Persverklaring: Digkuns van die Kaapse Vlakte tot die Waterberge tot Hentiesbaai by Taalmonument te sien

  • 1

In die aanloop tot die Internasionale Dag van Monumente en Terreine op 18 April 2019, is die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) trots om kreatiewe kragte met die onafhanklike joernaal LitNet te snoer om minder bekende digters se werk in die monument se Groen Galery uit te stal. Hierdie tydelike uitstalling plaas die kollig op elf digters wie se werk in 2018/2019 op LitNet se ‘nuwe gedigte’-blad verskyn het.

Volgens Michael Jonas, ATM direkteur, is die instelling ʼn lewende monument waar daar gedurig ʼn interaksie tussen die struktuur, natuur, besoekers en taalskeppers is. “Ons gee graag aan minder bekende skrywers, musikante en digters die kans om hul werk aan ʼn groter gehoor bloot te stel. Die meeste besoekers is nie net baie geïnteresseerd in die geskiedenis van Afrikaans nie, maar ook nuuskierig oor die taal se ontwikkeling en haar jongste skeppende gedaantes aangesien dit nuwe perspektiewe bied op die bestaanswêreld van talle Afrikaanssprekende Afrikane.”

Die tema van vanjaar se Internasionale Dag van Monumente en Terreine is ‘Landelike Landskappe’ wat fokus op die belang van plattelandse gebiede en die impak wat hul welsyn op die res van ʼn land het. “Terwyl die stedelike bevolkingstempo toeneem en in 2017 'n globale syfer van 54,82% bereik het, groei die bevolking van landelike gebiede ook, ondanks die afname in terme van persentasie-aandeel,” lui ʼn verklaring van die Internasionale Raad van Monumente en Terreine. “Dit het ʼn tweeledige uitwerking op landelike gebiede – terwyl sommige gebiede leegloop, ly ander onder menslike druk. Verder kan mens nie die ekologiese voetspoor wat die stedelike gebiede op landelike gebiede afdruk – en die veranderinge wat hierdie voetspoor op die landelike landskap veroorsaak, sowel as die gevolge vir beide die omgewing en gemeenskappe – ignoreer nie.”

“Die gekose digters woon in stede, in dorpe en op plase – van die Kaapse Vlakte tot die Waterberge tot Hentiesbaai - dus verteenwoordig hulle ʼn wye spektrum van inwoners, stedelik én plattelands, en handel hul digkuns nie net oor die natuur nie, maar ook die menslike natuur,” sê Jonas. Die 11 digters is Alwyn Roux, Anzé Bezuidenhout, Christo Meyer, Daniel Manchest, Elize Koch, Estelle Rubow, Franco Colin, Gideon C du Toit, Margaret Cordier, Marnus Kok en Shaun Warner, wat tesame ʼn wye verskeidenheid belangstellings, geskiedenisse en skryfstyle beliggaam.

Die argitek van die monument, Jan van Wijk, het sterk gevoel oor die natuur en daarom word hy vereer deur dié buitelug galery waar sy as in ’n rots ingemessel is, knus omring deur inheemse olienhout en graniet. ʼn Uitstalling van verskillende Afrikaanse skrywers word elke paar maande in dié galery se uitstalkaste van herwonne hout en glas aangebied om hiermee op die monument se kulturele én natuurlike aspekte te fokus. LitNet is ’n wyd-gerekende, interaktiewe joernaal op die internet waar skrywers hul verhale, gedagtes, rubrieke, artikels en opinies kan publiseer.

Die publiek kan die uitstalling van 10 April tot einde Augustus 2019 in die Groen Galery besigtig. Die monument, wat ook die beginpunt van die Paarl se Boomroete is, is daagliks oop van 08:00 tot 17:00. Toegang is R40 vir volwassenes, R10 vir SA studente/pensionarisse en R5 vir kinders (gratis onder ses jaar). Oudiogidse in verskeie tale asook gratis begeleide toere is beskikbaar en die monument bied ook ’n speelpark vir kinders, staproetes en ’n heerlike restaurant.

 

Vir navrae oor die monument of om meer te wete te kom oor die talle gewilde geleenthede, besoek www.taalmonument.co.za of www.facebook.com/afrikaansetaalmonument. Kontak die ATM op 021 863 4809/0543/2 of stuur ʼn e-pos na admin@taalmonument.co.za.

  • 1

Kommentaar

  • Graag wil ek net vir al die betrokke rolspelers dankie sê -- Litnet wat hierdie blootstelling moontlik gemaak het, deur my gedig te plaas in hulle joernaal, en die Taalmonument vir hierdie groot en wonderlike platvorm-- in die Groen Galery by die monument in die Paarl.
    Dit is fantasies!!!
    Sulke erkenning beteken baie vir enige beginnerskrywer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top