Twee nuwe gedigte deur Margaret Cordier

  • 14

Ontdekkingsreis

Ek het na jou kom soek.
Jou nagevors in elke boek.
Jou geboorteland deurkruis.
En op elke denkbare pad geloop.
Myself ook in die Jordaan gedoop.

In die ou stad koop ek groente en vleis.
Vanaand vier ek Jerusalem op reis!
Hier is heerlike vars kruie en speserye
– handevol halva, met dadels daarby.

Verwonderd, wyl ek waadpoot deur
die eeu-oue Hiskia-tonnel loop,
spoel ʼn enkeldiep waterstroom deur
my ougoed ashoop.
Alles word nuut in die rots se skoot.

Herbore en deur die tonnel uitgestoot,
breek by Siloam, my lewenskoord.
Momenteel deur die lig verblind,
sien ek bome, sien ek soos ʼn kind.
Ek moet aanhou soek, ek moet jou vind.

Ten laaste gaan ek na die Oliepars.
Hier kry jý my, steeds besig met spoorsny.
Jou oë is sag, die dou op jou hare vars.
Vir só lank het ek jou gesoek.
Jou naam is, Ek Is ... die Boek.

My hart

Vanoggend was ek my oë,
met die water uit jou kom
loop nou langs riviere van jare se onthou.
Talm eers aan die oewers,
van jou mond se stom.

Jou woorde is verminkte voëls.
Flaminke soekend na die son.

  • 14

Kommentaar

  • My hele wese is hierdeur aangeraak en verfris. n Gedig wat ek weer en weer kan lees met dieselfde wonderlike effek wat my telkens in die baie spesiale toneel plaas. Knap gedaan!

  • Johan Bezuidenhout

    Aangrypend. Ekonomiese woordgebruik - dra by tot diepe nadenke en impak. Doen só voort.

  • Cynthia de Beer

    Uitstekende woordspeling. Pragtige beskrywende gedigte soos net Margaret dit kan beskryf. Werklik verfrissend om te lees ...

  • Baie dankie aan almal se wonderlike kommentaar en aanmoediging met die plasing van my gedigte deur LitNet.
    LitNet weereens dankie vir julle ruimhartigheid en hulp ... ek voel so oorweldig.
    Die groter vreugde kom, wanneer ek as 'n skrywer (wat nog leer) my diepste innerlike belewenisse kan deel en dan ervaar hoe ander dit saam met my geniet en beleef.

  • Neil Du Plessis

    Baie dankie vir die pragtige gedig 'Ontdekkingsreis'. My dogter, in Gr8, het die gedig voorgedra in klas vir formele mondelinge toespraak. So beïndruk was almal, dat sy verkies is tot die span wat gaan voordra by die Eisteddfod, met jou gedig!

  • Margaret Cordier

    Beste Neil,
    Ek het vanaand eers jou kommentaar te lees gekry. Jou skrywe het vir my groot vreugde gebring, en is ek saam met julle dankbaar dat julle dogter so puik presteer.

    Dit is ook vir my 'n seën en 'n groot voorreg om op hierdie wyse deel te kon hê aan haar talent.

    Dankie vir jou kosbare skrywe.
    Vriendelike groete,
    Margaret Cordier.

  • Margaret Cordier

    Neil du Plessis, jou skrywe is voorwaar 'n riem onder die hart van my digtersbootjie! Waardeer dit baie! Baie, baie dankie.

  • Baie dankie Hennie.
    Jou woorde bou my op as skrywer en maak my dankbaar.
    Gedigte behoort aan ons almal a.g.v meelewing!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top