
Danie van Wyk, voorsitter van DAK Netwerk, het op 9 April 2021 ’n protesoptog deur Stellenbosch se strate gelei om DAK se verontwaardiging met die Universiteit Stellenbosch (US) se taalbeleid te kenne te gee. Tydens die geleentheid het David C Jantjies ’n gedig voorgedra. Hier onder deel hy die gedig met LitNet se lesers.
Taalverkragter
Wie is jy wat kiertsorent in die kampus-ivoortorings sit
Wie is jy wat Engelsbeneweld in die ’Bos se eikelanings af korrel
Jy wat met jou grys suit en groot slap voertuig
Agter afstandbeheerde garagedeure invroetel
En binnedeure laat toeklik om in te sluip
Na jou drakoniese lessenaarbed
Waar jy jou wandade beplan en voltrek
Op rekenaar en tablet
Bekonkel jy uitsprake en beleid
Maak jy drakonies wet wyd en syd
Jy! Ons praat Afrikaans
Verloopte taalverkragter
Vat die N7 hier op saam met my
Ek en jy kan Weskus, Boesmanland
En Namakwaland toe ry
Dan gaan sê jy vir Ta’ Lienkie
Of nog beter, gaan sê jy vir Oom Raakvat
Hulle se meistjint wat nou net by jou kampus aangekom het
Ragel Tryntjie van Nababeep
Daaise tjint issie welkom nie
Aangesien omdat want sy nie Ingels kan praat nie
Al wil sy ook hoeka graag
Jirre, Duusman, jy hoort mos te weet
Is jy dan ene Rip van Winkel?
Hoe het jy dan nou so terstond
Jou se wortels loop staan en gevertjeet?
Jy! Onse mense die praat Afrikaans
Verskimmelde taalverkragter
So kan ons trek deur die Richtersveld
Ons kan gaan deur die ganse Noord-Kaap
Ons kan loop draai gooi in die Groot-Karoo en die benede-Gariep-platteland
Dwarsdeur die ganse Tsitsikamma en die Oos-Kaap
Af deur die Klein-Karoo en die Langkloof
En skuins af met die Tuinroete
Tot laag in die Overberg
En kom sommer weer slap terug
Kom oor die Ruggens Boland toe
Ek los nou net gou eers al die ander uit
Maar weet dié moet jy weet
Hooggeleerde onkundige
Die Bruinmense van onse land
Ons is Afrikaans!
En met jou kwaadwillige taalbeleid
Is jy besig om ons al weer
Kantlyn toe te marginaliseer
Jy! Ons praat Afrikaans
Vermetele taalverkragter
Jy steek jou eie ma se taal in die rug
Jou moedertaal; ons moedertaal
Jou geboortetaal; ons geboortetaal
Jou grootmaaktaal; ons grootmaaktaal
Jou onderwystaal; ons onderwystaal
Jou godsdienstaal; ons godsdienstaal
Jou kuiertaal; ons kuiertaal
Jou singtaal; ons singtaal
Jou droomtaal; ons droomtaal
Jou pêlletaal; ons pêlletaal
Jy! Ons praat Afrikaans
Verdomde taalverkragter
Kô laain saam my narie Cape Flats
Kô luiste narie taal vannie mense
Kô luiste wat klap soe deurie venste
In ôse blikhuise en wendies
Hie af al langsie pothole-straatjies
Wasgoedwaterstroompie slingerpaadjies
Kô luiste in ôse backjaats
Om al ôse hoekies en draaitjies
Ôs is rêrage mense
Mense met genuine basic human rights
Soes om innie taal van djou choice
Te chroen en te wheetie
Soes om in djou moeretaal te starrie
Sône om oor ’n high en mighty taalbeleid te worry
What kaain? What kaain?
Djy! Ôs whietie Affiekaans
Simpel taal-rapist
Hoor nou die geruis van die dreigende protes
Hoor nou die voetval van beneukte studente
Luister na die gedreun van hoogs beduiwelde ma’s en grommende pa’s
Uit die stad uit die townships
Uit die Kaapse Vlakte
Hulle kom uit die groot dorpe
Klein dorpies, valleie en plase
Dít het jy ontketen
Met jou pynigende taalbeleid
Skraap dit nou
Laat los Afrikaans se strot nou
Spyt kom altyd te laat
Gevolg deur berou
Jy! Ons praat Afrikaans
Bedremmelde taalverkragter
Staan op vir jou taalreg, skrywer en digter
Staan op vir jou moedertaal, Departement Afrikaans-Nederlands
Staan op vir jou taal, Senaat-, Konvokasie-, Universiteitsraadlid
Ons kinders wil steeds in hul moedertaal studeer en sing en praat en bid
Dosente, studente, akademiese produsente, intellektuele elemente
Staan op Afrikaanses met rande en sente
Staan op, Matie, oud-Matie
Staan op, Afrikaanse taalliefhebber en multilinguis
Draai die krane van misnoeë wyer oop
Swiep en swaai, trap en tred met kragtige kopknikke en onweerlegbare argumente
In elke koshuis, in die lane
In die Neelsie en in lesingsale
Laat stortreën die Afrikaans-gelaaide wolke met Khoi-donder en Fondasienasie-bliksemstrale
Jy! Ons ... ons ... ons ... ons dala Afrikaans
Vervangbare taalverkragter
-
Hierdie gedig is by die DAK Netwerk se protesoptog voorgelees.
Lees ook
US-taaldebat 2021: Die taalkwessie aan die Universiteit Stellenbosch



Kommentaar
Dankie, David C. Jantjies vir hierdie uitsonderlike gedig - trots Afrikaans, 'n nuwe stukkie historie, 'n nuwe byvoeging tot 'n staan-my-man-kultuur.