Skadukant deur Rika Cloete: ’n FMR-resensie

  • 0

Titel: Skadukant
Skrywer: Rika Cloete
Uitgewer: Kwela Boeke, ’n druknaam van NB-Uitgewers 
ISBN: 9780795709883

Met Skadukant vestig Rika Cloete haarself as spanningsromanskrywer.

Cloete het reeds in 2002 as digter met die bundel eensaamigheid gedebuteer. Sedertdien het tydskrifverhale, ’n avontuurromanse, ’n liefdesnovelle en ook die historiese moordraaiselroman Doodsroeper verskyn.

Die bisarheid van die eerste toneel in Skadukant val op. Sou ’n geweldenaar ’n swanger vrou op dié manier teiken? ’n Gesnuffel tussen artikels uit die verlede lewer ’n soortgelyke, maar ware verhaal op. Ja-nee, so hét dit al gebeur.

Hiermee ’n waarskuwing: Hierdie roman is nie vir sensitiewe lesers nie.

Skadukant is ’n sielkundige riller in die domestic noir-genre. In dié opsig slaag die roman ongetwyfeld. Die inligting oor die persoonlikheidsversteuring waaraan een van die karakters ly, is goed nagevors en vorm behoorlik deel van die verhaal.

Huweliksmoles en alkoholmisbruik seëvier en dis waar domestic noir ter sprake kom. Die meeste karakters toon nie respek vir die huwelik nie.

Skadukant ondersoek menslike verhoudings, asook die fisieke, emosionele en geestelike effek van geweld op vroue. 

Die verhaal suig jou in.

Die inwoners van Murraybaai, ’n kusdorpie, word met afgryse vervul wanneer die verminkte lyk van ’n jong vrou op die strand aangetref word.

Deirdre O’Brien, ’n belowende kunstenaar, prokureursvrou en die hoofkarakter, wil nie na die koerantfoto van die vermoorde kyk nie. Maar dan fokus sy. Dis die jong Hanna Loubser, haar man se sekretaresse en minnares.

Wie het haar vermoor?   

In ’n bykomende kinkel word die swanger Deirdre self geteiken. Daar is ’n gemaskerde man wat haar agtervolg en ’n gevaarlike kat-en-muis-speletjie speel.

Haar alkoholmisbruik, toe te skryf aan onder meer die skokdood van haar fetus, is eweneens vir haar en ander ’n bron van kommer. Sy ontdek ook dat sy nie werklik haar vriendin, Tertia Gresse, ken nie. Mevrou Gresse is nuuskierig en selfgeldend en het geen skuldgevoelens oor die oop huwelik waarin sy haar bevind nie.

Deirdre weier om onder al die druk te knak en sy weet sy’t ’n rol te speel in die vastrek van die geweldenaar.

Skadukant is ’n spanningsvolle roman vol intrige en wendings. Wanneer die skuldige eindelik vasgetrek word, raak die sielkunde agter die wreedhede éérs boeiend.

Uiteindelik word die drade bymekaar getrek. Die ontknoping verras inderdaad. 

Rika Cloete se skryfwerk toon egter ruimte vir verbetering. Hier en daar kom te veel byvoeglike naamwoorde voor. Sommige beskrywings is net te dramaties en al die clichés herinner aan soetsappige leesstof. Maar daar is ook vele gedeeltes wat sintuiglik of aangrypend geskryf is.

Die skrywer toon ongetwyfeld potensiaal in die misdaadgenre. Die tema van haar verhaal is andersoortig en boeiend.   

Die karakterisering oortuig eweneens. Hier en daar is die dialoog ongelukkig strammerig. Boonop praat min van ons nog van ’n “bed” as ’n “kooi”, of van “toeps” as die vertaling van “apps”.

Cloete behoort liefs in die toekoms die skokfaktor so effens te tem. Om te skok was sekerlik nie die skrywer se bedoeling nie. In verhale soos hierdie val die klem eerder op menslike verhoudings. Dit sluit die emosionele landskappe van die karakters in, veral wat hul donker kant betref. Of, soos die titel suggereer, hul skadukant.

In geheel gesien, is Rika Cloete ’n stem wat die meeste lesers weer sal wil hoor. Nie net sover dit spanningsverhale aangaan nie, maar veral wat die domestic noir-genre betref.

Moenie Skadukant laat verbyglip nie. Hierdie roman word veral vir liefhebbers van sielkunde of ietwat aweregse misdaadfiksie aanbeveel.

  • FMR Boekkeuse, aangebied deur Amanda Botha. Uitgesaai op 17 Februarie 2021

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top