Rooiborslaksman deur Marinda van Zyl: ’n FMR-resensie

  • 0

 

Rooiborslaksman
Marinda van Zyl

Tafelberg
ISBN: 9780624089544

Marinda van Zyl staan beslis haar plek as skrywer van historiese romans vol. Wilhelmina Radebe kom tuis en Amraal was finaliste in onderskeidelik LAPA en NB-Uitgewers se romanwedstryde. Dors, wat afspeel teen die agtergrond van die Dorslandtrek, handhaaf volgens hierdie resensent dieselfde standaard.

Rooiborslaksman is ’n welkome opvolg op Amraal. Hoewel Amraal – die karakter – reeds gesterf het voor die tydperk waarin hierdie roman afspeel, is sy teenwoordigheid voelbaar. Mens wil boonop weet wat van Amraal se nasate geword het. En dís die geleentheid wat Van Zyl raakgesien het.

Die titel van die roman is gepas: ’n Rooiborslaksman is ’n insekvretende bosveldvoël wat in die doringveld, dikwels in droër sanderige omgewings van suidelike Afrika, voorkom. Dié voël maak nie sy prooi dood nie, maar ryg dit lewendig aan ’n doring en sit en skree lustig terwyl die prooi stadig sterf.

In hierdie verhaal beteken die koms of teenwoordigheid van die voël naderende onheil. Die dood is alomteenwoordig en word as ’t ware self ’n karakter.

Die rooiborslaksman is in Namibië ook as die “Duitse vlag” bekend. En in dié roman is die voël ’n simbool van dít wat in die vooruitsig lê – die Duitse besetting.

Wat die verhaal betref: Die pokke-epidemie wat Gobabis in 1864 tref, laat die tienjarige Liesbet Lambert wees. Die konflik tussen die Namas, die Herero’s en die Duitsers word op die spits gedryf.

Liesbet se kywende halfsuster Catharina en die liggewig Andries Lambert word haar voogde. Die kapteinskap rus swaar op Andries se twintigjarige skouers. Catharina en Andries se stormagtige huwelik en die verraad van Liesbet se jeugliefde knou die jong meisie se geloof in liefde. Sy vind vervulling in skoolhou en in haar duikerlammetjie.

Frederik Vlermuis is vasbeslote om die kapteinskap van Gobabis vir homself toe te eien, al moet hy daarvoor moor. ’n Ongewone bondgenootskap ontstaan tussen Liesbet en Frederik wanneer hy sy mes vir haar gee en sy onwetend by sy planne betrek word.

Koekoes, Vlermuis se skoondogter, waarsku hom teen die rooiborslaksman, maar hy laat hom deur niks stuit nie. So ontketen hy ’n kettingreaksie van wraak en weerwraak.

Met die koms van die voël is die Gobabissers reeds so vasgevang in die dorings van hul selfgeskepte duiwelsklou dat die gespartel om uit die laksman se kake te bly, die dorings al dieper laat sny en hul kanse verskraal om weerstand te bied teen die Duitse besetting van hul grondgebied.

In die historiese roman is chronologie belangrik. Die tydperk – tussen 1864 en 1896 – waarin die verskillende hoofstukke van hierdie roman afspeel, word duidelik aangedui.

Die verhaal is gepas driedimensioneel. Die rol van die “teenoorgestelde kant” – in hierdie geval konflik of oorlog – is teenwoordig. Tog bly die fokalisering suiwer. Die leser beleef gebeure uit Liesbet Lambert se perspektief.

In ’n goeie roman behoort konflik tot ’n besliste insig, gebeurtenis of oplossing te lei. Dis wel die geval, veral in die lig van die Duitse besetting.

Al sal vele lesers reeds van die historiese gegewe waarop die roman gebaseer is, bewus wees, skep Van Zyl ’n duidelike en lekkerlees-spanningslyn.

Lesers kan hulle met die karakters vereenselwig, veral met Liesbet en Andries. Frederik Vlermuis is eweneens ’n aanwins. Vlermuis is die vergestalting van “wees die persoon wat jy wil of hoop om te wees”.

Die name van karakters is met sorg gekies en gepas. Koekoes, byvoorbeeld, is heldersiende en maak heksebrousels.

Die dialoog vloei deurentyd natuurlik.

Die skrywer bly meestal bewus van sintuiglikheid. ’n Voorbeeld sluit in: “Die donderwolke het gelukkig nog nie die maan ingehaal nie, sodat hulle met gemak kan beweeg. Maar die rigting waaruit die hond geblaf het, beteken die noordoostewind dra hulle reuk direk na die veewagters.” 

Soos met die skrywer se ander romans kom simboliek voor: Die sendeling wat deur die inwoners aan die Herero’s uitgelewer wou word en die skade aan die kerk – wat skuiling in tye van konflik behoort te bied – kan dui op die effek wat oorlog op die spirituele het.

........

Die skrywer se navorsing is omvattend en goed geïntegreer by die res van die verhaal.

Van Zyl se skryftalent is onmiskenbaar.

.........

Die skrywer se navorsing is omvattend en goed geïntegreer by die res van die verhaal.

Van Zyl se skryftalent is onmiskenbaar. Die uitbeelding van Liesbet se verlange na haar pa is veral aandoenlik. Soos hier: “Sy wil op Ou Pappa (oftewel Amraal) se skoot sit, die plooie op sy gesig natrek met haar vinger tot hy skielik daarna hap en sy maak of sy vreeslik groot skrik ...”

Die beeldspraak is ewe verfrissend. ’n Voorbeeld sluit in: “Jy moet oppas, die ou man soek vrou en hy is nie ’n mak man nie. Hy’s ’n wolf wat lag, terwyl hy sy prooi verskeur.”

’n Historiese roman soos Rooiborslaksman help om te voorkom dat belangrike geskiedkundige gebeure, gebruike en ouwêreldse taalgebruik vir die nageslag verlore gaan. Watter jongmens vandag weet byvoorbeeld wat askoek is?

Die lys woordverklarings het groot praktiese waarde en die kaart en lys familieverwantskappe help om verwarring te voorkom.

Soos dit hoort, hou die afloop van die roman ’n verrassingselement in. Die leser wonder trouens al veel vroeër oor watter man so gelukkig sal wees om Liesbet Lambert se lewe te deel.

Die slotsin berei die pad voor vir nog ’n opvolgroman; ’n gebeurtenis waarna lesers hopelik sal kan uitsien.

  • FMR Boekkeuse, aangebied deur Amanda Botha. Uitgesaai in Mei 2021.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top