Knersvlakte

  • 3

na Edward Thomas

Ja. Ek onthou die Knersvlakte –
die naam – want een middag laat
het die motorkar daar opgepak,
buitengewoon. Dit was in Maart.

Die stoom fluit. Die kind sit keel op.
Niemand ry verby of kom daar aan
in dié barre streek. Wat ek aantref
was die Knersvlakte, soos die naam,

en brakbos en droë gras en sand
en stukke kwarts en vliete droog,
niks minder stil en eensaam afgeleë
as die wolke in die lug omhoog.

En vir die tyd soek ʼn valk sy prooi –
naby, en rondom hom, weerskante,
verder en verder, al die voëls
van Hardeveld en Kliprante.

  • 3

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top