Tyd-skryfkompetisie: Inskrywings IV

  • 0

Hier verskyn die vierde lys inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Tyd" ontvang is. Drie kontantpryse van R500 elk is op die spel. Die sluitingsdatum is 26 Oktober 2018.

Inhoud

Dirkie de Villiers
Willem Verhoef
Louise Boshoff
Wanda Miles
Hannes Piek
Janie Davel
Drienie Kelly
Callie Vermeulen
Leoni Cronje
Yolanda Wessels
Sunita Keyser
Suzette Strydom
Hannes Coetzee
Magriet van Wyk
Aubrey Seigels
Mia McDonald
Andre Rossouw
Marlené Veldman
Christo Meyer
June S Fisher
Marethe Grobler
Susanna Moolman
JM Cornelius
Benito Trollip
Mariette Middleton


 

Dirkie de Villiers

Die oorlosie

Jy kyk in my gesig
soos ek in joune
wat is die boodskap
wat jy so uitkap in my lewe?


 

Willem Verhoef

Hede of verlede?

Voor jou sal ek buig
al wil ek soms juig
omdat jy dit kan steel
wat ons nie wil deel.


 

Louise Boshoff

Kleinvlei

1.

Jakkalsvoël hurk tussen skouers in
bespied die gras en elke ritsel
totdat
hy rats en raak
’n muis, akkedis of rot
uit die vaalbruin hulsel raap.

2. 

Watter hand het hier sipresse
teen die lig kom plant?
Sodat die lig grys takke
slank vingers in groen handskoene
inpas en welkom wuif
langs die oorbekende pad?

3.

Kindertyd speel ons met die goudbruin kinders
in die teewater van die kloof,
leer van paddavisse, dassiejag en voëlroep.
Met die wegry groet hulle verleë by die plaashek
wie weet hoe ver die Transvaal nou lê
wie weet hoeveel myl die kraai moet vlieg
na daardie veldverlate plek?

4.

Kersfees gaan ek na Fremersheim
sing skouer aan skouer:
You are Welcome, Stille Nag,
Amen, Amen.
Steeds moet ek vort – Noord
hierdie sange ’n skariwee
wat saamsleep.

5.

Tannie Hester wou so graag ’n jakaranda sien
toe ry pa ’n boompie aan,
nou druip die skaduwee van daardie boom
pers koelte oor die werf –
leun oor na waar Hester Boshoff in die hoek
van die begraafplaas uitgeplant lê

6.

En ek staan by die grafte van oupa en ouma,
huil totdat die trane sout in mondhoeke lê –
die berge kantel steeds so blou,
die opstal staan steeds stok-stokoud
maar hierdie plaas, hierdie moergrond
het nuwe baasboer;
daar is geen meer holte vir my voet.

7.

Pa skryf liedjies wanneer hy saans
die die Blitspatrollie Studebaker ry;
uiteindelik maak Min Shaw ’n Seven Single
en ons sing saam:
“In ’n rietdakhuisie, daar onner innie vlei …”
Hoe sou pa anders nostalgie kon bely ?

8.

Daar is Noord en Suid in my storie,
Europa en Afrika, Kaap en Transvaal,
Boshoff, Joubert, Scholtz, Terreblanche
in die werwels van my verhaal.
Al praat ek Engels, Sepedi en Frans
bid, dig, skel Afrikaans.
Hoeveel meer tyd en bloed
voordat ek regop onder
hierdie son mag staan,
hierdie land my voetholte noem
my handspoor oor die landskap lê?

9.

Onthuis ontheem.
Ontbos ontbeen.
OntGod sonder grond.
Waar sal my gebeentes
tot stof vermolm.

10.

Tyd loop in my spoor,
haal my daagliks in;
binnekort sal daardie roofdier
my aan die hiel en gorrel gryp.


 

Wanda Miles

Die biegstok

Kritiek tok
Aan jou tiek-tok
Ag, bel my ok!
Gekriek tog
Ek verlang nog
Kriek tok
In die nag nog
Sien jou soen, tok
Tiek my biegstok
En ek leef nog
So verlief ok,
Op jou tiek-tok.

Totdat hy gaan staan.


 

Hannes Piek

Ons

Nou is ons hier
hier is ons nou
wat ons het dit is ons
ons is wat ons het
ons tyd is geleen
ons leef op geleende tyd
ons het reëls
maar ons leef sonder reëls
nou is ons hier
hier is ons nou


 

Janie Davel

Sewe sekondes

Al het ek net sewe sekondes om iets van myself te gee
Sou dit genoeg wees
Ek sou betaal vir jou begrip as ek kon
Ons uurglas loop leeg
Gee my net sewe sekondes, my lief

Vir ’n bietjie van jou begrip sou ek alles gee
Om meer van jou te hê
Net ’n stukkie van jou
’n Leemte met sewe sekondes gevul

Maar dit vat twee sekondes om net weg te kyk
Vir die see om te spoel oor elke verwyt
Dit vat net twee sekondes om my nie te verstaan
En woordloos te sê jy verander van baan


 

Drienie Kelly

Tyd se skadu

Tyd bepaal jou lewe, jou gister en vandag
waarheen loop jou spore môre
jou huil en ook jou lag
gister se ure is soos water deur ’n stroom
wat jy nie gedoen het nie
bly ’n vasgevange droom
jy kan dit nie verhaal nie, dis tyd vir ewig weg
moenie wag tot môre
maak vandag jou lewe reg

Sekondes van jou mens-wees
in ’n oogwink uitgetel
tot minute en tot ure
jou lewe se Passiespel
koester jou dae, leef deur jou reis
moenie dat tyd die seer van gister wys
wanneer die wysers eers aanskuif
gaan spyt jou nie baat
strek die horlosie se arms na die volgende uur
is jy uitgelewer aan sekondes se verraad
In tyd se teenwoordigheid
staan ons almal kaal
gestroop van trots en inhibisies
want tyd vertel sy eie verhaal
tyd se donker skadu
gooi oor almal eens sy uur
moenie bang wees vir môre nie
lewe vir die nou en hier


 

Callie Vermeulen

Van niet tot iets

uit woord geskape
toe lig en donker
water en land
geskei is deur tyd se geweld

die moddervorm snak na kosbare lug
borskas ruk (hortend) orent
en oë van klei kan sien
dit was dáár en dit was mooi

in naaktheid was daar aanvaarding
ure, minute, dae was nie ter sprake
geen haas of behoeftes
net harmonie en gemeensaamheid

weersin en geweld had geen plek
die leeu en die lam rus langs mekaar
geen listigheid of jaloesie
net tyd ongebonde ongereël

maar ’n hunkering is wakker gemaak
deur die jaloerse engel
se fluisterwoorde
wat gesaai het vertwyfeling en verval

verbod se gebod het gebring verwydering
vervreemding in wese en gemoed
tyd se verroes het vat gekry
in die sweet van jou aangesig sal jy ly

die tydskaal ruk hortend orent
millennia verander in kortstondigheid
verander die wese in verslaentheid
wat terugkeer – stof tot stof


 

Leoni Cronje

Tik-tokkel-lied

Jy tik so aanhoudend en knaend
Soms dink ek jy is verwaand
Is jou tik-tokkel, tik-tokkel-lied
Al vreugde wat jy kan bied?

Jou arms wat ritmies beweeg
Hortend elk asemteug
Tik jy my lewe verby
Maak dit jou tokkel-hart bly?

Met oorleg is jy gemaak
Sagkuns wil ek jou aanraak
Teen opdraandes beur jy snags
Met afdraandes huppel bedags

Tydloos hou ek jou dop
Wyl jy deur die lewe gallop
Jou hartseer eentonige sang
Maak dikwels my mensehart bang

Sal jy nie maar stadig beweeg
In tye vol voorspoed en vreug?
En vinnig die dae laat kwyn
Gevul met hartseer en pyn?


 

Yolanda Wessels

Nog een kans

As ek jou hande van tyd kon vashou, kon stop, kon keer
Om nie nog ’n sekonde uit my lewe te neem nie, al weet ek jy voel ’n veer
As ek die kans kon kry om jou te intimideer, net soos jy my in die gesig staar
Skaamteloos sonder om ’n oog te knip en nou is nog ’n jaar klaar
As ek net nog ’n kans kon hê ...

Vlietend, verwytend, vloekend smeek ek jou, stadiger, maar jy is geen heer
Wagtend, smagtend, soebat ek hokaai, maar jy kyk uit die hoogte op my neer
Onverpoosd, uitdrukkingloos tik jou wysters ritmies voort
My seer beteken niks vir jou, al ís ek enig in my soort
Gee my net nog ’n kans ...

Ek paai en pleit maar tik-tok rammel jy die ure af
My geprewel val op dowe wysters, jy dink seker ek is laf
Neem my net eenmaal terug na ’n tyd toe ek sorgvry en onskuldig was
Toe skaterlag weerklink het in ’n huis waar ek nog kon pas
Gee my net weer een ’n kans …

Tyd, jy is veronderstel om te heel
Maar ek dra my seer saam, my lot asof verseël
Seisoene kom en gaan, lente breek aan
Jy tik voort, ongehinderd, asof in jou eie wentelbaan
Asseblief, gee my nog ’n kans ...


 

Sunita Keyser

eenrigting

vanaf anderkant onbekend
eindeloos gelede
kom die vierde dimensie
met bynaam tyd
soos ’n daalwind van êrens
om doeners en denkers
ieder wat die aard betree
onbewoë te verstom
snel heen om dooierus
oor ’n sonwyser te vat
terwyl die sekonde
metronoom
tydmeters stu
vibreer en eietyds flankeer
in die sesium-atoom
om in die kromte van menswees
onstuitbaar in een rigting
en verstrengel met ruimte
’n jaarring te vorm
afgemeet ons klein bestek
te klief


 

Suzette Strydom

’n Spartel sweet

Spartel beur teen die gordels,
wat haar arms vashou.
Sy wil weghardloop en skreeu.
Stywer en stywer trek die tou.

Sy kyk vir ’n laaste keer,
na die lag van die son.
Om haar kruip donker spasies,
al nader en nader …

Ek sit vandag in ’n tyd lank terug,
langs jou bed en wag.
Ek hoor jou lag.
En ek sien jou warm glimlag.

Verf met ’n sagte kwas spatsels van tyd.
Ons tyd van soete min.
Waar is die tyd toe rooi stof nog kon opwaai,
en die melklorrie stof op die vertoonkas gooi.

In ’n warboel van wees en gaan.
Intussen verloor jy jouself.
Die jare kom en gaan, seisoene draai, en die mensdom taan.
En die tyd stap aan.


 

Hannes Coetzee

Altyd

Tyd ... tyd
Die tyd loop uit
Tyd om te lag
Die tyd loop uit
Tyd om te huil
Die tyd loop uit
Tyd om te speel
Die tyd loop uit
Tyd vir liefde
Die tyd loop uit
Tyd om te lewe
Die tyd loop uit
Tyd vir die dood
Daar’s altyd tyd

Altyd tyd
Maar nie ons tyd
Tyd se tyd
Ons tyd loop uit
Fluit fluit
My tyd is uit


 

Magriet van Wyk

Ewigheidstyd

Ek gooi my neer voor U my Vader.
Ek wil tot U nader.
Is dit wat hulle sê waar?
Ek glo dat U wonderwerke doen,
maar dan Heer, hoor ek Jesus bid:
“Nie My wil nie Vader, U wil geskied!”
Ek besef: U hart was stukkend
met die: Nee!
Want U wil was: Dat ons verlos moes word.
So kry ek deel aan Getsémané;
ek besef dat ek vir Jean moet gee
soos wat U God self moes gee.
Alles vir U ewige wil.
Sal ek die Saterdagoggend ooit vergeet?
Iemand druk liggies op my skouer,
ek word wakker en weet:
die Here het my nie vergeet!
Ek lê in liefde en omgee gebaai,
stil en sonder enige lawaai.
God self het by my kom waak!
O Heer, watter verskil het dit gemaak!
U skink my vol met vrede en krag
vir hierdie, my pynlikste dag.
Ek voel al my sorge sink weg
en besef: Jean is saam met Jesus weg.
Vir die eerste keer in ’n lang tyd
maak ek my oë toe en sink weg en slaap.
O, wonderlike slaap!


 

Aubrey Seigels

Saamgeweef

Oor die algemeen
bemagtig dit ons om mekaar te seën
om oor die heengaan van ’n geliefde te ween
en ’n vergenoeglike waarderingskreet uit te kreun.

Nes sandjies deur die glasmeter filter
kan ons na ons hartklop luister
menigmaal staan ons verbyster
as die sonlig van liefde genadiglik deurbreek in die duister.

Mettertyd
bars die welkome lekkerte van binne uit
ondanks die dood se angel van vervloë tyd
wat ’n verbete aanslag op elke mens se lewe het.

Wat ’n voorreg om ’n eensame persoon se hand te mag vashou
wyl die uwe aan die vertroostende hoop om lewe vasklou
en nie die lewe in die verre verskiet berou
aangesien die toekoms ongekende helende beloftes inhou.

Liefde, tyd en vir seker die dood
het vir elke aardbewoner dieselfde akkoord
wat tot die mensespesie behoort
dit bind ons vir seker saam tot dieselfde soort.


 

Mia McDonald

Lunar dance

Sitting on white, plastic, garden chairs
Winter chill
The shadow edges over
Slowly, cinematically

Our mother casts a shadow
Moments are swallowed up
With the passing of time
Measured in the shadow
Of the lunar eclipse

We are frozen
In this spectacle
This showstopper
Of an event

So many things just don't add up
Yet so many things do
And the pace of the year
Is caught

In this evening of time
Being captured in a
Blanket of shadow
Thrown over the moon

Bringing us into
The moment
Red and alive

As time slips through
Our fingers and
The moon displays
Majestically, her readiness
To take part in a
Dance with time


 

Andre Rossouw

Toe ons nog kinders was

Onthou jy nog daai tyd
Wegkruiper op die werf
Donkerkamer en blindemol
Oupa wat met lekkers bederf
Die warm beesmis in die sand
Kruisbandjies om jou broek bo te hou
Die spanriem wat oor jou boude brand
Ma wat toebroodjies in ’n lappie toevou
Die baklei oor ou Mieta se vetkoek
Bangmaakstories in die hoek
Ai en die biltong in die kas
Diep weggesteek in ’n tas
Pa se sakkie pruimtwak
Ons moedertjie se varsgebak
Pampoene op die dak
En agter die deur 1945 se almanak


 

Marlené Veldman

My vriend ... My vyand

Vinnig stap jy verby ...
Al beskik jy oor net een arm, een been.
Ek probeer jou stop, probeer jou keer ...
Elke oomblik gevul met vreugde, dalk met seer.

Wat hou jy vir my in?
Waar gaan jy met my heen?
Om jou te ken verg beplanning ...
Dink jy ek beskik oor ’n meesterbrein?

Tyd staan nie stil ...
Al sou jy dit graag laat wou.
Vanaand as jy gaan slaap lê jy met baie berou.
Al die "Het ek, ek moes, ek wou."
Elke verskoning in my kop klink maar flou.

Ure, minute, sekondes ...
Dit het verby gevlieg.
Wens ek kon jou beter beplan.
Elke sekonde beman.
Nou is jy net ’n gedagte ...
My vriend, my vyand ...
Jy wat my laat tob, rondrol in die nagte.


 

Christo Meyer

Hoopvol

ek het tyd
op my eie nodig
tyd om nugter
oor alles te besin
alvorens ek soos
’n kind kan droom
van ’n nuwe begin
tussen vreemde mense
in ’n onbekende stad
ek is so bang
ek beland weer
op die onheilspellende pad

want in ’n kort ruk
het ek meer vyande
as vriende bygekry
wreed is ek die rug toegekeer
soos ’n melaatse is ek vermy

skaamte en skande het ek
oor my familie gebring
om te val is maklik
maar om op te staan
is die swaarste ding

maar
solank die wysers
van die horlosie
teen die muur
vorentoe beweeg
mag ek nooit hoop verloor nie
al voel my siel so leeg


 

June S Fisher

En toe ...

’n Vrolike môre, haar hande streel my hare,
Sy gee my ’n drukkie en maak die deur oop.
Haar rok was geel-oranje soos sonstrale.
My handjie hou Bloupop vas aan haar knoop.
Kinderlike onskuld sleep haar saam na
My plekkie, vir pophuisie speel en lappies las.
Die tyd staan stil, Bloupop slaap, als is reg, niks wat pla.
En toe ... toe kom die draak en maak drome as.

’n Uur is soos ’n dag as jou wêreld skeur.
Dit was nie lank toe ’n motordeur klap.
Ek kyk op. Haar parfuum se geur
Waai wyfelend en ontmoet my neus. Ek snap.
Dis sy tyd, sy gaan nou met hom ry, haarself bevry.
Vyf kinders en hul pa, sal soos ’n eend
En haar kleintjies elke dag op ’n ry
Rondskarrel in stormwinde, want sonder ma is vreemd.

En toe ... word een dag soos ’n duisend jaar
As jy haar nie sien of ruik of voel.
As die kind verwonderd heeldag rondstaar.
Daar waar sy graag sit, net ’n leë stoel.
Die stilte in die huis maak ’n groot geraas
Tik-tok stap VADER TYD met geen genade.
Gonsende bure, ’n pa en vyf kinders, verdwaas.
As TYD bewys sy's rêrig weg, slaan pa oor na bravade.

En toe ... soos woedende branders teen rotse slaan is Pa se stryd.
Sy beste maat, sy staatmaker vriend het haar opgeraap.
Skuldig in my kleinste ek, is woordelose smart my spyt,
Toe ek haar vir oulaas daardie oggend sien was my moed aan die slaap.
Ek moes skree, toe hy haar haastig daardie môre vir altyd kom steel.
Pa se joviaal maak plek vir skok, sy pyn sigbaar in woorde.
Desperaat en vlymskerp vul hul die stilte as hy sy verskeurde hart deel,
My kinderhart raak stil, in die siel verhuis geluk na stiller oorde.

Tyd heel geen wonde. Soos ’n hermiet herberg hy hulle in kaste.
Dapper stap ek deur die strate, na kerk en skool,
Kinders terg, groot mense fluister en vul my hart met laste.
Soos oop wonde bloei die letsels, genadelose riool
Beheer my menswees. ’n Lewenslange geveg. Tik-tok. Die ure
Word dekades, klein eendjies moet struwel en stry,
En toe ... kom genade as onderwysers en bure
Vyf kinders kompas om aan te hou en op die pad te bly.


 

Marethe Grobler

Die illusie

Oor drie jaar verlaat ek die skool –
my kar gaan blink, my beursie stink
Die lewe lê so blink, só blink

Gedagtes
word
drome

sekondes
minute

Dit is als ’n droom my kind, my kind

Hulle sê in die hemel bestaan daar geen tyd
Ook nie hartseer, woede of verwyt

Net genade
onbeskryflik
groot

My kind, my kind
Mag jy genade vind


 

Susanna Moolman

As ek verstaan het ...

As ek verstaan het – Maandag was die laaste keer
wat ek jou totsiens sou sê,
Sou ek meer moeite gedoen het,
om jou net onbeskaamd lief te hê.

As ek verstaan het – dit was die laaste keer
wat ek jou diep stem sou hoor,
Sou ek die klank daarvan opgeneem het,
vir altyd op band gestoor.

As ek verstaan het – hierdie is die laaste keer
wat ek jou in my mamma-arms kon hou,
Sou ek jou met groter sorg daarin toegevou het,
styf en sonder voorbehou.

As ek verstaan het – nou is die laaste keer
wat my oë oor jou lang skraal lyf sou gly,
Sou ek die prentjie op foto-papier gebrand het,
diep gebêre, en in my leë hart om te bly.

As ek verstaan het – dit is die heel laaste keer
wat ek vir jou ’n maaltyd sou kon maak,
Sou ek die beste koningskos aangebied het,
sommer net, oorvloedig en onbeskaamd.

As ek verstaan het – vandag was die laaste keer
wat jy snare-musiek sou maak,
Sou ek vir ’n wyle stil gesit het, mooier geluister het,
dit was so perfek, so volmaak.

As ek verstaan het – dit is die allerlaaste keer
wat ek deur jou nat hare kon vryf,
Sou my vingers straks daar verstil het,
koud en deur skok verstyf.

As ek verstaan het – hoekom was dit die laaste keer
’n doodgewone stil totsiens,
Moes ek jou net styf vasgeklem het,
deur vrees oorweldig, die einde kom nader, so ongesiens.

As ek voortydig geweet het – vandag is die laaste keer
jou ure reeds getel, reeds besluit om op te gee,
Kon ek vir Vader Tyd skree om vir ’n wyle knarsend te stop,
jou net wou vra, pleit, om liewers anders op te tree.

Die nalatenskap van jou onverwagse weggaan
die stil verlange en diep verwyt,
Bly daagliks my by, gedryf om meer te doen,
meer te gee, ’n nuwe lewe te bou – een sonder spyt.


 

JM Cornelius

Swartland

Tyd reis agteruit oor vrugbare deinings
in die Swartland:

Sy gekraakte vingers, en oud,
gryp met sonop
die voete van die kranserige
berg en in die middag span
sy geaarde arms, en bultend,
van horison
tot horison die groen brood
waarin hy homself klee en stort
by sononder
oor vlaktes blomme
sy jong saad teen die see.


 

Benito Trollip

aandpille

.uitge-
vir alles ’n plek en
maar vir almal?
sluk nou, sluk-sluk gou-gou
oppassies vir onthou
sluit jou oë vir ’n
anderdagamper
oorweeg die oermoeë
en wat jy uit haar
put.


 

Mariette Middleton

Volmaakte tyd

Soos die uurglas van die lewe,
verdwaal in die sand van tyd.
Swewend op die winde van verlede,
soekend na ’n môre sonder spyt.
Vermors verraai ’n liefde,
in oseane vol verwyt
Sou jy die uurglas omdraai,
op Gods winde na môre kyk.
In Sy Hand van liefde,
jou toekoms plaas,
na die kruis opkyk.
Getrou is Hy in wese,
nie joune maar Sy volmaakte tyd.
Hy wil jou uurglas omdraai,
’n môre skep sonder verwyt.
Met Sy krag en lewensvrede,
jou vul met Sy ewigheid.

Skryfkompetisie: Tyd

Tyd-skryfkompetisie: Inskrywings I

Tyd-skryfkompetisie: Inskrywings II

Tyd-skryfkompetisie: Inskrywings III

Tyd-skryfkompetisie: Inskrywings V

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top