Tyd-skryfkompetisie: Inskrywings V

  • 0

Hier verskyn die vyfde lys inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Tyd" ontvang is. Drie kontantpryse van R500 elk is op die spel. Die sluitingsdatum is 26 Oktober 2018.

Inhoud

Zelda Mans
Jané de Klerk
Ntabiseni Mkebeni
Anne-Mari Lackay
Surita Pretorius
Jennifer Pape
Trientjie Malan
Anri Labuschagne
Alwine Fölscher
Mariette Labuschagne
Kristien Steenberg
Reginald Hufkie
Johanna Fourie
Mary-Park Latsky
Dalene van Wyk
Ferdinand Veer
Michèle Meyer
Danie de Klerk
Charika Swanepoel
Maritza du Preez
Riette Hugo
Anabelle Oosthuizen
Anton Döckel
Launa Moolman
Gertrud Anneliese Neveling


 

Zelda Mans

Die Jabes-besluit

Ons eerste ontmoeting het die einde reeds voorspel
Lustige vure wat brand met volle vaart en snel
Grense is verskuif en blatant geïgnoreer
Die naïewe ek het omtrent floreer

Die stiltes en rusies volg daarop
Droomloos volg ek my eie kop
Isolasie, manipulasie, OCD
Ek het geen identiteit nie

Jy besluit, skielik en kil
Ons is teen God se wil
Wreed, gryp Hy in
Hy gee nuwe sin

Nuwe seën, grondgebied en beskerming
Ek het rede om oor Sy tydsberekening te sing


 

Jané de Klerk

Ek bepaal

Ek is jou ure in die nag,
jou ure in die dag
Ek is die minute voor ’n wedstryd,
die sekondes voor die eindfluit
Ek is tyd

Ek is ’n splitsekonde van ’n oogwink,
die oomblik van geluk
Ek bepaal wanneer als gebeur,
want ek is tyd

Ek bepaal elke beweging wat jy maak,
’n oogwink ... ’n hartklop ... ’n asemhaling, ek is daar
As jy vanaand in jou bed insink
sal ek bepaal of jy weer môre ’n oog sal wink,
want ek ... is tyd

Ek bepaal die seisoene,
lente se blommekrans,
die somerreën wat teen jou venster dans
Herfs toegetrek onder ’n geelbruinblaarkombersie
Winter, die berge bedek met ’n sneeumussie
Ek is tyd

Alles hang van my af
Die Here werk deur my te gebruik
Daarom is ek tyd.


 

Ntabiseni Mkebeni

Death

Death is like a curse
A “secret” hidden in a purse
It can’t be cured
Not even by a nurse

Death is like a curse
A secret hidden in a purse
I wonder – why it is hidden
But I guess that the answer is forbidden

Is it possible that the inventor of death,
Is also the inventor of birth?
But who am I to ask?
Because this is not my task

“Father”, please destroy death
All it does is to hold my breath
I can hear death calling upon me
Please unleash my body so that I can be free

Death is like a curse
A secret hidden in a purse
“Father”, can’t you please stop the time?
Maybe this might stop death from hurting us.


 

Anne-Mari Lackay

Meetsnoere op lieflike plekke

My dorp, my tuiste, my Eben-ouerhuis teen die voorgrond van wye, vlaktes
My Hotnotskop teen die hange van die Olifantsrivier – die pad na die see al verder weg,
Weg van stof en sand onder voete se treë met die vreemde in my gedagtes,
Drome en ideale blink en broeiend weggesteek in die binneste wat onsekerheid verdwerg.

Die nuwe lewe, vreemd en kwaai, wat tog tergend vol beloftes die septer swaai,
So taf en onverbiddelik die verandering wat ongenooid diep binne nes kom maak,
Skaaf en skuur en vorm tot goed of kwaad in stryd teen versoekings wat jou opvoeding verraai.
Dis ’n oeroue ding van swoeg en sweet deur jare heen voordat jy uiteindelik geluk tog smaak.

... en juis toe breek die lig en blinkend ver agter die Simonsberg met statigheid onbeperk,
Hier ’n dorpie ongekend, ontstaan na slawe-stryd, wat bou op voorouers se drome ver en wyd,
Met ouers en kinders vermoei in strewe na waardes en liefde vir die kerk en haar werk.
Dis hier waar ek my tuiste vind, ’n skuilplek onder sonnige berghange onveranderd deur tyd.

Met twee-been weerskante – een op die Eben-huis en die ander – tuisgemaak in Pniel,
En ’n vriendelike son lag met my tot die dag is verby, en bring dan ’n vet glimlaggende maan,
Die natuur wat koning kraai en my hart met vreug verfraai en ek diep dankbaar in my siel,
“Die meetsnoere, lieflike plekke,” woorde soos musiek-akkoorde, verseker deel van my lewensbaan.


 

Surita Pretorius

Be·graf·nis

“Moenie nie!”
   skribbel hulle op jou kis
      Die kis waarin hulle jou
       gisteraand by Avbob gaan haal het
     vir ’n laaste jol
  “Moenie nie!”
In daai                     kinderlike handskrif
                        krabbels kinkel oor die kis
               die plein, plank-kis
     Vol woorde, vol                 laaste woorde
 Loer-loer uit
    onder die               druppende blomme
       Dit is tyd!
     Bring jou bike, bra’tshie!
   Draai om, net so, met die tekkie na die hearse
      Gee vet! Dit is tyd!
           Die wind waai warm rubberrook
       in wit bolle om jou as hulle jou uittel
   Kom, bra, hou jou helmet hoog, hier kom sy
 Dit is tyd!
    Wag gou hier, nog blomme
        Staan so, askies, jammer
           Kom-kom, stoot verder
             Dit is tyd!
        Ek groet jou ouers buite
    Hulle lyk uit
 Hulle staan uit soos                              sendelinge
Ek groet jou pa en hy ken my nie
  Jou ma ook nie, hulle sê:
    “O ja! My magtig,
         jy het dan ’n dame geword!
           Weg is die wille meisiekind!”
              Ek druk jou pa en huil in sy skouer
                Dis die laaste keer wat ek hom sien
                 voor sy gebroke hart versaak het
               Nie eers             ’n maand na jou
            Na jou                         gebroke hart jou
         voor jou tyd verraai het
     Jou moedertjie het so weggekwyn sy
   pas onder my arm
 Ek druk haar en sy huil in my skouer
Skuif op, sorry ma’ chinas, hier kom die kis
Dit is tyd!
 Ons stap die lapa in op Queen
   Die                          do·mi·nee
     wat jou                    glad nie geken het nie,
       ’n Vol-patch van ’n ander gang,
          die een met die
            “for Christ”
          op hulle leathers
     praat van jou asof hy jou onthou
Agter hom rol ’n video met foto’s
                             Foto’s van jou
     Klein blonde meisiekind
             Groot donker biker
         Jou vrou is ook daarop
                       Op party van hulle
                            Party is onderstebo
Niemand het hulle regop gedraai nie
                                               Hulle rol jou uit,
                                          terug na die lykswa
’n Konvooi van                voete agter jou kis
’n Konvooi van          druppende trane, en
                          druppende blomme
                                           Valhelms
                                       Patches
                                  Halwes en
                           Volles
                    Jou vrou ook
              Sy loop agterna met haar
          gesiggie vol traantjies
      Asof sy
    nie met jou baklei het nie
  Asof julle
 nie wou skei nie
Jou lyk was nog warm
Die pistool se loop was nog warm
 toe sy al begin baklei het
   oor jou goed
     Jou wêreldse goed
       Hulle sit jou terug in die wa
         En ry agterna, sonder valhelm
           Gwai in die mond
              Gooi nog een laaste burnout!
                Dit is tyd!
                  Die president verklaar die bar oop
                     Iemand blaas Bob Marley so hard
                      die oumense kry hartstuipe
                      Light ’n doobie, ma’bra’tshie!
                    Bring jou dop!
                 Ons drink op haar!
             Dit is tyd!
        Jou ma staan in die binnehof
    Haar blomme, die blomme wat op jou kis was
  drup blare elke keer as sy iemand groet
   Soos reën
        Soos
            geel
               reën
                   druppels in die wind
                 Langs my staan
             jou boetie, my vriend,
        My geliefde vriend, jou boetie
    En jou boetie se kindsbeensvriend
  Abrie
   “Daar is baie hartseer hier,
       en nie net oor die begrafnis nie,”
          sê hy

Hy is reg


 

Jennifer Pape

Die laboratoriumassistent

Sy neem tyd waar
in die verval van isotope
   ’n komplekse proses wat die halflewe van U238 na Pb206 meet
   deur ’n periode van ongeveer 4,4 biljoen jaar
tyd
wat in die ouderdom van die aarde,
komete en sekere meteoriete beaam word
en haar beter laat voel
oor die ry mislukte proefbuise
waarin skaars sirkoonkristalle
na ’n tydsame ekstraksie uit graniet van 51 dae
geen resultate opgelewer het nie.


 

Trientjie Malan

Ouma se liefde

soms wens ek kan die horlosie beheer
waar ek die tyd kan terugdraai
om net ’n klein bietjie meer en weer
met ouma te kon praat met haar stem so fraai

al was ouma nie my vlees en bloed
het ouma nooit my verjaarsdag vergeet
altyd my dag ekstra spesiaal gemaak in oorvloed
al was dit net ’n oproep gewees, het ouma geweet

nou is ouma by Jesus
waar ek soms ouma se hand nog voel
wat nooit ouma se liefde kan blus
alles gebeur saam met die tyd se doel

ons tyd is nie God se Tyd
net God weet wanneer is ons laaste stryd


 

Anri Labuschagne

First we crawl

First we crawl
Then we walk
Then we learn to run

Pre, primary, high, varsity
Then we live the grown-up life

Shining locks, salt and pepper, Grey
From dust to dust

Short, medium, tall
And so our perspective changes

Tricycle, bicycle, motorcycle, car
So we learn to go places

And then when (God) our life erases


 

Alwine Fölscher

Uurglas

Waarom het ek dit nie gesien?
Die uurglas wat as tydteller dien.
Onsigbaar hang dit
in die lug, terwyl ek
niksvermoedend vir
ons lang lewe saam bid.

Nou kyk ek terug
na ons lewe agter my rug.
Ek doen somme
om te bepaal hoeveel sand
nog oor was van jou lewe
tussen ons blomme.

Die uurglas is nou helder.
Dis die finaliteit wat my kelder.
Die laaste korrel glip deur op die sekond
wat jy neerval
as gevolg van iets eenvoudig
soos ’n bloedklont.

Ek smyt die uurglas teen die muur –
die bringer van my seerste uur.
Hoe wens ek dat
ek dit net kon omdraai 
om weer te begin,
my Lief, my Skat!


 

Mariette Labuschagne

Verlore liefde

Jare gelede, het jy my laat bewe
Ons was jonk
Verlief en verlore
Beloftes is gemaak
Tyd was nie ’n faktor

Ons moes groet
Ek wou jou nie laat gaan
Die afskeid was glad nie soet

In jou bruin uniform
Was jy lank en bruingebrand
Die seun het oornag ’n man geword

Lelike dinge het jy beleef
Jou sprankel het verdwyn
Ons liefde, wou jy nie weer herleef

Tyd het stilgestaan
Na ’n hartseer brief
Geskryf deur my lief


 

Kristien Steenberg

Lewensduur

Silwer drade hang
aan die uurglas
Jeug word vervang
deur rimpels, diep gekerf
spore van dit wat was
want lewensduur verdelf.
Deur dowwe vensterglas
beelde wat verwar
en weer verstar.
Fases wat verskyn
en weer verdwyn.

Kortstondig is die reënboog,
sieraad teen die hemelruim
vervaag, verdamp, geen versuim.
En … die uurglas loop leeg
net ’n laaste asemteug
want … tyd gaan altyd verby.


 

Reginald Hufkie

Victory

Born into poverty, but walking in victory
Orphaned, yet dwelling in victory
Failing according to the world, but striving towards victory
Overwhelmed with pain, yet walking in victory

Struggling financially, even so residing in victory
No food on the table, but walking in victory
Clothes are a luxury, but clothed in victory
Homeless, even so residing in victory

Depressed, yet walking in victory
Repressed, but marching in victory
Uncertain, but meandering in victory
Blinded, yet seeing victory

Decide
Abide
Prosper
Victory


 

Johanna Fourie

Uiteinde

Illusie van ’n huis – leeg en stil
mure van kindwees – tot stof?
net die wind roer
van vertrek tot vertrek
geen voetspoor
geen spatseltjie kleur – net stof
dwarsdeur die laaste muur stap ek
opgeskep in ’n vlagie wind
tot niks


 

Mary-Park Latsky

Vandag is die dag

Asem diep in
vir ’n nuwe begin
Wat vandag vir jou bring
gaan jou op en af laat spring

Ja, jou dag het gekom
nou kan jy blom
Gryp hom! Hy's joune
Ja dit in die hier, die nou, die hede.
Die antwoord op jou gebede

Trek los die lint skeur oop die papier
Die geskenk van vandag is nou hier
Die begin van jou lewe
Dit waarna jy nou altyd hoop en strewe

Ja vandag is die dag
wat jy jy jou gister weglag
Die verlede was net die pad
om jou tot hier te vat

Vandag is my dag
Ek vat hom vir my
Als val in plek
Die toekoms lê soos ’n oop hek

Huppel vandag tegemoet
Dis die sonsopkoms wat jou groet
met sy goue oggendgloed
Skud af gister se stikswart roet
En omhels vandag
met ’n skitterskaterlag.


 

Dalene van Wyk

Pikswart ink

In pikswart ink
Is tyd en swakheid in my ingeprent
’n Tatoeëermerk van skaamte
Bloed gemeng met ink en trane

Die tyd, ’n baksteen op my hart
’n Laksmantou om my nek
Bokant die water word ek gehou
Polse vasgeboei met my kinders se are

Laat sak my liggaam in die water
Ek voel die koelte op my keel, my mond, my oë
Die son ’n drywende rustelose vuurbal in die lug
My hare dryf verby my gesig, weer terug
Tot langs my kop

Water in my neus, my keel
Die laksman trek my op!
Ek sien die son
Asem in my longe
’n Diepe teug van dankbaarheid
vir nog ’n bietjie tyd

Dan weer die sleg, die skaamte
Die son brand pikswart ink
Sak weer af
Voel die koelte op my keel, my neus, my oop oë
Die son al weer so ver

Here, kom haal my nou!
Dis tyd
Toue van are om my polse verslap
Ek het geveg vir ’n beter lewe
Maar my skaam, my swak was net té vlak

Net tyd het onuitputlike baklei in sy bloed


 

Ferdinand Veer

Verkeerde vrou

Ek sit hier op my hol
Voel al weer soos ’n drol
Die glasies het geklink
Het al weer te veel gedrink
Almal lag vir my
En sukkel om my by te kry

Maar een ding wil ek sê
Ek kan drink tot ek lê
Skroef af die prop
Gooi nog ’n dop
Ek is drank se baas
En ek kan drink tot ek klaar is

Nou is ek moeg
Voel of ek gaan ploeg
Die tyd het my gevang
Ek raak nou rêrig bang
Vrou gaan my moer
Sy is seker nou lankal gekoer

By die huis
Kry ek ’n vuis
Ek kry ook ’n skop
Net hier links van my klok
Eina dit is seer
Die vrou gaan aan soos ’n wilde beer

Die vrou hou aan gil
Sy is verskriklik kil
Ek kry nog ’n skop
Dat ek so ’n voet hoog hop
So deur al die wyn
Is ek nou vol pyn

Ek vlug na buite
Dié vrou is te vol stuite
Daar loer ek weer
So deur al die seer
Ek kom by met ’n gedruis
Ek is by die verkeerde huis


 

Michèle Meyer

Een

Solank komete verbyboog
sterre verskiet
planete bly draai
lig filter deur niet

Seestrome skeer
getye bly swaai
walvisse blou breek
fosfor nag baai

Kontinente bly brokkel
ysplate smelt
huilboerbone opskiet
zebras streep deur ’ie veld

sal hy vreet aan my lyf my kop en my gees
tot ek eendag weer deel van dit alles sal wees


 

Danie de Klerk

Saamwees

Dankie vir die tyd saam met jou,
jy maak my hart vol en tap my sorge leeg
deur net pinkie rakend saggies verby my te beweeg
wonder ek hoe het die Here my jou laat hou?

My dag begin met jou blik wat my ontwaak
Deur my bewolkte gemoed, vrees wat in my woed
verseker jou kalm skoonheid my, alles is goed
opstaan is uitstel dan die afskeidtee maak

Die dag begin ... ons moet groet,
’n kus, ’n druk moet my heeldag hou
sodra ek jou verlaat is ek in ’n liefdelose kou 
my vonnis, agt ure banningskap ... hou moed

Ek bandiet is vry... komaan "Noster" kry jou ry
sy stop, ek uit, proe al die koffie smaak
deur oop, jou oë ... genees my siel so naak
By my Liefie, als sleg is nou vergete ... verby

Die paar ure ewigheid is sommer gou verby
liefde trommeldik gevreet, siele skoon gewas
slapend hou ons mekaar vas tot God die oggend kwas
Dankie my Liefie vir jou tyd saam met my.


 

Charika Swanepoel

Frank

I bring you tealight candles of humility
so beside the point, they echo
in their own smoky darkness.
I bring you temperance.
Temperance like a garden gnome out front,
or small succulents, potted and pebbled in ironic plastic tubs.
And in return, you show me the fanatic part of town,
a wrecked glory, an older, post-new thrashing you.
In return, you bring me the corpse of your happy youth
zipped up in a bodybag too big for a child so small.

Here we are, temperate, fanatic,
a barely locked door wind-battered into song
and at least we’re both frank.
Together we bemoan the precious sins of our fathers
and mothers and friends and lovers and whatever we haven’t lost yet.
Because somebody always croaks, and you’ll tell a joke and I’ll cry
and at least we’ll both be frank
— you can only ever be Frank
A time embattled myth,
and that’s all.


 

Maritza du Preez

Gety

Langsamerhand, dryf die nagsê
donker skepe.

Om en om ...
die klok se stywe span.

Hoor die nonnetjiesuil roep
gister se skaterlag.
Slierte wat om die
oggend se kleinoog brand.

En in die skadu van ’n stikkende uur,
roep ek na jou.

Somber grys jare.
Eens, oud gebore –
die dae wat jou droefheid
en ongeluk bring. 

Los stadig die ankers vriend ...

Týd, is ’n ou vrou
met ’n klip aan die nek.


 

Riette Hugo

Mettertyd

Soos Helena was sy in ons klas,
maar mettertyd
word selfs groot skoonheid ’n las.

Alle mans kon sy oombliklik
met ’n laggie en stappie bekoor,
maar mettertyd
haar hart op háár Paris verloor.

Die bruilof is op sy erfplaas gevier,
maar mettertyd
word selfs soet wyn ook suur.

Almal het na ’n erfgenaam begin vra,
maar mettertyd
het sy net
’n Gordiaanse knoop
in haar buik rondgedra.

Mettertyd het die mooi ook gekwyn;
in haar oë was hoë pieke pyn
wat met die tik-tik van tyd
nooit sou verdwyn.


 

Anabelle Oosthuizen

Verlore

Onbewustelik vang my oog die hande van die horlosie wat stadig voortbeur teen die dag
Ek word onderbreek, my frustrasie skiet die hoogtes in, want daar is nie tyd vir ginnegaap nie
Die telefoon lui en sy babbel voort tot waar ek haar die deur wys
Ek voel hoe die are in my gedagtewêreld ritmies saam met die horlosie begin tik toe ek die telefoon antwoord
Tyd raak min, ek moet nog so baie doen
Ek kners op my tande
Mis amper die trein en kom laat by die huis
Ek besluit om nie te bel nie en sommer net ’n boodskap te stuur, want ek het nie tyd vir gesels nie
Slaap is min en ek rol rond
Vroegoggend kry ek ’n oproep en maak die deur oop
Dis verby
Daar was genoeg tyd, maar die gejaag na wind het my met ’n ewige verwyt gelos

27 Sep. 18


 

Anton Döckel

Ouetehuis

Hier ken ek my pad
kan hom toe-oë stap –
dis tyd vir rustigheid
in my nuwe ruimte
waar ek gestolde tyd
uit my foto-album lig.
Kan jy glo:
ek, ’n soepele wildsbok
oë wyd, vel kreukelloos
hare geil, gesond soos
pels – tyd, draai terug!
Ek blaai my boek van gisters
party bladsye liefs ongelees
party dui vae rigting
na paaie nie geloop 

Afbeeldings in my hande
werklikheid agter my rug


 

Launa Moolman

Coppelia-klok

Hoe weet die roep-duiwe met hul gekoeri-koer
dat dit Sondagnamiddag is?
Seker soos die skadu’s weet hul moet lank word;
En die gevoel in jou maag weet die koshuis is naby –
al is jy ’n dorpskind.

As jy nog na elke vakansie jou Ma verlang,
warrie tyd nie dat jy reeds in Matriek is nie;
En teen pouse maak die hier-en-nou jou bewus van die peer pressure,
want jy durf nie vir langer as ’n oomblik of twee in die badkamer
triesterig verkeer nie.

Dan kreun en kruip die sekondes verby in daardie balletles,
Maar wanneer die meisiekinners, in hul middernagblou kostuums,
die Ure-wals met grasie – foutlose voetwerk, gaas, net, siekwens en al – voltooi;
Dan besef jy:
Tyd wéét.


 

Gertrud Anneliese Neveling

Kom! Nou!

TYD is vir my gegee.
Wat gaan ek maak daarmee?
Dit staan nie stil om my ontwil,
ook nie vir jou nie, nee.

Elkeen se deel is ewe veel
van die kosbare tyd-genot,
of jy nou spook of spartel, of droom in ’n kartel,
as jy jou kom kry is dit op!

Dus, wees heeltyd bewus, selfs waar jy rus,
wanneer verlang word jou bes.
Of lief, lag of lekker, die luid-lui van jou wekker
is jou beste vriend tot sukses!

Staan op, trek aan en stap saam met my,
of somer of winterkou!
Die tyd van sluimer en slaap is verby,
die lewe is HIER en NOU!

En as jy dalk somber alleen sit en wonder:
Is die tyd nie reeds lankal verby?
Raak stil en luister ... en hoor die fluister:
"Kom! Kom terug na My!"

Lees ook:

Skryfkompetisie: Tyd

Tyd-skryfkompetisie: Inskrywings I

Tyd-skryfkompetisie: Inskrywings II

Tyd-skryfkompetisie: Inskrywings III

Tyd-skryfkompetisie: Inskrywings IV

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top