Tyd-skryfkompetisie: Inskrywings VIII

  • 0

Hier verskyn die agtste lys inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Tyd" ontvang is. Drie kontantpryse van R500 elk is op die spel. Die sluitingsdatum is 26 Oktober 2018.

Inhoud

Hannes Deetlefs
Alet van Heerden
Danielle Robbertse
Renaldo van der Merwe
Zana Cronjé
Bianca Gouws
Marius Lucien Coetzee
Gideon van Zyl
Wikkie Burger
Bianca Janse van Rensburg
Marthie Botha
Faeeza Skaarnek
Stienie Boshoff
Naomi van der Merwe
Carma Shaw
Annette Odendaal
Laurika Samuel
André Snyman
Morné Kruger
Lynthia Julius
Ena de Kock
Carla Botha
Elmien Hattingh
Lee-Ann Cronjé
Estiné Britz

 


 

Hannes Deetlefs

Aanhouer wen

Deur onsigbare en baie wilde geeste word ons lewe deur die son aangepor en gejaag,
Terwyl ons bid en peins, kla, skinder, lag, maar ook wakker lê as die gewete so knaag.
So dreun die opkomste en ondergange van die son aan ons mensies verby.
Ons leef met groot wense: Vrees, verdriet of vreugde maak hartseer of bly.

So hardloop die son met ons lewe deur die ure, dae, weke, maande en jare
Ons bloeddruk is aan die styg, ons asem jaag, die adrenalien klop in die are.
Ons kan net moedig die leisels stewig vasvat en die lewe probeer stuur.
Mis dalk so die klippe en die gate op die lewenspad, want regmaak is duur.

Maar, ons onthou ook skaars die punt van vertrek,
“Aanhouer wen” prewel, hoop, dink, en bid ons net.
Waarheen groot die reis gaan, die het ons skoon vergeet, en ons moet dit bely.
Nie belangrik nie, want skielik staan die lewe stil, is die lewe beëindig, alles verby.


 

Alet van Heerden

In momente van tyd

Ongemerk nes bergwater
vloei tyd langsaam.
Wolke drywend deur die dag,
ongebonde aan tyd en plek,
voer my onbewustelik mee.
Langs die pad beweeg wind
golwend tussen grassade
Op windvingerpunte sweef
pluimsade met my hartswense.
Ek dwaal op my onthoupad
deur gister se soet en bitters.
Drome tuimel deur vingers –
sandkorrels deur ’n uurglas
in momente van tyd.

Kosmosse, vandag hier môre weg:
hul kortstondigheid beaam
wat onvermydelik vergaan.
Wie sal die tyd se klok kan stop
as dood aan die deur kom klop.


 

Danielle Robbertze

Sarah Mpemvana

eendag in tyd sal ons mekaar weer sien
Ricoffy om die kombuistafel drink
ek sal onthou hoe jou sagte hande
deur my hare weef om die
beste balletbolla te maak
kos uit die boonste rakke
met nimmereindigende liefde gekook
jy het lig geskyn
in ’n donker huis
waar ’n bose man spook
jy was my tweede ma
my ngumhlobo
my mkhuseli


 

Renaldo van der Merwe

’n Dag in my skoene

Ek dink steeds aan jou in die oggend wanneer ek opstaan
net soos gis'traand toe ek lê en uitkyk na die maan
Ek kyk of jy dalk al online was,
ongesiens bly ek jou heeltyd oppas

En deur die dag bly goed my aan jou herinner
baie keer dieselfde dinge as gister
Soos die merkie op my arm
van die keer toe jy sê ons ewig vriende kan wees
die bloed wat uitgeloop het, was warm
Ek wens ek was daar, al is dit in gees

die dag gaan verby en my foon
maak nie die notification
van jou naam langsaan ’n kroon

Ek weet al klaar
jou dag was so besig
dat jy nie kon praat nie, maar
vanaand laat, lê ek weer op my foon
in my oë skyn die skerp lig
terwyl ek na ’n foto van jou kyk

Net voor ek gaan slaap, maak ek seker jy's oukei
en wanneer jy sê hoeveel jy my waardeer
voel my hart weer vry
maar slaan dan weer neer
wanneer ek agterkom
– dis as vriende
wat jy ons pad wil stap


 

Zana Cronjé

pynvermorsdetyd

Vrees, vrees vir die dood
verlange van verre verhoor
die jas teen my kas wag
en ek dink terug aan wat was

Stil, stil in die nag
vergete van alles
en ek wag, my geliefde,
vir meer tyd

Tyd, tyd saam met jou
miskien oor ’n jaar,
miskien sommer nou
en ek onthou ... jy is al koud

Nader, nader aan jou
maar tyd staan stil
in pyn
en ek is vas

Jare, jare se pyn
verby, uiteindelik
my oë gesluit
en steeds treur hulle in tyd


 

Bianca Gouws

Grootword
Vir Madré Mostert

Onthou jy nog toe ons vir die vliegtuie gewaai het
En die donderweer ons bang gemaak het?
Toe die monsters onder ons bed beter was as die in ons gedagtes?
Onthou jy nog modderkoekies bak en swart fietsie ry?
Onthou jy nog toe ons baklei het oor inkleurkryte en oor wie eerste gaan swaai?
Onthou jy nog die dae van kaalvoet hardloop en boyfriends hê?
Onthou jy nog die dae van popspeel en komberse oor die eetkamertafel gooi?
Onthou jy nog die dae van Coco Pops eet en geheime deel?
Onthou jy nog die dae van kaalvoet hardloop en toktokkie speel?
Onthou jy nog die dae van laat Saterdae speeltyd en oorslaap?

Onthou jy nog die dae?

Want nou gaan die vliegtuie verby na beter plekke
En die monsters kruip by ons gedagtes uit
Want nou bak ons koek en ry in huurmotors rond
Want nou baklei ons oor of dit die moeite werd is om saam te wees en of dit net te veel is
Want nou loop ons elke dag op kampus met toe skoene op soek na ’n man
Want nou speel ons op Instagram en onthaal mense
Want nou eet ons All-Bran Flakes en kyk mekaar aan
Want nou hardloop ons rond in die gym en van klas tot klas
Want nou sien ek jou dalk eenkeer ’n jaar op sosiale media en soms jou ma in ’n koffiewinkel

Wat het geword van ons grootword?


 

Marius Lucien Coetzee

Om ses nm

westelangs dans bloedgeel vlassebloei vlamme van granaat
metrum vry

salm aalmoese met sterte en donse
vlei hulle oor ’n kobalt obligaat

Pärt beheks oor die fm
(tintinnanbuli fletsings opgevang met die oor, laat loop deur die kop, gaan lê in die hart)

die maan vanaand is geen godin
die son iets gans anders


 

Gideon van Zyl

Winter

twee takke tik-tok
ywerig teen die venster
die dae raak kort


 

Wikkie Burger

Klok

twee wysers wat
tik tik
ure uitklik

Duimpie en Langeraat
vinnig en sy lome maat
wat twee dosyn keer per dag
met mekaar praat

twee wysers wat
tik tik
ons lot beskik


 

Bianca Janse van Rensburg

My hart se onrusrat

Donker eeue se horisontale verlange
Stuur my gedagtes terug na die maanhorlosie se gange
Ons verhaalgang word in tydsure gedek
Die misterie van ons liefde word geanker by ’n begraafplek.

Stuur vir my engele-akkoorde-serenade
Terug gevat na ’n gedagtewisseling wat my hou ’n dekade
Skaduwees van al ons sekondes
Lê vertrap in ons liefdesuurglas se sondes

Bedek my sonwyser toe met ’n minuutjas
Want met ’n gebroke hart is al waar ek nou inpas
My hart se onrusrat
Kan jy met tyd heel my skat

In die warrelwinde van ons verhaal
Wil ek met die wyser van verlange terug in tyd verdwaal.
Ons tempo van ons verlate tydsduur
Word met eindelose tyd weggestuur
Donker ure se horisontale verlange
Word belê in gedagtes na die maan se gange


 

Marthie Botha

Tyd in balans

Tyd dra gewig op die weegskaal van die lewe
en moet balans gee in die doelwitte waarna ons strewe;
soos dag en nag die dae aftel en beurte maak
is ewewig ook nodig in die lewenstaak
van werk en speel deur die jaarringe van die tyd,
maar ’n wyle moet gewy word aan die belangrikheid
van sake wat geluk en vrede beloof,
en grense moet gestel word wat spanning uitdoof.

Hierdie lewe laat mense wipplank ry
want tyd is altyd te min, en iets moet ly.
Dis verhoudings of spertye, dis gesin of plesier,
en noodwendig kom werk voor gebeurtenisse vier.
Staan ’n oomblik stil op die spankoord waar jy loop:
kyk ver in die toekoms en laat drome jou noop
om die skaal te laai met tyd vir dink en liefde
asook goue oomblikke van omgee en vreugde.


 

Faeeza Skaarnek

Veranderinge

Wie het my ouderdom gebring?
Wat laat die voëltjies in die oggend sing?
Soos die jare aanstap, sien ek hoe almal om my transformeer
Haarkleur, verander van swart na grys
Uitgestrykte gesigte word gevang met kreukels
Nie uit eie wil nie, maar met die dwang van die natuur
’n Baba word ’n ouer, ’n ouer word ’n grootouer
Wat noem ek dit?
Wat bring al hierdie verandering?
As ek na my horlosie kyk, sien ek nie meer sesuur nie
Maar ’n nuwe dag wat aangebreek het.
Dae word weke en weke jare
So verander alles rondom ons
Wanneer ek vir mamma vra “hoe gaan ek leer?”
Dan noem sy iets vreemd, van die lewe sal wel wys
Of iets in daardie lyn
Ek kan nie meer onthou nie
Want hierdie jaar het my verjaarsdagkoek, drie syfers
So verander alles, en eendag sal ek totsiens sê.


 

Stienie Boshoff

Tweede Kans

Met my potlood in my hand, voel dit of ek soek na spore in die sand
My gedagtes verwaai, soos blare in die wind
Party heel, ander nog vars, sommige verslind
Dikwels is mens geneig om te dink daar's môre nog tyd

Terug gedraai in tyd
Vol verlange en spyt
As ek jou maar net weer vas kon hou
Of saam vir toktokkies in die tuin kon grou

Sou ek dan meer waarde aan tyd kon heg
Hande in die hare, besef ek vandag
Jou liefde en die klein dingetjies was eg
Met verlange en smart
Is dit in stilte wanneer my hart
Weer smag na die geterg, gesels en glinster in jou oë wanneer jy lag

In ’n droom verskyn jy van Bo
Groen is die gras, met die atmosfeer so sag
Bome in die verte sit jy op ’n bankie vir my en wag

Troostend met ’n groet
’n Oomblik wat voel soos ’n realiteit in ’n ewigheid
Om te glo en sterk te wees met goeie moed

Hoop vir die toekoms voor my uitgestrek
Spreek jy my aan om steeds ’n verskil te gaan maak
So tot in met die hede
Gaan ek laat gaan van die verlede.

Met lewenswysheid en die verandering van tyd
Soos opgeskryf in God se woord,
Vertel dit ons in Prediker dat daar ’n tyd is om te leef
en ’n tyd om te sterf

Tweede kans word ek gegun
Om die liefde te bemin
Soos geskryf is in Korintiërs
Met nuwe oë sien ek uit na die toekoms
Ek sal lewe, liefhê en gee sonder om iets terug te verwag
Die HERE se Naam sal ek versprei want voor mense was Hy verag
Maar aan ’n dierbare kruis het Hy vir my sondes gesterf
daardeur sal ek my bearbei
om vir JESUS te leef.


 

Naomi van der Merwe

Weerlose gedagtes

Wie sal verstaan
Tyd gaan so gou verby
Ouderdom kruip nader
soos ’n dief in die nag

Tyd vorm plooie, elke dag
Grys hare skiet wortel en
loer soos ’n ondeunde kind
deur ’n bos in die nag

Tyd vorm vetrolle, om jou warm 
te hou in die winter, maar ’n las in 
die somer, soos ’n jas in die kas
Selluliet om elke hoek en draai
klou soos ’n neet en daar is ’n pil
vir elke skeet

Tyd laat die lyf voel soos ’n bal wat
geskop word, ek kyk met verlange
terug na my jongmeisiedae
maar die spieël lag vir my
my prag verby

Tyd koggel my, dit stap aan
hoe weerloos voel ek nou
Tyd glip uit jou hande
soos ’n stukkie skande


 

Carma Shaw

’n ∞mblik se wonder

Laatmiddag
het ek oor die berg gekyk
(rigting Stellenbosch) –
daarbo het duiwe
momenteel
skaduspikkels teen die blou gelos;
wolke was aan’t stapel
vér verby ’n alou’ krans.
Twee swartvlerkkraaie
was op westewinde
en ’n lugstroom aan die dans.

Ek het omgedraai
en na die see gekyk
(rigting Melkbosstrand) –
daar waar oeroud-mosselskulp
versplinter het tot sand.
En soos eens
het die silwer dag weer aand geword
en die water – vlam en vuur;
toe meeue bo die branders klim
... toe vermiljoen die skemeruur.

*

En stil het ek bly wonder:
Sal daar eendag (millennia van nou)
weer ’n vrou, nét hier
op dieselfde plek kom staan –
hier waar lig en skadu
beurt’lings oor die aarde wals.
En sal sy (soos ek)
ook wonder oor die wonder
van dit als?


 

Annette Odendaal

’n Asynlappie se troos

stukkend en aan flarde geskeur
te seer om weer te probeer

soveel gedagtestukke
op herinnering se krukke –
soos ingerygde sosatiestokkies
met swart en wit vierkantige blokkies

miljoene sekondevlokkies
tyd se genadebrokkies
elke jaar gratis en verniet
oorvloedig oor ons uitgegiet

salf om oor die seer te smeer
’n asynlappie vir die sweer


 

Laurika Samuel

Die belangrikheid

tik-tok, tik-tok
in die diep donker nag
sê die wyser op die klok
dat die tyd nie wag

maar wat is dan
belangriker as tyd
die wonder van wat kan
of die selfverwyte spyt

soos wat die wyser
elke sekonde afklim
word die mens wyser
en tyd raak min

dus fokus op die positief
die mooi van die lewe
dit van relatief
en om na God te strewe

want in ’n oogwink
gebeur die realiteit
daar word in die aarde weggesink
en ons eindig met ons stryd


 

André Snyman

Skemertyd in Pretoria

ek besit sonstrale wat skaam
oor my skouers loer
vandag, eendag sal ek jou ontvoer
die sterre vir jou gaan ophang
die hemelruim omkoop
om na jou te verlang

ek wil die druisende geraas van
Pretoria se haas en jaag
iewers op ’n klippie gaan skryf
dit in ’n warboel van waters
ruisloos laat sink, stadig
voor dit my drome verdryf

ek wil stil word saam met jou
skrams in jou skemer oë
my sonstrale geboë
deur jou sielvensters laat gly
dit krul deur jou hare
jy pomp liefde deur my are

want hier sit ek nou
op ’n paleis van uitsigte
en steeds is ek leeg
sonder jou wat sigsteel pleeg

ek luister na Spoegwolf se klanke
Koos se skurwe manke
wat saam met die laatmiddagson
’n afdruk van skemertyd smelt

ek sien die sonsak-dans klou
die leemtes in my hart word toegevou
deur ’n ander tipe uitsig
met ’n geel rokkie te beleef

ek wil my ruite afdraai
en na die buite uitsig staar
om die towerstrale te sien
van haar glans, wat deur my konkel

as sy staan in daai geel rok
word my hart se klop oorrompel


 

Morné Kruger

Eens

Dit lyk of die lewe hom versmoor.

Hy onthou vaagweg die strop om sy nek, die goeie ou dae.
Hoe haar gesig altyd so helder kon blink en sy nie eens moedeloos sou klink.
Maar nou sit sy alleen op die stopland
en hy’s verlore.

Sy kartonboks netjies uitgeskeur tot iets wat lyk na A4 grootte.
Dit lees, “Baie honger, klere is stukkend.
Vrou en kinders verloor.”

Hy is ’n man van twaalf ambagte en dertien ongelukke.

Tog is sy skouers breed, dit moes nog altyd wees, maar hy kan net soveel vat.
Sy bankrot-status en slapelose nagte lei hom op die breë pad.
Hy wat eens soos ’n splinternuwe sikspens gelyk het,
Soek nou elke aand na ’n warm bed.

“Die beste stuurman staan aan wal”, herinner hy homself, terwyl die lewe
hom stiefmoederlik behandel.
Sy voete is moeg gestaan
en sy hart
is net moeg.
Die warm middagson dans op sy roesbruin neus
en hy wens sy lewe kon net terugdraai en dieselfde wees.

Maar sien,
tyd is nie jou vriend nie
en die son trek water

en voor jy dit agterkom
word dit al hoe later …


 

Lynthia Julius

Om te wag op ’n niks

Daar sit g’n kuns in wag nie
in niksdoen nie
in werkloosheid nie
dit kom vanself

en as die letterkunde
die  woorde
die punktuasie jou verlaat
sit jy met ’n bord geroerde weemoed
’n glas what if’s
nagte sonder vriende
met stil dosente
antwoorde wat teleurstel
ure van niks anders as tyd op hande

Al wat dan oorbly is die
50mg Lamotrigine in die oggend
75mg Lamotrigine
200mg Lithium
10mg Citalopram
3mg Risperidone
en 10mg Amitriptyline – in die aand

en die vanself wag op dinge wat nie kom nie
die vuiste
vuiste vol tyd in jou hande.


 

Ena de Kock

Recollections of tomorrow

If I cupped my hands
protectively over this moment
could I make it stay?

If I shed a tear for the passing day
will the world still
flow away?

Life is a wild horse:
untamed days race
untasted towards tomorrow.

Pains and pleasures are only poured
into my cup, only savoured in retrospect
through fickle dry memories.

Still, I cup my hands
like a beggar, lurking in my own shadow
as I wait, unnourished, for my eminent tomorrows.


 

Carla Botha

trektyd

die reuk van leë vertrekke hang swaar
      gebuigde spykers klou soos hiërogliewe
aan wit mure

      stofspore rus vergete op vloere
tekens van tyd
      verstreke

groet is soos ’n begrafnis –
      die gevoel van verlies
onvermydelik 

      realiteit
dra ’n stank
      nes die dood

ieder en elk sal wel
     eendag moet aanstaltes maak ...


 

Elmien Hattingh

Die minute tik verby

’n Mens se lewe is ’n mallemeule
vol van allerhande geure.
Liefde, haat, gebroke harte
en tyd verdeel dit in verskillende parte.

Daar is ’n tyd om gebore te word
en ’n tyd om die aarde te verlaat.
Elke mens loop rond met hierdie tikkende bord,
want een of ander tyd gaan die horlosie slaat.

Jou lewe tik voor jou in minute verby
en jou gedagtes voel of jy in ’n boot ry
wat jou hele lewe laat verby gly
en jou laat wonder of jy dalk moet bly?

In hierdie lewe van tyd word dit jou baas
en jou lewe dryf verby jou in ’n waas –
van spyt, van vreugdes, van verdriet.
Die minute tik al hoe vinniger en jy moet
gryp wat die lewe jou ook al bied.

Minute wat tik, maak liefde net ’n woord
en jou gedagtes wat soos geliefdes saam hoort.
Tyd word jou hart se kamers na ’n soeke
wat jy sal vind in die Bybelboeke.


 

Lee-Ann Cronjé

’n Minuut

Die tyd, die tyd,
dit hardloop uit!
Dolle gejaag,
Ek voel skoon deurmekaar!

Hardloop hierheen,
hardloop daarheen.
Uitasem en uitgeput,
wanneer sal ek tog ’n kansie kry vir sit?

Voel hoe die histerie opbou,
niemand moet tog my dag ophou.
Elke minuut vir myself,
ek soek nog tyd, delf, delf, delf!

Haal tog asem en lag.
Kyk na die dag se breek en die sterreprag.
Eendag gaan jy wens vir ’n minuut,
maar helaas verniet!


 

Estiné Britz

Die hart

Die bron van jou lewe, wat toelaat dat jy vergewe
Jou lewenslange vriend wat nooit sal grom
Is die hart, maar is ook soos ’n tydbom!

Daar is ’n tyd en plek vir als wat jy doen
Die hart keer dat jy dit nie oordoen
Maar sy tyd is onvoorspelbaar
Hy besluit of is jy klaar!

Jou hart gaan deur verskillende tye oral heen
Soos liefde, hartseer, trots, teleurstelling en die reën
Word soms gebreek deur tye, goed en wel
Maar wees geduldig, hy sal weer herstel!

Jou tyd op aarde is net ’n kort ruk
En word in ’n oogknip deur jou hart ingesluk
So wees dankbaar vir als wat jy het
Die hart se tyd, is al wat jou red!

My Voorvaders was boer en Afrikaner
En so sal my hart bly, of ek bid of vergader
Ek bly getrou en trots aan my land
Die tyd van my hart, sal jy nie kan verbrand!

Anders as mense, werk sy tyd deur
Sonder om te kla of gek te skeer.

Lees ook:

Skryfkompetisie: Tyd

Tyd-skryfkompetisie: Inskrywings V

Tyd-skryfkompetisie: Inskrywings VI

Tyd-skryfkompetisie: Inskrywings VII

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top