uitbeelding van die milieu slaag eweneens, veral wat Danny se Westdene-huis betref. Wanneer sy haar intrek neem, weerspieël die plek absolute sielloosheid. Ook kenmerkend van daardie stadium van haar lewe.

Hoekom juis Die leliemoordenaar as titel as daar deurentyd na “die Klipmoordenaar” verwys word? Algaande word dit duidelik: die leliesimbool sorg nie net vir ’n treffende voorblad nie, maar ook vir ’n grusame wending wat met die bemesting van blombolle verband hou. Daarteenoor is die blom so onskuldig, so mooi.

Die roman bevat wel enkele jakkalsies. Hier en daar ontsier clichés die skryfwerk: hande is om ’n stuurwiel geklem, iemand skulp toe tussen vreemdes en iets bars soos ’n sweer oop. Soms gaan die skrywer ook te rojaal met ellipse te werk. Daarby is wagte tog aan diens, nie op diens nie. Dis ook nie in gemeen nie, maar gemeen. Dan word daar na die High Mile Club verwys, pleks van die Mile High Club. Karakters word ook meer as een keer in die solar plexus geskop. Nie alle lesers weet waarskynlik dat dit die gedeelte bo die naeltjie is nie.

Hoewel die liefdeselement dikwels sterk in misdaadromans figureer, is dit nie hier van toepassing nie. ’n Jammerte, want ’n geliefde wat vroeër ingebring is, sou dalk net die hoofkarakter (wat obsessief is oor haar werk) meer tot haar reg kon laat gekom het én vir ’n bykomende lekkerlees-element gesorg het.

In geheel gesien, is Die leliemoordenaar ’n welkome toevoeging tot die misdaadgenre. Teen die laaste paar hoofstukke haal jy weens die spanning so vlak asem dat dit voel of jy jou bewussyn gaan verloor. Dis ’n moet-lees vir rillerliefhebbers, maar word beslis nie vir sensitiewe lesers aanbeveel nie.

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Lorette Retief

    Uitstekende resensie. Het self ook die boek geniet, maar daar was ook vrae en dinge waaroor ek gewonder het wat die resensent, Riette Rust, mooi uiteengesit het.

  • Avatar
    Lerinda Ellis

    Lerina Erasmus is 'n uitstekende skrywer. Kan nie wag vir haar opvolg van Lelie Moordenaar nie.

  • Ek het die Leliemoordenaar by die plaaslike biblioteek uitgeneem. Kon dit nie neersit nie... so pas klaar gelees. Uitstekende boek. Toe ek lees van die ontsnapping van Hasslau het ek onmiddellik gehoop daar is ’n opvolg. Te goeie storielyn om dit nie op te volg nie! Wanneer is die opvolg op die rakke?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top