Hier verskyn die twaalfde, en tweede laaste, lys inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Tyd" ontvang is. Drie kontantpryse van R500 elk is op die spel. Die kompetisie het reeds gesluit.
Inhoud
Anne Grobbelaar
Christel Jordaan
Marius Boonzaier
Rozelle Hartzenberg
Renata van Dyk
Salome Oppermann
Ansi Brits
Fritz Christian Guldenpfennig
Ilse Guldenpfennig
Anneke Erasmus
A Johan van der Wal
Rudi Coetzer
Sanri Bouman
Christiaan Theart
Sheldan Dolf
Heleen Tshibumbu
Abraham Rozendaal
Paula Hartzenberg
Amanda Steinhöbel
Coyla Cock
Simon Riekert
Alet Enslin
Wicus Luwes
Jacques van Zyl
Elza Hanekom
Anne Grobbelaar
Die lemme wat huil
Hoor jy hul lag? Hul liefde is soos vuur
In jou skadu smelt smagtende lywe in ’n liefdesuur
Vinnig is dit tyd om te groet, nie een wil gaan,
Toemaar sê hy, ek ry ’n entjie agter jou saam.
Lemme jou oë soek – n Paar dae is verby
Oor miershope, kluite en rooigras lig hy haar op en druk haar asemloos! Belowe jy sal myne bly?
Vroeg een oggend onder jou windpomp, lê sneeu dik in die veld
Hul warm liefde laat dit smelt soos dou en kleef dit aan morge vasgespeld.
Jare en tye sien jy hul liefde so sterk
Jy wonder gaan tyd hierdie liefde beperk?
’n Kwarteeu later jou lemme kraak en kreun!
Oor verre vlaktes hoor jy ’n snik en jy weet sy huil en ween
Jy sien hom skielik! ’n Ander liefde het stilletjies in sy hart kom skuil.
Die eerste keer wat sy die meisie se naam by hom hoor
Het sy geweet sy liefde vir haar is oor
Tyd is wreed dit skeur ’n hart
Nou stap sy hierdie harde alleenpad.
Skielik sien jou oë haar motor gly verby
Haar oë mistig oor mielieland en gras
My lemme huil toe ek sien sy soek na skimme wat was.
Helaas met tyd sal haar hart genees
Met krag en geloof sal alles weer eendag reg wees!
Christel Jordaan
Prioriteit
Dis ’n nuwe jaar
’n skoon boek
vir ’n lang oomblik
het ek gewonder waarna ek soek ...
Wat sal ek doen met 8760 ure?
tevergeefs werk en bymekaar maak in my skure
Wat is my hoogste prioriteit?
die wyser tik-tik
besluit:
ek sal my tyd gee en harte oopsluit
Ek het 12 maande
365 laat aande
ek sal geleenthede gryp,
want ek het sekondes
– ek het tyd!
Marius Boonzaier
Winter
Wanneer die Winter se uurwyser Suid slaan
en die son die horison met oranje belyn,
wil ek langs jou bly
sit tot die vuurtoring se geflits agter die grys verdwyn
en kyk hoe vissermanne met kopligte die see
onbewustelik in ’n onderstebo hemelruim omskep,
waar ons toe oë kan dryf
tot die dag ons kom haal.
Rozelle Hartzenberg
Evanescent
Time
a passing equilibrium coherent
with chaos.
Moving entirety
with charging intensity and ushering serenity.
The golden thread weaved
through the fabric of creation,
the gentle mayhem coloured in the background of infinite worlds.
Quiet, sculpting hands signing the signature of tips onto clay.
Stacking and unstacking stones of men,
Showing its minuity in seeds blooming green:
the simplicity in the effortless understanding of common folk.
Yet revealing its immensity in the failing of stars and worlds –
sudden complexity in realisation of philosophical eyes.
Renata van Dyk
Wens jy kon wag ...
Liewe Tyd, vandag skryf ek vir jou ’n brief,
want jy staan nooit stil – jy behandel my stief
Jy is altyd haastig; nooit het jy tyd vir my –
Alles gebeur altyd net vinnig; alles gly verby.
Dit voel soos nou die dag;
Toe ek gehuppel het, gespeel het, gelag
Sonder sorge, sonder pyn
Maar al my jeug het so skielik saam met jou weggekwyn ...
My jare en my geluk het weggehardloop saam met jou;
Al wat nou oorbly, is alleenheid en rou,
Ja, my geliefde is saam met jou weg –
na ’n beter plek, verseker, ek weet ek is reg.
Maar liewe Tyd, ek wens jy was nie so haastig met my;
Wens so ek kon alles vir net ’n rukkie terugkry,
As jy maar net jou wyser vir ’n oomblik kon terugdraai,
sou ek betyds my geliefde kon groet – met ’n drukkie en ’n koebaai ...
Salome Oppermann
te laat ...
ewe veel tyd is onvoorwaardelik gegee
aan e-l-k-e-e-n
wat wil woeker
met eiesoortige talente
aan wie tydelik met weinig min toevertrou is
vir ’n tyd lank
– ten alle tyde – veral in die lááste dae
tydloos op tyd te toets
wie waaksaam en nugter
nóg sal werk en wag
namate tyd verbyskuif
onafgebroke
groot is die einde
van ’n geringe begin
later slepend sonder einde
u i t e n t r e u r e
wie beuselagtig bly talm
verbeur blywende vergelding
gebeurtenisvol
wanneer onvoldoende werke verbrand word ...
“... jy is té laat!”
Ansi Brits
Vraat
Soggens wanneer Slaap haar laaste teug uitblaas
trap hy op my bors en slurp ’n salige droom
voordat hy my kop met raasbeelde ballon
haas ek na die klerekas smeul hy tot ek voor die spieël gaan staan
waar hy suutjies hom oor elke plooi verheug
terwyl my mond bly brand na elke koffieteug.
Rooi verkeersligte bring ’n sug
Taking a deep breath is ’n klug
elke spasie van OUTLOOK knaag hy weg
hy bly ontwyk wanneer ek hom in die oog wil kyk
slaag ek om sy stert te vang
gly hy deur my vingers soos ’n slang
ingeboks sypel hy deur die krate
minagtend verwerp hy organisatoriese rate
Vriendskapkwaliteit verbrokkel onder die parsing van sy poot
drome spat aan skerwe met sy wrede dans
soggens wanneer Slaap haar laaste teug uitblaas
Fritz Christian Guldenpfennig
Op ons knieë vir liefde
As jy iewers moet begin hoekom nie hier nie?
As jy iewers moet begin hoekom nie dadelik nie?
As ons iewers moet begin sê ek hier
As ons iewers moet begin sê ek nou
Nou is die tyd vir liefde om deur te breek
Van die katedrale na die ondergrondstetreinstasies.
Daar is hoop iewers
Nou is die tyd om dit te laat realiseer.
Vanaand is die aand vir dié vol sonde én die sondeloos.
Wanneer twee wêrelde verenig word in ’n pragtige huwelik
met Liefde as die koning voor wie ons buig.
Nou is die tyd vir liefde
Ons is op ons knieë en ons smeek vir liefde
Ons is familie van een land een volk een nasie en een kontinent.
Nou is die tyd
Vanaand is die aand vir liefde.
Ilse Guldenpfennig
Geknel deur jou verlede
Suid-Afrika
Tyd is verby
Jy't lank genoeg gely
Vasgevang in vervloë dae se seer
Idees, skeiding, kleur
Jy kon dit nie keer?
Hulle skrei
die onreg is gekruisig
Ons is almal nou vry
Om te leef in ’n land
van reënboogtale
Om te droom in ’n land
met plek vir almal se ideale
Maar tyd genees nie jou wonde
Die seer bly net groei en
vloei uit jou kinders se monde
Die storm wil nie gaan rus nie
Die haat wil nie blus nie
Die reënboog is dof
Soveel trane steeds in Jou stof
Suid-Afrika tyd loop uit
Hoeveel pyn kan een land koester?
Daar is soveel mooi
Soveel potensiaal
Vir elk van jou reënboogkinders
’n plek in jou son
My land, my hart bloei vir jou. Word wakker!
Tyd is verby
Dis tyd om te laat los
Tyd om te vergewe
Tyd om te herrys
Tyd om saam te lewe
Die tyd is hier
Nkosi sikelel iAfrika
Anneke Erasmus
Die vierde dimensie.
Tyd wys momente op die tydlyn en tik
onveranderd voort terwyl gebeure
mekaar opvolg in tydstippe.
Die sekondes en minute tik verby.
Soms voel minute soos ure,
soms voel ’n dag soos ’n minuut – ’n oogwink.
Die sand se uurglas loop stadig maar seker uit.
Die metronoom tel spoed op.
Wat maak jy met jou tyd?
Benut jy dit ten volle?
Hulle sê tyd is kosbaar,
dis iets wat jy vir iemand gee.
Iets wat jy nooit weer sal terugkry.
Tydelik val die tye inmekaar.
Vervleg deur die tydtikker wat klik.
Tik ... tik ... tik ...
Analoog
Digitaal
Tegnologies
Tik … tok … tik …
Wie hou jou tye in Sy hande?
Wanneer gaan jou stophorlosie halt roep?
Niemand weet nie …
A Johan van der Wal
Ewigheid
Met afgemete treë
stap tyd die ewigheid in,
en laat almal verleë
wat tob oor ’n begin.
Die lewe het ontstaan
op ’n wentelende planeet,
en die lewe sal vergaan
as tyd van hom vergeet.
Is tyd dalk ’n dimensie
van ’n hipotetiese begrip?
Of dalk ’n groot abstraksie
wat ons almal hier ontglip?
Want, tyd is ewig en altyd,
en tyd is altyd onbeperk.
Dis altyd ’n aanvegbaarheid,
as ons met tyd moet werk!
Het ons ’n polshorlosie
om die ewigheid te meet?
Of wil ons deur emosie,
van die ewigheid vergeet?
As ons dan Sondag weer bely
– is ons daarvan bewus –
dat dit wat ons dan wil verkry,
“Die ewige lewe is?”
Rudi Coetzer
Tik tok
Tussen die bome deur
aan die anderkant
van die hede
skuil ’n geur
uit my verlede
wat spook by my.
Die troupand
aan die hand
wat bo die grond uitsteek
is ’n dead give away.
Sanri Bouman
’n Oomblik in tyd
In die oomblik gebore
Vir ’n wyle droomverlore
Wou die oomblik vasvang
Onwillekeurig verlang
Wil doelbewus die tyd terugdraai
En Stop …
Voel die ritme van jou hart galop
En dan weer stadig … elke oomblik
Verby Tik-Tok-Tik
Elke herinnering
Wat soveel terugbring
Vir ewig op kamera vasgevang
In beeld en dan skildery
Vir ingeval ons die oomblik nie terugkry
Dit gaan so gou verby
Die lewe is in die oomblik
Van die horlosie se Tik-Tok-Tik
Die tyd sal glo leer
Dit genees blykbaar die seer
Maar jy kan dit nie gaan haal weer
Tyd is nou, dis vandag.
Is in môre se vreugde en skaterlag
Die verlede uitgekanselleer
Saam met gister se seer
Dit is in die vrede op ’n stoep
Wanneer jy gister se mooi herinneringe herroep
Tye saam met geliefdes wat was
In die fotoraam op ’n kas
Veilig opgesluit agter horlosieglas
Christiaan Theart
Vader Tyd verseël in die glas paneel
Eerste asem, prentjie van ’n klok gevorm deur die wasem
Glaspaneel sê ek kruip nader aan die gejaag en waansin
Elke treetjie stap in die rigting van Vader Tyd se koms
Een slaap, ander ene lui, hoekom spring een wysertjie so rond?
Na klomp rotasies raak ek naar, wyser soos die wyser omgaan
Grys hare deurmekaar, ek is laat, die glaspaneel het dit openbaar
Wal breek, glas skerwe, wysers sny, sink in my bebloede paniek
Ek probeer ontsnap, vir wat? Om elke
hoek en draai
donker gang
word ek gevang
Hane kraai, “Kukuduku!”
Nog ’n dag begin, regeer deur Vader Tyd
Van jou eerste asem in, blaas jou laaste asem uit.
Sheldan Dolf
Psalm van straight acting
Die Bybel is jou Herder
Niks sal jou ontbreek nie
Dit laat jou neerlê langs jou vrou
Na waters waar daar straights is, lei hy jou heen
Hy kook die queers
Hy ly hulle na conversion therapy toe
om jou naam’s onwil
Al gaan hulle ook in ’n daal van doodskaduwee
Sal jy nie vir hulle omgee nie
Want jou vrou is by jou
Haar kos en haar staf
Sy vertroos jou
Sy berei die tafel voor jou aangesig en teenoor die gays
Dit maak jou hoof vol met haat, jou bidure loop oor
Net sadness sal jou volg – al die dae van jou lewe
En jy sal ’n after nine bly tot in lente van dae.
Heleen Tshibumbu
Dit waarvan ons nie genoeg het nie
dit begin met die sonhorlosie
uurglas
horlosie om jou arm
tik in jou kamer in die nag
ouma se muurhorlosie
dit wat ons steel
wat ons misbruik
wat ons mors
wat ons nie genoeg van het nie
wat genees
wat vergeet
wat heel maak
TYD
dit wat ons almal
gelyk maak
voor die son
Abraham Rozendaal
Tyd is 4D
Tyd is oneindig
Tyd is eindig
Tyd is relatief
Tyd is gister
Tyd is vandag
Tyd is môre
Tyd is musiek
Tyd is allegro
Tyd is adagio
Tyd is siklies
Tyd is seisoene
Tyd is weer begin
Tyd is voorspelbaar
Tyd is meetbaar
Tyd is nie-herstelbaar
Tyd is selfsugtig
Tyd is verkwistend
Tyd is verlore
Tyd is lewe
Tyd is dood
Tyd is vierdimensioneel ... ewigheid
Paula Hartzenberg
die boom van liefde is tydstukke
en nooit in jou ’n daad geskied
wat opklink oor die aarde
uit: O wye en droewe land – NP. van Wyk Louw
maar ek het op ’n verlate stofpad
by ’n boom verbygegaan
in die skroeiende hitte van die middag
het hy sy skaduwee
in hom ingetrek
ek is bang dat jy in ’n wildernis sal loop
saans jou bril toevou
jou hand op jou geweer
weerloos soos ’n held wat onder sterre slaap
nou is jy nog klein
jou voetjies trippel langs my
jy jag tiers op die skouers van ou Orion
in ’n veld vol blomme
het ’n ou man geval
verdwaas om opgehelp te word
die boom laat sy skadu weer uitstrek
stam en takke, bas en blaar en peul
– selfs my stukkende woorde –
is alles vallende tydstukke
dis al wat ons het.
Amanda Steinhöbel
Berusting
tot tyd en wyl
die perde horings kry
die maan in kaas verander
en trane in diamante,
sal ek wag,
tot tyd en wyl
die seer
so nimmereindig lank,
my stroop tot naakte been,
dan, sal ek weer opstaan
uit droë bloed van lank geleë se pyn
en tree vir tree
tot binne-in aanvaardingsvlees loop –
naaktheid bedek
en drink aan berustingspeen,
ja, ek sal wag tot tyd en wyl
Coyla Cock
Supernova - ’n Komeettragedie
As my heelal net met jou uitspansel kon
bots
Kon ons dalk vir ’n rukkie wees
Of selfs net vir nou
My sprokie
vir altyd
in my drome
’n werklikheid
Bring hier, nou, dadelik
’n parallelle kosmos
sodat ons tot die dag van mekaar se nagte kan deur-
breek
’n Verskietende ster
jaag resies
teen niemand
deur die Melkweg
Dis ’n Wens dat waar jy regs gekies het
en ek links gekies het
Ons albei eerder Lig gekies het
Of dat die alternatiewe wêreld waarin Reg is
Hier en nou was
Maar misverstande so groot soos sonne wat sterre is
en sterre asteroïede
het die helder opgesuig
En ek was bang vir die swart gat waarin jy vassit
En nou het Star Wars my aan die wonder
En Kaptein Kirk my aan die vra
Was dit ’n Donderdag dat niemand gaan wen nie
As nie een die pylvak nou sien nie, was dit dan daar of is dit nog
voor
Kyk vir ’n breukdeel van ’n sekonde vas in ’n sandkorrel
en ek't die verblinding gemis
wat my totaliteit ’n verkorte verewig kon verlig
’n Hartverstikkende stofwolk is al wat oorbly,
Vredefortkoepel
’n Gat
Vir millennia sal geslagte steeds Hemel kan myn uit ons stille,
aparte
pyn.
Simon Riekert
die vergeetboek
met tyd, so sê die slimmes
sal ons als laat vasslaan
sal ons verlang
na doerie-tyd
na die tyd, so sê die met weetlus
sal ons leef op hoorsê
en landstogte aanpak
na verlore vlaktes
oor tyd heen, so sê die feniks
sal ons oor lewensdinge mymer
die interludes
van verwondering verloor
dor
bar
en kaal word
voor dié tyd kom
laat my afloer op jou stap
jou met soelheid omsingel
ons wêreld in-kokon
voor die loom van dae
die waarheid vir ewig verdof
en ons gedagteloos lê en kyk
na hoe die vergeetboek oopgaan
Alet Enslin
reddeloos
banaal breek die nuwe dag
dan ruk die ghong se twaalf slae
die tik-tik aan my deur
tot stilstand
jy het weggeglip
my hart staan verlore
want ek voel gekul;
ek het jou tyd misken
’n versugting in my woestynwinde:
om die getik tot stilstand te dwing
om wysers terug te draai
terug (as ek maar net kon)
net dalk
sou ek kon bely
sou jy my liefde
nie net in my oë kon hoor nie
Wicus Luwes
antikloksgewys
twee vlerke
vlieg
van gister na môre
twee vlerke
vlieg
in die rondte
twee vlerke
vlieg
met een vlerk langer
met een vlerk korter
Jacques van Zyl
Lewe
’n Lewe in die skadu
van die uurwerk.
Stewig geanker
op jou pols
terwyl jy ritmies mars:
jou werk, eet en speel.
Eendag,
met ’n rimpelvel,
staar jy na die skrif aan die muur
en dink terug aan die uurwerk
en die mars.
Dan besef jy;
jou pols het gestreef
na ’n ander ritme.
Die skadu van die uurwerk
was niks in vergelyking
met die skadu van die ou boom
in die agtertuin
met die tuisgemaakte swaai
en die blou kombersie
en die hoendervleisvel wat jy streel
en saggies teenaan fluister:
“Ek het jou lief …”
Want elke slag van die uurwerk
is soos die vorige.
Maar elke oomblik
was uniek.
En lewe het makliker gemeet
in seisoene
as in ure.
Elza Hanekom
Eendag
Eendag gaan ek
per lugpos
by airmail
par avion
weg.
Daar sal "Ex Unitate Vires"
uit wees.
Mooigesig opsit en tierlantyn ...
ver daaronder
op die grond.
Kommentaar
Goeiedag
Ek het ook ingeskryf.
Sophia Oliphant, of is dit slegs finaliste se gedigte.
Beste Sophia
Jou gedig het reeds op 'n vorige lys verskyn: https://www.litnet.co.za/tyd-skryfkompetisie-inskrywings-x/