Hier verskyn die eerste lys inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Tyd" ontvang is. Drie kontantpryse van R500 elk is op die spel. Die sluitingsdatum is 26 Oktober 2018.

Inhoud
Monica Mynhardt
Zalman Davis
Theresa Postma
Estelle Piek
Francois Meyer
Nina Müller van Velden
Gideon Strydom
Ilse Botha
Abel Pienaar
bevan boggenpoel
Natasha Harmse
Anzé Bezuidenhout
Susan Caryn Robberts
Marschell Gouws
Hildegard Staats
Lynne Lexow
Marie de Kock
Deonise Benecke
Isabella Wiehahn
Mana Wessels
Dietloff van der Berg
Frankie Bielfeld
Gerda-Marié van Rooyen
Riana Barnard Matthee
Mimi Frohlich
Monica Mynhardt
tydverwaaid
om die hoeke van ons
lywe loei
’n werklikheidswind
koud en knaend
ongenaakbaar ruk dit ons
tussen
werklikheid en droom
tussen
vandag en môre
frustrerend fladder
ons
tussen wêrelde
verward onderworpe aan aardse beperkinge
net dalk, my lief,
is ons so
tydverwaaid
omdat
siele
nie van
wêreldse stof
gemaak is nie
Zalman Davis
Ek wil myself
(“’n Digter moenie lank tussen dieselfde mense woon, maar altyd afskeid neem van plekke en persoon sodat hy eensaam swerwend nuwe vergesigte sien en in sy swerflingskap suiwer die kuns kan dien.” – DJ Opperman)
Ek wil sommer
net so myself
in die Ryksmuseum aan Rembrandt
bevind
of dalk poetry in die Tower of London
skryf.
Ek wil myself
verby grense versit,
langs oom Gert
in die Eiffeltoring
sit en pyp rook
of droef-alleen
onder die sterre kampeer,
saam met Breyten
en sy gebede
tussen wit geblakerde klippers
en baie sonne sit,
my hartswoorde en beliefs
in NP se dagboek
met tyd laat ontkiem.
Theresa Postma
’n engel met porseleinvlerke
sou tyd ’n engel met porseleinvlerke wees
’n brose vlied, blou delft waarop jou lewe
handgeskilder is in patrone wat bloot
en weerloos lê,
elke oomblik ’n ruimte wat vloei soos tint na waar
die sterre jare word terwyl jy onbevange vashou
aan die oopval van vlerk om ’n oordaad van
drome te haal
en jy sien jouself – ’n blomtak, ’n blaar,
’n langstertvoël ingebeeld op die wit glans
onder jou vingerpunte en jul saam deur die
rooiste horison breek, die gloed jou
binnestroom soos vreugde wat groei in ’n
klein kind en die aarde ’n palet van blou
helderte is waaroor jul skadu's
gewigloos skuif
die vlug maak jou vry tot die verrukking om
jouself heel te verloor na volkome vrede ...
ja, sou vandag ’n glasuur-gravure wees wat
sweef teen ’n hemel met ruim hoop oortrek
sou jy elke oomblik leef en voel
Estelle Piek
Duale Dans
dit word koud, wee' jy
(die blareval ’n brons tapyt)
tyd vir nader skuif; lepellê
een vlieskombers vir twee
(amper tyd vir kaggel pak)
in die buigings van jou lyf
sal 'k nou weer grif
met inkgevulde passie skryf
(’n pinotage wat asemhaal)
sal jou soene ’n honger
openbaring word
(sal 'k in najaarsbessies dryf)
vir droë skilfers
oor my nagelate
somerd(b)ors
(wyl takke kaler lug indwaal)

Francois Meyer
Hoor jy nog
die klanke van gister se klokke
beier in die Notre Dame van my brein
en roepstemme onthul die waarheid
in die eggo’s van verlange; klein
weergalm die onthou
in skugter sekondes
wat ’n rou streep deur my trek
ek kniel voor die kansel
ek kniel in die bovertrek
die Here kén hierdie uur
van waansinnige wysers; groot
is die tydwrak van spyt –
tog bly hoop die toekoms
met sy tik-tak bekoor
Nina Müller van Velden
Spoedvraat
Gulsig, morsig
Lê ek vraatsig weg aan dit wat fyn beplan al heeldag aanmekaar gesit is
Stoot opgehoopte vurke kos in, terwyl ek oopmond kou
Laat krummels en spoeg oral op die tafelblad agter
Waarna jy magteloos staar; vlietendheid in chaos uitgestip
Stoot raserig die stoel agteruit, stamp die bord vorentoe
Breek winde sonder verskoning
En verlaat die vertrek sonder om weer in jou rigting te kyk
So verrinneweer ek jou, liewe Tyd
Dit wat ons s’n hoort te wees
Kyk ek mis die geure se dans in die deurdagte gebaar voor my
En die kosbare van die moment
Van saamgesels, saamlag, saamdroom, geniet
Van hier en nou, wat nooit weer gaan wees
Bykans. Elke. Keer.
Te funksioneel gerat
Te gespanne oor wat kom
Te haastig oor dit wat nog moet
Te angstig, te selfgerig, te onrustig
Te …
En voor ek my kan kry, het ek net die vlekke op my klere
As herinnering aan jou
En ’n knaende gewete
Want selfs ook jy kan jou goed pak en waai.
Gideon Strydom
Ekdise
soos valuta
ruil ek ou
jong epidermis
vir nuwe huid wat oud is
en toenemend ongepluim
rui ek tot
ryp ek
beleë ek
volwaardig ek
Ilse Botha
Gebed
Woorde
word soos
water
uit my mond
glip dit
ongeklater
duiwelswind
wil dit
wegruk
maar God reik
hand en
ongejuk
stotter ek voort
tot hortend
stom
tyd het gekom ...
tot Ewigdom
Amen!
Abel Pienaar
die lewe is maar ’n tree
tussen die eerste skree
en die laaste sug
-vlietend
bevan boggenpoel
Love Lost
I still remember the time we me T
It still causes a stimul I
You'll always remain my ge M
Into eternity you'll always b E
Natasha Harmse
Valbyl
Omdat jy geskiedenis probeer steel het
op die Place de la Revolution
is jy nou onder die valbyl,
kleptomaan:
jy het inbraak gemaak op elke
museum biblioteek monument
op soek na resepte vir die ewigheid
piramide sindikate wat onskuldiges
se tydspaarrekeninge leegmaak
maar die vonnis is onafwendbaar
skuldig
jou skatte
skitter soos silwer
in die son vlymskerp
jou skatte het uitgeloop soos
die sandkorrels wat so maklik gly deur glas
nou hang jy aan die kruis op Judea soos elkeen wat al probeer het
om ’n ewigheid te steel maar dis die één ding wat die mens met die kosmos in gemeen het: g’n mens óf god kan tyd steel nie: dis net ’n kwessie van tyd voor die valbyl ons almal
o
n
t
h
o
\o/
f
Anzé Bezuidenhout
Versteende treë van tyd
waar sand deur die sif
van jou uurglaslewe val
skuur dit flenters oop
van diep onthou en kom vou
soos vlermuismantels
wat wenteldraai – om en om
die gedagtes en drogbeelde
wat in leë rame
van my denke hang
dan kom my voete
sleepvoet in skuifelgang
om iewers diep
wegloopgedagtes
vas te vang
kom spartel mooi onthou
deur gestolde gedagtegange,
waar my spore reeds in
stadige oumenstreë
met ’n moeë hond-asem
verby die verbrande brûe
van verlede tyd skuifelstap
en ’n groot gemis drup
tik-tok-tik-tok
diep hier
binne my
weerloos en vaal
kom lê die besef dat
rollende klippe
vergaar nie mos nie
en uurglassand
kan nooit versteen –
want geen korrel
wag nie en
T Y D
bly immer
aan iedereen
net geleen
Susan Caryn Robberts
Wild Flowers
All I wanted was a Wild Flower ...
All you gave me was excuses.
You had no time to stop for stupid flowers
And it made me feel so useless.
If I'm not worth a single wild flower,
Would you tell me what my worth is?
All these ladies walk with jewellery –
Head to toe covered in gold.
They smell like heaven, wearing new perfume and their lingerie is new and bold.
I see them smiling as they eat their chocolates, and no
It's not for valentines ...
They were given something very special –
A husband's love and time.
I don't wear jewellery, perfume or lingerie –
I never ask for these things ...
I am not bothered by material things;
Bracelets and diamond rings.
All I ask for are Wild Flowers
But you've made me out to be the fool.
I do everything to keep you happy –
And you provide for us, it's true ...
But I need more than food to keep me happy,
I need some romance too.
They walk hand in hand, love blooming ...
We just walk side by side.
They stop to smell the roses –
You never have the time.
And I watch as pain takes over
While in silence I wait ...
And One day you will pick a Wild Flower
But ...
It will be too late!
Marschell Gouws
Carpe Diem
Four first breaths every second,
and two exhaling their last.
What seems endless
seems to pass so fast.
Why do we spend it watching TV,
or scrolling through endless feeds,
when we could be living our dreams
and meeting our actual needs?
Death is no respecter of persons,
and time waits for no man.
Therefore you must use every precious moment,
doing every great thing you possibly can.
Give your life back to your Creator,
He will guide you in your ways.
Using your time with purpose,
until you reach your infinite, timeless days.
Hildegard Staats
South-Africa
It's time to put the battle ax down.
It's time to fall on our knees.
It's time to let God be God,
we put our trust in Thee.
It's time to look forward –
stop looking back!
It's time to take hands with one another,
to keep our country in tack!
It's time for a Godly generation
to stand up for love and honesty.
It's time for our rainbow nation
to stand together in unity!
With heads bow low
and hearts open wide,
we give praise to our King
and wait for Him to guide.
It's time!
Lynne Lexow
Onder Azrael* se vlerke
elke hartklop,
elke tree
wat mens tydens
sy lewe gee,
elke traan, elke lag,
elke uur van elke dag
word ’n kindjie gebore
en nog iemand gaan dood
êrens huil ’n moeder,
iewers verdien ’n pa
sy dag se brood
terwyl die tyd
genadeloos aanstap
en die oues eenkant
slegs in die geraamtes
van hulle lewens rondkrap
wagtend tot hulle asemloos
stil kan vertrek
en Azrael* hulle beskermend
met sy vlerke bedek
en hulle op reis neem
na ’n tydlose bestaan
waar die siel
van sy reisgenoot
vir ewig
sal bly voortbestaan
*Azrael, engel van die dood
Marie de Kock
Voleindiging
Ons Moeder, Grootmoeder en Oorgrootmoeder:
Was ook eens ’n vlindertjie-dogtertjie
met strikkies en valletjies
wat gespeel, gelag en groot geword het
Liefde gedeel het,
ons geleer het van
die wye wêreld en van ons Grote God.
’n Steunpilaar in die gemeenskap
om later die leisels geleidelik oor te gee
aan ’n ander.
Klein geword het in haar kamertjie … in haar onthou
Met dom vingers die rafeltjies frommel
en te wonder oor vreemde gesigte …
Maar kon vashou aan:
Here, U was vir ons ’n toevlug van geslag tot geslag.
Dit was die wil van ons Hemelse Vader om na Hom te neem
Ons mamma. Ons oumie. En oumagroot.
Deonise Benecke
Hier is my inskrywing: Dit is ’n brief/gedig wat ek vir my pa geskryf het toe hy oorlede is. Agv omstandighede kon ek nie by sy begrafnis wees nie en het dit geskryf ’n jaar na sy dood.
My dad, my held, my ster ...
Iemand met ’n mooier en reiner hart het ek nog nooit teëgekom,
Iemand met so ’n skoon passie en rein liefde vir die grond sal net nooit bestaan.
Wie gaan my nou leer van hoe die grond lewe?
Om die mooi in niks te sien?
Dad, jy was verlief op die reuk van vars geploegde grond ...
Jy het altyd die mooi in niks gesien,
Die soet uit die bitter gehaal ...
Jy kon altyd die mooiste masterpiece maak, uit niks van elke oomblik ...
Dad, jy het geglo, gebid en gehoop al was daar niks,
Die potensiaal gesien van ’n groen oes waar dit eens droë en dorre aarde was ...
My Held, ’n man wat geweet het waar sy hulp vandaan kom,
’n Man wat nie gewankel het as droogtes dreig of plae hom oorval nie ...
My Ster, Dad jy het my geleer om groot te droom of huis toe te gaan, en as ek geen huis het om na te gaan, het ek geen ander keuse as net om groot te droom,
om te reik na die sterre ...
Dad, jy was ’n boer met hart en siel, dit was in jou bloed.
Jy was die beste pa wat ek ooit voor kon vra ...
Ek verlang jou oneindig baie.
Ek’s lief vir jou!
Jou dogter
Isabella Wiehahn (11 jaar oud)
Om die lewe te geniet
Om die lewe te geniet
Kom gratis, kom verniet
Al wat jy nodig het, is tyd
En later kom die spyt
Jy voel jy't iets verkeerd gedoen,
Of was daar iets wat jy nog moes doen
Jy mag dalk vergeet
Wat belangrik is, soos om te eet
Die lewe gaan te vinnig
Soos blits en jy's oud
Maar mense maak tyd
Doen dit nou
Vinnig gou
En los tyd vir die belangrike goed
Jy kort net bietjie spoed
Om die lewe te geniet
Mana Wessels
Nirwana
Hoe vér is ver
hoe wég is weg
hoe meet jy diepte
met ’n maatstok sonder merke
Hoe wyd is wyd
hoe grensloos tog die tyd
is lank só lank
soos liefde sonder perke?
En tog: die wêreld met sy mense
leef nog net soos elke dag.
Kortstondig was die huiwering
oor ’n geliefde mens, opreg bemin
in bestek van tyd
net ’n vlietend’ oomblik van besin
Hoe vér is ver
hoe wég is weg
eind’loos is die pad
wat wentel-draai al om die maan.
Hoe wyd is wyd
hoe grensloos tog die tyd
is hoog só hoog
soos die blinkwit sterrebaan?
En tog: jy is die een hier naby
knus genestel in my hart.
Soos uit graniet gekap en ingraveer
sal jy voortaan by my bly
gemeet in hemel-tyd
net ’n gedagte weg van my.
Dietloff van der Berg
Môrespieël
Dis ek, net ek
omgedop in die glas
beendere vel en ’n lagie spek.
Ou kadawergevreet
hoekom wil jy nie vrek nie?
Al gaan jy in angs lê skop en slaan
die sekondegroot miertjies
bly kom nog opeenvolgend aan
en vreet jou gestadig weg.
Ek maak die kassie oop
en al is my pankopbeeld
met sy vergeelde, afgeslyte tande nie meer
in die weerkaatsende lig gevang nie
bly die dowwe klop
en kry ek tussen die botteltjies
geen elikser wat die hoofpyn kan stop nie.
’n Koue wind ril oor my kop.
Net toe ek met bottel in die hand
die venster toe wil trek,
sien ek in
my liefste witkoppie wat laggend speel,
opkyk uit die moddersloot
na sy vlieër in die blou daarbo,
wys daar’s meer aan die lewe
as die benouende vrees vir die dood.
Frankie Bielfeld
Kasgedagtes
Die bloedspoor wat jou naels op my bene kom uitvoel
stel my gerus dat ek weer gebruik word vir my doel
en in die gesuis en die gesmeul van ’n stomende sigaret
raak ons stemme stadig-maar-seker met stiltes besmet.
In die sagte musiek wat my ore kom seën
(die steunpilaar waarteen ek altyd leun),
krap ek tussen geheime en geraamtes rond,
krap ek in my harsing-grond rond soos ’n hond,
kou ek aan die bene van my gedagtes,
verstik ek aan die oorblyfsels in my kas;
ek het al lankal laat gaan aan die verlede,
maar nog steeds hou die verlede my so styf vas.
Gerda-Marié van Rooyen
Wanneer kastele verdwyn
Gister was jy piepklein toegedraai op moederskoot.
Jou babbeltaal verander in Engels met ’n aksent.
Vanoggend vertel jy my van kastele en drake.
Jy gaan baklei hulle met pappa se durf en mamma se pantoffel.
Vanmiddag begin “why?” jou brein oorheers.
Jy daag alle grense uit en kyk hoe hoog jy kan klim sonder om te val.
Vanaand begin jy die wêreld ontdek, jou kot té klein en teddiebere vergete.
Vandag is besig om te verlep terwyl daar slegs kiekies van gister oor is.
Môre is op pad om jou te kom haal en jou weg te voer totdat die ewigheid ons oorspoel. Dán sal tyd se arms geboei word; die tik-tik se tande word finaal getrek.
Riana Barnard Matthee
Na duisend ure
jy strek jou arms na my uit
ek vat jou hande, vergeet van tyd
ek het gedink, daar is iewers fout
my hart is warm maar my lyf is koud
ek beantwoord elke ruwe soen
het myself oortuig om dit te doen
ek het gedink dit is liefde wat ek voel
geen woord wat jy sê, het jy bedoel
so kom ek al jare met die seer
afgestomp, dié het tyd my geleer
ek het gedroom dat jy my lief sal hê
jy het nooit daardie woorde gesê
soms was ek uitbundig
ekstaties, swewende in die lug
gou het ek geleer dat jy my pynig
voor tyd sal ek moes vlug
vir soveel jare het jy oor my gebraak
tyd het my wees gelaat, alleen, naak
tyd wag vir niemand, staan nooit stil
was elke minuut dan God se wil?
so het tyd my dan ook ingehaal
ek droom nog, net op kleiner skaal
na die aftik van ’n duisend ure
bly dit ek, vader tyd en my vier mure
Mimi Frohlich
Somersliefde na ’n bitter winter
Ek was droog vir ’n lang ruk,
my takke sonder geluk.
O, ek het jou strale gemis!
Jy het ’n yswind gebring
ek kon geen blaar vind.
O, hoe mis ek jou Sonkind!
Maar die dag het warm geword
en my blomme het begin bot.
Ek kon jou weer sien my son.


Kommentaar
Hoe mooi skilder taal. Hoe wonderlik skeppend ons mense. Hoe spel mens liefde, lewe? T Y D ...