Tyd-skryfkompetisie: Inskrywings VI

  • 2

Hier verskyn die sesde lys inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Tyd" ontvang is. Drie kontantpryse van R500 elk is op die spel. Die sluitingsdatum is 26 Oktober 2018.

Inhoud

Johan van Heerden
Machtilt de Beer
Gideon Brückner
Annamarie van der Merwe
Helet Botha
Clive Ontong
Ann Hiemstra
Léandri Wolmarans
Madeleen Theron
Maryke Lyons
Gracia Nicholls
Eunice Basson
Marion Philander
Marisa de Kock
Linda Rautenbach
Conrad Vollgraaff
Henlie Barnard
Annabella Coetzee
Helena Mellet
Chris Joubert
Marlize Prins
Anita Kritzinger
Coen Vollgraaff
Annalene van Tonder
Willem Boshoff


 

Johan van Heerden

Oud

Sy kierie skuifel stadig voort
min krag bly oor
meer lewenslaste druk
wat eertyds was
sit aan hom vas
soos droë skuim
verbete klou
aan leeggedrinkte glas
swaarkrykloue in sy rug geslaan
soos dié van ’n roofdier

sy horlosie tik-tak stadiger
voel dit in sy skuifeling
in sukkel om op te staan
nog meer om staande te bly
oë merkbaar dowwer
ore se vingers
gryp vergeefs na klank

hoe lank voor ons daar kom
bejammer word
nabymense hulpeloos laat
met onuitvoerbare medelye
totdat die tik-tak ophou
die wind oor alles waai
sy plek hom nie meer ken nie?

wyl ander se horlosies voort tik

Oktober 2017


 

Machtilt de Beer

Onthou my:

'k wonder of jy sal onthou van
die plaas en die donkiekar, ’n
dorpie met ’n hotel en ’n Spar,
ek mis vir Chris en die plaaslyn,
op die stoep met ’n glasie wyn

Ek wag vir die son om deur te breek,
op die horison vir my te lag, tyd gaan
te gou, geen tyd vir rou,
ek mis die pond en die
houtbrug, om saans die Suiderkruis
te sien blink

Nou is dit die grote stad,
blink liggies en siele sonder
drome of wense, as die uurglas
leeg loop en die tyd is verby,
onthou my, onthou dan vir my


 

Gideon Brückner

Om terug te wees van weg gewees

Ons wange druk
paspoortstempels
liggies teen mekaar
vir jy wat gaan
en ek wat bly
jou palms gly
uit my hande uit
jy lig vir oulaas ’n groet
terwyl die horlosie
aan jou bleekwit pols
voort bly tik:

dit sou so lekker wees
om terug te wees
van weg gewees …


 

Annamarie van der Merwe

Eerstejaarsbede

Woeste wilde-wragtig –
my reeds selfstandige
absoluut afhanklike
blonde blou-oog:

Veertig weke was lank,
twee-en-vyftig snel verby.
Relatiwiteit van tyd
gryp aan my hart.

Mag vierduisende volg:
Beleef as oogknipsmart
met eras van sloerendseën
daagliks jou deel.

Daar kom ’n tyd – te gou –
wat jy alleen sal staan
met die sand uit my uurglas
verspeelde tyd.

Maar in my geestesoog
sien ek, en weet my hart:
Sý kruistyd laat ons saam deel
in ewigheid.


 

Helet Botha

Grootmenskind

die laaste korrel sand
tuimel en verdwyn op die tyd-duin,
raak weg
die laaste somer straal
knip sy oog en verdwyn oor die rant
raak weg

die laaste druppel
borrel teen die steeltjie af, verdwyn in sy seunshand
raak weg

die laaste vashou glip verby, verdwyn in ’n grootmenslyf

raak weg


 

Clive Ontong

In ’n oogwink

Met net een skoot
is jou vlerkies geknip
jou toekomsplanne met bloed bevlek.

Nou ’n parapleeg en
jou elke dag van ander afhanklik,
die aanpassing groot
en elke nietige takie … ’n inspanning.

Jy’t berusting gevind in elke asemhalingsteug,
jou dryfkrag hoop, geloof en waardigheid
met slegs dié pyn jou ewige reisgenoot


 

Ann Hiemstra

Verspeel

die bal is rooi
die bal is o, so sonskynmooi
as hy dit met handjies nog dom
hoog die bloue lug in gooi,
hy borrel-lag, kop agteroor
hy hol agterna om dit nie te verloor

dit rol en rol
oor die gras rol die bal
wip speels oor die kant
en val in die water
met ’n vrolike plas

sy gesiggie na onder
neusvleuels sper wyd
daar is skrik in sy oë

daar ... is ... net ...
vier ... minute ...
tyd ...


 

Léandri Wolmarans

Geduld

Dankbaar vir jou is ek werklik, maar geduld het ek nie meer.
Elke oomblik, elke sekonde, so onbeskryflik kosbaar vir my.
Elke blom, elke stukkie soet sagte liefde, al die lekkers.

Dankie vir die bloedrooi lelie.
Dankie vir die goudgeel orgidee.

Ek hang aan jou lippe, elke woord soos kos vir my siel.
Ek wag vir die oomblik, tyd staan stil saam met jou.

Jy sê ek is joune, maar ek weet.
Ek weet waar jou hart lê.
Ek hou vas.
Ek weet ek is verkeerd, maar ek wag.
Ek wag dat jy my eendag so sal liefhê.

Jy soek tyd.
Ek wil vir jou ’n ewigheid toedraai in ’n kombers van omgee.
Maak los die gewigte wat jy aan my hart het.
Ek moet laat gaan, maar swakker was ek nog nie.

Dit is tyd om te groet.
Goeiemôre aan die somber, melancholie sonder jou.
Goeienag aan die verwagtinge van jou liefde.

Jy soek tyd.
Ek wil vir jou ’n ewigheid toedraai in ’n kombers van omgee.
Dankbaar vir jou is ek werklik, maar geduld het ek nie meer.


 

Madeleen Theron

True Essence

What is time to God but an eternity without boundaries.
No beginning ... no end, nonexistent.
Time to us is a limitation, a false construct of reality.

Did someone not once say that “every man should be the master of his own time”?
Time itself – eternity was rudely stolen from us. We have to, once again, regain control
for that price was dearly paid as well.

We have to master time, put it under our feet – as was the plan from the beginning.
Time must work for us, not us for it and therefore we should firmly command time to accommodate us,
under no circumstances should we accommodate time ...

When you feel the pressure of human-inflicted time constrains,
do not give way ... pay no attention,
calm yourself and direct your focus on what's at hand, on the now.

Feel the eternity that belongs to you, see time from God's perspective
and soak up the true essence of time ...


 

Maryke Lyons

Dis tyd om te groet

Kyk links, kyk regs, kyk voor jou,
Kyk na die een wat by jou staan,
En vra jouself, waarom
Het jy God so vermy?

My God so groot,
Is ek niks bang vir die dood.
Maak my lyding nou iets vir jou,
Om altyd te onthou.

Voet vir voet,
Op my lewensvoetpad,
Is ek stadig op pad na my
Begrafnisstoet.

Ek het soveel moed,
En weier om vir nou te groet.
Mag my lewensmoed,
Jou siel vir altyd voed.

Soos ’n saad word ek geplant,
Ek groei en word ’n rooskleur plant.
Dan ...
Word ek oud,
En nou ...
Is dit my tyd om te groet.


 

Gracia Nicholls

Tydelik

Die tyd om aan te beweeg het aangebreek.

Soos die son spasie maak vir die maan wanneer nag breek.

Soos die spasie tussen my sinne vrugbare grond vir stilte kweek.

Soos die wag vir ’n ring aan my vinger:
’n verwagting na ’n ewige verbond.
"Verewig" verklaar geliefdes trou aan mekaar ...
Maar selfs dit tuimel onder die realiteit –
die verganklikheid van tyd.

Stiptelik neem dit stelling in.

Alles is tydelik.

Dis duidelik – hierdie trek is onvermydelik.
Wanneer tyd stap moet ons almal ons goed inpak.


 

Eunice Basson

Almanak

Agter ’n kamerdeur
hang die apteek-almanak
oorvol onsigbare gedenkdae
waarvan net sý nog weet: 
háár troudag, feestelik, 
maar sestig jaar gelede;
verjaarsdae van ’n man, nou dood
en kinders die wêreld oor.
So sit sy dagin, daguit, soms
met haar hande in haar skoot
maar steeds word dag en datum,
waarvan net sý weet,
jaarliks op die kalender aangestip:
geboorte van ’n baba aan wie sy
slegs die dood kon skenk.


 

Marion Philander

Vandag en toe

daar was ’n tyd toe kinders
kon kaalvoet speel en lag
nog ongeskonde jare
nie pynlik soos vandag

was kinders nog onskuldig
soos kinders nog geglo
in hierdie ruwe wêreld
word kinders vinnig groot

het alles kom verander
die waarheid word verdraai
die reëls word nou verander
die lelik word verfraai

ons kinders ingesuig
mislei en vasgevang
in hierdie nuwe era
is niks meer van belang


 

Marisa de Kock

’n Oomblik

Tyd is die muur wat ons van mekaar geskei het.
Die vier jaar wat tussen ons staan.
Elkeen op ’n unieke plek in ons lewens.
Ek, eerstejaar, en jy,
Besig met jou nagraadse diploma.

Ek het twee maande gelede
My droomman ontmoet.
Vlugtig voor ’n Varsity Cup-wedstryd.
Ons het kortliks gesels.
Jou suster, ’n goeie vriendin.
Jy kom van ’n klein dorpie af in die Vrystaat.
Plat op die aarde-mens.

In die kortstondige ontmoeting
Het dit gevoel asof die horlosie se
Wyser stadig verbytik,
Maar steeds te vinnig na my sin
Van plek verander.
Ek wou heel aand in jou geselskap wees
En net jou teenwoordigheid waardeer.
Ek het veilig gevoel by jou, ’n vreemdeling.
Ek het vir die eerste keer liefde met
eerste oogopslag ervaar.

Maar daarna het ons mekaar nie weer gesien nie,
en daardie skamele 321 sekondes
Het onophoudelik in my gedagtes baljaar. 

Dit is waarskynlik al wat ons sal wees.
’n Gedagte, ’n droom of selfs net
’n Oomblik.


 

Linda Rautenbach

Vir ouma (met liefde)

Ek mis jou
Ek mis jou sagte blou oë
Wat direk vir my kyk
En dadelik dwarsdeur my kon sien
Jou warm, sagte, handjie
Wat my wang toeskulp en my weer laat voel soos ’n dogtertjie
Ons geselsies tot die nag stokoud word
Oor enigiets
Ek mis ons tee drink na skool
Uit die pienk en wit koppies met die pierinkies
Ek wil weer blokraaie invul en puzzles bou
By die kombuistafel
Terwyl die kos op die stoof is
En ons wag vir oupa om van die werk af te kom
EK
WIL
JOU
TERUGHê
OUMA
Draai terug die tyd
Sodat ek jou kan ruik en hoor en voel
Ek wil jou lyf was en jou hare indraai
Met drie pienk sponskrullers
Maar net in jou kuif
Ek wil nog net eenkeer jou toonnaels verf
Selfs die gebreklike toontjie se vel
EK
SOEK
NOG
TYD
OUMA
Tyd was nie genoeg vir ons liefde nie
Want selfs ’n leeftyd saam met jou sou te kort wees
So wat sal nog ’n dag saak maak?


 

Conrad Vollgraaff

Woordfoto

as my horlosie gaan staan
en die laaste korreltjie val,
my wyser in die groot skadu verdwyn.

sal my herinnering soos Dali wegsmelt
maar tot niks.
of stap ek ritmies aan,
in die hart van Kindertyd.


 

Henlie Barnard

Moenie mors nie.

Dit het geen oë,
ander hou dit dop.
Geen mond,
Skreeu op oggendstond.
Twee arms, nie ewe lank,
Skuif sekonde, na minuut.
Minuut, na uur.
Geen voete,
stap aan sonder spore.
Sterwendes, verliefdes koop dit uit.
Wag laat tik-tok
voel soos ewigheid.
Niemand mag dit mors,
koop dit uit
maar steel dit nooit van ’n ander.


 

Annabella Coetzee

Oorgang

Kom ons gaan deur deure
van spasie en tyd
na ’n ver verborge werklikheid
waar jy ’n musieknoot word
van ’n ewigdurende melodie
Dit is daar  waar  musieknote
in harmonie met die sterre wandel
en  tyd verewig vrolik dartel

Daar waar jou sielsgenoot
polsende musiek maak
kry emosies die kans
om op die maat
van  ’n engele-lied te dans

In stiltetyd gaan tyd slaap
en laat soete sagte spore 
van geloof, hoop en liefde
in die hemelruim verskyn
waar  die heelal mettertyd
noot vir noot geboorte gee
aan ons sprankelende simfonie
van ewige lewe en samesyn


 

Helena Mellet

Hier en nou

Die horlosie teen die muur
knik-knik sy sekondewyser
laat hom ’n paar sirkels voltooi
en spoeg minute uit wat tot ure groei

Tik-tik skuif die dag
al met die wyser saam
verouder en verkleur
soos die uur verlang

Gister se hart
klop-klop in vandag se lyf
more is vandag ’n gister
word die hier ’n dáár
en nou
net ’n onthou


 

Chris Joubert

Januarie-fiësta

Bloekombome buig vooroor
in die kolepan van die middaguur
sonbesies lê leeg in ’n poel vuur
dikvoet stap ’n hen en kuikens verby
stompe, splinters en brandmaakhout
die middaguur brand vas in ’n Januarie-fiësta
die hemel vou oop in ’n lasuurblou sweisvlam
die landskap hou asem op
Vir hoe lank nog, God, gaan die hellevaart
van dié uur duur?


 

Marlize Prins

Tydsones

ure, minute, sekondes
loop die wyser tik-tok
elke oomblik,
hier en nou

jare, maande, dae
só stap geleenthede verby
maak die deur
oop of toe …

“Die son kom op,
die son gaan onder,
en dan haas hy hom
weer
na waar hy opkom”

min waardeer
sommiges wil terugdraai
ander “fast-forward”
só vanselfsprekend

Ja, dis tyd
tyd wat ons nie kan koop nie

Ons besef nie –
uurglas loop uit
stadig maar seker …

Lewe vlieg verby
op die vlerke van die aasvoël
wat alles langs die pad
(moontlik vrot)
saamneem

Wees dus versigtig wat
Jy
langs die pad los –
mense verniel jou as
Jy
dit die minste verwag
en wanneer dit aanbreek
(en jy dit besef)
is dit reeds te laat
en die tyd te min.

Dan is daar weer die
huilende wind
wat kom en gaan –
rus bring vir sommiges

Dié wat soggens
glimlaggend opstaan
as die wekker afgaan

Wêreldwyd verskillende
tye – wat beteken dit?
(alles is ’n gejaag,
’n gejaag na wind)
met tyd wat ons nie het

“Ek het gewonder
wat sal gebeur
as ek my aan wyn oorgee
maar tog nog op soek bly na wysheid,
as ek soos ’n dwaas leef
totdat ek vasgestel het
wat die beste is waarmee ’n mens
hom sy lewe lank in hierdie wêreld
besig kan hou.”


 

Anita Kritzinger

Phoenix rising

I’ve been walking the tightrope line
          between love and hate
          bitterness and forgiveness
I’ve been searching my soul
          crushing to the ground
looking for answers from the great beyond

I lifted my eyes to the wide open skies
and found my answers in the stars above
voices whispering on the ancient wings of time
              “the answer, my child, is just to love
                                     and to let go
               of everything you will never know ...”


 

Coen Vollgraaff

twee seisoene

voorjaar tower
die wind
onthou-liedjies
’n duet
met die windpomp
se heilige gesange.

koes en buig
lekkerruik
peperbome
huilgesig
teen die reën.

bou ’n rooivink
ylings
tonnelnes
van gras

nou
in die klein
hokkie
van oujaar-jare
lê heimat
droogrivier ver

draf bakoorjakkals
in n lugspieël
windvoet
oor my hart

rolbos verslete gedagtes
in die skadu
van gifberg se bossievoet

teen doringdraadheinings
vas.


 

Annalene van Tonder

Swiep

altyd té min ...
té veel
gaan te vinnig verby
sleur genadeloos voort
nooit genoeg nie
...
té laat
té vroeg
– betyds –
 – kan nie wag nie –
...
kan nie gevang word nie
net ...
vasvang ...
onthou word
soms genadiglik uitgevee word
  verbygaan
nie terugdraai nie
verwyt, berou
het ek maar ...
...
die arms swiep voort
lange
korte
lange
korte
tik
tik ...
kruip ...
loop ...
hardloop ...
staan stil
STOP
verby
swiep
sekondes
swiep
...


 

Willem Boshoff

Laaste Sondagmiddag, September

Vir X

Jy neem ’n saadjie in jou palm.

          Wolkenes wierook sluimertol
          oor ons hoofde;
          ontbloot strale,
          dit kaats rollende kaleidoskope
          wat jy uit jou hand
          in my pupille laat glip.
          Genesis van ’n korsmos wat
          van my ooglede afskil.

          Jy vang ons verouderende
          silhoeëtte en maak hulle
          teen die boom staan:
          gly vingertoppe tussen
          die geërodeerde groewe,
          blaas briesasems
          fluister jaarringherinnering
          by ons ore in.

          Hulle word toe verhul
          in die eb en vloed
          van ons skaduwees
          wat uitgespoel oor
          die laslappiekombers lê.

          Hoep-hoep snawel trek
          mierlewenslyne in die stof na,
          hulle marsjeer deur
          verweerde korrels en broodkrummels:
          tuinwaarsêers van die blaardiaspora.

Jy maak die botsel oop:
dit bloei spore oor my lippe
soos ek julle soen.

Ek adem die skemersweet
van jou lyf af in.

Skryfkompetisie: Tyd

Tyd-skryfkompetisie: Inskrywings I

Tyd-skryfkompetisie: Inskrywings II

Tyd-skryfkompetisie: Inskrywings III

Tyd-skryfkompetisie: Inskrywings IV

Tyd-skryfkompetisie: Inskrywings V

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top