Vyf vrae aan ons Groen Galery-digters

  • 3

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) en LitNet het kreatiewe kragte saamgesnoer om minder bekende digters se werk in die monument se Groen Galery uit te stal. Hierdie tydelike uitstalling plaas die kollig op van die nuwe digters wie se werk in 2018/2019 as nuwe skryfwerk op LitNet verskyn het. Ons het vyf vrae aan hulle gestel:

 

Daniel Manchest  Blinde geloof

Wanneer het jy jou eerste gedig geskryf?

My eerste gedig het die lig gesien toe ek nog op skool was. Dit was in 1980. Daarna het ek maar geskryf soos die bui my gevang het.

Waarmee sukkel jy die meeste, en wat is vir jou maklik?

Ek sukkel nogal om in die begin die gevoel van my gedig ten volle uit te beeld maar wanneer ek aan die gang kom, dan is dit maklik om die prentjie ten volle te sien en te skilder.

Wat het jou geïnspireer om hierdie spesifieke gedig wat gekies is, te skryf?

Dit spruit uit my kinderdae. Ek kan nog duidelik onthou watter effek die politieke toestand in ons land daardie tyd op ons as ʼn familie en as ʼn gemeenskap gehad het. Ek glo dit het ons ouers se uitkyk op hoe om ons as kinders groot te maak, sterk beinvloed. ʼn Kind glo mos wat die ouers sê. Vandaar die blinde geloof.

Wie is jou gunsteling-digters?

Adam Small natuurlik. Ook C Louis Leipoldt, en dan is daar Antjie Krog en Breyten Breytenbach.

Wat het jou laat besluit om jou gedigte vir LitNet te stuur?

Ek was op soek na ʼn manier om my gedigte met ander te deel. Toe ek sien dat LitNet ook nuwe skrywers ʼn kans gee om hulle gedigte die lig te laat sien, het ek maar ʼn kans gevat en gehoop vir die beste. Dit was inderdaad ʼn goeie kans.

 

Estelle Rubow – Ons kombuistaal, Afrikaans

Wanneer het jy jou eerste gedig geskryf?

2014

Waarmee sukkel jy die meeste, en wat is vir jou maklik?

Seker maar om net eers aan die skryf te kom na ʼn insinking, en komiese goed soos limerieke. As ek in die regte stemming is, is dig eintlik vir my maklik.

Wat het jou geïnspireer om hierdie spesifieke gedig wat gekies is, te skryf?

Dit was ʼn maand-tema by INK: Skryf in Afrikaans – jou moedertaal. Ek hou van uitdagings.

Wie is jou gunsteling-digters?

NP van Wyk Louw, WEG Louw, DJ Opperman, Ingrid Jonker en soveel as wat ek van Breyten Breytenbach kan verstaan!

Wat het jou laat besluit om jou gedigte vir LitNet te stuur?

Ek stuur nie gereeld gedigte in nie, behalwe wanneer ek voel dit is dalk die moeite werd om geplaas te word. 

 

Anzé Bezuidenhout – Meer as nét vlam

Wanneer het jy jou eerste gedig geskryf?

Ek skryf my lewe lank maar het eers in 2013 my werk vir die eerste keer vir iemand gewys.

Waarmee sukkel jy die meeste, en wat is vir jou maklik?

As mens nie rêrig ʼn tema het om te gebruik vir ʼn gedig nie is dit soms moeilik om sommerso uit die vuis iets te vat en ʼn gedig te skryf. As ek ʼn woord of iets hoor, of iets sien wat dadelik ʼn konneksie met my maak, is dit gewoonlik maklik om ʼn volledige gedig daaroor te skryf.

Wat het jou geïnspireer om hierdie spesifieke gedig wat gekies is, te skryf?

Die brande van Bettiesbaai was iets wat die hele land geruk het. Die verwoesting wat ons net op die TV-skerms en in die media kon volg, was angswekkend en ek het met my woorde probeer om iets daarvan vas te lê.

Wie is jou gunsteling-digters?

Ingrid Jonker, GA Watermeyer, Elisabeth Eybers, Breyten Breytenbach, Jan Blom, Olga Kirsch, Antjie Krog, Ina Rousseau, Boerneef, Wilma Stockenström, Petra Müller en Lina Spies, om net ʼn paar te noem.

Wat het jou laat besluit om jou gedigte vir LitNet te stuur?

Omdat die kriteria en beoordeling so straf is, is dit ʼn geweldige eer as julle van my gedigte goedkeur en gebruik. Ek voel ook dat LitNet ʼn meer openbare platform is en ek hopelik in die toekoms die kans gegun sal word om my woorde verder te vat sodat dit vir meer mense toeganklik sal wees.

 

Elize Koch – Fragmente oor die Hanekam

Wanneer het jy jou eerste gedig geskryf?

Ek het as kind reeds pogings aangewend.

Waarmee sukkel jy die meeste, en wat is vir jou maklik?

Ek sukkel om groot digters te verban uit my gedagtes en as ʼn ideaal wanneer ek skryf. As woorde en gevoel ooreenstem dan kom skryf vir my maklik.

Wat het jou geïnspireer om hierdie spesifieke gedig wat gekies is, te skryf?

Die Hanekamberg was my inspirasie en my hartseer oor ons plaas wat ons intussen moes verkoop.

Wie is jou gunsteling-digters?

Marlene van Niekerk, Rustum Kozain, Gabeba Baderoon, Hilda Smits (voor haar prys), Petra Müller. Ek is meer ʼn leser van prosa.

Wat het jou laat besluit om jou gedigte vir LitNet te stuur?

Ek skat dat mens seker gedigte ook vir ander oë skryf en dat ander se lees jou poging tot ʼn mate bevestig.

 

Christo Meyer – sorry my broe

Wanneer het jy jou eerste gedig geskryf?

Sjoe, nou neem jy my gedagtes ver terug. Ek is nie een honderd persent seker nie, maar as ek reg onthou, was dit op die ouderdom van twaalf. Die gedig was deel van ʼn brief vir ʼn meisie op wie ek ʼn ogie gehad het. Ek het die brief saam met ʼn vriend gestuur om vir haar te gee. Tot my teleurstelling wou sy nie die brief aanvaar nie. Maar nou ja, ek dink alles het daar begin.

Waarmee sukkel jy die meeste, en wat is vir jou maklik?

Die deel van die digkuns waarmee ek die meeste sukkel, is die besluit of ek ʼn gedig moet laat rym of nie. Die probleem met rymskemas is natuurlik dat ʼn digter so maklik in die strik van gedwonge rym kan trap. Lesers is uitgeslape en kom soiets vinnig agter. Toe ek jonger was, het ek vas geglo ʼn gedig wat rym het meer slaankrag en sal lesers laat kennis neem van my as opkomende digter. Ongelukkig werk die digkuns nie so nie. As ek eers daardie groot besluit oor rym uit die pad het, vloei die woorde verbasend maklik.

Wat het jou geïnspireer om hierdie spesifieke gedig wat gekies is, te skryf?

My gedig Sorry my broe is deur ʼn ware gebeurtenis geïnspireer. Dis eintlik tragies maar nes die lewe kan alle gedigte nie net vrolik en opgewek wees nie. Die gedig handel oor iemand wat ek baie goed geken het, ʼn ou skoolvriend wat net so lief was vir rugby soos ek. Hy was lief vir grappe en ek kan nie beskryf hoe platgeslaan ek was toe ek hoor hy het selfmoord gepleeg nie.

Wie is jou gunsteling-digters?

Op skool was ek mal oor Ingrid Jonker, AG Visser en veral Elisabeth Eybers se werke. Ek hou van Breyten Breytenbach se gedigte ook, maar my heel grootste gunsteling is Adam Small.

Wat het jou laat besluit om jou gedigte vir LitNet te stuur?

As onbekende digter vat ʼn ou mos maar kanse om raakgesien te word. LitNet is ʼn  aanlyn-publikasie met ʼn wye leserstal. Hierdie spesifieke gedig het aanvanklik verlore geraak tussen LitNet se hope e-posse en ek is glad nie spyt ek het na ʼn lang ruk weer navraag daaroor gedoen nie.

 

Margaret Cordier My hart

Wanneer het jy jou eerste gedig geskryf?

My eerste gedig het ek in graad 4 (ou standerd 2) op die agterkant van ʼn koevert geskryf en dit het oor ʼn boemelaar gehandel. 

Waarmee sukkel jy die meeste, en wat is vir jou maklik?

Na jare se verwaarlosing het dit tyd geneem om weer ritme te kry. Ek is lief vir organies skryf – boek en pen – en ek raak nou gemakliker met tegnologie.

Wanneer die gedig boude en blaaie lê en ek my onderwerp se woorde en sinne begin aanmekaarsit. Die vreugde wanneer die gedig “klink.”

Wat het jou geïnspireer om hierdie spesifieke gedig wat gekies is, te skryf?

Ek het My hart een oggend geskryf terwyl ek met die stukkend van die verlede gekonfronteer was. Terwyl die trane onderdruk lê in my hart, het ek midde-in die situasie na ʼn stuk papier en ʼn pen gegryp, op ʼn stoel gaan sit, terwyl die woorde net kom en ek deur elke moment van die gedig skryf – en uiteindelik innig geween het. In nie langer as tien minute nie, is die gedig gebore.

Wie is jou gunsteling-digters?

My geliefkoosde digter is NP Van Wyk Louw. Ek was bevoorreg om TT Cloete te ontmoet na sy vrou se dood. Heilige nuuskierigheid het my bewus gemaak van die wetenskap as deel van digkuns. Dawie Couzyn se Diagonaalstraat is die gedig wat ek tot vandag, ook vir kleinkinders, moet voordra – beslis een van my geliefkoosdes (ek het woordaanpassings gemaak). Toon van den Heever se Hoëveld en Eugene Marais se Winternag, wat ek voorgedra het in standerd 5, het blywende indrukke gelaat.

Deesdae vind ek aanklank by Breyten Breytenbach. Daar is briljante digters soos Joan Hambidge en een wat ek onlangs ontdek het, Carma Shaw.

Wat het jou laat besluit om jou gedigte vir LitNet te stuur?

Omdat ek baie afgesonderd leef die laaste twee jaar het ek vir ʼn paar jaar letterlik dag en nag oor alles en nog wat gelees. Op ʼn dag het ek twee gedigte geskryf en wou dit bitter graag met iemand deel. Ek het op LitNet se webwerf die e-posadres gekry. Niemand kan besef hoe oorweldigend dit vir my was om ʼn antwoord terug te kry nie. Ek voel nou nog so. Ek kan eenvoudig nie wag om my werk/siel te deel nie. Die digproses is vir my eers afgehandel wanneer terugvoering en gesamentlike vreugde plaasgevind het. Die meelewing van siele.

 

Marnus KokBlack Friday (met apologie aan Psalm 23)

Wanneer het jy jou eerste gedig geskryf?

Ek dink dit was in 2014 toe ek ʼn student was en ʼn gedig vir ʼn klasopdrag in Skryfkuns moes skryf.

Waarmee sukkel jy die meeste, en wat is vir jou maklik?

Ek skryf gewoonlik in reaksie op iets wat ek waargeneem of ervaar het. Daar gaan egter soms lang tye verby wat ek niks van waarde “vind” om oor te skryf nie, dit is seker die moeilikste.

Dat ek baie van skryf en woorde hou, is ʼn pluspunt, en maak dit in ʼn sekere sin maklik.

Wat het jou geïnspireer om hierdie spesifieke gedig wat gekies is, te skryf?

Ek wonder gedurig oor die verskillende aspekte van menswees. Dinge soos om oud te word, verskille tussen mense, teleurstelling en die foute wat ʼn mens maak, maar ook op die dinge waarop ons as mense soms ons hoop plaas. Ek het kort voor “Black Friday” in 2018 gesit en wonder oor hoe sommige mense op daardie spesifieke Vrydag omtrent te kere gaan in die winkels. Ek het voorheen Psalm 23 “gebruik” om ʼn gedig te skryf en het dit weer gedoen.

Wie is jou gunsteling-digters?

Ek moet eerlik wees en sê dat ek meer aangetrokke voel tot kortverhale. Zirk van den Berg se bundel Ekstra dun vir meer gevoel het ʼn geweldige indruk op my gemaak. Dan is ek nou ook besig om weer SJ Naudé se Alfabet van die voëls te lees. Dana Snyman se manier om na die wêreld en mense te kyk, is iets wat ek bewonder.

Wat het jou laat besluit om jou gedigte vir LitNet te stuur?

Ek het gedink die tema van my gedig Black Friday is iets wat tot baie mense sal spreek.

 

Alwyn RouxKnersvlakte

Wanneer het jy jou eerste gedig geskryf?

Dit was toe ek sestien jaar oud was, 1998 of 1999.

Waarmee sukkel jy die meeste, en wat is vir jou maklik?

Ek kom maklik op met allerhande idees vir die skryf van gedigte, maar ek sukkel baie keer om die gedigte af te rond.

Wat het jou geïnspireer om hierdie spesifieke gedig wat gekies is, te skryf?

Knersvlakte was ʼn vingeroefening na aanleiding van Edward Thomas se gedig Adlestrop.

Wie is jou gunsteling-digters?

Ek noem ʼn paar digters van wie se werk ek baie hou. Breyten Breytenbach, Elisabeth Eybers, Henning Pieterse, Marlene van Niekerk, Joan Hambidge, Heilna du Plooy, Hilda Smits, Lucebert, Gerrit Kouwenaar, Nachoem M Wijnberg, Michel Houellebecq, Juliana Spahr, Robert Hass, Rainer Maria Rilke, Edward Thomas, Theodore Roethke, Seamus Heaney, Philip Larkin, Wallace Stevens en Les Murray.

Wat het jou laat besluit om jou gedigte vir LitNet te stuur?

LitNet is een van die beste platforms op die web om jou skryfwerk aan ʼn uitgelese gehoor bekend te stel.

 

Shaun Warner – met of sonder baar

Wanneer het jy jou eerste gedig geskryf?

Ek was ʼn tiener iewers in die 90ʼs. Ek wou ʼn meisie beïndruk.

Waarmee sukkel jy die meeste, en wat is vir jou maklik?

Meestal is ek opgewonde en wil net die woorde uitkry, maar spandeer nie genoeg tyd op navorsing nie. Dis maklik om deur die opgewondenheid weggevoer te word.

Wat het jou geïnspireer om hierdie spesifieke gedig wat gekies is, te skryf?

My ma is dood toe ek twee jaar oud was. Ek het nog nie vir haar of God daarvoor vergewe nie. Die mamma-tema is ʼn deurlopende kruis.

Wie is jou gunsteling-digters?

Beslis Carma Shaw (ek sê nie net so nie) en Clare-Ann Ward. Ek geniet ook Kleinboer, Ize Ster en Alida Marais.

Wat het jou laat besluit om jou gedigte vir LitNet te stuur?                                                  

Blootstelling en ʼn kans om my literêre ambisies na te strewe.

 

Lees ook:

Persverklaring: Digkuns van die Kaapse Vlakte tot die Waterberge tot Hentiesbaai by Taalmonument te sien

 

  • 3

Kommentaar

  • Margaret Cordier

    Nogmaals baie dankie vir hierdie geleentheid LitNet, om so meer van onsself te kon deel met medeskrywers en lesers.
    Dit was ook vir my verrykend om van die medeskrywers se antwoorde te lees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top