Hier verskyn die sewende lys inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Tyd" ontvang is. Drie kontantpryse van R500 elk is op die spel. Die sluitingsdatum is 26 Oktober 2018.

Inhoud
Johan Kotze
Riëtte Salzmann
Shirley van der Merwe
Tessa Kruger
Marissa du Plessis
Johané Snyders
Marna van den Berg
Susanne Pike
Amanda Niehaus
Jean-Marie Engels
Suna Ester Snyman
Sanet van der Westhuizen
Sharon du Preez
Rosalee Meyer
Christa Kleynhans
Jadrick Pedro-Koopman
Evert Louw
Sunelle Geyer
Wilna Meyer
William Witbooi
Bronwyn Edwards
Erica Pretorius
Engla Goosen
Patricia C Viljoen
Franza de Kock
Johan Kotze
Plekkie innie son
Daar is tyd om klippe op te tel
meneer
om vuis te bal en smeek vir aandag
sodat ons nie elke nag
hoef te vrees vir skote en wonde
waar ons skreeu met monde
wat hees is van moed'loosheid
net om ’n plekkie innie son te kry.
Daar is tyd om klippe neer te gooi
en almal uit te nooi
om saam te dans en op te skuif
want God se son is groot
meneer
ons kan almal deel hê in sy gloed
Riëtte Salzmann
Verkeer
Ons groet soos myners
tydens skofruilings
wissel wipplank-woorde
in wankelende hysers –
’n skuldige, “ons moet kuier”
gryp gou ’n handdruk in
’n swaaideurbeweging
of glip verby glure in
kruisings – motors en ons
stip vooruitstarend want
ons moet stiptelik wees
vingers verstrengel in
stuurwiele wat gesluit na regs
die tik-tok wysers volg
slinger om-en-om vasgevang
in ’n selfgesentreerde spilletjie
(moet nou gaan) verby mekaar
(sien jou weer) vermy mekaar
vermink in die ratwerk
van ons eie ure word ons
stuk vir stuk
ingesluk in die kolk
van elke sonsteekdag en
uiteindelik die doodse nag
Shirley van der Merwe
Verbleikte herinneringe
’n Oomblik vasgevang in tyd
’n minuut ... ’n uur ... ’n ewigheid:
Ek staar na die verbleikte herinnering van jou glimlag
Terwyl jou stem verkrummel dag by dag
Dit raak verlore soos u harmoniese simfonie tussen reuse berge
Die eggo's duideliker as die realiteit
’n Gat in my siel vir altyd sal daar bly
Terwyl jy steeds in my gedagtes rond sal swerwe
Ek staar na verbleikte herinneringe van jou oë wat teruggetrokke voor jou uitstaar:
Jy was nooit een vir foto's nie maar dié een maak my hart so swaar
Hy is perfek, jou oomblik vasgevang in tyd
’n Minuut ... ’n uur ... ’n ewigheid sal jou oomblik in my gedagtes sluit
’n Minuut ... ’n uur ... ’n ewigheid
Jou glimlag sal bly vir altyd
Tessa Kruger
Hipomnemata
Eens, lank gelede, was daar ’n plaas.
Sewe geslagte was daar die baas.
Eeue terug geruil; vir ’n beesvel.
Te perd afgetree; soos die bevel.
(Maar min het hul geweet …
Die Heer het tyd gemeet …)
Kinders het perd gery, gelag, gedroom.
Gespeel onder ’n eeue-ou boom.
Ouers het gedy en hul werk getoom.
Treinstasie toe gery met die kan room.
Van vroeg tot laat die Karoo getroef.
Hul geloof, van dag tot dag, erg beproef.
Dis ’n droë wêreld daai, selfs met reën
en donderblitse, kraak ysterklip kwaai.
Soetveld; wuiwend in die wind gewaai.
Fontein met ’n maalgat, vis geswaai
tot doer onder met gans en makou
op die plaasdam, waar die otter hou.
Op banke van klip was wasgoed gewas.
Dis vir skoon klere aan elkeen se bas.
Kloofspruite groen en besembosse.
Koppies, rante en karoobosse.
Veldplant. Vetplant. Insekte galore.
Reuke, medisyne en “what more?”
Bure kom bymekaar, waar skraap-skraap
met raad, hulle planne maak met skaap.
Teen skeertyd was dit ’n groot kaboel.
Almal kon die skeertjek al klaar voel.
(Maar min het hul geweet …
Die Heer het tyd gemeet …)
Soveel dinge word dan gedek hier:
Dis die koshuis en skool, volk en dier.
Saans om die tafel was die hoofde laag –
Groot genade, die Heer het ons behaag!
Appelkooskonfyt en warm brood!
Bekers vars melk, stil die hongernood.
Verekombers, warmwatersak vir die nag.
Koolstoof en moerkoffie maak elke nuwe dag!
Nou is dit net weg …
Droogte het geseg …
Ra, die songod lag:
’n AGSTE geslag?
Elkeen kry sy dag.
Wat het jy verwag?
Maar min het Ra geweet …
Die Heer hét tyd gemeet …
Die sirkel ís goed voltooi.
Hy gee hul iets anders mooi.
Met dankbaarheid in hulle harte
verbly hulle hul … daar’s geen smarte.
So het Hy self gesê:
“Ek gee wat jul wil hê.
Eer julle net my Naam,
en Ek gaan altyd saam.”
Met net mooi herinneringe
kyk hul nou na al die dinge.
Eens was die plaas hul wel geleen.
Kinders en liefde mee geseën.
Al moes hul oppak, vaarwel sê en gaan,
die Heer het hul na iets anders gebaan.
Nou sien hulle al die wrede dinge.
Hul’s gespaar, en kan net tesaam singe:
“Hipomnemata,
dis wat ons deurdra.
Die Heer het wel onse tyd gemeet,
ons agste geslag het te veel leed …”
Marissa du Plessis
Verlore vingerverf onthou
Klaasvakie,
is jy al oor die klip in die lig?
Of kan ek nog droom?
Ek is wanhopig
oor die deugniet
wat my gister en onthou
in sekondes
en ure
weg
tik.
Bose kwashale op donker doeke.
Jy, Tyd, verheug jou
in ons rou, oor verlore
vingerverf onthou
Johané Snyders
Vallende druppel
Vallende druppel op my vensterbank
Klink soos die tik-tok wyser in my hand
Alle gedagtes in derde rat
Mag ons almal ’n tree terugvat
Vallende druppel op my vensterbank
Mag ons almal weer God bedank
Nog ’n keer weer stil gaan staan
Die lopende wyser van die muur afhaal
Vallende druppel op my vensterbank
Kom ons maak weer die dae lank
Kom ons draai die tyd weer terug
Draai die tyd weer op sy rug
Marna van den Berg
Wyser
Die son skuifelstap
klein bietjie wyser met ’n krom kierie
met elke syfer terwyl skaduwees kruip
ontdek opnuut in dowwe grysheid
klokslag in ritme afwagtend in die aand
ontwaak seisoene op die ewige slaap
in ’n tydlose siklus
Susanne Pike
verpaste trein
jou afwesigheid wen
anti-kloksgewys af:
stoomrol oor rooi
onvervulde ure
misbruikte minute
sedelose sekondes
stondes vol sondes –
beur deur flikkerligte
na ’n perron vol puin
om in ’n verpaste trein
rukkend tot stilstand
te tik
Amanda Niehaus
Soos sand deur my vingers
Tyd is nou maar eenmaal nie in ons hande nie.
Hoe graag ons dit ook al somtyds sou wou aanhelp
Of somtyds dit ’n rukkie sou wou terughou
Dit wat verby is, is verby …
Dit wat nog voorlê, moet ons voor wag
Tyd is soos ’n uurglas
Die sand wat deurgeval het, kan nie terug nie
Terwyl ouers wag op die koms van ’n baba, wil ons die tyd aanhelp
Wanneer daar gestaan word by ’n sterfbed, wil ons die tyd ’n bietjie laat stilstaan
Tyd kan nie gekoop word nie
Tyd kan nie verkoop word nie
Die slotsom waartoe gekom word ten opsigte van tyd
Maak die beste van elke geleentheid
Leef asof tydgewys, vandag jou laaste dag is!
Jean-Marie Engels
Omwenteling van sekondes
Tyd is kosbaar en staan vir niemand stil
Dit beweeg aanhoudend, maar begin weer by nul
Elke sekonde, is nog ’n kans verby
Om weer iets te doen en jou sonde te bely.
Ons sê altyd môre; maar kom nooit daar uit
Elke nuwe dag, is weer ’n ander besluit
Ons drome en rykdom is ’n gejaag na wind
Want sonder tyd is ons ’n verdwale kind.
Los jou horlosie en als wat jou lewe beheer
Hou op om ander se dinge te begeer
Spandeer eerder tyd aan die naby jou
Sodat jy nooit eendag, verlore tyd berou.
Suna Ester Snyman
Vyf voor twaalf
Ek't tien miljoen gesteel
Jy's gereed om te deel
Net drie miljoen vir jou
Nou het jy rede om my af te knou
Ek's ongeskik, jy's ongeskraap
Jy heul met die vyand om my te kaap
Ek bespiegel oor jou sanity
Jy pak die skuld op ons humanity
Ons baklei heen-en-weer
Selfs die hof kan ons nie keer
Dis tyd om die malligheid te staak
Ek's bankrot, verleë, geskaak ...
Die tyd van afrekening is hier
Ons is nog besig met die nuutste gier
Ons geboortereg is reeds verkoop
Dis veels te laat om weg te loop
Vyf voor twaalf – waarom was niks ooit genoeg?
Dis nou te laat om te sweet en te swoeg
Selfsug en gierigheid het alles opgedons
Twaalfuur is dit klaarpraat met ons
Sanet van der Westhuizen
Tussenspel
Wat is tyd?
’n Dimensie,
’n Persepsie,
’n Ewige frekwensie,
’n Ritmereëlmaat wat sekondes loslaat
In
minute
ure
dae
maande
jare …
Daar is ’n tyd vir alles onder die son …
Tussen liefde en haat
lê die spasies van tyd
en letsels gelaat
Tussen nou en onthou
lê jare se berou
Tussen weet en vergeet
lê daar eeue vol leed
Tussen die wieg en die graf
dalk jare … of net ’n dag
Sharon du Preez
Altoos
hoe lank kan ’n ewigheid duur?
soms net ’n skemering in sekondes verhuur
en soms is die flikkering van ’n vlam
wat herinneringe aan jou moet vergestalt, te tam
dit duik en dit piek
van bloubont na blos
tot in die donkerste uur geblus tog
talm die nadraai steeds manjifiek
tiktak tiktak tiktak alom gepols
sonder tussenpoos
is jy is ek is ons
tydeloos
Rosalee Meyer
Icarus
Rondrolnagte vol
rustelose onthou
hoe moes ek geweet het
dat ware goud opgesluit lê
in die sekondes
tussen my en jou
Die uurglas staan leeg
my hart bloei berou
vlerke gesmelt
Icarus val hard
Tyd verdamp in ’n wasem-asem onmeetbare smart
Christa Kleynhans
“Tempus Fugit; usque nunc stat” – Tyd vlieg; tyd staan stil
Katvriendelik, kliniese wit gewaad ontvang my onder die neonligte.
Stilte. Horlosie getik. Susters se skoene se ritmiese klik-klik-klik.
Stille gille. Skrillend. Skreiend in my brein alles teen my weerbarstige, rebelse grein
"híérdie keer" het die "lááste keer" my ondermyn.
My oordeelsuur is hier.
Teen willens en wetens, o, hard hierdie stryd:
Moes ek maar nie net die silwer koord sny?
Moes ek nie maar nie?
Maar ek weet nie wat wag anderkant Die Muur nie.
“Juffrou Kleynhans, u mediese fonds?”
“Juffrou Kleynhans, u medikasie?”
“Juffrou Kleynhans, meld asseblief u sielsrenons.”
Hoe kan ek my verslane gesig meer vermom?
Te laat.
Hulle lees trane en afgeremde siel in my aura.
Weerloos. Gehawend. Drogbeeld uit die boks van Pandora.
Vegtend … om tyd te laat stilstaan .
Vegtend om die seer te kan vergeet.
Vergeet van die relevansie van tyd.
My hartsmense in my hand waai oop palm uit my lewe.
Lot se vrou se lot is my beskore – alles versteen met die terugblik –
na my land van Melk en Heuning
Alles was so eenvoudig. Nóú is dit soos dit is.
Ek probeer myself uit onheilspelhede ontwrig.
Dit is te laat: die oomblik van verweer is verby toe die dokter my kennis gee;
Hospitaalbandjie om die arm soos ’n geringde wedstrydduif.
Binne klop my hart en al my emosies.
Alles seer wil ek uitbraak en my nie meer dááraan verknies.
Want
vir jou liefde in my lewe was tyd nietig.
Elke sekonde het getel vir jou;
maar my hele leeftyd is verby.
In my lewe was daar tyd vir jou, vir altyd;
vir ewig in die figuur agt; die omwenteling van ’n ring.
Jou woorde “tot die dood ons skei” was so roekeloos
want jou “vir éwig” se tyd vir my het verstryk.
Jou naam was op my hart ingeëts.
Die spieël vertolk die verhaal
van die psige agter donker kringe, sny hale; vel asvaal en:
Tyd …
Biologiese klok …
Doodsklokke wat beier …
Doodsklokke wat amper gebeier het vir my …
Wasbak water kan nie hierdie verwronge waarheid afwas nie.
Ek sluit my oë; hoor hoe sing Ouma die Magaliesbergse aandlied.
Deur skemerlig verander die vaal maanlig
realiteit in ’n droom soos dit die vensterbank, gordyne omboor.
Klein handjies volg plooie om vriendelike, Ouma-hande na wat “Bloubaard” stories vertel.
Die terugflits van jong kaleidoskoopdae, “Rooikruis” poeier- en sitrusgeur.
Oop oë aanskou ek die seer-waar:
Nou is die wiegstoel leeg, en die bababedjie ook.
Ek klou aan die beeld, hou my hartsmense toe in my hand se palm.
Tyd forseer dit oop
verwaai al hul as totdat daar net ’n paar korrels in my lewenslyn talm
Die horlosieglas wasem op en binne is herinnering.
Want die tyd, Ma was ons nie beskore.
Gebrek aan Sondae-aande selfoon-sang eliksir smaak wrang;
koestering van lief-en-leed onskuldige meevoel verwronge.
Op oorsese oewer het jou stem vervaag; die dood se doodstilte dit vervang:
Wie sou kon reken die sekel-swaaier sou jou siel kom maai?
Tydige-ontydige tyding … erkentlik het jy jou rus verdien.
In die land van die Rooi vlag was dit ook winter soos die 16de Desember 2017.
Jy het die Groot Lente betree;
ek ’n Groot Ysreënwinter by ’n shrink moes laat smee.
Hoe versug ek om die rigting van die Lewe se Seestrome te bepaal;
Hoe groot my versugting om die Winde van Verandering te stuit;
Tam is my arms deur die Stroom van Rede teë te probeer gaan.
My verweer min teen die arms wat tikkende tyd van my verhaal.
Valkenburg … Stikland … Weskoppies … Tara
– die kwale is eenders –
ons almal net hier “tot tyd en wyl”;
besig om die truspieël van vervloë tye te probeer vermy; die demone kasty.
Hier waar rooskleurige brille hul pad tot die aashoop van waarheid vind.
Hier waar die waarheid jou tydloos hamer.
Hier waar jy jou tyd-slot-gedagtes elke-dag-elke-oggend-elke-minuut-elke-uur moet bestuur.
Al hierdie kwale is te sterk vir pille se potensiële kuur.
“Niemand gaan dood aan ouderdom; mens gaan dood aan siektes wat die ouderdom bring.”
Hier is jou sielsontwaking.
Hier waar dit piltyd, slaaptyd, huiltyd, terapie-tyd jou in die werklikheid dwing.
Tog staan tyd nog steeds stil in die laaste skaam-skemer oomblikke
waar droom en herinneringe assimileer.
Hier waar jy in jou enigheid ander kwale van ander – en later jouself – diagnoseer.
“Periculosum iter tumm erit Deus vobiscum.”
“Mag God jou gaan vergesel op gevaarlike weë.”
– woorde ingebrand deur vaarwel boodskappe.
Want op die Lewenspad is hierdie “vorentoe-agter-toe-nou”-tyd jou gevaarlikste anathema.
Jadrick Pedro-Koopman
Tydloos.
Nog voor die tyd
van ’n naaimasjien
toe my ouma nog
sonder ’n bril
kon sien
was ek netjies
gelap
en toegestop.
Doeke, dekens en doilies
o ja en ’n lappieskombers
was alles gemaak
in die lig van ’n kers.
Nou, jare later
kook ons nie
meer water
in ’n ou paraffienblik
maar kry steeds
dêm swaar
want die Here
het ouma se
draad kom knip.
Evert Louw
Die skemerman
Ek is die skemerman,
die grysbaardman,
die uurglasman,
wat in elke skreef
en skadu skuil
om lewens
vir tyd te verruil ...
’n Silwersens
glim in my hand
waarmee ek dae
en dekades
opkerf
soos snye brood –
’n korsie vir die lewe;
’n korsie vir die dood.
Ek is ’n wyserplaat
wat eenogig
uit ’n toring
na benede staar,
met arms wat om en om,
beskuldigend!
vingerwys
na man en vrou, en kind.
Ekself moes eens
stil gaan staan;
vries,
toe die voorhangsel skeur,
en ek die son verban,
want ook dag en nag
is in my hand –
Ek is die skemerman.
Sunelle Geyer
1994 – 20__
Uit Ouma se sitkamer
het die halfuur, die uur
gehamer
dié art deco-stuk
het ons skoolvakansies afge-
tik
by my snags
as ek luister hoe die sinkdak
knars
EEN
halfeen, eenuur of halftwee?
EEN
eenuur of halftwee?
EEN
halftwee
Beter as stories lees en skape tel
moes ek my eerder voor die
venster stel
wat uitkyk oor maanlig-rudbeckia
’n visvangkabouter
die peperboom en bougainvillea
U te nader vir my
môre
dat alles presies net so moes bly
of om vir méér as bewaar in die leeukuil te vra
verby raaiselskrif teen mure tot waar my bede
Nehemia se skinkbord dra?
het ek profesie gehad, kon ons oor die
reënboogmite praat
Die dertiende uur
dis nog nie te laat nie
dalk nog nie te laat nie
EEN
Wilna Meyer
Glazi Bloed
Hy hardloop
hy hardloop
hy hoor
die koeëls spat
hy struikel
hy val
hy kyk na bo
oneindig die blou
rooi syfer deur sand
sy growwe hand
omklem
die korrels
Glazi sug sy
stukkende lyf
William Witbooi
Ek bepaal!
Die gewigte moet val,
Ek sal alles bepaal,
Weeg jou toekoms op ’n skaal,
Sonder my gaan jy niks behaal.
Om en om in die dag en nag,
Ek beskik oor die mooiste prag,
Die seisoene moet almal op my wag,
Ek beskik oor die aardse mag.
Oud en jonk,
Krom en bont,
Hou jou hand voor jou mond,
Ek bepaal jou tyd tot die onder grond.
Soms draai jy my trug,
Elke keer is ek weer op die brug,
Ek kan die hardste tug,
Mens op aarde kan net sug.
Ek sal alles van jou bepaal,
Ek is die tyd-skaal.
Bronwyn Edwards
Daai nag innie koelte
Dit het my skoon ontgaan
My liggaam is gedaan!
Ongeluk
En toe weer ’n ongeluk
Eintlik het alles gebeur vir daai klein bietjie
Geluk
Ek het nog een of twee kiekies
In die hospitaal se bed
Die rolstoel
Liewe Jesus het my lewe gered
Dit alles gevoel ek is op ’n film set
In sekondes sê ek toe ’n kragtige gebed
Here gee my nog ’n kans
Om die wonderbaarlike lewenslied te dans
Daai nag
En toe ek my oë weer oopmaak
Toe is dit dag
In die hospitaal
Die rolstoel
Alles gebeur met ’n groot doel
Na ’n tyd sal alles sin maak
In jou hart sal jy dit voel
Maar ek sal nooit vergeet nie
Die bloed uit my arm
Daai nag
Die lug was koel en die bloed so
Warm
Maar toe dink ek aan die Psalms
Die Here is my herder niks sal my ontbreek nie
Die pyn in my nek
Soos stukke vleis geruk
Ek kon skaars myself uit die gevaar uit pluk
Daai nag innie koelte
Langs ’n plaas
Net die heelal wat in sy stilte toe so raas
Daai nag in die koelte
Sal ek nooit vergeet
Ek bid toe die Psalms
Die Here is my herder
Niks sal my ontbreek nie.
Erica Pretorius
Hemels
geen horlosie
geen gejaag
geen spertyd of maandeinde
in hierdie dimensie
geen vergadering
geen kalender
geen geldmaak
in hierdie onderhandeling
want sien, my vriend,
wie sal nie smag
na daardie dag?
dis nie wat jy saamvat,
maar wat agterbly,
eindig die gety
Engela Goosen
Waarheen nou!
Rooi gevlek lê bloed en pyn
Bruis strome water deur jou siel
Verkrag deur woorde wat fyn deur jou sny
Jy glo wat jy hoor
Maar dit wat jy sien en ervaar
Maak niks meer saak nie
Tyd bly die faktor van jou lewe
Waarheen en waarnatoe
Lê op die horison
En loer met elke sonsopkoms
Brand deur jou siel dag na dag
Tot niks meer saak maak
Tot die lig in donker verander
En elk emosie vergal
Jou lag word pyn, jou oë grou
Donkertes kolk deur jou
Onbeantwoorde vrae
WAARHEEN NOU?
Patricia C Viljoen
Liefde se skerwe
As my gedagtes
(dalk vir ’n laaste keer) om jou vou
en die gleuf van tyd soos ’n bom
tik-tok tik-tok verby snel
dan neem dit my terug
na die dag toe jy my smart
pynloos toegesnou het
in ’n smeekgebed
skreeu my hart uit onthou
van jou veersag aanraking
en jou oë wat vertel waarna jy smag –
terwyl hy nog biddend na my siel roep
word hy herinner aan die geluid van jou stap
wat weggeraak het in die mistigheid van trane
en die skerwe van liefde
(wat sonder verduideliking)
bloeiend om my voete rus
Franza de Kock
Swartkoldae
Vandat jy weg is
is daar oral swart kolle op my almanak
swart dae
seer dae
verjaarsdae
joune, myne, pa s’n, Stellie s’n, Josie s’n, Boeta s’n
ons kringetjie van ses
En dan nog Kersdae
Moedersdae
Vadersdae
altyd-bymekaarwees-dae
kuierdae
mekaar-bel-dae
lagdae
eet-en-vier-dae
Maar, nou leë dae met swart kolle
masker-dra-dae
voorgeedae
wil-wegkruip-dae.
Die seerste, jou weggaandag
die grootste swart kol op my almanak
stukkend-skeur-dag ... jaar na jaar
pynbranders wat oor my spoel en spoel


Kommentaar
Mooi Sunelle!