Die hart het sy redes deur Helena Gunter: ’n resensie

  • 3

Boekomslag: Protea Boekhuis

Titel: Die hart het sy redes
Skrywer: Helena Gunter

Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485313564

Deur die jare het die bekroonde skrywer Helena Gunter se naam sinoniem geword met kortkuns. Gunter se vierde bundel, Die hart het sy redes, is kontreiverhale en volg op haar kortverhaalbundels Op ’n plaas in Afrika (2008), Met koffer en kaart (2011) en Tweespoor (2018).

Die verhale in Die hart het sy redes speel grootliks in die sestigs en sewentigs in die Overberg af. Toe was bell bottoms mode, Fort Cortinas en View-Masters gewild, en Stuttafords se breekware deel van die inhoud van trousseau-kiste.

In die tweede deel van die bundel kry meer hedendaagse verhale aandag.

Soos met Gunter se kortverhale, word haar kontreistories teen ’n plaasagtergrond geskilder. Sy skryf nogmaals weg van die plaasromantiek. Die idilliese bolaag van dié lewe word stukkie vir stukkie afgekrap.

Selfs die natuur kan jou verneuk, skryf Gunter. ’n Hawerland is nie altyd soos poëte se “beswymings oor dié groenigheid wat op maat van briesies oor heuwels dein” nie.

Die milieu kry deeglik aandag. Beskrywings is geloofwaardig en verleen tekstuur aan die verhale. Soos hier: “Mens ruik net fynbos, voel jy kan op jou rug neerval en jou oorgee aan die malsheid van katstert, rooinaeltjies, klipsterretjies, blombiesies, geeltulpe, blouflappies ...”

Die skrywer teken die mikrogeskiedenis van mens en omgewing op, maar terselfdertyd word ’n groter sosiale geskiedenis gereflekteer. Die verhale is, soos met Tweespoor, nie polities korrek nie. Soms wel nostalgies en dikwels onthutsend.

Die liefde in verskeie vorme maak die hooftema uit. Subtemas sluit in huweliksontevredenheid en -onmin, die femme fatale wat ander se verhoudings ondermyn, huweliksgeluk, vriendskap en aanvaarding, asook ’n liefde vir die omgewing, ’n voorwerp en selfs ’n inkommer. Die invalshoek is vars en bied nuwe insig.

Die liefdestema sluit aan by Blaise Pascal se aanhaling uit Pensées wat die motto van die bundel is: Die hart het sy redes waarvan die rede niks verstaan nie.

Pascal het die Christendom in die laat 1600’s só verdedig: Alles is nie in die rede gesetel nie. Religie ook nie, het hy gereken. Die mens het sy eie emosionele behoeftes, gekoppel aan die hart. Dié orgaan van bloed en weefsel het nie rede nie, kan dus nie dink nie. Lesers kan waarskynlik aflei dat dié feit ook die oorsaak van liefdesfoute, oftewel verkeerde keuses, is. Maak nie saak hoeveel keer jy dalk gewaarsku word teen die swakhede van “die een” nie, jóú keuse is reg, dink jy.

Meervlakkigheid is wat hierdie bundel onderskei van soveel ander Afrikaanse kontreiverhale. Jy kan ’n storie as sulks geniet, maar baiekeer lê die betekenis in dit wat nie neergepen is nie.

............
Meervlakkigheid is wat hierdie bundel onderskei van soveel ander Afrikaanse kontreiverhale. Jy kan ’n storie as sulks geniet, maar baiekeer lê die betekenis in dit wat nie neergepen is nie.
............

Die vlagskipverhaal, “En die grootste hiervan”, is ’n voorbeeld van veelvlakkigheid. Die titel verwys natuurlik na die bekende aanhaling uit die Bybel: “En die grootste hiervan (van al die gebooie) is die liefde.”

Petro, die hoofkarakter in “En die grootste hiervan”, se geloof ly op ’n manier skipbreuk, so ook haar vertroue in “die groot liefde vir ’n lewensgenoot”. Sy bevraagteken geloofskwessies en vra onder meer: “Plant Hy (God) ’n huislose teen die hange van Tafelberg en fluister deur die denne dis tyd vir ’n bergbrand wat die stad moet lamlê?”

Die slot bring ’n mens by die vraag: Wat ís liefde?

Die titel van “Kindertyd, o saligheid” is ironies. Dié verhaal handel oor meer as seuns wat grense wil beproef. Die narsistiese prefek is ’n boelie en dis sý optrede wat daartoe lei dat die seuns sigarette wil uittoets.

“Onse Antigone” is nog ’n voorbeeld van veelvlakkigheid. Dis meer as die storie van ’n Hollywood-aktrise wat kom toneelspeel op haar geboortedorp. Die verhaal handel eintlik oor Herklaas Benade se verydelde drome.

In “Die koekblik” word daar gevra: Wat is kitsch? ’n Tretchikoff teen ’n muur is immers “so taboe soos drie vlieënde eende, ’n gholfbalposbus, potplante in deurgesnyde buitebande, sneeuglobusse, tuinkabouters, plastiekkranse of FW-en-Mandela-sout-en-peperstelle. En soos goeie troepe spartel meelopers agterna – tog net nie skuldig wees aan die nuutste nee-nee nie.”

Of kan kitsch opsetlik wees? Dis die vraag.

Selfs al sou jy dalk nie met die plaaswêreld kan identifiseer nie, sal jy jouself heel waarskynlik in die binnewêreld van die karakters herken. Karakterisering is juis die sterk punt van die bundel. Diegene wat die verhale bevolk, word met ’n fyn oog vasgevang; hul voorkoms, uitdrukkings, optrede en die gevoelsmomente tussen hulle. Dikwels skreeusnaaks.

Gunter se beeldspraak skitter. Marga Wessels, die nuwe maatskaplike werker, “tref die dorp met die selfversekerdheid van ’n gesalfde”. Sarah (“met ’n ‘h’”) “gryp die middelmatigheid op die dorp aan die keel”, terwyl Hester van oom Jan Bezuidenhout weer “op ’n manier uitgekom” het sonder die “opgedrukte Steyn-gesigte en ongemaklike lang bene wat lyk of die kniekoppe, soos ’n volstruis s’n, agtertoe buig”. Daar is ook ’n manlike karakter wie se “kompleksie” herinner “aan ’n goedgeskraapte afval, so bleekwit, amper geel”.

Die insidente waarby karakters betrokke raak, is dikwels humoristies. Wanneer die dominee preek, loop sy teksverwysings soms ernstig verkeerd. Soos hier: “Uit Hooglied 7 verdwaal hy tussen die bruid se nawel en ’n ivoortoring wat na Damaskus uitkyk, haar twee borste lyk soos dadelpalms, hulle is ’n ronde kom met ’n hoop koring waarin die gemengde wyn nie ontbreek nie, haar gestalte hang soos ’n vrugtetros waarop die beminde wil klim en die geur van haard is soos dié van die wingerdstok.”

Om van byname nie te praat nie! Dawie Kwyl kry sy “naam” omdat ’n dokter hom “laat seerkry (het) met geboorte”. Pietie Horing se libido kry telkens die oorhand, terwyl Piet Skommelklos ’n gewoonte het om sy kroonjuwele in plek te wikkel.

............
Jy voel jy ken Gunter se karakters. Jy vóél trouens vir hulle.
..............

Jy voel jy ken Gunter se karakters. Jy vóél trouens vir hulle. ’n Mens kry groot respek vir die feilbaarheid van mense. Karakters word nie veroordeel nie. Mariet se erge frustrasies met Gielie word só vasgevat: “... dis hoogs waarskynlik dat die swakkere vat se ongeduld met die hoof van die huis nie bevorderlik kan wees vir klimaktiese ekstases in die huweliksbed nie.”

Nog ’n sterkpunt van Gunter se bundel is die vars en flatervrye aanwending van Afrikaans. Sy verwys byvoorbeeld na Danie van Buffelskloof se “opgehoopte laggie” en na Karools se vernuf in ’n tuin wat “sy gedraaide oogbal en sy allergie vir standerd 4 se maal- en deelsomme uitkanselleer”.

Een van die belangrikste eienskappe van ’n goeie kortverhaal is natuurlik ’n treffende slot. Gunter slaag daarin, veral wat betref “En die grootste hiervan”, asook “Die bult oor”. Sjoe!

’n Mens lees dat jy eerder moet dink aan mooi dinge as om te wil kla oor die “ellendes van jou erfenis”. Dink aan “[h]erfslig op ’n akkerblaar, die opstaan van ’n pasgebore kameelperdjie, fynbosveld in Augustus, die ‘boe-hoe’ van uile in die nag, die reuk van omgeploegde sooi, Riebeek Vallei vanaf die kruin van Botmaskloof”.

Selfs al word kwessies soos skuld, belydenis en vergifnis in Die hart het sy redes ondersoek, is die 12 verhale nie so swaarwigtig soos baie van dié in Gunter se vorige bundels nie. Die stories is trouens meestal “ligter” en lesersvriendelik. Tog is daar genoeg stof tot nadenke.

Helena Gunter se Die hart het sy redes sal ’n aanwins wees vir jou boekrak. Die bundel verruim boonop die kontreiverhaalgenre. Moet dit nie misloop nie.

  • 3

Kommentaar

  • Is dit in die boek dat sy verwys na die feit dat ons 'n foto in ons kop het wat die mooi in ons oorskryf? Of so iets?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top