LitNet het lesers gevra om ’n gedig met tyd as tema te stuur, om in aanmerking te kom vir een van drie kontantpryse.
Meer as 300 uiteenlopende inskrywings is ontvang en die volgende 15 gedigte verskyn op die kortlys.
Baie geluk aan die volgende digters!
(Die digters se name verskyn in alfabetiese volgorde.)
- André Rossouw
- Corlietha Swart
- Eunice Basson
- Gisela Ullyatt
- Jadrick Pedro-Koopman
- Jaomi Zeeman
- Jeanne Henning Els
- Jennifer Pape
- Johan Kotze
- Lynthia Julius
- Mariana Loots
- Marius Boonzaier
- Renaldo van der Merwe
- Rethabile Sindi
- Ronel van Schalkwyk
André Rossouw
Toe ons nog kinders was
Onthou jy nog daai tyd
Wegkruiper op die werf
Donkerkamer en blindemol
Oupa wat met lekkers bederf
Die warm beesmis in die sand
Kruisbandjies om jou broek bo te hou
Die spanriem wat oor jou boude brand
Ma wat toebroodjies in ’n lappie toevou
Die baklei oor ou Mieta se vetkoek
Bangmaakstories in die hoek
Ai en die biltong in die kas
Diep weggesteek in ’n tas
Pa se sakkie pruimtwak
Ons moedertjie se varsgebak
Pampoene op die dak
En agter die deur 1945 se almanak
Corlietha Swart
Oordeelsdag
Agter die ou kerkhofmuur
tel geen sekonde, minuut of uur.
Marmerversteende engele wag
– soos ons almal maar –
ademloos op die Oordeelsdag ...
Eunice Basson
Almanak
Agter ’n kamerdeur
hang die apteek-almanak
oorvol onsigbare gedenkdae
waarvan net sý nog weet:
háár troudag, feestelik,
maar sestig jaar gelede;
verjaarsdae van ’n man, nou dood
en kinders die wêreld oor.
So sit sy dagin, daguit, soms
met haar hande in haar skoot
maar steeds word dag en datum,
waarvan net sý weet,
jaarliks op die kalender aangestip:
geboorte van ’n baba aan wie sy
slegs die dood kon skenk.
Gisela Ullyatt
Sy kweek rose
Sy kweek rose,
vandaar haar sondeurdrenkte vel
haar hande baar ’n snoeiskêr
lewer-gevlek, haar drome.
Haar internis
knip obsessioneel sy oë
sy selfoon, ’n metastase van geraas
sy frons, ’n ingekeepte gebed.
Die dag verbleek
soos ’n iceberg-roos:
uit die linnekamer
word ’n nuwe laken bestel.
Jadrick Pedro-Koopman
Tydloos
Nog voor die tyd
van ’n naaimasjien
toe my ouma nog
sonder ’n bril
kon sien
was ek netjies
gelap
en toegestop.
Doeke, dekens en doilies
o ja en ’n lappieskombers
was alles gemaak
in die lig van ’n kers.
Nou, jare later
kook ons nie
meer water
in ’n ou paraffienblik
maar kry steeds
dêm swaar
want die Here
het ouma se
draad kom knip.
Jaomi Zeeman
Die oond
Wimpers skroei as
die warm deur oopgemaak word om
die baksel te bekyk.
Wat groen koring was
staan uitgerys
tussen die elemente,
klein krakies wat op die bokant
uitstulp
: die resultaat van ’n gemaal en -meng,
van kundige kniewerk.
Hier en daar
met ’n toetspen prik,
dan met ’n doek toemaak –
die stapelvoedsel
vir nog
’n maal.
Jeanne Henning Els
Seisoene
vroeg reeds
met die eerste kreet
van haar lam nog onvas op sy bene
weet die moeder
sy spoor word klaar gevat
eers rats van sprong
deurstaan hy die vuurdoop
tot die jagter hom inhaal
die verweer teen seisoene
verstreke
Jennifer Pape
Die laboratoriumassistent
Sy neem tyd waar
in die verval van isotope
’n komplekse proses wat die halflewe van U238 na Pb206 meet
deur ’n periode van ongeveer 4,4 biljoen jaar
tyd
wat in die ouderdom van die aarde,
komete en sekere meteoriete beaam word
en haar beter laat voel
oor die ry mislukte proefbuise
waarin skaars sirkoonkristalle
na ’n tydsame ekstraksie uit graniet van 51 dae
geen resultate opgelewer het nie.
Johan Kotze
Plekkie innie son
Daar is tyd om klippe op te tel
meneer
om vuis te bal en smeek vir aandag
sodat ons nie elke nag
hoef te vrees vir skote en wonde
waar ons skreeu met monde
wat hees is van moed'loosheid
net om ’n plekkie innie son te kry.
Daar is tyd om klippe neer te gooi
en almal uit te nooi
om saam te dans en op te skuif
want God se son is groot
meneer
ons kan almal deel hê in sy gloed
Lynthia Julius
Om te wag op ’n niks
Daar sit g’n kuns in wag nie
in niksdoen nie
in werkloosheid nie
dit kom vanself
en as die letterkunde
die woorde
die punktuasie jou verlaat
sit jy met ’n bord geroerde weemoed
’n glas what if’s
nagte sonder vriende
met stil dosente
antwoorde wat teleurstel
ure van niks anders as tyd op hande
Al wat dan oorbly is die
50mg Lamotrigine in die oggend
75mg Lamotrigine
200mg Lithium
10mg Citalopram
3mg Risperidone
en 10mg Amitriptyline – in die aand
en die vanself wag op dinge wat nie kom nie
die vuiste
vuiste vol tyd in jou hande.
Mariana Loots
lotsrivier
lustig kalwe jy
aan lyf en landskap
soos jy aan- en aanstap
al-heel-tyd
’n rots word gruis
wyl die stroom draai en dein
doelvas langs die grein
van ’n god
noodwendig
wen jy af maar voort
oopmond tot teen die poort
verby is eb en ty
Marius Boonzaier
Winter
Wanneer die Winter se uurwyser Suid slaan
en die son die horison met oranje belyn,
wil ek langs jou bly
sit tot die vuurtoring se geflits agter die grys verdwyn
en kyk hoe vissermanne met kopligte die see
onbewustelik in ’n onderstebo hemelruim omskep,
waar ons toe oë kan dryf
tot die dag ons kom haal.
Renaldo van der Merwe
’n Dag in my skoene
Ek dink steeds aan jou in die oggend wanneer ek opstaan
net soos gis'traand toe ek lê en uitkyk na die maan
Ek kyk of jy dalk al online was,
ongesiens bly ek jou heeltyd oppas
En deur die dag bly goed my aan jou herinner
baie keer dieselfde dinge as gister
Soos die merkie op my arm
van die keer toe jy sê ons ewig vriende kan wees
die bloed wat uitgeloop het, was warm
Ek wens ek was daar, al is dit in gees
die dag gaan verby en my foon
maak nie die notification
van jou naam langsaan ’n kroon
Ek weet al klaar
jou dag was so besig
dat jy nie kon praat nie, maar
vanaand laat, lê ek weer op my foon
in my oë skyn die skerp lig
terwyl ek na ’n foto van jou kyk
Net voor ek gaan slaap, maak ek seker jy's oukei
en wanneer jy sê hoeveel jy my waardeer
voel my hart weer vry
maar slaan dan weer neer
wanneer ek agterkom
– dis as vriende
wat jy ons pad wil stap
Rethabile Sindi
A new beginning
Time to stop xenophobia.
Time to let me wear my black skin with pride.
Time to have pride in my dreadlocks,
because that’s the only crown I will ever wear.
Time to hear the rhythm in the click of my Xhosa.
Time to stop measuring the voice of my soul,
because I was born black, curvy and proud.
In a world like this there is no time to waste on pride
because I am
Black Magic ...
Ronel van Schalkwyk
Die kortarm bly op tweeuur staan
ouma se bedford-muurhorlosie
lê verwerp in ’n coca cola-krat
verniel in die klam skadu van ’n
uitgerafelde persiese mat
waar ek eens met my stomp vingers
krulletjies kon teken
en my eerste lomp treë
op egalige slae kon bereken
nou is dit weggesit vir g’n beter dae
en rotte maak hulle nes in die klop van my vrae
die ritme is weg
haar drome vir my stom
die aangeplakte goue arm van haar knielende figuur krom
Lees ook

