Titel: Woudfontein
Skrywer: Hannes Haasbroek
Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781415207352
Op die voorblad word aangekondig dat Woudfontein ’n spanningsverhaal is, maar gou kom jy agter jy het hier met iets heel anders te make. Hannes Haasbroek, veral bekend vir die biografie ’n Seun soos Bram, het ’n satiriese aanslag. Hy gooi die tradisionele vereistes vir ’n spanningsverhaal omver.
Die roman is humoristies en daar is vir seker lesers wat dit sal geniet. Ander kan egter die humor as studentikoos afmaak en reken Woudfontein is die ideale lekkerleesboek vir (naïewe) tieners.
Al word dié roman as ’n spanningsverhaal bemark, is dit een wat jy wel tydens die lees sal kan neersit. Trouens, dis soms maar bra doodgewoon. Die laaste paar hoofstukke boei wel; net jammer dat te veel karakters en oplossings ingedruk word. In so ‘n mate dat dit geforseerd voorkom.
Anders as ’n goeie spanningsroman skop Woudfontein nie eens met ’n bang van ’n inleidingsparagraaf af nie. Die hoofkarakter, luitenant Roelf Bester, sluit sy woonsteldeur en klim in sy Cortina. Nie baie opwindend nie.
Die eerste konfrontasie is ook maar flouerig. By die skool, waar Bester deeltyds rugby afrig, word hy deur die wiskunde-onderwyser, Tron Marais, aangevat omdat sy (Bester se) pa, Gawie, glo ’n verhouding met dié onderwyser se oorlede ma, Hannah, gehad het. Daarby het Gawie vir Hannah onder die indruk gebring dat hy haar finansieel sou ondersteun, maar nooit aan sy belofte voldoen nie. Wanneer Marais ook nog vir Bester vertel dat sy eie pa gesê het sy ma, Christine, is dom en boonop “useless in die bed”, “ontplof” Roelf se “regter”.
Dié geveg haal die Bethlehem Dagbreek. Dis selfs vir ’n dorpskoerant onrealisties. Daarby sal enige redakteur wat sy sout werd is, nie ’n berig plaas wat nie aan joernalistieke vereistes voldoen nie. In die berig word “Mnr” ook sommer skielik “Meneer”. Later is daar nog swakgeskrewe berigte wat die Knysna Herald haal.
Ná die fisieke konfrontasie met Marais word Bester na die piepklein polisiestasie op Woudfontein naby Knysna verplaas. Die tipe sake wat hy (nou as kaptein) daar moet oplos, is net so onrealisties soos die nuus wat die koerant haal. Bester moet na ’n vermiste luislang soek, ondersoek na ’n moontlik demoniese sekte instel en ’n tannietjie wat ’n rewolwer rondswaai, kalmeer.
Intussen neem Marais se wrok teen Bester toe en toon hy afwykende gedrag. Dít terwyl sy mede-onderwysers hom as “’n ware heer” beskryf. Voor Bester sy oë kan uitvee, sit die onderwyser in die Pik Botha Sanatorium, ’n psigiatriese kompleks. Ook op Woudfontein. Maklike toeval! En al is daar verduidelikings, bly dit maar vreemd dat ’n sanatorium na die oudminister van buitelandse sake vernoem is.
Die onderwyser beraam wraakplanne teen die kaptein en daar is, soos die roman se voorblad aandui, ’n psigopaat in die Knysnabos los. ’n Onvermydelike konfrontasie wag (weer).
Die ander karakters is lekker mense, oor die algemeen goed uitgebeeld. Daar is Bester se kollega, die skerp, snaakse konstabel Woody Forrest en die grootmond Fien Lepatle. Daarby sal ’n “spanningsverhaal” nie dieselfde sonder liefde wees nie. Op Woudfontein ontmoet Bester vir Veronica (blou oë, blonde hare), die antitese van Marais se meisie, Kara Rimski met die sexy Russiese aksent. Sy pluk sommer maklik ’n masjiengeweer uit en het boonop ’n paar geraamtes in die kas. Ook Kara beland – nogal as berader – op Woudfontein ... Die toeval darem!
Veronica se drinkende ma is veronderstel om vir komiese afleiding te sorg, maar haar toestand is eintlik tragies. Daar hang boonop ’n vraagteken oor haar funksionaliteit as karakter, maar dis wel geloofwaardig dat sy nie summier ophou drink nie.
Intussen is daar ’n byna-ongeluk tussen ’n motorfiets en ’n vermiste Knysna-olifant en lees jy ook oor ’n paar eienaardige diere en twee houtkappers uit die dae van weleer. Dis ’n sirkus op Energade!
Woudfontein kon beter gewees het. Hoewel die perspektiefwisseling tussen die “luitenant-kaptein” en die onderwyser werk, wonder jy hoekom die storie soms uit die oë van alkoholis Daleen vertel word. Sy is tog ’n mindere karakter.
Wanneer ’n skrywer die sielkunde bysleep, behoort hy darem sy vak te ken. Daar word deurentyd na die onderwyser se “psigopatiese” neigings verwys, maar elders word dit sommer “psigotiese” neigings. Dis twee heel verskillende sielkundige verskynsels.
Dalene se glas word “volgens etiket” net twee derdes vol rooiwyn geskink, maar eintlik behoort ’n rooiwynglas volgens etiket net halfpad vol geskink te word.
Kaptein Roelf Botha is veronderstel om 35 te wees, maar hy klink veel ouer. Botha verwys byvoorbeeld na die “attensies” van ander vroue en na iemand anders as “’n ploert”. Watter jong(erige) man praat nog so? Selfs Victoria is “oud” wanneer sy ewe paternalisties na die huishulpe verwys as “ons twee staatmakers”. Die alomteenwoordigende verteller is eweneens bejaard, want wie praat nog van ’n vrou wat uitstap vir ’n “dampie”?
Taalflaters kom voor. Soos “in gemeen”. En hoe kan breekware “ritsel” en lang ore “warrel”? Daarby behoort handelsname soos Panado tog met ’n hoofletter geskryf te word.
En die clichés! “Fletsblou” en “sprankelblou” oë, oë wat voor iemand “bly dans”, oë wat “twee waansinnige donker poele” is en ’n “blos” wat “vinnig” oor iemand se nek “kruip”, is voorbeelde. Verwysings na ’n “twyfelagtige” verlede en ’n duiseligheid wat oor iemand “spoel” (?), kom ook voor. En as die skrywer een keer verwys het na iemand se bleekheid, hoef hy dit tog nie gou weer te sê nie.
Ten slotte: Haasbroek verdien ’n gelukwensing. Dit was vernuwend om met Woudfontein ’n nuwe subgenre van die spanningsverhaal te skep. Iets waarop hy en ander skrywers sal kan uitbou.


