
Fragmente oor die Hanekam
’n swael swenk en tuimel teen
die rooi aand agter die Hanekam se kuif
’n piet-my-vrou se roep vou die donker oor
die silwer spore van die kloof
my hart lê in die Hanekam se kom:
teen die golwende teerhout wat rooierig glim
en die melkhout, kershout en lepelhout wat staan
op die puntige sandsteenrotse waar die klipspringers se spore fyngetrap lê;
’n langstert suikervoël flap van speldekussing tot heuningbos
– pie-trie pie-trie –
en die noordewind kolk grimmig deur die klowe,
die wit-geel katstert dans, ’n rotsaalwyn blom
voor die rollende wolke aftuimel teen die hang;
’n donderstorm blits deur die mis.
dis die eensaamheid van die winterwind
wat in die klowe af om die fluitjiesriet huil
die somerson se hoë stil spel
waarteen die arend gly
stilte sak geleidelik om die vuur
die laaste stokke roer die pap en hurkend word die aand betrag
die voormoeders se spore
lê ingesluk deur grotte en ou stories se yl klanke


Kommentaar
Ons plaas se naam is Kammievlei! Ons woon in die stad, maar vlug naweke daarheen om presies dít te ervaar. Ek sien die vuur in my geestesoog en getuig van skilderagtige verhale wat in die vuur se hitte vertel word.
Dag Sareeta,
Leuk om te zien en te lezen hoe alles er aan toe gaat in Kammievlei.
Wij hopen ooit nog eens langs te mogen komen.
Dit is 'n pragtige gedig. Werklik goeie werk gedoen hier 😊
Laat my dink aan die goeie tye op my oupa se plaas Schickfontein.
Goeie werk en baie dankie.