Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Lynette du Plessis oor Kinderlê, die drama

  • 0

Foto van Lynette du Plessis: verskaf

By vanjaar se Toyota Woordfees was een van die uitblinkers Lynette du Plessis in Lynthia Julius se debuutdrama Kinderlê. Sy het al naam vir haarself gemaak as bekwame danser en is in 2020 vir beide ’n Woordtrofee en ’n Fiësta-toekenning benoem vir beste opkomende kunstenaar vir haar werk in Garage Dance Ensemble se Krummelpap, afval en Sunlightseepbaddens. Maar hierdie jaar het sy vir die eerste keer haar toneelspelskoene aangetrek en gehore se harte gesteel in Kinderlê.

Ek het die veelsydige kunstenaar uitgevra oor haar skuif van danser na aktrise, opleiding, grootwordjare, inspirasie en die pad vorentoe.

Lynette, baie dankie dat jy ingestem het om ’n onderhoud met my te doen. Ek kan dink jy is ’n besige vrou. Jy het ’n bedrywige tyd agter die rug met Woordfees. Hoe voel jy nou dat die stof gaan lê het?

Die Woordfees-week het so vinnig viby my oë gegaan dat alles maar nou eers inskop en dat ek voel ek’t iets geaccomplish wat ek nooit gedink het ek sou doen nie – om te act. Nou het ek so ’n brug tussen dans en drama vir myself gebou en ek love it.

Jy is hierdie jaar vir ’n Woordtrofee as beste byspeler benoem vir jou werk in Kinderlê. Baie geluk, hoe voel jy daaroor?

Om eerlik te wees, ek het dit nie verwag nie, maar ek is trots op myself en dis ’n wen vir al die kinders in Hurterstraat, George, wat se drome nog broei in die kunste. Special thank you aan Bossikop Productions vir die geloof en vertroue wat hulle in my gehad het om die produksie aan te gepak het. Dit was ’n onvergeetlike process en ek sien uit om dit weer te doen!

........
Om eerlik te wees, ek het dit nie verwag nie, maar ek is trots op myself en dis ’n wen vir al die kinders in Hurterstraat, George, wat se drome nog broei in die kunste.
........

Kinderlê is ’n baie spesiale storie, ’n oorvertel van geskiedenis in Namakwaland, die oorlog tussen die Namas en Boesmans wat uiteindelik gelei het tot die moord van 32 kinders, oppassers en honde. Wat het jou aangetrek om betrokke te raak by hierdie projek?

Die kinders het vir my gekies. Toe ons die eerste keer na die monument gaan in Steinkopf, het ek niks geweet van die history nie. Tydens die toer het so ’n klip my oog gevang en toe ek daar gaan staan, toe val die son direk op my hart, toe weet ek hierdie storie kies my.

Jy was vroeër vanjaar ook betrokke by die heropvoering van Jason Jacobs se In wag van, wat ’n plaaslike toer in die Noord-Kaap-streek gehad het. Vertel ons hoe jou ervaring met Jacobs en die produksie was?

Dit was baie inheems. Dit was so mooi. Daar was hierdie drie pilare aan die proses: die veld, die digkuns en die kraal. Dit was die drie goed wat my heeltyd gecapture het. Die process was soos ’n saad wat weer in my geplant is om weer ’n kunstenaar te wees in ’n ander wêreld. Ek was so lank getrain om te dans, maar dis ’n hele nuwe uitdaging. Nuwe water wat vir my gegee moes word. Jason het my veld toe gevat en ek moes met die berge praat. Die mooigeid van Namakwaland is dat jy word nie in vier swart mure van ’n teater vasgevang nie. Jason skryf so uit die grond, uit die mis uit. Kharkams het ’n ander tipe mis. Lyk amper soos projections. En die kraalspasie het ons baie geaard en rustig gehou. Dis ’n proses wat my baie gehelp het. Die tattoo op my arm wys dit. Ek’s in wag van, maar ook in mag van.

Lynette du Plessis (foto: verskaf)

In Kinderlê vertolk jy die rol van Lena, ’n fiktiewe voorstelling van een van die Nama oppassers wie deur die Boesmans vermoor was. Sy is ook ’n veelvlakkige karakter. Lena het ’n alkoholprobleem, word deur die gemeenskap gestigmatiseer, en sy is ook die slagoffer van geslagsgeweld. Dis nie ’n maklike rol om aan te pak nie. Wat het gemaak dat jy haar menslikheid so kon uitbeeld? Was daar baie van haar waarmee jy kon vereenselwig of ken jy dalk ook ’n paar Lenas?

To be honest, in die begin het ek gedink dit sou maklik wees om haar te speel. Ek kan na enige gemeenskap gaan en ’n Lena sien. Al ding waarmee ek gestruggle het met Lena, was myself. Ek sou dit gaan perform vir my familie se kinders en kyk hoe hulle respond. En ook het Lena my baie stil gemaak. My laat dink, tjank en my vrouwees bevraagteken. Wat baie heilig was met Lee-Ann van Rooi se process was dat sy jou kans gee om eers self die karakter te vind en saam dit asem te haal.

.......
En al moet ek self sê, Lena het vir Lynette geheal.
.......

Van my favorite lines is: “Ek had daai dag geleer. As jy wil huil, moet jy binnentoe huil” en “Ek hou my hart met my spoeg in plek.” En al moet ek self sê, Lena het vir Lynette geheal.

Wat voel jy is die boodskap waarmee gehoorlede moet wegstap by Kinderlê?

Dat wanneer grootmense baklei is dit die kinders wat ly. Dis nog steeds so in ons gemeenskappe.

Dis nie die eerste keer wat jy werk aan ’n projek wat afspeel in en handel oor die Namakwa-distrik nie. Jy was ’n kontrakdanser by Okiep se bekende dansgeselskap Garage Dance Ensemble. Wat maak hierdie projek anders as van die ander waarby jy in Namakwaland betrokke was?

Wat dit different maak, is dat mens kon praat oor goed. Met dans is daar nie tyd om te praat nie. Die goed moet uitkom uit jou body uit. Nou met drama is daar baie rehearsals waar ons net gesels het. Dit was baie insightful. Om mense beter te leer ken. Dit was die eerste Namakwalandse play wat ek gedoen het wat nie in Namakwaland gerehearse was nie. So ek het nie die freedom gehad om net buitentoe te gaan en met die environment te bond nie. Maar omdat ons die klippe gebring het van Namakwaland af, het dit my gehelp om te hou by die egtheid van die storie. As jy mooi aan dit dink, dan is dit net die klippe wat weet wat regtig in 1867 gebeur het.

.......
Dit was die eerste Namakwalandse play wat ek gedoen het wat nie in Namakwaland gerehearse was nie. So ek het nie die freedom gehad om net buitentoe te gaan en met die environment te bond nie. Maar omdat ons die klippe gebring het van Namakwaland af, het dit my gehelp om te hou by die egtheid van die storie.
.......

Jy is egter ook ’n plattelandse meisie, maar wel van ’n ander provinsie. George is jou komvandaan en jy is nog steeds daar gesetel. Vertel ons ’n bietjie meer oor hoe dit was om daar in die kusgebied groot te raak?

Ek was ’n laatlammetjie en boonop baie kreatief, so my ouers het hulle hande vol gehad met dié kind wat alles wou inkleur. Maar hoe ouer ek geraak het, hoe moeiliker het dit geword. Ek’t baie verander, maar nie die plek nie. Die natuur in George inspireer my baie. Ons het ’n groot avoboom voor in ons tuin, en dit was my plek van safety. Ek sou daar my passies uitleef en tot bo klim en met die verkleurmannetjies praat. Ek was ’n speelkind. Toe begin dans ek. Spiritual dancing, hip-hop en toe contemporary. Die laaste styl het veral vir my baie meer kreatief in dans laat dink.

Bradley Zeelie het ’n dans company oopgemaak, Dance Innovations, en toe dans ons vir hom. Ons het rehearsals gehad in sy pa se opslaankerk. In ons show het hy babapoeier op ons gesit om mee te dans, want ons het mos nie smoke machines gehad nie. 

Wou jy nog altyd ’n kunstenaar wees?

Ja, ek het nog altyd alles anders gesien, en toe wou ek dans as ’n vak vat op skool. Toe is dit die final confirmation dat ek ’n kunstenaar moet wees. Kuns maak my heel.

Wie is van jou grootste inspirasies en hoekom?

Al die vroue in die industry is my grootste inspirasie, want dis nie maklik vir ons as vroue daar buite nie. My droom is om baie graag nog met Mamela Nyamza, Lorin Sookool en Tinarie Loots Van Wyk te werk.

Op die oomblik is ek my grootste inspiration.

It’s been a tough journey since ek hoërskool klaar gemaak het om my voete te vind in die industry.

Ek het finally tot die conclusion gekom oor hoe ek gesien wil word en gehoor wil word in die industry. Nou eers voel ek satisfied. Daar’s iets omtrent myself ... ek’s ’n nou-meisie; dit was die Here, maar dit was ek ook.

Waarna kan gehoorlede volgende uitsien van jou?

Net beter dinge. Towerkragtige goed. En goed wat saak maak.

Skakel na Krummelpap, afval en Sunlightseepbaddens se dansfilm:


Meer oor Kinderlê:

’n Wrok, sê hulle, is ’n seer ding om te koester. Namas en Boesmans is mos vreedsame mense. Só teken die wit mense hulle op. Hulle baklei nie. Hulle gee af as daar moet afgegee word en hulle vat nie. Soos Hanna het Maria ’n kjeent by God gesmeek en God het gegee. Dawid en Maria is vir Dammas gegee. Op ’n Sondag in 1867 word hulle kamp, Nona-Ams, deur Boesmans oorval terwyl die grootmense ’n kerkdiens op Besondermeid bywoon. 32 Nama-kjeeners, hulle oppassers en honde word doodgemaak. Dieselfde God wat vir Dawid en Maria gegee het, vat vir Dammas en 31 anner Nama-kjeeners terug. En gee en terugvat is erger as steel. Dié stuk bied ’n Noord-Kaapse geskiedenis wat nie alombekend is nie. Met kwessies oor ma-wees, ouer-wees, geloof en ’n tragiese geskiedenis wat se letsels nou nog op Namakwaland se rug lê.

Met: Miché van Wyk, Theodore Jantjies, Lynette du Plessis, Damian Jacobs
Skrywer: Lynthia Julius
Regie en ontwerp: Lee-Ann van Rooi
Beligtingsontwerp: Alfred Rietmann
Verhoogbestuurder: Charlene Colling
Klankbaan: Carl Julius
Choreograaf: Grant van Ster
Produksiebestuur: Bossiekop Productions

’n Koproduksie van die Stellenbosch Toyota Woordfees en Suidoosterfees, ondersteun deur NATi, Festival Enterprise Catalyst (FEC) in samewerking met die Jobs Fund.

Lees ook:

Persverklaring: Toyota Stellenbosch Woordtrofees-benoemings 2025 "van indrukwekkende gehalte"

Cliff-hanger: Kinderlê deur Lynthia Julius, ’n resensie

"Dis hartseer dat ek nie gedigte ten volle in Nama kan skryf nie"

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: ’n oorsig

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: ʼn indruk van Boklied – wat betieken "nie-verstaanbaar"?

Toyota Stellenbosch Woordfees: Huis van sand

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Oesie meense – ’n onderhoud

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Ontaard nooi gehoor uit na ’n saamwees om die woord

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: In gesprek met Franco Prinsloo oor Miracle tree

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: ’n Visuele resensie van Albert Pretorius se Ek is nie Danie

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Liefde, Lafras – ’n resensie

Soebat

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top