Tyd-skryfkompetisie: Inskrywings XI

  • 0

Hier verskyn die elfde lys inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Tyd" ontvang is. Drie kontantpryse van R500 elk is op die spel. Die kompetisie het reeds op 26 Oktober 2018 gesluit.

Inhoud

Olinka Smit
MA Jonker
Minette Ferreira
Mariaan Taljaard
Marianne Buys
Ben Abbott
Anke van der Merwe
Louis Cilliers
Myni van Zyl
Nelis Brink
Jemima Meyer
Corlia Pretorius
Werner Wehmeyer
Naude Avenant
Renée van Niekerk
JC Alderson
Monique Simpson
Bonita Durand
Dwayne Vorster
MS Burger
Wentzel Lombard
Marié Koekemoer
Coenraad O Scheepers
Martin T Laubscher
Sybrand B Harris


 

Olinka Smit

Vrydagmiddag verhale van verlange

met die ego van jou naam,
raak ek opeens teruggetrokke en skaam
met jou oë soos skitterende skaterlae
so geheimsinnig soos die kantel van die maan.

waar die onskuldige skape van liefde wei,
lê my siel verpletter versprei
gemengde gevoelens en tekens kasty by my
waar in die lewe het jy jouself aan my hart vergryp?

neem ek ’n teisterende teug asem,
met my geheim oor jou so swaar soos Tien Ton
omdat jou wese sonder einde sagmoedig straal soos die son
jou liefdeslas lê gesement op my sukkelende skouers soos ’n butte van beton
en jou stilte bied my siel ’n lafaard se liefdesvonnis.

so ek skryf maar vir jou ’n patetiese liefdesbrief
en beaam om my gemoed te verbind met die positief.

ek weet nie hoe jy sal reageer,
ek hoop my boodskap kom duidelik deur ...


 

MA Jonker

Ruimtes tussenin

blink is die melkweg
en donker die maan
onafgebroke die tyd
wat langbeen staan

swanger die volharding
van die nag se getaan
in tussenruimtes wat
geruisloos vergaan

wat ’n vertraging trek
deur laaie van die hart
en flenterdinge bring,
in tyd roerloos verstaan

’n gedaante vertroos
die innerlike gestalte
van bloed se begrip
die lig in tyd gebaan


 

Minette Ferreira

Nie ons beurt nie

Een Donderdagmiddag in Mei
het jy die reis begin deur die doodsvallei.
Net jy alleen op die donker pad,
ek wens ek kon dit saam met jou stap.

Daar sit ons hand-aan-hand
en glo die heelal is wel aan ons kant.
Soveel hartseer, verspeelde tyd,
terwyl ons mekaar probeer slyp het.

Vir ewig was net ’n droom,
’n liefde wat woed so teen die stroom op.
Ek sou alles gee om jou te spaar,
selfs net vir ’n oomblik, 
net vir ’n jaar.

My hart voel nog steeds verbrand,
soos die droë, dorre, verwoeste land
waar jou siel homself bevind het
voor jy jouself aan my gebind het.

Vir ewig was net ’n droom,
’n liefde wat woed so teen die stroom op.
Ek sou alles gee om jou te spaar,
selfs net vir ’n oomblik, 
net vir ’n jaar.


 

Mariaan Taljaard

Wysheid in die wedloop

Horlosies pronk teen mure
tik tok, tel  af die ure
tyd skree luid uit alarms
pronk in silwer en goud aan arms

Wie is die vyand, jou baas?
die wyser wat na herfsjare jag
geen genade in tyd se gang
na ’n ure-stilstand word sterk verlang

Jy kan tyd nie keer
tyd kan jou verrinneweer
gebruik sekondes met wysheid
moenie ’n wedloop jaag na grysheid

Tyd staan stil slegs in ’n graf
waar jy nie meer na rykdom draf
skenk liefde, skenk tyd
loop deur ure sonder selfverwyt


 

Marianne Buys

Die Uurglas loop

Tussen Nuwejaar en Oujaar
lê daar spore getrap, 
vlietende oomblikke van vreugde onthou.
Swaar tye wat oneindig bly dolwe soos golwe teen rotse in die see.
Soms, net soms, voel dit of die Uurglas stilstaan,
net om weer meedoënloos voort te beur.
Sekonde na sekonde
Minuut na minuut
Uur na uur
Die ewigheid in.


 

Ben Abbott

Welkom, Meneer

Meneer
Luister jy dan nie?
Ek sê
Die tye het verander
Noem my maar moffie
Dit maak jou kleiner
En nie my in my rok nie
Wat is dit op my naels daai?
Wil jy blykbaar weet
En ek omdraai
En sê
Dit is glitter, meneer
Daai blinkende blou soort
Die enes wat my herinner
Dat ek dalk
Eerder in die see hoort
Aaah, die ongemaklike gelag
Soos nou die dag
In die besige straat
Jou gesig deurmekaar
Ek kon sien
Jy probeer verstaan
Waar pas my baard
Nou eintlik die prentjie in
O, wee
Wat het geword
Van die wit Afrikaan?
Stadig maar seker dood
Of so
Kan ons maar net bly hoop
Want sien, meneer
Die tyd is nou
Ons het uit jou foute geleer
Hier is liefde vir almal
En dan net
’n Bietjie meer


 

Anke van der Merwe

Oorstromings

Hoe sê jy vir jou ouers dat jy al jou eie lewe wou neem
Die lewe wat hulle so hard aan gewerk het om te skep
Is dit dan hulle skuld
Mens blameer sekerlik die kunstenaar vir die gechipte sement
Die reën en wind kon dit egter ook gedoen het
So is dit dan my skuld dat ek hang aan ’n garingdraadjie wat beslis al eintlik ’n paar keer gebreek het as ek nou moet eerlik wees
Tog kom die maan en son weer op
Die wêreld gaan aan terwyl elkeen van ons eie wêrelde uitmekaar uit val
Hoe sê jy vir jou ouers dat jou wêreld oorstroom het
Nie eers Noag se ark kan my red nie


 

Louis Cilliers

Tik Tik Tik

En nou
Net ek
Partykeer hierdie woorde
Partykeer die see
Heeltyd
Die getik tik
Aanstap
Voor die dag verby is
Voor my hart
Die pad
Die voordeur uit volg
Tussen die golwe deur
Verder
Weg
Miskien saam die walvisse
En ek werklik
Alleen hier bly sit
Oë wat wag
Vir iets
Om voor moeg te wees
Versigtig
My skat
Voor jy jouself weggee
Of hou die strokie
Altyd
’n Ge-omruil
Nie genoeg nie
Dalk net te veel
Hande stywer
Om sy keel
Spoeg vir my die woorde
Sodat ek kan weet
Dis wat jy bedoel
Soos ek hulle
My gesig afvee
Ek die briefie
Op die agterdeur los
Moenie vir my wag nie
Op die tafel
Die koue, koue kos
Genoeg van hierdie
Tik tik gemors


 

 

Myni van Zyl

Kies tyd vir my

Vind vir my tyd my lief
Vind tyd om vir my woorde aanmekaar te string
Spontaan eerlike woorde soos van ’n kind
Woorde wat vir my hoop en vreugde sal bring
Woorde wat ons aanmekaar sal bind

Maak vir ons tyd my lief
Maak tyd vir ons om herinneringe te bou
Herinneringe wat tyd en afstand sal troef
’n Band wat my aan jou vas sal hou
Op die hoogste berg en in die diepste groef

Spandeer tyd saam met my my lief
Strengel jou vingers deur myne en kyk lank in my oë
Eet saam met my draairoomys op ’n Kaapse strand
Klim skelm saam met my ’n koppie in die Groot-Karoo
Wandel saam met my langs ’n rivier in ’n vreemde land

Gee vir my tyd in die dag my lief
en gee vir my tyd in die nag
Laat my deel aan jou elke dag se werk en doel
Woel my veilig in jou arms toe as ek oorweldig voel
Verklaar en stoom jou liefde aan my in die helder dag
Gesels en teug saam met my rooiwyn dwarsdeur die nag

Kies tyd om ons hoop te bewaarheid
Kies tyd vir ons
Kies ons
Kies my


 

Nelis Brink

Tikke vir jou

Die tikker wag en sê ek moet kom,
ek wag vir die tikker maar hy lyk gegom.
Dis ’n vinnig-langsame dans tussen ons.
Die tikker bring reise en dae vol genot,
ek bêre my verlede in die tikker se grot.
Hoe salig die wete dat die tikker nooit stop.
Vir jou sal ek maklik my tikke leen,
in drome loop al my tikke daarheen.
Smoorverlief wil ek lag in die reën.
Alles wat kosbaar is marsjeer op ’n tik,
jou hart in my hande laat my tog skrik.
Hoe warm-kat lekker die saamwees geluk.
Die tikker dra statig sy swart manel,
altyd betyds vir die volgende stel.
Ek word sagkens herinner dat elke een tel.


 

Jemima Meyer

stage

we evolve freely
in circles revolve
around the next
figure we wear
ourselves wear off
tick tock tick off
against the clock

necks flex we watch
suns and stars far off
all the heaviness
of heaven press
us to the centre
we fly fluently
glued to earth

it makes God tick
to watch us around the clock
He doesn’t wear
a watch


 

Corlia Pretorius

Broken healing

Time
Lovely thing it is
Healing my past
Shaping my future
Hoping my happiness will last
Held together with a suture

Past
Last time this year
I was mentally dead
Wanting to kill myself
Hatred brooded inside
Everything beside good health

Present
No more atrocious thoughts
Love blooms within me
I am neither sad nor broken
Everyone can see
That I have awoken

Future
Hoping for more love
I don't know what it'll bring
Multiplying laughter
Praying my heart will sing
A song of happy ever after


 

Werner Wehmeyer

Ad infinitum

Sy aardse sand
het lank reeds uitgeloop –
in
“Can’t Help Falling in Love”
saam met
“Love Me Tender”
waar liefde oneindig is.

Sy as gestrooi
oor lirieke van
“Rocky Mountain High”
verby wolke waar
sy eie “Annie’s Song” eggo
in ritme met tyd

Daar waar geliefdes
vol lewe mekaar besing,
speel “Strangers In the Night”
steeds oor ’n radio,
en sy hartklop verewig
voortleef in harmonie van
“My Way”
se rustigheid.

Tyd is ad infinitum (musiek ook).


 

Naude Avenant

Was dit sy droom

Fetale alkoholsindroom, was dit sy droom?
Hy was gebore in ’n klein Karoodorpie,
waar arm en ryk mekaar nie ken nie.
Sy ma was altyd daar gewees,
maar ook altyd dronk gewees.

Fetale alkoholsindroom, was dit sy droom?
Sy ma was tog lief vir hom,
maar die meeste van die tyd was sy om.
Was sy altyd daar vir hom,
of het sy met die bottel omgekom?

Fetale alkoholsindroom, was dit sy droom?
Ma was weer om,
en iemand het haar met ’n lem bygekom.
Hy wonder sou sy darem by die Hemel uitkom?
Tog het sy nog die bottel om aan vas te hou.


 

Renée van Niekerk

Ons almal se buurman

’n Skisofreen met die illusie
dat hy alles beter kan maak.
’n Verlore siel wat nooit sal ophou om
sy vloek
oor ander uit te spreek nie.
’n Vasgegrendelde gevangene gebonde
aan die mens se abstrakte klassifikasies 
wat ("toevallig") sy naam deel.
Hy is almal se buurman.
Die een wat sy wysers vinniger laat tiektiektiek as jy hom net ’n bietjie anders aankyk.
En niemand wil dit weet nie,
maar die buurman hou ons tyd in sy hande.


 

JC Alderson

Op die stasie

Treine trek stadig verby
Staan alleen …
wag ...
Kinders gil, lag, hardloop
noem jou tannie en vra jou die tyd
Wind waai die klere teen jou lyf
ruik die koue ... die winter wat kom
en die volgende trein nader die perron


 

Monique Simpson

Is dit nag vir my?

As die wyser op twaalf uur sou staan
Sou dit vir my nag wees?
Te laat om weer terug te keer?
Diep, donker denke, asof ek my kennis ontvang uit
die soortgelyke boek as wat ’n agt lees …

kyk hoe word die jongspan gepenetreer
Moederaarde sluk my in
Soms wens ek almal pas in die skoen van ’n Beethoven
sodat die onreg nie soos musiek vir die ore klink,
maar hoe doen ons dit deur die oogappel van ’n Stevie Wonder?
ek sê die regering maak my nasie blind

dit wys maar net hoe het tyd verander
hoef nie meer ’n pennie uit te haal vir ’n kondoom,
maar ’n kondoom haal dit vir my uit
ek kry ’n tienermoeder jammer

die maak seerder as ’n dolk deur
’n borskas
seerder as die vyand wat grimeer
en daarna dit van die gesig afwas

maar wat as ek van die twaalfuurwyser vergeet
en net ’n uur afwag
’n hartseer nasie van hul pyn vergeet
“GOD DRAAI OM ’N UURGLAS”


 

Bonita Durand

geveg

ek hoor jou
in liedjiewoorde
wat
voel so reg.
rym my wese
met beloftes weg.
wie
sing my sorge
met eie wysie eg?
wil
deur drange en drome
aanhou veg.

ek sien jou
in gedane dade
wat
voel steeds sleg.
vergeet, vergifnis?
met tyd weer reg.
wie
vat my hande
in liefde weer vleg?
wil
deur doen en late
ophou veg.

ek onthou jou
in goeie lekker tye
wat
voel steeds eg.
onthou, herinner?
met tyd nou weg.
wie
verryk my lewe
in teenwoordigheid so reg?
wil
met vors en vrede
nog steeds, aanhou/ophou veg.


 

Dwayne Vorster

’n Ope brief aan die bestuur

Definisieloos in relatiwiteit.
In die perspektief van ’n leeftyd, verklein jy my kinderjare met gesprekke van ligjare en die ouderdom van ’n ster.

Konstante klokke beklemtoon jou kosbaarheid
Te veel tyd kweek eksistensiële selfverwyt
So ek bly in jou arms
Stel elke oggend twee alarms en voel hoe jy my stywer druk met elke skepping van asem.

Beloftes van geleentheid onthul as geleende tyd.
Ons prioriteit op verantwoordelikheid
’n Plek gedek by die kindertafel vir onvoorwaardelikheid.
Vir ure lank was ek jonk, in sekondes het ek oud geword.

Ek besef jou rol is mensgemaak.
Die sondebok van die heelal.
Perfekte verskoning vir my passiewe benadering tot lewe se potensiaal.
Ons wanbegrip word jou las.
Soos die woord van God word jy verdraai om ons te pas.


 

MS Burger

Spertyd

Soms is ’n biljoen jaar nét te lank. Daardie laaste sekondes
wat om plasma bly draai, kosmiese vlieë in gister se sop.
Veral as jy gebore is in die nag, onder die konstellasie van
’n kat se poot en ’n mank vlermuisvlerk,
kan jou ster nie nóg druk hanteer nie.
Alles word te veel. Te swaar. Te dig.
Gasse en asems in ’n mikrogolfoond,
’n wind wat vanaf die noorde kook –   
die nukleus swig onder sy eie gewig, die breinstam knak,
’n hart sak inmekaar.

Waarheen het die tyd tog gegaan?

Elke dag, agt minute ná sondondergang,
sien ’n mens die son asof dit nog daar is. Vir ’n oomblik
kan ’n mens terugkyk in tyd, en sterre word spoke
wat probeer keer, en huil oor ’n tyd
wat nog moet gebeur.


 

Wentzel Lombard

Tussen toe en nou

Ek was in Sandton
Tussen al die mense met die bevrore gesigte in
Ek was saam met vriende
Vir ’n aand by die teater
En ons was by die restaurant
Jy ken hom, die een waar ons daardie aand gesit het
Toe jy my vertel het hoe mooi ek was
En hoe gelukkig jy was om iemand soos ek te hê
Ek was in die teater
Waar jy jou hand op my been gesit het tydens ’n afspraak met Fiona Ramsey
Maar vanaand sien ek vir Harold Pinter en niemand hou my hand vas nie
Orals om my sien ek hulle
Jong geliefdes en minnaars
Jy het in jou gebroke Afrikaans gesê ek was jou “lover”
En ek onthou dat daar wel ’n aand bestaan het toe ek joune was
Maar, my lief
Ek het nog altyd geweet
Ek is eintlik net
Myne


 

Marié Koekemoer

Vandag

Mens – weet jy wat môre bring, gister is verby,
deel van ’n verlede – gesê, gedoen, gely …
Geen moeite wat ons by kan bring
kan gister weer terugvind.
Net in jou stil gedagtes sal jy jouself kan bind –
aan gister se verledes, om sielerus te vind.

Maar vandag is steeds nog met ons,
die haas die lag die pyn …
Die beste van die gisters sal in vandag verdwyn.
Leef dan net vandag weer
Asof jou laaste keer …
Maak reg uit die verledes – keer so die pyn en seer!
Leef voluit leef net beter – leef sonder om te kyk
na foute uit verledes – word so daaruit net wys!

Daar lê nog net die môre –
’n onbekende dag …
Jy weet wat jy wil hê dan,
jy weet wat jy wil sê …
Maar more kan dalk nooit wees
– die onbekende dag …
Daar kan nou niks verander want more lê te ver …

Maar vandag is steeds nog met ons,
gisters het verdwyn.
Haal die beste uit vandag weer
en laat jou sorge kwyn!


 

Coenraad O Scheepers

Relatief gesproke

Soos warm heuning of soos Harmansdrup,
soos toffie of soos stroop ...
(kan aalwyn bittersoet wees op die tong?)
Soos water onder deur die brug,
’n wolk wat wegwaai voor die westewind,
soos reën wat val en grond verkwik –
die pyltjie van die entropie wys altyd chaos toe.

Denke kan jy nie met hande keer nie,
bloed wat uit ’n slagaar spuit

nie met trane koaguleer nie,
of die lewensgang verander
deur te murmureer nie.

Soet of bitter,
snel of slak,
alles bly steeds relatief:

Mensgemaak

Persepsie van jou psige

Stigtend of verwoestend

Sonder sweet en moeite gaan dit alles weer tot niet.

Filosofies: NIKS in retrospek.

Gedagtes, denke, doen en late:
oor ’n eon alles niks ...
(hoewel Einstein sou wou redeneer
dat tyd juis altyd ál is, wat in álles is).


 

Martin T Laubscher

Snel

Ek merk
kraaipote langs my oë
Dis tienuur
tien jaar terug was ek ’n eerstejaar
bietjie meer as dieselfde duur
en ek's veertig.
Ek onthou Pa se veertigste
Ek was sewe en
almal het nog
gelewe:
Ma se ma en pa
Pa se boetie en sussie
Nou's hul nie meer hier nie
dis al vieruur

Vier-en-twintig
Was vir my ’n krisis.
Dik, werkloos, ontnugter.
Met die lewe
tyd gemors,
op die lewe gemors
verlede gemors
Toekoms verspil

Draai die wyser terug:
Druk reset
Verloor gewig.
Ongeset
Oorbegin
Herverbeeld

Wegtrek, nuwe mens, nuwe lewe
so dink ek in elk geval

Dertig om die draai
sielkundige syfers
gespook deur
ewige wysers

Platteland in die truspieël
Malle stadsgemaal
Kaapstad maak my

mal in die kop
verkeersknope
moorde, bergies
beeldskone
berge en golfies

Soms voel ek
soos ’n swerwer en
soms mis ek
groot erwe.

Steeds kraaipote langs my oë,
dikwels erg bewoë,
maar gou maak,
voor ek grys is
iemand weer dood is
tyd suiwer lood is
wat jou diep laat sink
Dit wat swart is, kan gis
Alles verlore is in ink.


 

Sybrand B Harris

maand stonde

geleef is die metropoolribbekas
teen die tiende maand
iewers moet die stad uit-
asem moeg geleef
geïnspireer aan die smorende
gang van ons mense

Oktober dan
die gekose sabbatsmaand
waarin die stedelike sug
haar pers asem oor ons erflatings blaas
ons bloei terug uit die stad
se long uit in pers gevalle strate

maar sy verstik nie
sy gee geboorte aan
Instagram-stories en
dinee-foto’s en
minder groen grasperke en
genoeg tyd vir iemand om te besef
dis eintlik haar vroulikheid waarin ons
rond-
kom
en huise bou

twaalf liefdelose maande sal haar nie kan bevrug nie
(begin weer by reël 1)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top