Tyd-skryfkompetisie: Inskrywings III

  • 0

Hier verskyn die derde lys inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Tyd" ontvang is. Drie kontantpryse van R500 elk is op die spel. Die sluitingsdatum is 26 Oktober 2018.

Inhoud

Estia Riekert
Johan Nieuwoudt
Quinten van Tonder
Sonja Brown
Henri Craemer
Koos Lessing
Paul Zietsman
Carin Erasmus
Stoffel Cilliers
Gisela Ullyatt
Dewald Olivier
Anna Meyer
Ida le Roux
Christelle Wessels
Ena Stegmann
Marina Venter
Johanette Pretorius
CP van der Vyver
Gerrit Mars
Marshaline Wehr
Armand Bruwer
Linda du Plessis
Simon Oberholster
Velecia van Niekerk
Jeanne Henning Els


 

Estia Riekert

As ek

As ek net die tyd kon stop –
dan sou ek eers gesorg het
dat ek my ma nog een keer
styf vashou en soen
haar vertel wat sy beteken
dankie sê vir alles wat sy my kon leer

As ek die tyd net kon stop –
sou ek my sussie vertel
dat haar identiteit nie lê
in ander se opinies en haar
vertel van haar waarde in Hom
haar miskien so red?

As ek die tyd net kon stop –
sou ek ander keuses gemaak het
nie oorhaastig gewees het
maar tyd uitgekoop het my geliefdes
gister is verby en vandag is hier
dis ongelukkig waar

As ek die tyd kon stop –
die wysers laat ophou tik
en vries in tyd
dis egter onmoontlik
daarom moet ons altyd die dag gryp
anders gaan soveel verlore kanse verby.


 

Johan Nieuwoudt

Verpletterde ritueel
vir
Johannes Heidema en Johan Mynhardt

Drie budget ontbyte:
Twee met roereiers,
een met harde eiers – baie hardgebak –
bruinbrood toast vir almal,
twee koffies en een tee asseblief.

So begin drie ou mans telkens die ritueel van gister:
gister se stories,
gister se mense,
gister se wense …

En dan,
sonder voorspel:
net twee bestellings.
dan net een;
dan geen …


 

Quinten van Tonder

Kaalvoet sekonde-spel

As die son sak en ek wonder waar ek is
Maar jou reuk hang om my: ek begin dit amper mis
Met die gate in my hart so amper heel
Weet ek daai sekonde waarna ek verlang, my siel se deel

Die wyser loop draaie en hy doen ons soms in
Maar ons staan op en try weer, nietemin
Want eendag staan jy op en wonder nie meer
Jy weet en jy wonder nie, jy sien wat die horlosie wil leer.

Kom staan langs my en kom kyk
Jy kan daar agter staan ek wil nie hê jy moet val nie
Want seerkry is nie my bedoeling nie en val nog minder
Maar eerder hoop en warm hou hierdie winter

Ek sal so styf vashou en waardeer
Jy sal wonder waarom dit nooit kon gebeur
Gee my jou hand en gee my jou hart hou op wonder en weet net
Laat breek daai ritme nou vir een keer

Al wat ons moet doen is die eerste stap vat, hoopvol,
want ons kan nie die sekondewyser stol
of terugdraai nie maar eerder
glo elke sekonde bring iets beter.


 

Sonja Brown

Scheduled death of an African mother

The chimes of a synchronized device remind her gently
of why she is here, supine, immersed deep into fragrant
fumes of invisible patchouli and ylang-ylang and oily
caresses beseeching her lacklustre spirit back to life.
For now, her stagnant extent has reached its peak …
The message sent was unclear: a misty, wet, wordy
mumble that bore ill tales of an unbecoming end
– her resources finally consumed by acute mental
distress, when death arrived to take her away on a
mortified trip in a dark-grey coffin-like sleigh …

The old brown oak bore the brunt of the departure
of immaterial essence; only the faintest breath of
scandal yelled out in unspoken sound the tale of woe
amid destruction of a total self, but the sun shone
radiant shafts of spectacular amber across the divide.
As the coil of unbecoming death held Mother there
in egoistic spiritlessness, the lie that was her life came
to a deadly silence; with an obsolete grin death mocked
the penalties of her lifelong invisibility in fragmentary
yet emotional gaiety, omnipresent in her bone-dry sobs.

She was happy, once, seemingly unmortified by
poverty and hunger and murder and rape
that appeared to never consume her, yet the
inescapable void pushed beyond her endurance,
broke her barriers, choked her to gravitational collapse.
African laws lay bare a repugnant substandard quality
in her Negritude inferior thought-patterns,
and offered continuous determined resistance
to noxious stimulus of being happy, even content, in
the here and the sad, sad throes of now.

The hang was complete, the rejection of God’s mercy
too much to bear in desperation and despair, the
funeral trivial as insignificance triumphed once more
in her life, miniature feelings bringing miniature tears
to an unimpressive loss. Alas, her deeds were majestic,
her comforting arms warm, her heart limitless in giving.
The open soil welcomed her body hesitantly, then sighed
contented when it enveloped her decent purity, its
ambiguity visible in the finer acceptance of a generous
being with forgiving embrace in a baby-soft murmur.

The chimes of a synchronized device remind thém again gently
of why they are here, shocked, immersed deep into frenzied
thoughts of brutal reality, loss and painful lashings of regret,
hereditary madness lays claim to a genetic flaw, neatly
pegged out in a barren piece of land, a claim staked carefully
to pinpoint the swift goodbyes after a brief hallo …
The message was clear, another spine-chilling story of
more ill tales of yet another unbecoming end
where more energy was drained by acute mental
distress when death came to take another away on a
well-deserved trip, but this time in an angel-arm sleigh …


 

Henri Craemer

03:36:51 AM, Solitude

Angular hands
spread
the clock face

Another second holds my need,
for grasping at a timeless truth.
Everything is incomplete.
Impressions drain from solitude.

Angular hands
tick
an instant

But now the minute starts to fold
like Dali’s painting of the clocks
slipping off the table top
until there’s nothing left to hold.

Angular hands
spill
the moment

It’s another hour falling free
through inner space of solitude.
The pulse of liquid life remains
my only truth.


 

Koos Lessing

Tydsfaktor

is tyd
die eerste linie
in my aardse stryd
die een en al
wat my kan keur
tot daardie klein getal
wat hier nie net oorleef
maar ook oorwin
in tyd die toets kon slaag
om weer terug te keer

ja die wat oorsprong
tyd en toekoms
as ’n eenheid sien
en weet
hul plek daarin
is reeds vir hul verdien

dan gaan ek weer na Hom
wat my van ewig af bemin
met tyd my hart en siel
finaal kom skaaf
en weer tot ewigheid
volmaak in Hom herwin


 

Paul Zietsman

Slow motion

biddend nader
voor die Here se altaar;
tyd het vir hom kom stilstaan
heimwee staan nader,
heimwee oor Standerton se kerkbasaar
Melville-dae, Melville-dae
Swazi-papegaaislaai gerook;
tyd het kom stilstaan
visioene in sy slaap opdroom,
visioene ...
voor die Here sy sondes versoen
tot die paranoia bedaar;
verlange na Standerton se kerkbasaar


 

Carin Erasmus

tempus

ek vermoed
die vierde dimensie
van sikliese sirkelgang
in chronologiese volgorde
beheer kontroleklok en kalender
uurglas minkowski se teorie
begrenste ewigheidsnit
mikro-sekond grasie
tot ’n tik-tok


 

Stoffel Cilliers

Rustige instemming

“Koop die tyd uit,” hoor ek kleintyd van my ma.
“Carpe diem – gryp die dag,” sê my geleerde pa.

Maar al die dae laat hul nie gryp,
Want in die vroegherfs word die jaar vanself ryp
In goue akkerblare.

En in koue Engeland skryf Shakespeare oor
Die sewe seisoene van die mens
Wat eindig sonder tande, sonder enige wens.

Die tyd gaan ylings by my verby,
Rapporteer waardige Totius,
Die prof op die Puk.

Die woorde van hierdie grotes
Het die toets van die tyd deurstaan.
Wat kan ek tog hierby voeg?

Behalwe, om as amper tagtigjarige in ons woelige land,
Rustig met die psalmis saam te stem:
“My tye is in u hand.”


 

Gisela Ullyatt

Sy kweek rose

Sy kweek rose,
vandaar haar sondeurdrenkte vel
haar hande baar ’n snoeiskêr
lewer-gevlek, haar drome.

Haar internis
knip obsessioneel sy oë
sy selfoon, ’n metastase van geraas
sy frons, ’n ingekeepte gebed.

Die dag verbleek
soos ’n iceberg-roos:
uit die linnekamer
word ’n nuwe laken bestel.


 

Dewald Olivier

Tik tok maki klok

Hoor ...
Dis die horlosie teen die wit muur
Die laaste minuut, sekond is verby
Dis tyd

Dis tyd om te groet
Al maak dit seer en los ’n merk
Tot ons weer ontmoet
In die kerk ...

Waar ek bid
En met die Here praat oor die tye
Die tye wat ek huil in die bed
Soos ’n tiener met geite

Die trane wat loop
Oor my wange, met ’n kiekie van jou
Met ’n enkele noot
Wat geraas maak in my ore

In my hart is daar ’n gaping
Tik tok maki klok


 

Anna Meyer

Dan sal ek

Selfs as ek my oplaas losmaak
van ons magiese saamwees;
die lugkasteel waaraan ons kon raak-raak …
en kom ek seer los van die een-word-van-siel-en-vlees

om weer met dié lewe voort te beur
om die wéét te stil en bloot te bly
beweeg – my balans versteur;
’n gryse eensaamheid dwarsdeur tyd wat vergly.

Selfs dan – dán – sal ek teer nog
op die vuur wat tussen ons ontvlam het;
wat als in ’n ander lig, vir goed

laat gloei, en jou – dan ver – tog
brandend laat aanbly ín my met
ons ewige nagloed.


 

Ida le Roux

Uurglas-lyf

Uurglas-sandkorreltyd
stroom deur haar middellyf
word rollend in gelykbenige
driehoekpiramide vasgegryp

in die glasbuis-mikrokosmos
vries die uurglas-sandklok
gister se dryfsand en glaskrale
tot vergruisde eierdoppoeier
in haar buik

word sy omgekeer
buik na bo en kop na onder
om weer te transformeer in
vierde dimensie uurglaslyf
is sy weer naak

met ruimte en tyd onbepaald
vloei poeierfyn lewenssand
in tydmeting – vertikaal
om haar lewensiklus
onsterflik te herhaal


 

Christelle Wessels

Die laaste uur

As ek kon
watter woord sou ek laaste sê
watter letters sou my brein omvorm
om in my mond te lê

wat sou dit wees
as net één my kwota was
wat sou jy in daardie laaste oomblik
op my lippe lees
watter woord sou in dié konteks pas

hoeveel konsonante en vokale
sou saam die klank voortbring
van hierdie grande finale
innerlike, swaar-belaaide woordspeling

’n woord, ’n enkele een
wat in hom dra die gewig van alle ander
wat dimensie aan die sigbare én illusie verleen
wat in ’n oogwink, dog ongesiens, kan verander

ek kén die woord se lig en duister
ek ken sy suikersoet en sy wrang
ek ken sy skreeu en sy fluister
ek verstaan sy weersin en verlang

Met my asem amper op ’n end
sal daar net één woord wees wat ek wil ophaal
’n woord van altyd af aan my bekend
dis jou naam wat ek sal herhaal


 

Ena Stegmann

Kringe in ’n koppie

’n Kranige kafeïen merk sy eerste kring
op ’n Maandag waar slukke en sake losbreek
en la’t waai tot ’n vlak tornado
wat teen koperkante skop
en ’n leë wag vir ’n rust’lose storm
verduur wat kring twee in die
koppie karteer en soek na ’n hand
wat klemmend sy hitte steel
maar neergesit word en spattend die
laaste druppels met ’n hoop
papiere deel en sy vuil vaandels
verdra terwyl die kranige kafeïen
roekeloos roer

maar tot my spyt,

nooit tyd maak
om ’n beker
te was nie.


 

Marina Venter

Gister ís vanaand

Net vanaand sal ek teen jou nestel
en jou hart onder my hand voel klop,
die hitte van jou lyf sal my omvou
wanneer wind sag ons name fluister.

Net vanaand sal ek by jou wees
en die poeiers van die kosmos
sal liggies aan ons wange raak,
waar droomland ons binne nooi.

Net vanaand sal my hand in joune pas
en ons siele sal mekaar ontmoet
wanneer die maan vir ons knipoog,
as ons opkyk vir ’n stukkie genade.

Net vanaand wil ek aan jou behoort
waar onvolmaak, volmaak sal wees,
sodat ’n ster dáárvan verskiet.
En tyd sal stilstaan.


 

Johanette Pretorius

Stil sand

sekondes word
oomblikke
wat bloei in gedagtes
gewortel in herinneringe
herskeppend helend
dog inning snydend

want korrel vir korrel
is ek soms beangs
net dalk
mis ek die kol

wat as
more
’n begrafnisblaadjie ver is ...


 

CP van der Vyver

vier1 ww. [gevier]
1 Feestelik herdenk: Iemand se verjaarsdag vier.

Vrek

Ek is 4 minute laat.
Ek borsel my tande. (4 minute te laat)
Ek is 4 minute laat!
Ek klim in my kar. (4 minute te laat)

my brein werk 4 keer vinniger
die kar se revolusies 4 keer hoër
hande tik rusteloos teen 4-tyd op die stuurwiel
“Oor 400m draai regs”

Vrek

afspraak: Half 4 –
die 4de April 2004
hier sit ek vas in 4de Laan se verkeer –
ek en my klein 4-lid familietjie.

verby die 4de afrit.
ek sien nie die 4-by-4 nie
“Oor 40m draai regs”
die kar sit vas in 4de rat

Vrek

4 voet nader aan 6 voet diep
4 … 3 … 2 …1 …
Mozart se 4de simfonie
al 4 wiele in die lug.

nóg ’n bietjie slaap (net 4 minute)
nóg ’n bietjie sluimer (asseblief net nog 4 minute)
“Time of death – 26 minutes past 3.”
4 minute te vroeg …


 

Gerrit Mars

Nou

Soos ons netnou gepraat het
mag ons nou hervat,
het ons kan begin
met oogopslag
onderwerp
besin
nou

Die begin in
die sin van die gepraat
loop vorentoe en vang op
terugwerkend op die hede
en kan opvang
met waar ons nou is
koppel

die oorspronklike
gediens deur die hede


 

Marshaline Wehr


 

Armand Bruwer

Hartklop

Die atmosfeer puls met afwagting.
Euforie haas deur die magiese markies.
O!
Laat die Sirkus begin …

Ons sit vasgenael:
Die Sirkusmeester se trawante
met hul boeiende kaskenades van
intrige, fantasie en wonder.

Die harlekyn hipnotiseer
met sy bedrieglike truuks.
Sensasioneel, verrassend, verstommend!

Ons word betower met ekstase.
Ons koppe soos pendulums:
Op die akrobate en diere en vlamme en toertjies …
Onbewus (salig?) van die onvermybare.

Word daar, sonder ons wete,
toue aan ons voete en hande vasgebind.
Marionette in die Sirkus,
doublure in hierdie skouspel.

“Kom een, kom almal.”
Ai,
lok die Sirkusmeester ons –
Hy met die meganiese hart.

Tik - tok - tik - tok - tik …


 

Linda du Plessis

God se uurglas

my kind die dag met jou geboorte
het Ek jou uurglas regop geplaas
vol gelaai wat stadig begin deurloop 
as baba sonder weet wie jy is of gedagte
korreltjie vir korreltjie, een vir een sonder haas
in jou lewe wat kom vol liefde geloof en hoop

my kind gebruik elke sekonde elke minuut
in jou kleuter en jongmensjare aan jou geleen
in hartseer lag sonskyndae korreltjie jou uurglas
stadig maar seker in oud of nuut
elke dag elke nag elke tree elke asem ’n seën
hou ek jou in my onsigbare arms vas

my kind verspeelde geleenthede en tyd
onvrugbare ure en dae van leeglê en niksdoen
het jy jou kanse vasgegryp of verspeel
jeugjare wat ingly in volwassenheid
was jy die lig op ander se pad en ander te versoen
het jy jou gawes en talente met jou naaste gedeel

my kind deur jou huweliksjare met jou gesin
het jou geesteslewe gesprankel vir My
jou uurglas dalk al op die halfpad merk
die tyd waar jou liggaam stadiger word beweeglikheid min
en jy al hoe meer tyd meer passief wy
want jou kragte word min en nie meer so sterk

           my kind jou uurglas se korreltjies
              nou bo minder word en meer
                 onder en jy dalk nou een-
                       saam terugkyk op
                         verspeelde tyd
                             jare maan-
                                de dae
                                   ure
                                    ’n
                                   tyd
                               gemors
                            nou te laat
                          as die laaste
                      korrels deursif en
                   jou uurglas byna leeg
                 en jy dit nie weet as die
             laaste korreltjie val ... val ... val

en Ek jou boek van die lewe toemaak
jou uurglas wegbêre totdat Ek eendag
daarin kom lees hoe jy deur die uurglas gegly
het en hoe jy jou godgegewe lewenstaak
om die wedloop voltooi het na die prag
van die Ewige Lewe waarheen Ek jou na toe lei

maar ek sou so graag nog een maal wou sê
welgedaan my kind jy het gelewe soos ek dit wou hê


 

Simon Oberholster

(Half)Jaargety

My stad is beklad met stof
van die winter
wat vat by almal en
alles wat nie syne is

lowergroen lente is ons jaarlikse loon
– altyd net betyds.
Dan raak dit donker
duskant die Telkomtoring en die Uniegebou verdwyn
agter ’n misgordyn.
Die skouspelagtige storm se stilswye begin
– die lug is room en rooi

en die stad is stil.
Blare en bloeisels
pronk met prag en praal
soos jong verliefdes blink en kaal.

Die eerste reën het die stad kom reinig,
alles is vars en nuut en skoon
– ’n wedergeboorte van
’n nuwe tyd soos Eden.

Ek was blind, maar kan nou sien,
oë gewas deur hemel se rivier.
Geen seisoen kan ewig duur.
Nou is September hier.


 

Velecia van Niekerk

Wenteling

As die wyser draai
Vang die kalmte my en vergeet ek van die lawaai
Vir ’n kort periode
Was ek verslaaf aan jou woorde
Ek onthou die tik-tik geluid
Voor die kansel staan net die bruid
Druppel vir druppel drup die dae om
Ons liefde was soos ’n nuttelose bom
Die wysie tok-tok
Laat my besef dis net jy wat my hart kon laat klop
Ons liefde moes blom
Maar het tot stilstand gekom


 

Jeanne Henning Els

Seisoene

vroeg reeds
met die eerste kreet
van haar lam nog onvas op sy bene
weet die moeder
sy spoor word klaar gevat
eers rats van sprong
deurstaan hy die vuurdoop
tot die jagter hom inhaal
die verweer teen seisoene
verstreke


Skryfkompetisie: Tyd

Tyd-skryfkompetisie: Inskrywings I

Tyd-skryfkompetisie: Inskrywings II

Tyd-skryfkompetisie: Inskrywings IV

Tyd-skryfkompetisie: Inskrywings V

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top